Thursday, August 28, 2008

Groenhuis Guesthouse, Philippolis, 051-773-0073

Tobie Mullerstraat se ongekunstelde skoonheid bekoor

PHILIPPOLIS. Meerdere keer wil besoekers weet of die oudste deel van Tobie Mullerstraat in Philippolis onlangs gerestoureer is, want al die huise is dan eenders geverf: wit mure en erfenisgroen dakke - nes dit vanmelewe daar uitgesien het.
Maar nee, hier was g'n sprake van 'n gesamentlike opknappingsprojek nie. Die inwoners het bloot besluit dat dit 'n gawe plan is om hul historiese huise so eenders te verf.
Toe Pasella onlangs besoek afgelê het in Philippolis, het die TV-aanbieder Paul Rothman daarop aangedring dat 'n paar skote langs dié straatjie geskiet word.
Tobie Mullerstraat, wat genoem is na die gewilde tweede leraar van die plaaslike N.G. Kerk, herinner aan 'n Middeleeuse straatjie, want die huisies staan ingeryg en hul stoepe grens direk aan die straat.
Voor talle huisies is 'n oop, smal stoep met leiklipplaveisel en steentrappies. Dié trappies loop gewoonlik direk op die straat uit. Van 'n tussenruimte soos 'n tuin is daar weinig sprake. Die private huisdomein skakel feitlik direk met die publieke domein en die straat word 'n verlening van die private binneruimte, aldus argitek Jan Daniël Smit.
Talle van die huisies is tot nasionale gedenkwaardighede verklaar. Hieronder tel die Nagmaalshuisie en die Hartjiehortjiehuisie wat beide gebou is in die Karoo-platdakstyl.
In die string argitektoniese juwele in Philippolis is dié huisies geensins die imposantste nie, maar met hul groengeverfde hortjieluike en besonderse pleisterwerk om die mure en deure, kan jy dit nie miskyk nie.
Hierdie straat se huise is van die oudste in die Vrystaat. Só is die geskiedenis van die Nagmaalshuisie terug te spoor tot 1860. Op 17 Julie van daardie jaar is die grondbrief vir erf 97 uitgereik aan J. Jager deur Adam Kok III, die Griekwakaptein.
'n Onbekende feit is dat Tobie Mullerstraat eers Philippolis se hoofstraat was. Vanaf die reservoir-koppie is die oorspronklike toegangsroete wat Tobie Mullerstraat word, steeds duidelik sigbaar tussen die Karoo-bossies. Eers in latere jare sou Kerkstraat (deesdae Voortrekkerstraat) die dorp se hoofstraat word.
Omdat Tobie Mullerstraat eers die hoofstraat was word dit omsoom met onder meer die imposante landdroskantoor-gebou met sy Kaaps-Hollandse gewels, die eertydse poskantoor wat tot onlangs 'n vakansiehuis van die liedjieskrywer Stef Kruger was, en die Anglikaanse kerk wat nou 'n woonhuis is.
So Afrikaans soos die dorp deesdae is, is dit moeilik om te glo dat hier op sy dag soveel Engelse was dat dit 'n Anglikaanse kerk regverdig het.
In werklikheid was daar glo ten tyde van Philippolis se ontstaansjare heelwat meer Engelse as Afrikaners. Die Afrikaners was boere en het met hul waens oor die Oranjerivier getrek op soek na groener weivelde. Hierteenoor was dit die Engelse wat hulle op die sendingdorpie, Philippolis, gevestig het. Hulle was hoofsaaklik handelaars of verantwoordelik vir die administratiewe aangeleenthede van die nedersetting.
Selfs The Illustrated London News het berig oor die hoeksteenlegging van dié Anglikaanse kerk op 4 Junie 1864.
In die jare wat kom, sou hierdie kerk 'n opdraande stryd voer. 'n Sondagdiens het gemiddeld slegs 60 mense gelok in 1870. Dit was 'n groot probleem om die 300 pondbouskuld te delg. Soos die Engelse bevolking in Philippolis verminder het deur die jare, het die kerk 'n stadige dood gesterf.
Wanneer die laaste diens hier plaasgevind het, is onseker. Wat wel bekend is dat die VVLU-tak dit in die 1950's-1960's gebruik het en dat mnr. Dawie Marais dit gekoop het.
Nadat dit dekades leeg gestaan het en onder meer as kolestoor gebruik is, het die Pritchards dit in die vroeë 1990's van verwaarlosing gered. Nou is dit 'n dubbelverdieping-woonhuis vir mnr. Brinley en mev. Erina Pritchard.
Wat eens die konsistorie was, is nou 'n kombuis. 'n Stukkie van die oorspronklike geelhoutvloer het behoue gebly en dit dien nou as 'n spogdeur in dié kerkhuis.
Die kerk se sinkplate en plafon is ook behou. "Die behoud van die plafon deur die jare was dalk dat dit so hoog is. Vir diegene wat die kerk stuk-stuk gesloop het, was dit net te veel moeite om by die plafon uit te kom," meen mev. Pritchard.
Wat van die oorspronklike hoeksteen geword het, is onseker. Met die opknapping van die kerk tot huis is die ganse gebou se pleister afgekap, maar 'n hoeksteen is nêrens gevind nie.
Vanaf 'n klein balkonnetjie op die eerste vloer van hul kerkhuis het die Pritchards waarskynlik die beste blik van almal op Tobie Mullerstraat - sekerlik een van die mooiste straatjies in mid-Suid-Afrika.

Monday, August 11, 2008

'n Kultuurerfenis met skop

DIE Transgariep Museum in Philippolis is een van die enigste in die land wat gelisensieer is om alkohol - en wel Witblits - te verkoop. Hierdie vuurwater het deur die jare heen net so deel van die Suid-Afrikaanse kultuurerfenis soos die Grieke se ouzo, die Amerikaners se moonshine, die Iere se poteen en die Switsers se kirsch geword. Witblits en mampoer word onderskei op grond van die soort mos waarvan dit gemaak word. Mampoer word van vrugte soos kersies, vye, perskes, appelkose en sitrus gestook, terwyl witblits van druiwe gemaak word. Hier hou mev. Elize Pienaar, kuratrise van die museum, 'n bottel van die Transgariep Museum-witblits vas. Foto: Jens Friis