Tuesday, April 19, 2011

Jy kan baba-tier doop

PHILIPPOLIS. Jy staan die kans om ‘n naam te gee vir ‘n hoogs bedreigde Suid-Chinese tier waarvan daar minder as 80 in die wêreld oor is.

Dié baba-tiertjie is op die Laohu-tierreservaat buite Philippolis gebore op 31 Januarie twee dae voor die einde van die Chinese Jaar van die Tier.

Die nuwe aankomeling van pa 327 en ma Cathay word tydelik “Miss X” genoem.

Die teelprojek by Philippolis is waarskynlik die allerlaaste kans om die Suid-Chinese tier (Panthera tigris amoyensis) van uitwissing te red, want daar is minder as 80 van dié tiere oor waarvan ’n skamele 20 in die natuur voorkom. Die ander 60 is in dieretuine in China.

Omdat hulle nie in klein dieretuinhokke wil voortplant nie, is van die tiere in 2005 na die Laohu-reservaat suidwes van Philippolis gebring.

Baie omgewingsbewustes het dié teelprojek nie ’n kat se kans gegee nie, “maar die projek is beslis suksesvol soos gesien kan word deur die nuwe tiertjies wat gebore word,” sê me. Li Quan, stigterslid van die SCT-organisasie uit Londen.

Aanvanklik het dit gelyk of pa 327 nie kinders sal kan hê nie. Die geboorte van Miss X was dus ‘n verrassing. Sy eerste baba is rondom Kersfees in 2009 gebore, maar enkele dae daarna het ‘n roofvoël daarmee weggevlieg.

Om ‘n soortgelyke tragedie te voorkom word die kosbare klein Miss X met die hand onderdak grootgemaak sedert haar derde dag op aarde, lui ‘n mediaverklaring.

“Miss X is ‘n sterk welpie en kruip oral rond. Dit het daartoe gelei dat sy deur die ogiesdraad van ‘n heining geklouter het en die personeel groot laat skrik het. Aangesien sy met die hand grootgemaak word en mense vertrou sal sy nie alleen in die veld vrygelaat kan word nie (dieselfde geld vir die tier Hulooo) omdat dit gevaarlik vir haar kan wees. Sy sal egter hopelik welpies hê en haar kinders leer om te jag.”

Die kompetisie word aangebied deur die internasionale Red China se Tiere-organisasie (SCT) en die Chinese internet verskaffer Sina.com. Name kan aanlyn ingeskryf word tot 21 April by http://news.sina.com.cn/z/tigername2011/index.shtml of gooi ‘n oog by www.savechinasitgers.org.

Die wenner sal in Mei aangewys word. Daar word onder meer verkies dat herhalende name soos Baba, Lili en BeiBei vermy word en dat die naam nie te lank is nie.

Hierdie is die tweede keer dat die publiek ‘n kans staan om ‘n tiertjie te doop. Die eerste keer was in 2008 toe die eersgebore baba op Laohu die naam Hulooo gekry het. Hulooo is nou drie en ‘n half jaar oud en gereed om te paar.

Wednesday, April 13, 2011

Bruidspaar oplaas (onverwags) geëien

PHILIPPOLIS. 'n Toeris kon skaars haar oë glo toe sy onlangs totaal onverwags afkom op 'n foto van haar grootouers in die Suid-Vrystaat. Mev. Irma Gomes van Muldersdrif het onderweg in Philippolis oorgeslaap tydens 'n vakansie. Haar mond het oopgehang toe sy afkom op 'n handvol swart-en-wit kiekies wat 'n muur versier in Die Stal, 'n anneks tot die Groenhuis Gastehuis. Op een van dié foto's was 'n oupa en ouma, wyle mnr. Piet en Flippie Bekker, op hul troudag. Geen Philippoliser kon sover die mense op die foto eien nie. Die foto is geneem op die oomblik toe die bruidsbaar die N.G. Kerk in Philippolis verlaat het ná hul huweliksbevestiging. Om seker te maak dat niemand vergeet wie dit is nie, het me. Gomes só agterop die foto geskryf: "Piet Bekker en Flippie Bekker se troue. Piet Bekker is ouma Dollie Becker se broer. Dollie is oom John Becker se vrou. Party Bekkers word met 2 k's gespel en die ander met ck." Oom John Becker het voorheen in die huis langs Philipstraat, Rowelsfontein, gewoon waar wyle me. Sussie Simes tot onlangs gewoon het. Irma vertel dat sy baie keer by hulle gekuier het. Sy onthou vir oud-inwoners soos mev. Cielie van Niekerk wat ook in Philipstraat, 'n straat vanaf die Groenhuis, gewoon het. Oom John was baie sterk. Daar word onthou dat hy 'n windpompkop teen 'n windpomptoring kon uitdra en eiehandig werkmaak.

Friday, April 8, 2011

Liedjieskrywer kom musiekvideo maak


- Jens Friis

PHILIPPOLIS. Stef Kruger, skrywer van liedjies soos Tussen jou en my en Grassade in die wind gaan 'n musiekvideo op Philippolis kom maak. Die musiekvideo is vir Kruger, 'n boorling van Philippolis, se liedjie My Wortelwêreld. Hy woon die afgelope vier jaar in Oudtshoorn en het aan 'n 'n eie CD van sy liedjies begin werk. Kruger het enkele jare gelede sy naweekhuis op Philippolis verkoop. Dit het gevolg nadat sy ma, mev. Lettie Kruger, na die tehuis vir bejaardes op Trompsburg getrek het. Tant Lettie, intussen oorlede, het vir byna 'n halfeeu in haar huis langs Tobie Mullerstraat gewoon. "In st. 7 het ek ’n kitaar by ’n winkeltjie gekoop. As ek reg onthou, het dit R5 gekos. Daarop het ek my eerste akkoorde getokkel," het Kruger eens vertel met ’n besoek aan sy geboortedorp. "My studio was ’n geel Zephyr in ’n agtertuin. Dáár kon niemand my hoor nie. Buiten ’n paar rekker- en kleilatgevegte was Philippolis stil. Hierdie Vrystaatse dorpie is net so droog soos ek, maar dit was nietemin ’n wonderlike leerskool. Daar was genoeg tyd om te kon droom en liedjies te skep." En dit was gewis 'n goeie leerskool, want uit hierdie woordman se pen het menige treffers vir onder meer Dozi gevloei.

Kiekies van dorpe bekoor

- Jens Friis As jy 'n belangstelling het in fotografie én in die landelikheid van plattelandse plekke, sal Roger Ballen se “Dorps – small towns of South Africa” jou bekoor. Met die eerste oogopslag snap jy waarom dié foto's in die Museum of Modern Art in New York tot die Guggenheims pryk. Dis eersteklas foto’s waar die fotograaf se voorliefde vir wat hy afneem opvallend is: “Vir my is ‘n dorp meer as ‘n definisie van plek en mense. Dit is ‘n omgewing, ‘n spesifieke fenomeen. Die woord “dorp” het ‘n unieke konnotasie wat net in Suid-Afrikaanse dorpe te vinde is,” skryf Ballen. In die voorwoord vertel hy breedvoerig hoe hy op 'n wildvreemde dorp sou aanland en dan voel-voel rondgaan op soek na iets anders om af te neem. Dit is nie noodwendig die mooiste of die opvallendste nie, maar iets wat hom bybly. Vir Ballen, ‘n Amerikaner, was die uittog na dié dorpe die mees besonderse ekspedisies van sy loopbaan. Hy gee toe dat 'n Suid-Afrikaanse dorp in die meeste mense se oë nie "eksoties" is nie. Maar tog het dit hom bly lok. En hierin is veel te leer. Telkens het ek al ervaar hoe buitelandse vriende meer uit die tradisionele dorpies van Suid-Afrika kry as die stede - juis omdat dit nie voorgee om iets anders te wees as wat dit is nie. Op 'n persoonlike vlak het dié my boek onmiddellik my aandag getrek, want op die voorblad pryk die hotel in Middelburg (Kaap) waar my pa aangetrek het voordat my ma hom met hul huwelik in die Gereformeerde Kerk tegemoet geloop het. En dan is daar ook ‘n foto van die huis waar wyle tant Frieda en oom John Jacobson in Philippolis eens gewoon het. Hier het ek meerdere maal vir 'n paar uur oorgebly as my ouers, twee onderwyseres, aan die einde van die jaar na die matriekafskeid sou gaan. Die Jacobsons het dan graag na die Friise se kleingoed gekyk. Deesdae woon my oudmusiekonderwyseres Desiré Jansen van Rensburg hier en na sowat drie dekades lyk die huis steeds nes op Ballen se kiekie. UIt Volksblad se lesersgebied is daar ‘n magdom foto's van dorpe soos Hanover, Smithfield, Aliwal-Noord, Frankfort, Bethulie en Paul Roux. Waaroor ek wel gewonder het met die deurblaai is of die boek werklikwaar daarby baat dat slegs swart-en-wit foto's geplaas is. Ook of dit nie sou loon om aan beide kante van die blaaie foto's te plaas nie? Dis wel 'n lekker luukse, maar die boek kon veel meer waarde gebied het deur ook die linkerkantste bladsy te gebruik. En laastens wil die boek tog hier en daar die indruk wek dat die plattelanders agterlik is - byna soos op daai bekende Time-tydskrif van ouds se voorblad. Maar mens moet wel toegee dat die foto's sowat 30 jaar gelede geneem is. Soos die jare aanstap, verander die hede voortdurend die karakter van dié plekke. Soos Ballen opgemerk het: “Ek voel dat ek ‘n blik gee op ‘n uitsterwende kultuur. Ek het hierdie dorpe afgeneem in die hoop om tyd te vries.” Protea moet geloof word vir dié bygewerkte heruitgawe met foto’s wat nog nie vantevore gepubliseer is nie.