Sunday, August 14, 2011

Justisiestraat bied baie











BESOEKERS aan Philippolis ry meestal langs Voortrekkerstraat wat van Trompsburg na Colesberg lei of dalk sal hulle nog ‘n ekstra draaitjie ry deur Tobie Mullerstraat wat in vroeëre jare die dorp se hoofstraat was.


Maar min maak ooit in ‘n draai in Justisiestraat waar menige kosbare en interessante geboue ingeryg staan in die eerste drie blokke aan die noordelike punt.


Kom jy vanaf Skoolstraat oor die bultjie wag ‘n historiese kompleks in die kleine op jou bestaande uit ‘n Karoo-platdakhuisie, die historiese skutkraal (waaroor Kontrei onlangs berig het omdat dit aan’t verval is) en ‘n indrukwekkende sinkveranda-huis.


Beide die Karoo-platdakhuis en die skutkraal is nasionale gedenkwaardighede. Die Karoo-huis langs Justisiestraat 4 dien deesdae as vakansiehuis vir die inwoners wat elders woon, maar het in die 1980’s diens gedoen as Philippolis se inligtingskantoor. Toe het wapperende vlae besoekers voor dié huis ingewag. Binne het mnr. Van der Graaff gereed gestaan met brosjures en inligting oor die streek en jy kon poskaarte, skryfbehoeftes en lekkergoed hier aanskaf. Die kamertjies van die huis is klein en donker, maar heerlik koel in die somer.


Twee huise straat-af staan ‘n sinkverandahuis uit ongeveer 1870 wat pryk op Karel Schoeman se hardeband boek, “Vrystaatse Erfenis – bouwerk en geboue in die 19de eeu”. Nes die Karoo-huisie is dit reg op die straat gebou soos die gewoonte destyds was. Van ‘n voortuin is daar glad nie sprake nie. Schoeman skryf: “Met die toenemende gebruik van sinkplate is die veranda as nuwe versierende element in die dorpsboukuns ingevoer. Deur die gebruik van sink kon die stoepe voor die huis nou oordek word, nie net om ‘n aangename sitruimte te skep nie, maar ook om die son uit die huise uit te hou, want vroeëre generasies was nie besonder gesteld op sonlig nie, en waar ‘n huis wel noord gekyk het, het hulle graag van ‘n veranda gebruikgemaak om dit te weer.”


En voorwaar moes dit ‘n heerlikheid gewees het om vroeër dae op dié beskutte hoë stoep te kon sit en uitkyk hoe die wêreld verbygaan. Helaas het dié huis aansienlik verval sedert die Schoeman-boek deur Human & Rousseau uitgegee is in 1982, maar die fasade is nog net so indrukwekkend as destyds. Sementsierwerk dui aan dat dit op ‘n stadium aan die Cilliers-familie behoort het.


Skuins oorkant staan een van die klaskamers wat in 1872 opgerig is om as skool te dien. Dit dien deesdae as stoor en werkswinkel vir mnr. Johan Louw. David Goldblatt, die vooraanstaande fotograaf, het enkele jaar gelede hier ‘n paar trefferfoto’s geneem van die eertydse klaskamer en Louw se werk- en voertuie.


Op die oorkantste hoek is die Anglikaanse kerk wat nou ‘n woonhuis is vir Brinley en Erina Pritchard. Hul seun, ook Brinley, is ‘n argitek in die Kaap.


En reg langs dié kerk vind jy die rede waarom Justisiestraat sy naam gekry het. “Justisie” in Philippolis was hier gesetel met die landdroskantoor, polisiekantoor en tronk bymekaar. Die landdroskantoor waar adv. Nicho du Toit die magistraat is, is onlangs opgeknap en omhein. Van 1872 tot 1942 is skelms in die tronk toegesluit. Vir die volgende 30 jaar was dit 'n polisiekantoor voordat dit in onbruik verval het. 'n Gautengse sakeman, mnr. Harry During, het die bouval in die 1990's vir 'n appel en 'n ei gekoop en dit in oornagverblyf omgeskep.


Onder die ander interessanthede van Justisiestraat tel die kragsentrale waar elektrisiteit destyds opgewek is en ook die huis waar wyle Anna Neethling-Pohl, die befaamde akteur, gewoon het.


Haar broer, wyle Jan Pohl, onder meer liedjieskrywer, het net ’n straat laer langs Tobie Mullerstraat gewoon.


Ons Dien: Winkel smeltkroes van gebeure in SA




- Jens Friis


DAAR is min geboue op die platteland wat so ‘n klinkklare spieëlbeeld bied van die Suid-Afrikaanse geskiedenis oor die afgelope eeu as die gebou waarin die Foodzone-winkel op Philippolis gehuisves word.


‘n Oorweging waarom dié winkel winkel geword het in die dae toe die Nasionale Party opgang gemaak het, was ‘n groepie Afrikaners wat wou keer dat die Engelse en Joodse handelaars ryk word uit hulle geld. En van daar die naam “Ons Dien”.


Dié was ook die leuse van die Hoërskool M.T. Steyn en kan sekerlik gesien word as ‘n aanduiding wie beheer in die dorp gehad het op dié stadium. Ook hoe die skool, kerk en handel se sfere oorvleuel het.


Maar die gebou waarin Ons Dien gehuisves is, se geskiedenis strek verder terug. As jy in Voortrekkerstraat, die hoofstraat, staan is die regterkantste spitsdak deel die saal waarin Emily Hobhouse haar eerste spin-en-weefskool in Suid-Afrika geopen het. Dit was in 1905 net ná die Anglo-Boereoorlog. Só wou dié Engelse vrou die Boere help ophef.




Daar word vertel die Boere het Hobhouse van merinowol en sybokhaar voorsien. Sy het natuurlike kleurstowwe gebruik soos besembos vir ‘n diep rooskleur en perskeblare vir ‘n liggeel.


Daar het al langs Voortrekkerstraat (toe nog Kerkstraat, want dit was voor die herdenking van die Groot Trek in 1938) ‘n leiwatervoor geloop. Maar dié was kort-kort droog. Water was noodsaaklik en boonop was Philippolis ver van die markte. Só het Hobhouse se opheffing hier ‘n stadige dood gesterf.


In die jare wat kom sou dié spin-en-weef-saal dien as huis en groter vensters is ingesit. Maar die basiese struktuur het dieselfde gebly en die dik plafonbalke (dalk geelhout) getuig van die tyd toe hout nog goedkoop was. Dié kosbare plafonbalke is later met hardbord toegekap - dalk ‘n genade, want só is dit bewaar totdat daar enkele jare gelede weer daarop afgekom is.


Die stigters van Ons Dien het destyds geglimlag, want hul eend het goue eiers gelê. Wolpryse het die hoogte ingeskiet en dit sou die beste in dié geweste nog gaan.


Tant Baby Fourie, ‘n boervrou, het graag vertel jy kon by Ons Dien kies uit ‘n magdom bolpuntpenne tot swart manelpakke. Jy kon selfs kiekies hier laat ontwikkel en ‘n verbleikte Kodak-teken het tot in onlangse jare nog op ‘n venster gepryk.


Maar van die Philippolisers uit daardie jare het niemand oorgebly nie en só het die geskiedenis ook grootliks vergaan.


Ek is in 1973 gebore, ‘n jaar nadat die N1 geopen is. Die hoofroete tussen Kaapland en Transvaal sou voortaan digby die nuwe Gariepdam verbygaan. Die pad van Colesberg oor Philippolis na Trompsburg was skielik doodstil en Ons Dien, nes die res van Philippolis, het getaan.


My herinnerings aan Ons Dien gaan omtrent 30 jaar terug. In 1980 was ek in Sub. A by die einste skool met die leuse “Ek Dien”.


Aan wie Ons Dien toe behoort het, kan ek nie onthou nie, maar ek weet my ma Naómi het nie in daardie jare daar gekoop nie.


Sy het Voorspoed, die enigste ander algemene handelaar, verkies. Voorspoed was oorkant die N.G. kerk en sou in latere jare die Gemeentesentrum word. Dié winkel het behoort aan ‘n mnr. Vermeulen. Sy kleindogter Vanessa Bell was toevallig saam met my in die klas.


Vermeulen het in die vroeë 1980’s Ons Dien gekoop en ek onthou daar was nogal ontsteltenis in die dorp toe hy dit herdoop het na Rudi’s – ‘n verwysing na sy seun.


Soos elders het Rudi’s twee deure gehad. By die nie-blankes se afdeling was die rakke tot teen die dak volgepak en hul sou vir ‘n werker aan die ander kant van die toonbank wys wat hy vir hulle moes afhaal.


Die blankes kon self items van die rakke haal en as jy nie lus was om winkel toe te gaan nie, kon jy bel en jou goed is dan per fiets afgelewer.


Die trein het daagliks nog geloop van Springfontein na Koffiefontein en Ons Dien se ware is by Philippolis Weg afgelewer. Dit was grootliks verbode vir handelaars om goedere aan te ry met vragmotors en dit was dan ook ‘n rede waarom die paaie nie so vol slaggate was nie.


Vir baie jare was tannie Pauline van Ryneveld ‘n voorslag in die winkel. Sy het die “till” (kasregister wou nooit posvat nie) geslaan en het geweet hoe werk ‘n winkel, want die Van Rynevelds het vroeër ‘n soortgelyke algemene handelaar in die dorp gehad.


En later was Annette Loock ewe bekwaam toe tannie Pauline en oom Frikkie gaan aftree het op Hartenbos.


Dit was omtrent in dié tyd toe Chris en Lola Oelofse Rudi’s oorgeneem het en die winkel weer Ons Dien gedoop het – ‘n wyse besluit, want hiervan het die klante gehou.


Vir omtrent ‘n twee dekades sou die Oelofses hier arbei. Ek onthou goed hoe Chris, toe was hy burgemeester van die dorp, opgemerk het hoe erg dit vir hom as winkelier is dat die meelprys voortdurend styg. “Ek weet nie wat eet die mense meer nie. Hulle kom met soveel geld die winkel in as wat ‘n sak meel die vorige keer gekos het, maar dan is dit hopeloos te min.”


Ons was toe al goed die nuwe Suid-Afrika in en die “till”-vrouens het kleurlinge geword.


Rondom 2005 het die Oelofses verkoop en Ewald Fourie en sy vennote het die nuwe eienaars geword.


Fourie het die kruidenierswarerakke verskuif en die uitleg van die winkel verander. Die klere-afdeling is gesluit, ‘n bakkery is begin wat heerlike vetkoeke gemaak het, en in die deel waar Emily Hobhouse haar spin-en-weef-skool begin het, het hy ‘n restaurant Ant Emily’s begin.


Maar ‘n jaar of twee later het die noodlot getref. Fourie se bakkie het gerol en hy kon nie die besigheid verder bestuur nie. Sy vennote het met die winkel voortgegaan en Elsa Lombard en Nauda Cilliers het ‘n koffiewinkel/restaurant in Ant Emily’s bedryf.


‘n Jaar of wat later het Kent en Elbie Foster Ons Dien gekoop en só het dit ‘n Foodzone-tak geword.


Dis ‘n ope vraag hoe veranderinge oor die jare wat kom in Suid-Afrika dié instelling in Philippolis gaan beïnvloed.