Thursday, December 13, 2018

Honderde (oud)-Philippolisers woon boekbekendstelling by

Die meegaande berig kom uit Volksblad (Kontrei).

* "Philippolis - die oudste nedersetting in die Vrystaat" is beskikbaar teen R350 of R600 vir twee boeke (jy spaar dus R100).
Ek kan dit koerier na 'n Postnet teen R100. Daar is ook afsetpunte in Gauteng, Philippolis en Bloemfontein.
Die boek het 260 glansbladsye, 'n hardeband, 'n ideale koffietafelboek ...
As jy een wil bestel of meer wil weet, skryf gerus aan my by jejofr@hotmail.com

Skaf boek oor Philippolis hier aan

Die meegaande berig kom uit Volksblad (Kontrei).

* "Philippolis - die oudste nedersetting in die Vrystaat" is beskikbaar teen R350 of R600 vir twee boeke (jy spaar dus R100).
Ek kan dit koerier na 'n Postnet teen R100. Daar is ook afsetpunte in Gauteng, Philippolis en Bloemfontein.
Die boek het 260 glansbladsye, 'n hardeband, 'n ideale koffietafelboek ...
As jy een wil bestel of meer wil weet, skryf gerus aan my by jejofr@hotmail.com

Wednesday, December 12, 2018

Nuwe boek: "Philippolis - die oudste nedersetting in die Vrystaat" deur Jens Friis

Nie minder nie as 500 mense het die boekbekendstelling van Jens Friis se boek in die NG kerk Philippolis bygewoon. "In my meer as 45 jaar was daar nog nooit soveel mense in dié pragtige gebou tesame nie. Dit was merkwaardig."

Die boekbekendstelling het saamgeval met die eerste reünie van die eertydse Hoërskool M.T. Steyn.

"Philippolis, die oudste nedersetting in die Vrystaat," is 'n hardeband glanspublikasie en is by verskeie besighede in dié dorp te kry.


"Nooit skryf ek weer 'n boek van hierdie omvang (260 blaaie) in drie maande nie," sê Jens. "Dit tap jou, maar as die kalf in die put is, dan gaan sit jy voor jou rekenaar - veral as dit iets is wat jy al dekades wou doen. Om só iets uiteindelik te verwesenlik is immers een van die beste maniere om jou tyd te gebruik, skryf Stephen Covey in sy boek, "Seven habits of highly effective people"

Jens wou nog altyd 'n boek van dié aard oor Philippolis lees, maar die rede waarom hy in 'n hoek gedryf is om dit te skryf is omdat die Hoërskool M.T. Steyn vir die eerste keer in 16 jaar 'n algemene reünie beplan het vir 2 tot 4 November.

"Jy moet nou 'n boek skryf," het Marnie van Wyk, wie se breinkind die reünie was, gesê. En baie ander mense moes ook gevoel het dat die tyd ryp was, want die bestellings vir boeke het ingestroom.

"Ek is steeds oorbly oor dié reaksie, want om geld te gee vir iets wat nog nie bestaan nie, spreek letterlik boekdele," sê Jens.


"Ten spyte van 'n druktyd wat vanaf die begin op die horison gewink het, het die boek relatief maklik gekom weens 'n onblusbare passie vir my geboortewêreld waarvan ek 'n deurgronde kennis het én 'n onuitputbare bron van foto's - tot so 'n mate dat ek maklik nog 'n boek oor Philippolis die lig sou kon laat sien as daar die nodige aanvraag voor is," sê Jens, 'n korrespondent van Kontrei en oud-redakteur van Bloemnuus.

Jens het die boek opgedra aan sy ouers. "Buiten dat ek wil, is daar geeneen wat dit meer verdien dat hierdie boek aan hul opgedra word as my ouers, Jens (77) en wyle Naómi Friis. Hul spore lê oor dekades heen diep in Philippolis. Toegewyd het dié twee onderwysers boompies in die regte rigting help buig, maar ook hul lewens gewy vir die groter Philippolis - hul harts- en wortelwêreld. Hul gees om te verryk, te bewaar en te ondersteun word gereflekteer op die boek se blaaie."

Nico Friis, Jens se broer, het die uitleg vanuit Londen gedoen waar hy die afgelope 17 jaar woon.

Die kenners is beïndruk met die eindproduk. Só skryf Pieter Fourie, 'n Hertzogpryswenner: "Dis 'n pragpublikasie: informatief en deernisvol met indrukwekkende foto's uit die pen van 'n seun van Philippolis wat die wêreld soos die palm van sy hand ken."

(Kos)skrywer Niel Stemmet skryf: "Om Philippolis deur Jens se oë te lees is 'n belewenis", terwyl Tom Prinsloo, 'n Bloemfonteinse onderwyser, meen "dié boek het Africana-waarde".

"Philippolis, die oudste nedersetting in die Vrystaat" vier 'n langverwagte, omvangryke optekening van die dorp se wel en wee: geskiedenis, geboue, mense ...", sê Jens.

Dié pragtige Karoo-dorp aan die onderpunt van die Vrystaat het 'n lang en ryk geskiedenis.

Deur die eeu het die Boesmans, toe die Griekwas en later die Trekboere wat die Oranje vanuit die Kaapkolonie oorgesteek het deur die Transgariep, hul vee kom laat drink by dié dorp se twee fonteine.

Eens het die hoofpad tussen die Kaap en die Witwatersrand hierdeur geloop. Die sluiting van die destydse "N1" was 'n groot terugslag, maar die voordeel is dat dit die dorp in 'n tydsvakuum geplaas het met groot toeristebemarkingsgeleenthede.

"Op vele vlakke is die boek nie bloot oor 'n spesifieke dorp(ie) nie, maar oor 'n Suid-Afrikaanse landelike gemeenskap. Is dit jou soort wortelwêreld?

"Jy sal in dié boek belangstel as jy die geskiedenis en jou herkoms koester en vir die nageslag wil bewaar. Wanneer ons die waarde van ons kultuur-historiese erfenis begryp, begin ons ook om besef hoe die bewaring van ons verlede 'n manier is om die toekoms te help vorm."

*** Boeke is beskikbaar by afsetpunte in Bloemfontein, Philippolis en Johannesburg. As jy meer wil weet oor die boek, skryf aan Jens Friis by jejofr@hotmail.com of loer by www.facebook.com/diegroenhuis

Friday, September 14, 2012

Toe hier nog tennis gespeel is

Op Philippolis, soos baie ander plattelandse dorpe, se tennisbane word nie meer balle geslaan nie. JENS FRIIS kyk terug.

PHILIPPOLIS. - Ná die Franse Ope en veral die onlangse Wimbledon het diegene wat jy net dan en wan op die tennisbane sou sien, weer 'n paar houe kom slaan. Maar dit was destyds. Nóú spoor selfs dié toernooie nie meer inwoners aan om te kom speel nie.
Op Philippolis, soos baie ander plattelandse dorpe, het tennis iets geword wat tot ‘n vergange era tuishoort.
Dié plaaslike tennisklub wat die laaste was om te oorleef - lank nadat daar nie meer 'n rugbyspan, rolbalbaan of gholfspelers hier was nie – is ook daarmee heen.
Nou word daar nog net sokker in die township gespeel en sport by die drie skole beoefen - op 'n veel beperkter mate as vanmeleë.
Tennis se geskiedenis op Philippolis strek terug na tot voor die Anglo-Boereoorlog. Sover bekend was die eerste dorpstennisbaan op die Van der Post-erf langs Colin Fraserstraat, waar sir Laurens se geboortehuis nog staan. Van der Post se pa was die plaaslike prokureur. Saans is dikwels 'n bal of debatsaand gehou, biljart gespeel en klein Laurens se moeder het West End-toneelstukke afgerig wat selfs in buurdorpe opgevoer is. Saterdae is op die baan in die agterplaas tennis gespeel met houtrakette en kraakwit klere.
Sover bekend was die enigste ander huis wat deur die jare sy eie baan gehad het, dié van Johnny Steytler langs Kerkstraat (oftewel Voortrekkerstraat). Dié huis word nou bewoon deur Beckey en Jannie Cilliers, wat jare vir die dorpsmanspan gespeel het.
Jens Friis snr., vroeër die nommer 1-speler van die Suid-Vrystaat , sê hy het in die 1960’s begin speel toe die Philippolis-tennisklub was waar die polisiekantoor nou staan langs Tobie Mullerstraat.
Daar is rondom 14:00 begin speel totdat die son sak. Gewilde rondomtalie-toernooie is gehou en aan die einde van die jaar was daar 'n reuse braai ná die dag se tennis.
Van hier is die tennisbane verskuif na tot langs die skouterrein. Dit was egter nie 'n goeie plek om te bou nie, want die potkleigrond het die bane laat bars. Die finale spyker in dié doodskis was toe vroue nie alleen hier wou kom speel nie, want die afgeleë bane was naby die township en dit was die dae van die noodtoestand in die 1980's.
Gevolglik het die klub 'n nuwe tuiste gekry langs die seunskoshuis. Hier by die ingang van die dorp vanaf Trompsburg is vier bane en 'n klubhuis gebou. Friis, toe voorsitter van die klub, vertel dat baie van die ou tennisbane se draad en pale nog in 'n goeie toestand was en hierheen verskuif kon word.
En dis dan hier waar die klub gehuisves is totdat dit 'n stille dood gesterf het enkele jare gelede.
Die belangrikste redes hiervoor is waarskynlik die ontvolking van die platteland, kinders wat elders op skool is en ouers wat nie kans sien om Saterdae weer te ry nie, en televisie wat rugbywedstryde op Saterdagmiddae uitsaai.
Dat inwoners deesdae beter voertuie het en daar wêreldwyd meer klem is op sport se bydrae tot goeie gesondheid, het nie gehelp dat die tennisklub kon oorleef nie.
Deur die jare het die tennisspelery op Philippolis nie sonder voorval verloop nie. Só het 'n moeë Manie Bester een middag 'n vlieg ingesluk terwyl hy gehyg het ná 'n uitputtende potjie, Naómi Friis moes 'n noodoperasie ondergaan nadat 'n bal haar reg op die oog getref het en Jacques Lombard het 'n spier geskeer.
Boere soos Dirk Louw en Gert Zwiegers het nie omgegee om Saterdag tennis toe te ry en Sondae kerk toe nie.
Ook op omliggende dorpe is kragte gemeet. Die Suid-Vrystaat se tennisunie het bestaan uit 'n reuse area: Koffiefontein, Luckhoff, Jagersfontein, Fauresmith, Philippolis, Trompsburg, Edenburg, Springfontein, Bethulie tot by Smithfield.
Onder die dorp se beste tennisspelers was Drienie Swanepoel, Careen Cilliers, Charl Weideman, Jens Friis snr. en Sophia Willemse. Van hulle is al oorlede, maar as bejaardes het die rolbalgogga vele oud-tennisspelers gebyt en Saterdae het hulle dan gaan albasters rol.
Buiten die dorpsklub was daar ook tennisbane op die plase Dwarsrivier van Willem en Franette Strauss, De Rust van Izak en Bessie Nel, en Klein Kalliesfontein van Jack en Roezan Schoeman.
Die Hoërskool M.T. Steyn se tennisbane was aanvanklik langs Skoolstraat en langs Louise Jansen se huis is die muur steeds te sien waarteen jy jou houe kon oefen.
Later is dié bane verskuif na die skoolterrein - twéé tennisbane en twéé vir tenniset. Laasgenoemde is verkleinde bane waar die kleingoed met plankraketjies kon leer speel. Die tennisbane was so geverf dat dit ook as netbalbane kon dien.
In Poding Tse Rolo is ook twee bane gebou, maar dis nie onderhou nie, die drade is gesteel en hier kon kort voor lank nie tennis gespeel word nie.
Dat daar só ‘n magdom tennisbane (en spelers) was oor sowat ‘n eeu heen is moeilik om te glo as jy deesdae op ‘n Saterdagmiddag verby die dorpsklub ry waar geen siel meer te siene is nie.
Dié foto van die Hoërskool M.T. Steyn se tennisspan is in die 1960’s geneem. Agter staan Stella Louw, Jan Venter en Dalina Kruger. In die middel sit Louise Fourie, Flip Roets, onderwyser Jens Friis, Theodosia Vorster, en Hensie du Plessis. Voor met die twee tennisrakette is Brits Venter. Foto: Jens Friis snr.

Groenhuis Gastehuis, Philippolis, 051-773-0073


Kerksentrum kwarteeu oud

Sentrum kwarteeu oud

- Jens Friis

PHILIPPOLIS. - Die NG Gemeentesentrum (oftewel die Sentrum) langs Voortrekkerstraat is vanjaar ‘n kwarteeu gelede geopen.

Die inskrywing op die hoeksteen lees só: “Ingewy ter eer van God as Gemeentesentrum tydens die 125 jarige bestaan van die Ned Geref Gemeente Philippolis. Onthul deur ds. en mev. PR Botha. Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis. 1 Petrus 2:5.”

Toe dié winkel oorkant die pad van die kerk af leeggestaan het in die mid-1980’s, het die kerkraad die potensiaal daarvan raakgesien om omskep te word tot Gemeentesentrum.

Die kerkkantoor word nou hier gehuisves en dié “kerksaal” is toegerus met ‘n kombuis. Die eertydse winkel se store is omskep tot Sondagskoolklasse. Dít sou later gebruik word as klaskamers vir ‘n privaatskool en dit doen deesdae diens as blyplek vir “backpackers”.

Baie funksies wat vroeër plaasgevind het by die stadsaal is hierheen verskuif. Só was daar deur die jare onder meer hier bloedskenkings, byeenkomste ná begrafnisse, vergaderings van die VVLU, kunsuitstallings en basaars.

Soos genoem, was die winkel aanvanklik ‘n algemene handelaar en in sy laaste jare het dit bekend gestaan as Voorspoed. Vroeër jare het dit behoort aan die Van Rynevelds.

Die pragtige swart-en-wit teels op ‘n deel van die voorstoep dateer uit die gebou se vorige bestaan toe handelsware nog hier van hand verwissel is.

Dis deesdae moeilik om ‘n vooraansigfoto van die Sentrum te neem, want ‘n laning bome wat deur ds. Bertie Haasbroek hier aangeplant is bied beskutting teen wind en weer, en parkering vir gemeentelede se motors.

As foto’s vergelyk word van dié gebou uit die 1980’s is dit opvallend dat dit nou veel beter daar uitsien as destyds.

FOTOBYSKRIF: ‘n Foto van Voorspoed Algemene Handelaar wat rondom 1980 geneem is.

WIE SIT WAAR MET NAGMAAL: 'n Halfeeu gelede het die gebruik van die beker teenoor kelkies groot debatsvoering veroorsaak in die NG kerk op Philippolis. Só besluit die kerkraad toe in 1962 as volg oor die sitplekindeling van nagmaalgangers: "Die lidmate wat die beker gebruik sit in die middelblok reg voor die preekstoel. Met 'n denkbeeldige middellyn sit die dameslidmate in die linkerhelfte van die blok en die manslidmate in die regterhelfte. Die res van die sitplekke is tot die beskikking van lidmate wat die kelkie gebruik." Foto: Jens Friis

Tuesday, August 14, 2012

Monday, July 30, 2012

Karoo nie goed vir behoud van hout

- Jens Friis PHILIPPOLIS. ¬– Met besoek aan Philippolis was Jan de Jongh van Nederland beïndruk met die hoeveelheid houtsierwerk aan historiese woonhuise langs veral Voortrekkerstraat, die hoofstraat. De Jongh, ‘n kenner op dié gebied, is veral geïnteresseerd in tot watter mate houtsierwerkstyle vanuit Nederland destyds na Suid-Afrika oorgespoel het. Soos Karel Schoeman in sy boek “Vrystaatse Erfenis – bouwerk en geboue in die 19de eeu” verduidelik: “Houtwerk is soms ter plaatse vervaardig, veral op die platteland, maar gedurende die negentigerjare is die meeste onderdele van geboue van oorsee bestel, gewoonlik pasklaar uit katalogusse.” Die Engelse argitekte het hul boumateriaal grotendeels uit Brittanje laat kom, terwyl die Nederlandse argitekte na die Vasteland gekyk het. Uiteraard was daar dan ook klagtes hieroor dat diegene hul bestellings oorsee geplaas het eerder as in byvoorbeeld Bloemfontein, waarop hul beweer het dat dit goedkoper was. Mettertyd het groter winkels soos G.A. Fichardts in Bloemfontein ook ‘n veel groter voorraad boumateriaal aangehou. Van dié houtwerk in Philippolis is dus meer as ‘n eeu oud en De Jongh het gewaarsku dat dit gerestoureer moet word, want anders gaan dit beslis nie behoue bly nie vir die nageslag. “Die droë, winderige toestande van die Karoo waar die son fel kan brand, is alles behalwe bevorderend vir die behoud van hout. Afskuur, olie en verf kan reeds wondere verrig,” het hy gesê. “Daar is hordes geboue in Nederland wat meer as ‘n eeu oud is, maar in Suid-Afrika is dit ‘n lang tyd en daar is min voorbeelde oor van die boukuns uit daardie tyd. Mens moet onthou dat die vakmanne van destyds in ‘n afgeleë mid-Suid-Afrika bittermin gereedskap gehad het. Boonop was geld min. Dus is dit besonders dat hul soveel aandag gegee het aan houtsierwerk – des te meer ‘n rede om na hierdie besonderse nalatenskap om te sien. Dis gewis iets uit ‘n vergange era.” Volgens Schoeman was die boumeesters destyds tradisioneel plaaslike mense, “dikwels met min of geen formele opleiding; die boumateriaal was dié wat plaaslik beskikbaar was; en die doel van die bouwerk was in eerste instansie funksioneel, met versierings wat slegs vir die bevrediging van die bouer of eienaar aangebring is.” Deur variasies in die sierhoutwerk is ‘n treffende dekoratiewe effek dikwels bewerkstellig. De Jongh wat talle foto’s geneem het van sierhoutwerk aan woonhuise in Philippolis, hoop om terug te keer na die oudste nedersetting in die Vrystaat en dan verdere navorsing hier te kom doen.

Wednesday, July 25, 2012

Groenhuis Gastehuis. Koksfonteinstraat, Philippolis.

Groenhuis Guesthouse Philippolis

Groenhuis Gastehuis, Philippolis, www.philippolis.co.za, tel. 051-773-0073.

Tuesday, July 10, 2012

Philippolis se "celebrities"

Maak ‘n lys van bekendes wie se spore in jou tuisdorp lê en jy mag verstom wees hoeveel daar wel is, skryf Jens Friis. Hieronder is van die “celebrities” uit sy grootworddorp Philippolis. ADRIAAN STRAUSS, die Cheetah-haker en Springbok, se wortels lê op die plaas Dwarsrivier tussen Philippolis en Trompsburg. Sy pa Willem Strauss boer steeds hier. Vroeër jare het dié spogplaas behoort aan minister Serfontein oftewel oom Serfie soos hy hier bekend was. BRUMILDA VAN RENSBURG, die immergroen aktrise, stam van hier. In artikels het sy dan ook al telkemaal vertel van kindertydse herinnerings op hul familieplaas in dié omgewing. TOBIE MULLER, dié tweede leraar van die plaaslike NG gemeente, het in die Groot Griep van 1918 omgekom, maar word onder meer onthou daarvoor dat hy die eerste huwelik in Afrikaans in Suid-Afrika op Philippolis voltrek het. Hy was een van die vertalers van die Bybel na Afrikaans toe hy dood is. ANNA NEETHLING-POHL EN JAN POHL: Dié broer en suster wat diep spore getrap het in die Suid-Afrikaanse kunswêreld het beide op Philippolis kom aftree. Die liedjieskrywer Jan is hier oorlede en sy suster Anna, ‘n bekende aktrise, het hier gewoon totdat sy kort voor haar dood na Graaff-Reinet verhuis het. Anna was dol oor die Karoo se kristalhelder sterre en sy het dan ook kort na haar intrek gesê sy het hierheen gekom “om die sterre te pluk”. Maar van die Augustus-winde wat woes uit die weste kan waai het sy minder gehou! ELSA KOLVER, dogter van eerste minister John Vorster, het ‘n Philippoliser geword toe sy met André Kolver getroud is en boervrou geword het langs die pad na Gariepdam. Sy is deur Volksblad aangewys as een van 100 Vrystaters van die eeu (1900 tot 2000). Kolver het ‘n leidende rol gespeel in die Vrystaatse Vroue Landbounie en ook in internasionale blomrangskikkings-kringe. Haar dogter Martelize is ‘n aktrise en is onder meer gereeld te sien op kykNet. EMILY HOBHOUSE: Dié Britse filantroop het ná die Anglo-Boereoorlog haar beywer om die lot van Boer-gesinne te verlig. Met dié doel het sy spin-en-weefskole op verskeie plekke in die land op die been gebring waarvan die eerste in Philippolis was. Emily het vir ‘n wyle hier gewoon en ‘n monument langs Voortrekkerstraat gedenk haar opheffingswerk. RACHEL ISABELLA (TIBBIE) STEYN, Suid-Afrikaanse vroueleier en vrou van die laaste president van die Oranje-Vrystaat, M.T. Steyn, het in die NG pastorie op Philippolis grootgeword. Sy was die dogter van ds. Colin Fraser, leraar van die gemeente van 1863 tot 1907. Hoewel sy van Skotse herkoms was aan beide moeders- en vaderskant, het sy haar veral vanaf die Anglo-Boereoorlog ten volle vereenselwig met wat sy self as die "Boerevolk" beskryf het. ADAM KOK, die leier van die Griekwas, se kanonne waak nog op ‘n koppie in die middel van die dorp. Philippolis was eens die hoofstad van dié Griekwa-stam voordat hulle verhuis het na Kokstad in Kwazulu-Natal. JOHN VARTY, die bekende rolprentmaker en omgewingsbewaarder, se tierplaas Tiger Canyons is 25 km buite Philippolis. Nader aan kat se kind kan jy skaars kom as op hul begeleide toere. Vroeër het Gillian van Houten, sy gewese vrou en TV-persoonlikheid, saam met hom in die distrik gewoon. LI QUAN, ‘n voormalige internasionale model en stigerslid van Save China Tigers, doen baanbrekerswerk op die Laohu-natuurreservaat tussen Philippolis en Colesberg. Uit dié tierteelprojek is reeds 14 tierwelpies gebore waarvan 11 oorleef het. Een van die drie welpies wat dood is, is deur ‘n roofvoël gevang. Die Suid-Chinese tier is meer bedreig as selfs die panda. Weens die sensitiewe aard van die teelprojek is Laohu nie oop vir toeriste nie. SIR LAURENS VAN DER POST, skrywer, filantroop, vriend van prins Charles en peetpa van prins William, word in Philippolis gedenk met ‘n skrywershuis, labirint en gedenktuin. STEF KRUGER, liedjieskrywer en sanger, is die skrywer van menige bekende liedjie soos Grassade in die wind en Tussen jou en my. PIETER FOURIE, die bekroonde dramaturg, het op 21-jarige ouderdom gematrikuleer aan die Hoërskool M.T. Steyn nadat hy vroeër om finansiële redes uit die skool is. Hy is onder meer ‘n oud-feesidrekteur van die KKNK en ontvanger van die Hertzogprys.

Tuesday, June 12, 2012

Pienaars se lewe nou verweef met kerk

- Jens Friis en Alta Snyman PHILIPPOLIS. ¬ - Min gesinne se lewe is só nou verweef met 'n gemeente as die Pienaars s'n met die Gereformeerde-kerk op Philippolis. Bennie (Tiekie) Pienaar wat in Maart uitgetree het was vir bykans drie dekades ononderbroke 'n kerkraadslid. In dié 29 jaar was hy 7 jaar diaken en 22 jaar ouderling. Vir tussenposes van 'n blote jaar het hy nie as kerkraadslid gedien nie. Boonop was hy al die jare ook skriba en hoewel hy in die afgelope paar jaar hartoperasies ondergaan het, neem hy steeds baie leesdienste waar. Hy en sy vrou Elize is op 7 Oktober 1967 in dié kerk getroud en al drie hul dogters, Izette (1968), Linette (1972) en Amia (1975) is hieruit gedoop. Hulle seuntjie Morkel is ook hier gedoop, maar hy is later oorlede. Hul dogter Izette Nel van Graskop het in 1993 hier die ja-woord gegee en dis ook waar haar twee seuns, Jan-Hendrik en Barend, gedoop is. Dieselfde geld hul dogter Linette le Roux van Nieu-Seeland. Haar dogtertjie Linmari is in 2006 in dié kerk gedoop. Elize was sedert 1985 die kurator van die plaaslike Transgariep Museum totdat sy twee jaar gelede afgetree het. Sy is ook al van 1980 af die koster van die kerk - dus vir 'n ellelange 32 jaar. Tiekie het in 1961 begin werk in Bloemfontein by die Inkomstekantoor en in 1965 is hy Frankfort toe om mense se belasting daar te doen. In 1968 trek hy en Elize ná hul troue Philippolis toe waar hy begin werk by Malherbe Prokureurs en dis hier waar hy steeds Philippolisers se belastingsake hanteer na al die jare.

Plaas nou bestellings vir feesbundel

PHILIPPOLIS. Die NG kerk hier wat in Oktober sy 150ste bestaansjaar vier versoek belangstellendes om nou reeds 'n bestelling te plaas as hulle 'n feesbundel wil aanskaf. "Só kan jy die kerk op tweërlei wyse help: Eerstens gaan dit ons 'n aanduiding gee hoeveel feesbundels om te druk, en tweedens sal dit help om die drukkoste te delg," sê me. Pulani Simes, skriba van die gemeente. Sy sê dit wil lyk of die drukkoste rondom R150 per boek gaan kos. Om bestellings te plaas, skryf aan Simes by ngphil@vodamail.co.za of bel 051-773-0014.

Sunday, May 20, 2012

Groenhuis Guesthouse www.philippolis.co.za

Skeepskanonne 150 jaar in Philippolis

- Jens Friis PHILIPPOLIS. Vanjaar is dit mooitjies op die kop 150 jaar wat twee skeepskanonne 'n tuiste gevind het in Philippolis, maar in al dié jare is daar nog bitterselde met hulle gevuur. Die twee ou skeepskanonne, waarskynlik die oudste Westerse artefak in Philippolis, wat nagenoeg 300 jaar gelede deur die Bailey & Pegg-ysterwerke vervaardig is, waak oor die dorp. Hulle is gemonteer op voetstukke en staan bo-op 'n klipkoppie in die hart van die dorp. Elkeen weeg sowat 350 kg en het 'n reikafstand van sowat 500 m. Om dit van nader te beskou moet die klipkoppie van die kant van die P.J. Nienaberplein langs Voortrekkerstraat uitgeklouter word. Prof. A.W.G. Raath wys in sy boek Vesting in die Transgariep dat daar telkens in historiese stukke na die kanonne verwys word. "Hierdie kanonne is waarskynlik twee van die drie kanonne wat deur Adam Kok van Port Elizabeth aangeskaf is, waarop in 1862 (dus 150 jaar gelede) onder die koffie en suiker in die winkel van Pulvermacher beslag gelê is, wat in Oktober in 'n inventaris van die landdros oor die inhoud van die tronk voorkom en wat deur die heer Eagle voorgestel is om gedurende die Basoetoe-oorloë op wa-agterstelle gemonteer moes word." Kok wou vermoedelik die kanonne saamneem op die Griekwas se Groot Trek na Niemandsland (Griekwaland-Oos). Volgens die inventaris van Kok se besittings met sy trek na Kokstad was daar drie kanonne, maar dit is onbekend wat van die derde kanon geword het. Maar nog voordat hy dit kon gebruik, het Philippolis se landdros glo daarop beslag gelê. P.J. Nienaber en C.J.P. le Roux skryf egter in hul boek Bewaring in die Oranje-Vrystaat dat die kanonne deur dr. John Philip, na wie Philippolis genoem is, aan Kok geskenk is. Kok sou dan glo ook hierdie kanonne teen die Boere in die Slag van Swartkoppies (1845) gebruik het. In die eeu en 'n half wat die kanonne in Philippolis is, is dit nog selde afgevuur. Een geval was wel met die herdenking van die Groot Trek in 1938. Mnr. Henning Viljoen, een van die organiseerders van die Ossewatrek op Philippolis, het toe die twee kanonne met 'n skotskar na die Oranjerivier aangery waar die Serfonteinbrug nou is. Hier het die Vrystaters die trekkers van die Kaapkolonie ontmoet. 'n Monument is ook opgerig op 'n nabygeleë koppie om dit te herdenk. In dié jare het die twee kanonne gestaan in die parkie voor die stadsaal en langs die hotel in Voortrekkerstraat. Rondom 1980 is dit straat-op verskuif tot bo-op die koppie waar dit nou nog staan skuins agter die Nienaber-plein. Van hier bo het 'n mens 'n wye blik oor die ganse Philippolis. Met die Witblitsfees in 2000 is daar onder andere weer 'n paar skote met die kanonne geskiet. Feesgangers wat wou, moes op dok vir dié geleentheid en só is 'n paar rand vir die fees geïn.

Friday, May 18, 2012

Vind vrede in galery

- Jens Friis PHILIPPOLIS. Jobhuis, ‘n galery, wat gehuisves word in ‘n pragtig gerestoureerde woning, is die uitstalplek vir ‘n permanente uitstalling van 25 kontemporêre skilderye na aanleiding van die Bybelboeke Job en Klaagliedere. Dié werke kan bloot as kuns in olie op doek beskou word, óf as genesing vir trauma. Maar dis veral laasgenoemde wat vir die kunstenaar, me. Rina Coetzee, bevrediging gee. Die skilderye is ‘n uitbeelding van die kunstenaar se worsteling met depressie. “‘n Besoek aan Jobhuis neem jou op ‘n reis van in kontak kom met jouself, jou emosies en die vind van innerlike vrede. Jy kry geleentheid om in afsondering diep na te dink en uiting aan jou emosies te gee,” sê Coetzee. “Alle mense kan baat vind by ‘n besoek aan Jobhuis. Mense wat lyding of verliese ervaar, getuig veral dat blootstelling aan die skilderye vir hulle van besondere waarde is,” sê dr. Retha du Plessis aan wie die pragtige huis behoort. En as jy deur die besoekersboek blaai blyk dit wel die geval te wees. Só skryf ‘n besoeker uit Welkom: “Hierdie is ‘n oasie vir moeë woestynreisigers. Woord, visie en musiek. ‘n Kragtige salf vir gees.” En iemand uit Hermanus: “God werk met ons op vreemde wyse! Hy kan heelmaak! Ongelooflike skeppingswerk in kleur en klank.” (Om die ervaring te versterk word aangrypende klassieke musiek gespeel in die galery.) Die héélmaakproses word herhaaldelik deur besoekers verwoord: “Dit was ‘n belewenis om hier te wees. Nou kan ek my kind wat kanker het met Job se woorde troos.” En ‘n Pretorianer skryf: “Aangrypend – omdat dit my seun en my eie geestespyn verwoord. Dankie vir inspirasie en ‘n roetekaart uit die pyn”. Maar die besoekers kom ook van oorsee soos uit San Francisco: “I watched my mom struggle with depression throughout my childhood and I remember her personal attachement to Job. It was wonderful to see visually your struggles as I could also relate them to what my mom must also have been experiencing. Thank you!” ’n Tweede vertrek in die galery huisves kommersiële kunswerke, waaronder Coetzee se Bo-Karoo-, Stoelstories- en Kom binne-reeks. Ook werke van kunstenaars uit die omgewing is hier te koop. Coetzee is ’n grafiese kunstenaar, wat talle kinderboeke geïllustreer en kunswerk vir die TV-kinderreekse soos Pumpkin Patch, Mina Moo en Kideo gelewer het. Sy het tot onlangs ook grafiese werk vir die Universiteit van die Vrystaat gedoen. Vir meer besonderhede bel Du Plessis by 083 451 6973 of skryf aan retha@webgrafika.co.za. Die galery is oop van 09:00 tot 17:00. Alternatiewe besoektye kan gereël word deur Coetzee te bel by 051-773-0157.

Friday, May 11, 2012

Lyk toe al die tyd 'n boomstomp?

- Jens Fris

’n BROKKIE inligting wat ’n bejaarde vrou destyds met ’n oud-argeoloog van die Nasionale Museum in Bloemfontein gedeel het oor ’n boomstomp pleks van ’n lyk in ’n kis, spook ná jare steeds by hom.

Was die “lyk” in die kis dalk wel net ’n boomstomp, soos sy vertel het, wonder Cobus Dreyer.

Dreyer het jare lank navorsing gedoen oor die geskiedenis van die inheemse volke van die Vrystaat.

“Dit was baie bevredigend, maar afgesien daarvan ly ek ook aan ‘n ‘outydse siekte’: Enigiets wat oud is, interesseer my,” vertel hy.

“Die ander personeel by die museum het dit geweet. Wanneer daar ’n lid van die publiek met ’n storie, of ’n voorwerp aangekom het en die betrokke departement, soos antropologie of geskiedenis het nie belang gestel nie, het hulle my geroep. Mense kan maklik afgehaal voel as jy nie in hul storie, kiekies of ou Bybel belang stel nie.”

Op dié wyse het hy juwele ontdek.

“So ongeveer 15 jaar gelede, roep die dame by die biblioteek my.

“Kom daar, wag ’n klein, ou vroutjie op my. Jy sou kon sê die tipiese little ol’ lady.

“Kiertsregop, netjies aangetrek, met so ’n krulrand strooihoedjie op die kop.

“Haar naam is Felecite Lowe-Nevett. Sy gee my haar kaartjie. Ek het hom nog. Daar is twee adresse op, een in Umhlanga Rocks en die ander in Stockport in Groot-Brittanje.”

Dié tannie was besig met familie-navorsing en sou enige hulp waardeer. Sy het self van Natal gery en was onderweg na die Kaap.

Haar oupa was die dokter op Philippolis tydens die Anglo-Boereoorlog. Hy dokter Boer en Brit, almal voor die voet. “Oupa het vier dogters gehad, waarvan haar ma een was.”

Een van die susters trou met ’n vent wat daar aankom en kort voor lank is hy 30 000 pond in die skuld. “Seker ’n fortuin vir daardie tyd.”

Die vent bedink toe ’n plan. Hy val van sy perd en “sterf” tragies. Hy word begrawe en die hele hartseerstorie word op sy grafsteen aangebring.

“Sy reken dat daar ’n boomstomp in die kis was, want etlike jare daarna slaan die niksnuts op die diamantvelde uit. Perdfris en gesond.

“Sy het ’n verklaring van ’n private speurder (natuurlik uit daardie tyd) by haar gehad wat dit bevestig het.

“Nou moet ek bieg. Ek het nie die name of vanne van die mense of plaasname of plekke of enige notas neergeskryf nie,” vertel Dreyer.

“ ’n Jaar of wat daarna kry ek ’n brief van haar waarin sy voorstel dat ek haar moet help om die graf te gaan opgrawe om te kyk wat was in die kis.

“Ek het in daardie stadium maar gevoel om nie betrokke te raak nie en skryf toe aan haar: ‘Let sleeping logs lie’. ”

Dit het hom later gepla en hy skryf toe aan haar briewe na albei adresse wat haar egter nie bereik het nie.

“Teen daardie tyd was sy seker al lankal langbome toe.

“Ek het per geleentheid op Philippolis in die ou begraafplaas gaan soek, maar kon nie ’n graf met die hartseerstorie kry nie. Vir al wat ek weet, is hy op ’n plaas begrawe.”

Dreyer sal dit hoog op prys stel as enigiemand iets van dié gebeure weet.

Skryf aan hom by DreyerJ@ Telkomsa.net.

Oom Sterk Gert oorlede

- Jens Friis Figure van legendariese omvang is daar weinig meer, en nou is die platteland nóg een armer. Oom Gert van Biljon (88), oftewel Sterk Gert, van die bejaardetuis op Trompsburg is enkele dae gelede oorlede na 'n lang stryd teen onder meer erge suikersiekte. Dié reus van 'n man het met rede Sterk Gert geheet, want op sy dag kon hy 'n windpompkop sommer so op sy eie teen 'n windpomp uitdra en op sy plek plaas. Maar hy het ook 'n deurgrondige kennis van die Karoo se plante gehad, was 'n kranige versamelaar van oudhede, bouer, boer en geliefde inwoner van Philippolis waar hy die grootste deel van sy lewe gewoon het. Saam met sy oorlede vrou Cielie het hulle geboer suidwes van die dorp wat nou deel vorm van die Laohu-tierreservaat. Maar nadat oom Gert langs Voortrekkerstraat, die hoofstraat van Philippolis, kom woon het, het hy allermins kom stilsit. Met die bou van die Sir Laurens van der Post Skrywershuis en gedenktuin het hy 'n leidende rol gespeel. Hy't as nutsman menige probleem elders in die dorp opgelos en as jou boorgat se pype probleme gee was hy die man om te bel. BOERERATE As die dokter se medisyne nie wou help nie, was oom Gert ook die man om te bel. Van boererate en veldplante het hy baie geweet - en genadiglik het hy dit aangeteken in 'n notaboekie en is feitlik almal ook gepubliseer in die Philippolis Post, die plaaslike gemeenskapskoerant. Was dit nie hiervoor nie, was dit gewis verlore vir die nageslag. “Die Suid-Vrystaat is vol rate wat nie verlore mag gaan nie. Daarom dat ek hul nou aanteken,” het Oom Gert destyds gesê nadat hy meegewerk het met die universiteite van die Vrystaat en Rhodes. Onder die honderde boererate wat neergepen is, tel rate vir bloedvergiftiging en artritis tot snywonde en hoes. As ’n baba tande kry, het die oumense glo weeluise gevang, hul stukkend gedruk en die bloed daarvan aan baba se tandvleise gesmeer. En wat gemaak as iemand flou val van groot hartseer? Dan is een van die gesin se urine blykbaar vir die verdrietige persoon gegee om te drink. Om die smaak te verberg is ’n paar peperment-druppels bygegooi. Hoewel hy nie bereid was om verantwoordelikheid te neem vir die mediese uitwerking van sommige rate nie, het baie egter in ’n stadium vas geglo dié rate werk. “Die oumense het geglo dat jy perskepitte moet fynstamp en snuif as jou neus bloei. Borrie doen ook die ding. Sou nie een van dié twee rate help nie, is dit raadsaam om baie rou of gekookte kool te eet. Sommige glo ook vas daaraan om ’n swart sydoek om die kop te bind en dit agter by die nekwerwel vas te knoop.” CHRYSLER UIT 1934 As daar 'n troue of fees was is oom Gert genader om sy statige 1934-Chrysler uit te trek. Dié motor het die dorp baie plesier verskaf en nadat hy dit opgeknap het, het dit waarlikwaar soos 'n nuwe sikspens gelyk. Des te meer nadat Van Biljon eiehandig die leerafwerking met sorg gerestoureer het. In 2004 toe hy 80 was, het oom Gert gesê dat dit 'n voorreg is om dié swart pragstuk met sy sagte, statige kurwes in te span wanneer daar 'n plaaslike "highday of holiday" is. "Min mense het al in so 'n antieke motor gery en dit gee hulle gewoonlik baie plesier," het hy toe vertel. "Op grondpaaie moet mens maar mooi ry, want 'n skerp klip kan sommer tot 'n pap wiel lei." Die motor se wiele was nie soos vandag s'n plat op die loopvlak nie, maar effens rond - soortgelyk aan 'n fietswiel. Die Chrysler had ook menige interessante ekstras waaroor motors meestal vandag nie meer beskik nie. Dit het ingesluit 'n voorruit wat op bloedige warm somersdae oopgeskuif kon word. Nog 'n lafenis teen die hitte was om die sonvensterklappe te laat sak. Dié het oor die jare al verkleur weens die pyprook van vorige eienaars. Só 'n kosbare motor moet veilig bewaar word. Daarom het Oom Gert dit elke keer toegegooi met 'n reuse, ou kombers voordat hy saans sy waenhuis langs Voortrekkerstraat gesluit het. PLAASWERKTUIE Toe Oom Gert se gesondheid later nie meer na wense was nie, is dié spogmotor verkoop nes 'n uitgebreide aantal antieke plaaswerktuie wat hy versamel het. Hieronder het getel stokoue dorsmasjiene tot grawe, pikke en houtdosies waarin eiers vervoer is. Oom Gert wou graag sien dat dié antieke plaaswerktuie 'n plek vind in 'n eie plaasmuseum, maar helaas het die jare hom ingehaal. Nietemin, laat hy 'n ryke erfenis agter waarvoor baie hom gewis nog lank sal onthou.