Op Philippolis, soos baie ander plattelandse dorpe, se tennisbane word nie meer balle geslaan nie. JENS FRIIS kyk terug.
PHILIPPOLIS. - Ná die Franse Ope en veral die onlangse Wimbledon het diegene wat jy net dan en wan op die tennisbane sou sien, weer 'n paar houe kom slaan. Maar dit was destyds. Nóú spoor selfs dié toernooie nie meer inwoners aan om te kom speel nie.
Op Philippolis, soos baie ander plattelandse dorpe, het tennis iets geword wat tot ‘n vergange era tuishoort.
Dié plaaslike tennisklub wat die laaste was om te oorleef - lank nadat daar nie meer 'n rugbyspan, rolbalbaan of gholfspelers hier was nie – is ook daarmee heen.
Nou word daar nog net sokker in die township gespeel en sport by die drie skole beoefen - op 'n veel beperkter mate as vanmeleë.
Tennis se geskiedenis op Philippolis strek terug na tot voor die Anglo-Boereoorlog. Sover bekend was die eerste dorpstennisbaan op die Van der Post-erf langs Colin Fraserstraat, waar sir Laurens se geboortehuis nog staan. Van der Post se pa was die plaaslike prokureur. Saans is dikwels 'n bal of debatsaand gehou, biljart gespeel en klein Laurens se moeder het West End-toneelstukke afgerig wat selfs in buurdorpe opgevoer is. Saterdae is op die baan in die agterplaas tennis gespeel met houtrakette en kraakwit klere.
Sover bekend was die enigste ander huis wat deur die jare sy eie baan gehad het, dié van Johnny Steytler langs Kerkstraat (oftewel Voortrekkerstraat). Dié huis word nou bewoon deur Beckey en Jannie Cilliers, wat jare vir die dorpsmanspan gespeel het.
Jens Friis snr., vroeër die nommer 1-speler van die Suid-Vrystaat , sê hy het in die 1960’s begin speel toe die Philippolis-tennisklub was waar die polisiekantoor nou staan langs Tobie Mullerstraat.
Daar is rondom 14:00 begin speel totdat die son sak. Gewilde rondomtalie-toernooie is gehou en aan die einde van die jaar was daar 'n reuse braai ná die dag se tennis.
Van hier is die tennisbane verskuif na tot langs die skouterrein. Dit was egter nie 'n goeie plek om te bou nie, want die potkleigrond het die bane laat bars. Die finale spyker in dié doodskis was toe vroue nie alleen hier wou kom speel nie, want die afgeleë bane was naby die township en dit was die dae van die noodtoestand in die 1980's.
Gevolglik het die klub 'n nuwe tuiste gekry langs die seunskoshuis. Hier by die ingang van die dorp vanaf Trompsburg is vier bane en 'n klubhuis gebou. Friis, toe voorsitter van die klub, vertel dat baie van die ou tennisbane se draad en pale nog in 'n goeie toestand was en hierheen verskuif kon word.
En dis dan hier waar die klub gehuisves is totdat dit 'n stille dood gesterf het enkele jare gelede.
Die belangrikste redes hiervoor is waarskynlik die ontvolking van die platteland, kinders wat elders op skool is en ouers wat nie kans sien om Saterdae weer te ry nie, en televisie wat rugbywedstryde op Saterdagmiddae uitsaai.
Dat inwoners deesdae beter voertuie het en daar wêreldwyd meer klem is op sport se bydrae tot goeie gesondheid, het nie gehelp dat die tennisklub kon oorleef nie.
Deur die jare het die tennisspelery op Philippolis nie sonder voorval verloop nie. Só het 'n moeë Manie Bester een middag 'n vlieg ingesluk terwyl hy gehyg het ná 'n uitputtende potjie, Naómi Friis moes 'n noodoperasie ondergaan nadat 'n bal haar reg op die oog getref het en Jacques Lombard het 'n spier geskeer.
Boere soos Dirk Louw en Gert Zwiegers het nie omgegee om Saterdag tennis toe te ry en Sondae kerk toe nie.
Ook op omliggende dorpe is kragte gemeet. Die Suid-Vrystaat se tennisunie het bestaan uit 'n reuse area: Koffiefontein, Luckhoff, Jagersfontein, Fauresmith, Philippolis, Trompsburg, Edenburg, Springfontein, Bethulie tot by Smithfield.
Onder die dorp se beste tennisspelers was Drienie Swanepoel, Careen Cilliers, Charl Weideman, Jens Friis snr. en Sophia Willemse. Van hulle is al oorlede, maar as bejaardes het die rolbalgogga vele oud-tennisspelers gebyt en Saterdae het hulle dan gaan albasters rol.
Buiten die dorpsklub was daar ook tennisbane op die plase Dwarsrivier van Willem en Franette Strauss, De Rust van Izak en Bessie Nel, en Klein Kalliesfontein van Jack en Roezan Schoeman.
Die Hoërskool M.T. Steyn se tennisbane was aanvanklik langs Skoolstraat en langs Louise Jansen se huis is die muur steeds te sien waarteen jy jou houe kon oefen.
Later is dié bane verskuif na die skoolterrein - twéé tennisbane en twéé vir tenniset. Laasgenoemde is verkleinde bane waar die kleingoed met plankraketjies kon leer speel. Die tennisbane was so geverf dat dit ook as netbalbane kon dien.
In Poding Tse Rolo is ook twee bane gebou, maar dis nie onderhou nie, die drade is gesteel en hier kon kort voor lank nie tennis gespeel word nie.
Dat daar só ‘n magdom tennisbane (en spelers) was oor sowat ‘n eeu heen is moeilik om te glo as jy deesdae op ‘n Saterdagmiddag verby die dorpsklub ry waar geen siel meer te siene is nie.
Dié foto van die Hoërskool M.T. Steyn se tennisspan is in die 1960’s geneem. Agter staan Stella Louw, Jan Venter en Dalina Kruger. In die middel sit Louise Fourie, Flip Roets, onderwyser Jens Friis, Theodosia Vorster, en Hensie du Plessis. Voor met die twee tennisrakette is Brits Venter. Foto: Jens Friis snr.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment