Thursday, February 17, 2011

Gras verberg plaasheining

In die Skynkaroo, grootliks bossiewêreld, gebeur dit selde dat die gras só hoog staan dat dit 'n plaasheining verberg. Hier steek die heining van mnr. Niklaas du Plessis se plaas Klein Waaihoek net-net uit. Die foto is geneem tussen Waterkloof en Colesberg in die Suid-Vrystaat. Foto: Jens Friis

Friday, February 11, 2011

Wolkbreuk tref suidwes-Vrystaat

Wolkbreuk tref suidwes-Vrystaat

- Jens Friis

PHILIPPOLIS. ­– ‘n Wolkbreuk het die suidwes-Vrystaat gister in die vroeë oggendure getref toe 55 mm digte, harde reën in die middernagtelike ure tussen 01:00 en 02:00 oor Philippolis uitgegiet is. Die vorige dag het 16 mm geval en met die skryf van dié berig was dit steeds dig bewolk.

Weens dié 70 mm wat oor ‘n reeds sopwaternat Transgariep geval het, het damme op die grens tussen Fauresmith en Philippolis gebreek, die pad na Trompsburg is oorstroom, die Luckhoff-pad is onrybaar, die sloot wat deur Philippolis vloei het vir die derde keer in minder as ses weke in vloed afgekom, en Philippolisers was Vrydag weer sonder drinkwater.

In die ses weke van die nuwe jaar het daar ‘n milde 420 mm oor Philippolis uitgesak – die meeste in menseheugenis. Dit is 60 mm meer as die gemiddelde reënval vir ‘n ganse jaar hier.

‘n Oostenrykse gas wat by die Groenhuis Gastehuis in Philippolis oorgebly het, was teleurgesteld dat dit elke dag reën. “Ek kom hierheen om weg te kom van die grou winterweer in Europa. Maar ek sien nooit die son in die Karoo nie. Dis groener hier as in Switserland!”

Mnr. Willem Strauss sê: “Só nat is dit dat ek met my trekker die veld in moet ry as ek met die skape op Dwarsrivier wil werk.” Hy is die pa van Adriaan Strauss, die Cheetah-rugbyspeler wat onlangs buite Kroonstad getroud is met me. Chantell van Heerden.

Weens die nat toestande kom bloutong reeds onder skape voor. Muskiete en muggies is orals, geelperskes en pruime word suur aan die bome voordat dit ryp is, tuinplante vrek weens ‘n oorvloed water, en die kristal-druiwe wat gewoonlik heuningsoet is, is vanjaar waterig.

Ja, niks is ooit net goed nie. Soos die skrywer Piet van Rooyen eens opgemerk het: “Elke munt het sy kruiskant, na elke oorvreet kom die honger, by elke dikdrink sluimer die dors.”

Mev. Annamarie Vermeulen van die plaas Uitsig het gisteroggend byna ‘n halfuur aan 7 km gery op pad na Bergmanshoogte Intermediêr waar sy ‘n onderwyseres is.

“Ons plaaspad was ‘n rivier water, die groot dam by Grootfontein van die Kolvers is tot oorlopens vol en by die Seebos-uitdraai naby die Kruizingas was die water los oor die Luckhoff-pad.”

Laagliggende dele van die Luckhoff-pad is seepglad, uitgespoel en onbegaanbaar. Só moet Vermeulen elke werksdag oor die klipbedding van die Knapsakrivier ry, want die pad aan weerskante van die brug het ‘n maand gelede weggespoel.

Vrydagoggend het die water steeds oor die twee toegangspaaie tussen Philippolis en die woonbuurt Poding Tse Rolo gestroom. Die enigste manier vir werkers om in Philippolis te kom vanaf Poding Tse Rolo was om versigtig oor ‘n smal hoogwaterbruggie te stap. Maar dit is uiters gevaarlik, want die handreëlings het ‘n maand gelede weggespoel toe damme stroom-op gebreek het.

Geen herstelwerk is sover gedoen nie, en inwoners leef in vrees dat die dam reg langs die middedorp verder gaan breek en die dorp toe onder die water gaan wees soos met die Laingsburg-vloed destyds. Ten spyte van talle versoek het die provinsiale regering nog nie ingegryp om die damwal te versterk nie.

Mnr. Abram Tumo wat sy ma mev. Julia Tumo die naweek ter ruste gelê het in die begraafplaas van Poding Tse Rolo, sê die aarde is deurnat. “Toe ons die graf grawe was die grond moddernat tot meer as 1 m diep.”

Die ondergrondse water is so hoog dat fonteine die sterkste loop in jare, sê mev. Pulani Simes. “Hier is ook baie kos vir die winter.”

En as jy kan na wat die diere in die veld doen, is dit dalk nog einde niet aan die nat toestande. Inwoners vertel dat skilpaaie en slange steeds na hoërliggende dele beweeg. En die goeie reënmaande van Maart en April lê boonop nog voor.

Wednesday, February 9, 2011

Gedenkmuur in gebruik geneem

Mnr. Johan Muller, ouderling, en dr. Carin van Schalkwyk, leraar van die gemeente, hou die hoeksteen van die gedenkmuur vas. Foto: Jacques Lombard
Die as van wyle mnr. Jan Klopper was die eerste om verseël te word in die gedenkmuur. Hy het by sy suster, mev. Lea Theron en haar man Christo, langs Philipstraat, Philippolis, gewoon. Foto: Jacques Lombard
'n Vooraf-foto van die plek waar die gedenkmuur opgerig is - langs die konsistorie. Die nuwe gedenkmuur word deur 'n roostuin omring. Foto: Jens Friis

- Jens Friis
PHILIPPOLIS. Die marmer hoeksteen van 'n gedenkmuur agter die NG Kerk op Philippolis is op Sondag 6 Februarie onthul deur dr. Carin van Schalkwyk, leraar van dié gemeente.
Hierdeur is dié gedenkmuur wat ontwerp is deur mev. Mariaan Weideman, 'n plaaslike argitek, in gebruik geneem.
Die eenvoudige wit gedenkmuur wat aansluit by die kerk, 'n nasionale gedenkwaardigheid, is tussen die konsistorie en die Laurens van der Post-sentrum opgerig. Dit word omring deur 'n roostuin.
Die eerste persoon wat se as hier verseël is, is dié van wyle mnr. Jan Klopper. Hy het by sy suster, mev. Lea Theron en haar man Christo, langs Philipstraat, Philippolis, gewoon. Hulle was ook op dié Sondag teenwoordig tydens die openingseremonie.
Persone wat belangstel om geliefdes se as hier te berg kan mev. Pulani Simes, skriba, soggens by die kerkkantoor bel. Die nommer is 051-773-0014.
Die inligting van die afgestorwene kan deur mnr. Joe Andrews, 'n Philippoliser, aangebring word. Hy gebruik 'n baie goeie soort spuitverf wat glo nie eens sal afkom as dit gewas word nie.
Elke nissie het reeds 'n ongeskrewe plaat. Dié plaat kan bloot verwyder word en inskripsies kan dan daarop aangebring word.

Tuesday, February 8, 2011

Groenhuis Gastehuis, Philippolis, 051-773-0073


Dam leër weens vloed

Dié dorpsdam by die ingang na Philippolis vanaf Trompsburg het onlangs gebreek. 'n Dam wat half leeg is op hierdie stadium is 'n snaaksigheid in mid-Suid-Afrika. Verlede week het daar opnuut 52 mm hier geval en al die damme het weer oorgeloop. Dié dorpsdam het gebreek nadat 'n ander dam stroom-op vroeër ook meegegee het. Philippolisers vrees erge reën, want dit kan groot skade veroorsaak as die dam heeltemal breek. Daarom hoop die inwoners dat die provinsiale regering sal ingryp, want dis alom bekend dat Kopanong Munisipaliteit se geldsake in 'n bedenklike toestand is. Foto: Jens Friis

Herstelwerk vorder pynlik stadig

Herstelwerk na die vloede op Philippolis vorder pynlik stadig. Damme, keerwalle, paaie en brue is onder meer hier weggespoel. Dié foto is geneem by die Hospitaalstraatbrug wat ook deurgeloop het. Dié pad strek van Voortrekkerstraat na die woonbuurt Poding Tse Rolo. Die sloot wat deur Philippolis loop het plek-plek sy loop skoon verander nadat twee damme stroom-op gebreek het. Verlede week het hier weer 52 mm geval en al die damme het opnuut oorgeloop. Foto: Jens Friis