Thursday, December 13, 2018
Honderde (oud)-Philippolisers woon boekbekendstelling by
* "Philippolis - die oudste nedersetting in die Vrystaat" is beskikbaar teen R350 of R600 vir twee boeke (jy spaar dus R100).
Ek kan dit koerier na 'n Postnet teen R100. Daar is ook afsetpunte in Gauteng, Philippolis en Bloemfontein.
Die boek het 260 glansbladsye, 'n hardeband, 'n ideale koffietafelboek ...
As jy een wil bestel of meer wil weet, skryf gerus aan my by jejofr@hotmail.com
Skaf boek oor Philippolis hier aan
* "Philippolis - die oudste nedersetting in die Vrystaat" is beskikbaar teen R350 of R600 vir twee boeke (jy spaar dus R100).
Ek kan dit koerier na 'n Postnet teen R100. Daar is ook afsetpunte in Gauteng, Philippolis en Bloemfontein.
Die boek het 260 glansbladsye, 'n hardeband, 'n ideale koffietafelboek ...
As jy een wil bestel of meer wil weet, skryf gerus aan my by jejofr@hotmail.com
Wednesday, December 12, 2018
Nuwe boek: "Philippolis - die oudste nedersetting in die Vrystaat" deur Jens Friis
Die boekbekendstelling het saamgeval met die eerste reünie van die eertydse Hoërskool M.T. Steyn.
"Philippolis, die oudste nedersetting in die Vrystaat," is 'n hardeband glanspublikasie en is by verskeie besighede in dié dorp te kry.
"Nooit skryf ek weer 'n boek van hierdie omvang (260 blaaie) in drie maande nie," sê Jens. "Dit tap jou, maar as die kalf in die put is, dan gaan sit jy voor jou rekenaar - veral as dit iets is wat jy al dekades wou doen. Om só iets uiteindelik te verwesenlik is immers een van die beste maniere om jou tyd te gebruik, skryf Stephen Covey in sy boek, "Seven habits of highly effective people"
Jens wou nog altyd 'n boek van dié aard oor Philippolis lees, maar die rede waarom hy in 'n hoek gedryf is om dit te skryf is omdat die Hoërskool M.T. Steyn vir die eerste keer in 16 jaar 'n algemene reünie beplan het vir 2 tot 4 November.
"Jy moet nou 'n boek skryf," het Marnie van Wyk, wie se breinkind die reünie was, gesê. En baie ander mense moes ook gevoel het dat die tyd ryp was, want die bestellings vir boeke het ingestroom.
"Ek is steeds oorbly oor dié reaksie, want om geld te gee vir iets wat nog nie bestaan nie, spreek letterlik boekdele," sê Jens.
"Ten spyte van 'n druktyd wat vanaf die begin op die horison gewink het, het die boek relatief maklik gekom weens 'n onblusbare passie vir my geboortewêreld waarvan ek 'n deurgronde kennis het én 'n onuitputbare bron van foto's - tot so 'n mate dat ek maklik nog 'n boek oor Philippolis die lig sou kon laat sien as daar die nodige aanvraag voor is," sê Jens, 'n korrespondent van Kontrei en oud-redakteur van Bloemnuus.
Jens het die boek opgedra aan sy ouers. "Buiten dat ek wil, is daar geeneen wat dit meer verdien dat hierdie boek aan hul opgedra word as my ouers, Jens (77) en wyle Naómi Friis. Hul spore lê oor dekades heen diep in Philippolis. Toegewyd het dié twee onderwysers boompies in die regte rigting help buig, maar ook hul lewens gewy vir die groter Philippolis - hul harts- en wortelwêreld. Hul gees om te verryk, te bewaar en te ondersteun word gereflekteer op die boek se blaaie."
Nico Friis, Jens se broer, het die uitleg vanuit Londen gedoen waar hy die afgelope 17 jaar woon.
Die kenners is beïndruk met die eindproduk. Só skryf Pieter Fourie, 'n Hertzogpryswenner: "Dis 'n pragpublikasie: informatief en deernisvol met indrukwekkende foto's uit die pen van 'n seun van Philippolis wat die wêreld soos die palm van sy hand ken."
(Kos)skrywer Niel Stemmet skryf: "Om Philippolis deur Jens se oë te lees is 'n belewenis", terwyl Tom Prinsloo, 'n Bloemfonteinse onderwyser, meen "dié boek het Africana-waarde".
"Philippolis, die oudste nedersetting in die Vrystaat" vier 'n langverwagte, omvangryke optekening van die dorp se wel en wee: geskiedenis, geboue, mense ...", sê Jens.
Dié pragtige Karoo-dorp aan die onderpunt van die Vrystaat het 'n lang en ryk geskiedenis.
Deur die eeu het die Boesmans, toe die Griekwas en later die Trekboere wat die Oranje vanuit die Kaapkolonie oorgesteek het deur die Transgariep, hul vee kom laat drink by dié dorp se twee fonteine.
Eens het die hoofpad tussen die Kaap en die Witwatersrand hierdeur geloop. Die sluiting van die destydse "N1" was 'n groot terugslag, maar die voordeel is dat dit die dorp in 'n tydsvakuum geplaas het met groot toeristebemarkingsgeleenthede.
"Op vele vlakke is die boek nie bloot oor 'n spesifieke dorp(ie) nie, maar oor 'n Suid-Afrikaanse landelike gemeenskap. Is dit jou soort wortelwêreld?
"Jy sal in dié boek belangstel as jy die geskiedenis en jou herkoms koester en vir die nageslag wil bewaar. Wanneer ons die waarde van ons kultuur-historiese erfenis begryp, begin ons ook om besef hoe die bewaring van ons verlede 'n manier is om die toekoms te help vorm."
*** Boeke is beskikbaar by afsetpunte in Bloemfontein, Philippolis en Johannesburg. As jy meer wil weet oor die boek, skryf aan Jens Friis by jejofr@hotmail.com of loer by www.facebook.com/diegroenhuis
Friday, September 14, 2012
Toe hier nog tennis gespeel is
PHILIPPOLIS. - Ná die Franse Ope en veral die onlangse Wimbledon het diegene wat jy net dan en wan op die tennisbane sou sien, weer 'n paar houe kom slaan. Maar dit was destyds. Nóú spoor selfs dié toernooie nie meer inwoners aan om te kom speel nie.
Op Philippolis, soos baie ander plattelandse dorpe, het tennis iets geword wat tot ‘n vergange era tuishoort.
Dié plaaslike tennisklub wat die laaste was om te oorleef - lank nadat daar nie meer 'n rugbyspan, rolbalbaan of gholfspelers hier was nie – is ook daarmee heen.
Nou word daar nog net sokker in die township gespeel en sport by die drie skole beoefen - op 'n veel beperkter mate as vanmeleë.
Tennis se geskiedenis op Philippolis strek terug na tot voor die Anglo-Boereoorlog. Sover bekend was die eerste dorpstennisbaan op die Van der Post-erf langs Colin Fraserstraat, waar sir Laurens se geboortehuis nog staan. Van der Post se pa was die plaaslike prokureur. Saans is dikwels 'n bal of debatsaand gehou, biljart gespeel en klein Laurens se moeder het West End-toneelstukke afgerig wat selfs in buurdorpe opgevoer is. Saterdae is op die baan in die agterplaas tennis gespeel met houtrakette en kraakwit klere.
Sover bekend was die enigste ander huis wat deur die jare sy eie baan gehad het, dié van Johnny Steytler langs Kerkstraat (oftewel Voortrekkerstraat). Dié huis word nou bewoon deur Beckey en Jannie Cilliers, wat jare vir die dorpsmanspan gespeel het.
Jens Friis snr., vroeër die nommer 1-speler van die Suid-Vrystaat , sê hy het in die 1960’s begin speel toe die Philippolis-tennisklub was waar die polisiekantoor nou staan langs Tobie Mullerstraat.
Daar is rondom 14:00 begin speel totdat die son sak. Gewilde rondomtalie-toernooie is gehou en aan die einde van die jaar was daar 'n reuse braai ná die dag se tennis.
Van hier is die tennisbane verskuif na tot langs die skouterrein. Dit was egter nie 'n goeie plek om te bou nie, want die potkleigrond het die bane laat bars. Die finale spyker in dié doodskis was toe vroue nie alleen hier wou kom speel nie, want die afgeleë bane was naby die township en dit was die dae van die noodtoestand in die 1980's.
Gevolglik het die klub 'n nuwe tuiste gekry langs die seunskoshuis. Hier by die ingang van die dorp vanaf Trompsburg is vier bane en 'n klubhuis gebou. Friis, toe voorsitter van die klub, vertel dat baie van die ou tennisbane se draad en pale nog in 'n goeie toestand was en hierheen verskuif kon word.
En dis dan hier waar die klub gehuisves is totdat dit 'n stille dood gesterf het enkele jare gelede.
Die belangrikste redes hiervoor is waarskynlik die ontvolking van die platteland, kinders wat elders op skool is en ouers wat nie kans sien om Saterdae weer te ry nie, en televisie wat rugbywedstryde op Saterdagmiddae uitsaai.
Dat inwoners deesdae beter voertuie het en daar wêreldwyd meer klem is op sport se bydrae tot goeie gesondheid, het nie gehelp dat die tennisklub kon oorleef nie.
Deur die jare het die tennisspelery op Philippolis nie sonder voorval verloop nie. Só het 'n moeë Manie Bester een middag 'n vlieg ingesluk terwyl hy gehyg het ná 'n uitputtende potjie, Naómi Friis moes 'n noodoperasie ondergaan nadat 'n bal haar reg op die oog getref het en Jacques Lombard het 'n spier geskeer.
Boere soos Dirk Louw en Gert Zwiegers het nie omgegee om Saterdag tennis toe te ry en Sondae kerk toe nie.
Ook op omliggende dorpe is kragte gemeet. Die Suid-Vrystaat se tennisunie het bestaan uit 'n reuse area: Koffiefontein, Luckhoff, Jagersfontein, Fauresmith, Philippolis, Trompsburg, Edenburg, Springfontein, Bethulie tot by Smithfield.
Onder die dorp se beste tennisspelers was Drienie Swanepoel, Careen Cilliers, Charl Weideman, Jens Friis snr. en Sophia Willemse. Van hulle is al oorlede, maar as bejaardes het die rolbalgogga vele oud-tennisspelers gebyt en Saterdae het hulle dan gaan albasters rol.
Buiten die dorpsklub was daar ook tennisbane op die plase Dwarsrivier van Willem en Franette Strauss, De Rust van Izak en Bessie Nel, en Klein Kalliesfontein van Jack en Roezan Schoeman.
Die Hoërskool M.T. Steyn se tennisbane was aanvanklik langs Skoolstraat en langs Louise Jansen se huis is die muur steeds te sien waarteen jy jou houe kon oefen.
Later is dié bane verskuif na die skoolterrein - twéé tennisbane en twéé vir tenniset. Laasgenoemde is verkleinde bane waar die kleingoed met plankraketjies kon leer speel. Die tennisbane was so geverf dat dit ook as netbalbane kon dien.
In Poding Tse Rolo is ook twee bane gebou, maar dis nie onderhou nie, die drade is gesteel en hier kon kort voor lank nie tennis gespeel word nie.
Dat daar só ‘n magdom tennisbane (en spelers) was oor sowat ‘n eeu heen is moeilik om te glo as jy deesdae op ‘n Saterdagmiddag verby die dorpsklub ry waar geen siel meer te siene is nie.
Dié foto van die Hoërskool M.T. Steyn se tennisspan is in die 1960’s geneem. Agter staan Stella Louw, Jan Venter en Dalina Kruger. In die middel sit Louise Fourie, Flip Roets, onderwyser Jens Friis, Theodosia Vorster, en Hensie du Plessis. Voor met die twee tennisrakette is Brits Venter. Foto: Jens Friis snr.
Kerksentrum kwarteeu oud
- Jens Friis
PHILIPPOLIS. - Die NG Gemeentesentrum (oftewel die Sentrum) langs Voortrekkerstraat is vanjaar ‘n kwarteeu gelede geopen.
Die inskrywing op die hoeksteen lees só: “Ingewy ter eer van God as Gemeentesentrum tydens die 125 jarige bestaan van die Ned Geref Gemeente Philippolis. Onthul deur ds. en mev. PR Botha. Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis. 1 Petrus 2:5.”
Toe dié winkel oorkant die pad van die kerk af leeggestaan het in die mid-1980’s, het die kerkraad die potensiaal daarvan raakgesien om omskep te word tot Gemeentesentrum.
Die kerkkantoor word nou hier gehuisves en dié “kerksaal” is toegerus met ‘n kombuis. Die eertydse winkel se store is omskep tot Sondagskoolklasse. Dít sou later gebruik word as klaskamers vir ‘n privaatskool en dit doen deesdae diens as blyplek vir “backpackers”.
Baie funksies wat vroeër plaasgevind het by die stadsaal is hierheen verskuif. Só was daar deur die jare onder meer hier bloedskenkings, byeenkomste ná begrafnisse, vergaderings van die VVLU, kunsuitstallings en basaars.
Soos genoem, was die winkel aanvanklik ‘n algemene handelaar en in sy laaste jare het dit bekend gestaan as Voorspoed. Vroeër jare het dit behoort aan die Van Rynevelds.
Die pragtige swart-en-wit teels op ‘n deel van die voorstoep dateer uit die gebou se vorige bestaan toe handelsware nog hier van hand verwissel is.
Dis deesdae moeilik om ‘n vooraansigfoto van die Sentrum te neem, want ‘n laning bome wat deur ds. Bertie Haasbroek hier aangeplant is bied beskutting teen wind en weer, en parkering vir gemeentelede se motors.
As foto’s vergelyk word van dié gebou uit die 1980’s is dit opvallend dat dit nou veel beter daar uitsien as destyds.
FOTOBYSKRIF: ‘n Foto van Voorspoed Algemene Handelaar wat rondom 1980 geneem is.
Tuesday, August 14, 2012
Monday, July 30, 2012
Karoo nie goed vir behoud van hout
Wednesday, July 25, 2012
Tuesday, July 10, 2012
Philippolis se "celebrities"
Tuesday, June 12, 2012
Pienaars se lewe nou verweef met kerk
Plaas nou bestellings vir feesbundel
Sunday, May 20, 2012
Skeepskanonne 150 jaar in Philippolis
Friday, May 18, 2012
Vind vrede in galery
Friday, May 11, 2012
Lyk toe al die tyd 'n boomstomp?
’n BROKKIE inligting wat ’n bejaarde vrou destyds met ’n oud-argeoloog van die Nasionale Museum in Bloemfontein gedeel het oor ’n boomstomp pleks van ’n lyk in ’n kis, spook ná jare steeds by hom.
Was die “lyk” in die kis dalk wel net ’n boomstomp, soos sy vertel het, wonder Cobus Dreyer.
Dreyer het jare lank navorsing gedoen oor die geskiedenis van die inheemse volke van die Vrystaat.
“Dit was baie bevredigend, maar afgesien daarvan ly ek ook aan ‘n ‘outydse siekte’: Enigiets wat oud is, interesseer my,” vertel hy.
“Die ander personeel by die museum het dit geweet. Wanneer daar ’n lid van die publiek met ’n storie, of ’n voorwerp aangekom het en die betrokke departement, soos antropologie of geskiedenis het nie belang gestel nie, het hulle my geroep. Mense kan maklik afgehaal voel as jy nie in hul storie, kiekies of ou Bybel belang stel nie.”
Op dié wyse het hy juwele ontdek.
“So ongeveer 15 jaar gelede, roep die dame by die biblioteek my.
“Kom daar, wag ’n klein, ou vroutjie op my. Jy sou kon sê die tipiese little ol’ lady.
“Kiertsregop, netjies aangetrek, met so ’n krulrand strooihoedjie op die kop.
“Haar naam is Felecite Lowe-Nevett. Sy gee my haar kaartjie. Ek het hom nog. Daar is twee adresse op, een in Umhlanga Rocks en die ander in Stockport in Groot-Brittanje.”
Dié tannie was besig met familie-navorsing en sou enige hulp waardeer. Sy het self van Natal gery en was onderweg na die Kaap.
Haar oupa was die dokter op Philippolis tydens die Anglo-Boereoorlog. Hy dokter Boer en Brit, almal voor die voet. “Oupa het vier dogters gehad, waarvan haar ma een was.”
Een van die susters trou met ’n vent wat daar aankom en kort voor lank is hy 30 000 pond in die skuld. “Seker ’n fortuin vir daardie tyd.”
Die vent bedink toe ’n plan. Hy val van sy perd en “sterf” tragies. Hy word begrawe en die hele hartseerstorie word op sy grafsteen aangebring.
“Sy reken dat daar ’n boomstomp in die kis was, want etlike jare daarna slaan die niksnuts op die diamantvelde uit. Perdfris en gesond.
“Sy het ’n verklaring van ’n private speurder (natuurlik uit daardie tyd) by haar gehad wat dit bevestig het.
“Nou moet ek bieg. Ek het nie die name of vanne van die mense of plaasname of plekke of enige notas neergeskryf nie,” vertel Dreyer.
“ ’n Jaar of wat daarna kry ek ’n brief van haar waarin sy voorstel dat ek haar moet help om die graf te gaan opgrawe om te kyk wat was in die kis.
“Ek het in daardie stadium maar gevoel om nie betrokke te raak nie en skryf toe aan haar: ‘Let sleeping logs lie’. ”
Dit het hom later gepla en hy skryf toe aan haar briewe na albei adresse wat haar egter nie bereik het nie.
“Teen daardie tyd was sy seker al lankal langbome toe.
“Ek het per geleentheid op Philippolis in die ou begraafplaas gaan soek, maar kon nie ’n graf met die hartseerstorie kry nie. Vir al wat ek weet, is hy op ’n plaas begrawe.”
Dreyer sal dit hoog op prys stel as enigiemand iets van dié gebeure weet.
Skryf aan hom by DreyerJ@ Telkomsa.net.













