Monday, July 30, 2012
Karoo nie goed vir behoud van hout
- Jens Friis
PHILIPPOLIS. ¬– Met besoek aan Philippolis was Jan de Jongh van Nederland beïndruk met die hoeveelheid houtsierwerk aan historiese woonhuise langs veral Voortrekkerstraat, die hoofstraat.
De Jongh, ‘n kenner op dié gebied, is veral geïnteresseerd in tot watter mate houtsierwerkstyle vanuit Nederland destyds na Suid-Afrika oorgespoel het.
Soos Karel Schoeman in sy boek “Vrystaatse Erfenis – bouwerk en geboue in die 19de eeu” verduidelik: “Houtwerk is soms ter plaatse vervaardig, veral op die platteland, maar gedurende die negentigerjare is die meeste onderdele van geboue van oorsee bestel, gewoonlik pasklaar uit katalogusse.”
Die Engelse argitekte het hul boumateriaal grotendeels uit Brittanje laat kom, terwyl die Nederlandse argitekte na die Vasteland gekyk het. Uiteraard was daar dan ook klagtes hieroor dat diegene hul bestellings oorsee geplaas het eerder as in byvoorbeeld Bloemfontein, waarop hul beweer het dat dit goedkoper was. Mettertyd het groter winkels soos G.A. Fichardts in Bloemfontein ook ‘n veel groter voorraad boumateriaal aangehou.
Van dié houtwerk in Philippolis is dus meer as ‘n eeu oud en De Jongh het gewaarsku dat dit gerestoureer moet word, want anders gaan dit beslis nie behoue bly nie vir die nageslag.
“Die droë, winderige toestande van die Karoo waar die son fel kan brand, is alles behalwe bevorderend vir die behoud van hout. Afskuur, olie en verf kan reeds wondere verrig,” het hy gesê.
“Daar is hordes geboue in Nederland wat meer as ‘n eeu oud is, maar in Suid-Afrika is dit ‘n lang tyd en daar is min voorbeelde oor van die boukuns uit daardie tyd. Mens moet onthou dat die vakmanne van destyds in ‘n afgeleë mid-Suid-Afrika bittermin gereedskap gehad het. Boonop was geld min. Dus is dit besonders dat hul soveel aandag gegee het aan houtsierwerk – des te meer ‘n rede om na hierdie besonderse nalatenskap om te sien. Dis gewis iets uit ‘n vergange era.”
Volgens Schoeman was die boumeesters destyds tradisioneel plaaslike mense, “dikwels met min of geen formele opleiding; die boumateriaal was dié wat plaaslik beskikbaar was; en die doel van die bouwerk was in eerste instansie funksioneel, met versierings wat slegs vir die bevrediging van die bouer of eienaar aangebring is.”
Deur variasies in die sierhoutwerk is ‘n treffende dekoratiewe effek dikwels bewerkstellig.
De Jongh wat talle foto’s geneem het van sierhoutwerk aan woonhuise in Philippolis, hoop om terug te keer na die oudste nedersetting in die Vrystaat en dan verdere navorsing hier te kom doen.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment