Tuesday, July 10, 2012

Philippolis se "celebrities"

Maak ‘n lys van bekendes wie se spore in jou tuisdorp lê en jy mag verstom wees hoeveel daar wel is, skryf Jens Friis. Hieronder is van die “celebrities” uit sy grootworddorp Philippolis. ADRIAAN STRAUSS, die Cheetah-haker en Springbok, se wortels lê op die plaas Dwarsrivier tussen Philippolis en Trompsburg. Sy pa Willem Strauss boer steeds hier. Vroeër jare het dié spogplaas behoort aan minister Serfontein oftewel oom Serfie soos hy hier bekend was. BRUMILDA VAN RENSBURG, die immergroen aktrise, stam van hier. In artikels het sy dan ook al telkemaal vertel van kindertydse herinnerings op hul familieplaas in dié omgewing. TOBIE MULLER, dié tweede leraar van die plaaslike NG gemeente, het in die Groot Griep van 1918 omgekom, maar word onder meer onthou daarvoor dat hy die eerste huwelik in Afrikaans in Suid-Afrika op Philippolis voltrek het. Hy was een van die vertalers van die Bybel na Afrikaans toe hy dood is. ANNA NEETHLING-POHL EN JAN POHL: Dié broer en suster wat diep spore getrap het in die Suid-Afrikaanse kunswêreld het beide op Philippolis kom aftree. Die liedjieskrywer Jan is hier oorlede en sy suster Anna, ‘n bekende aktrise, het hier gewoon totdat sy kort voor haar dood na Graaff-Reinet verhuis het. Anna was dol oor die Karoo se kristalhelder sterre en sy het dan ook kort na haar intrek gesê sy het hierheen gekom “om die sterre te pluk”. Maar van die Augustus-winde wat woes uit die weste kan waai het sy minder gehou! ELSA KOLVER, dogter van eerste minister John Vorster, het ‘n Philippoliser geword toe sy met André Kolver getroud is en boervrou geword het langs die pad na Gariepdam. Sy is deur Volksblad aangewys as een van 100 Vrystaters van die eeu (1900 tot 2000). Kolver het ‘n leidende rol gespeel in die Vrystaatse Vroue Landbounie en ook in internasionale blomrangskikkings-kringe. Haar dogter Martelize is ‘n aktrise en is onder meer gereeld te sien op kykNet. EMILY HOBHOUSE: Dié Britse filantroop het ná die Anglo-Boereoorlog haar beywer om die lot van Boer-gesinne te verlig. Met dié doel het sy spin-en-weefskole op verskeie plekke in die land op die been gebring waarvan die eerste in Philippolis was. Emily het vir ‘n wyle hier gewoon en ‘n monument langs Voortrekkerstraat gedenk haar opheffingswerk. RACHEL ISABELLA (TIBBIE) STEYN, Suid-Afrikaanse vroueleier en vrou van die laaste president van die Oranje-Vrystaat, M.T. Steyn, het in die NG pastorie op Philippolis grootgeword. Sy was die dogter van ds. Colin Fraser, leraar van die gemeente van 1863 tot 1907. Hoewel sy van Skotse herkoms was aan beide moeders- en vaderskant, het sy haar veral vanaf die Anglo-Boereoorlog ten volle vereenselwig met wat sy self as die "Boerevolk" beskryf het. ADAM KOK, die leier van die Griekwas, se kanonne waak nog op ‘n koppie in die middel van die dorp. Philippolis was eens die hoofstad van dié Griekwa-stam voordat hulle verhuis het na Kokstad in Kwazulu-Natal. JOHN VARTY, die bekende rolprentmaker en omgewingsbewaarder, se tierplaas Tiger Canyons is 25 km buite Philippolis. Nader aan kat se kind kan jy skaars kom as op hul begeleide toere. Vroeër het Gillian van Houten, sy gewese vrou en TV-persoonlikheid, saam met hom in die distrik gewoon. LI QUAN, ‘n voormalige internasionale model en stigerslid van Save China Tigers, doen baanbrekerswerk op die Laohu-natuurreservaat tussen Philippolis en Colesberg. Uit dié tierteelprojek is reeds 14 tierwelpies gebore waarvan 11 oorleef het. Een van die drie welpies wat dood is, is deur ‘n roofvoël gevang. Die Suid-Chinese tier is meer bedreig as selfs die panda. Weens die sensitiewe aard van die teelprojek is Laohu nie oop vir toeriste nie. SIR LAURENS VAN DER POST, skrywer, filantroop, vriend van prins Charles en peetpa van prins William, word in Philippolis gedenk met ‘n skrywershuis, labirint en gedenktuin. STEF KRUGER, liedjieskrywer en sanger, is die skrywer van menige bekende liedjie soos Grassade in die wind en Tussen jou en my. PIETER FOURIE, die bekroonde dramaturg, het op 21-jarige ouderdom gematrikuleer aan die Hoërskool M.T. Steyn nadat hy vroeër om finansiële redes uit die skool is. Hy is onder meer ‘n oud-feesidrekteur van die KKNK en ontvanger van die Hertzogprys.

No comments: