Monday, July 30, 2007

Bibberweer: Koudste nog

Saterdagnag was die koudste nog hierdie winter in Philippolis. Minus 9 C is aangeteken. Op die meegaande foto skyn die eerste sonstrale van die dag flouerig op 'n hardgevriesde Karoo-veld.

Saturday, July 28, 2007

Historiese juweel in mark vir rekordbedrag

Die Van der Post-gebouekompleks langs Colin Fraserstraat, Philippolis, is in die mark vir R2,4 miljoen. Dis by verre ‘n rekord, want geen huis was al vantevore in Philippolis só geprys nie.
Die skrywer, sir Laurens van der Post, het sy kinderjare hier deurgebring terwyl bekende staatsmanne van weleer by sy ouers aangedoen het.
Die Victoriaanse Van der Post-huis langs Colin Fraserstraat 7, is in 1872 gebou. In 1906 is sir Laurens daar gebore. Sy pa was C.W.H. van der Post, ‘n prokureur en volksraadslid. Sy ma, Lammie, was ‘n formidabele vrou wat veertig jaar na haar man eers tot sterwe gekom het en wat op ‘n gevorderde leeftyd begin boer het.
Die Van der Post-huis, ‘n nasionale gedenkwaardigheid, word omring deur twee ander historiese huise, naamlik Colin Fraserstraat 9 (gebou in 1874), en die Emily Eagle Cottage langs Colin Fraserserstraat 5
In sir Laurens se kinderjare het beide Nr. 7 en Nr. 9 aan sy familie behoort. Sy pa het Nr. 9 gebruik as kantoor en as 'n biljard-kamer.
Die Emily Eagle Cottage is genoem na die vrou van John Nunn Eagle, die eerste dokter in Philippolis tussen 1861 en 1900. Dr. Eagle se sewende kind, Millie, is getroud met John Ingle, ‘n voorsaat van Mark Ingle wat deesdae in Nr. 5 woon.
Die 46 olyfbome wat enkele jaar gelede in die agterplaas geplant is, is besig om te begin dra. Die tuine is propvol granate, vye, moerbeie en druiwe.
Daar is dokumentêre bewyse dat ‘n Britse soldaat iewers in die agterplaas begrawe is. Van sir Laurens se as het ook hul laaste rusplek hier gekry onder een van die ou bome. In sy geskrifte verwys dié skrywer gereeld na hierdie tuin.
‘n Historiese koetshuis tussen Nrs. 5 en 7 dateer waarskynlik uit die Griekwa-era (voor-1860).
Die Van der Post-familie het hier bly woon na die dood van C.W.H. van der Post in 1914 tot 1922. Hierna is dit deur ‘n mev. Wentworth bedryf as losieshuis namens mev. Van der Post wat gaan boer het op die familieplaas, Wolwekop.
In die vroeë-1920’s is Nr. 7 verkoop aan Mev. Rothbart. Sy het dele van die koetshuis omskep in ‘n sinagoge en ‘n schul. Die boonste verdieping is as koshuis gebruik vir die Joodse seuns.
‘n Vyftien jaar later het dit die eiendom geword van Mnr. Schoeman. Ironies genoeg was hy ‘n lid van die neo-Nazi Ossewabrandwag. Die boonste verdieping van die koetshuis is toe gebruik as ‘n geheime vergaderplek van hierdie organisasie.
Die huidige eienaars, mnr. Mark Ingle en dr. Doreen Atkinson, besit Nr. 7 vanaf 1994. Twee jaar later het hulle Nr. 9 gekoop en só het die huise vir die eerste keer in sewentig jaar weer ‘n eenheid gevorm – nes in die Van der Post-dae.
Sedertdien het die huise gedien as ‘n familiewoning, gastehuis en kantoor vir die Karoo Navorsingsinstituut.
* Vir meer inligting bel Rhys Mowat by 051 753 1416.

Thursday, July 26, 2007

Fraaie vlegwerk

Klein Lucinda Derrison, 'n leerling van Bergmanshoogte Intermediêr, se hare is pragtig gevleg. Maar dis nie kinderspeletjies nie. Lucinda sê om só 'n kop netjies te vleg wat etlike ure.

Bergfietsroete strek oor 140 km

‘n ONGEWONE bergfietsroete word hierdie naweek geloods waar die distrikste van Hanover, Colesberg en Philippolis bymekaar kom.
Oor drie dae sal vyftien fietsryers 140 km aflê oor ‘n uiters onherbergsame gebied.
Die roete begin in Hanover en strek dan al langs die Seekoeirivier af tot by die Doringkloofnatuurreservaat.
Dié reservaat grens aan die Oranjerivier wat hier opstaat in die Vanderkloofdam.
P.G. van den Heever, ‘n organiseerder, sê ‘n boot sal die fietsryers oor die dam neem na die Vrystaatse kant van die Oranjerivier.
Hiér in die Philippolis-distrik sal hulle fiets oor en deur die berge en klowe van plase soos Kromdam en Jansfontein. Daar sal ook by ‘n tierreservaat aangedoen word.
"Hoewel die roete oor 140 km strek sal ons net deur vier kommersiële boere se grond ry. Die res bestaan alles uit wildtuine."
Daar is nie meer plek op hierdie lanch vir ekstra fietsryers nie, maar mense wat belangstel vir toekomstige ritte kan P.G. skakel by 082 556 5572.

Monday, July 23, 2007

Restourasiewerk vorder


DIE werkers “rus” vir geruime tye luilekker in die wintersonnetjie, maar minstens het die langverwagte restourasie van die Jacobson-biblioteek in Philippolis darem begin.
En hieroor gee inwoners ‘n sug van verligting, want hulle het al gedog van dié belofte gaan niks kom nie. Volgens gerugte sou hierdie geld gaan vir die sokkerwêreldbeker.
Dié biblioteek en die aaneenliggende Transgariep Museum moet binne twaalf maande opgeknap word.
Hoofsaaklik plaaslike arbeid word ingespan om die opknappingswerk van R1,3 miljoen te doen.
Elize Pienaar, kuratrise van die Transgariep Museum, sê: “Restourasiewerk aan die museum sal begin as hulle klaar is met die biblioteek.”
Tot tyd en wyl is die museum oop. Die biblioteek word tydelik gehuisves by die Mothoe-FET-kollege.
Carien Pottas, bibliotekaresse, sê: “Die Jacobson-biblioteek, ’n Victoriaanse juweel, se noordelike muur is erg aan’t verkrummel. Ook van die fraaie sierhoutwerk op die stoep het deur die jare vergaan.”
Dié gebou, dalk die spoggerigste huis in die dorp, is dertig jaar gelede aan die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Administrasie oorgedra.Nuwe houtsierwerk en pilare sal aangebring word. Ook die gietysterwerk op die dak, die dak self en die houthortjies voor die vensters sal herstel word.
Voorheen is die mure in die huis grootliks behou, maar hiervan word nou uitgebreek om die biblioteek ‘n oper gevoel te gee.
Tankiso Zola, woordvoerder van die departement van sport, kuns en kultuur, is telkens genader vir kommentaar oor die opknappingsprojek, maar hy het nie terugvoer gegee nie.

Huisies ingeryg

Interessante patrone word gevorm deur die dakke van huisies wat snoesig ingeryg staan langs Tobie Mullerstraat. Daar is al gesê Philippolis, die oudste nedersetting in die Vrystaat, se middedorp is geskoei op 'n middeleeuse dorpsplan. Die huisies staan naby aan mekaar en hul stoepe grens aan smal straatjies en stegies.

Friday, July 20, 2007

Horizon Toerismeroete

“I took the road less travelled by, and that has made all the difference.”
- Robert Frost, The Road Not Taken

Vat jy kortpad van Kimberley na Colesberg mag jy vooraf wonder of die Horizon-roete werklik iets bied - die Suidwes-Vrystaat is immers nie ‘n toerisme-mekka nie.
Tog lê dié geweste se skatte vlak as jy weet waar om te kyk. Daarom dat die regering onlangs R200 000 bewillig het vir die oprigting van padtekens na besienswaardighede soos Herbert Bakers, Boesmantekeninge en Jazz-klubs in die townships … Voorwaar ‘n mandjie geskenke wat wag om oopgemaak te word.
Die Horizon-roete strek deur ‘n wye, oop wêreld – die hartland van Suid-Afrika. Net hier en daar staan ‘n koppie wat skrywer Laurens van der Post eens beskryf het as “… puritanical hills “guarding” secret water, so that it appears totally unpeopled.”
En dis hierdie kombinasie van afgesonderdheid èn maklik bereikbaarheid wat dreamcatchers toenemend lok. Dol is hul oor die “Open Spaces and Little Places” (die leuse van Horizon).
Dié roete verbind die N12 (net suid van Kimberley) met die N1 (by Colesberg). Amptelik begin Horizon in die noorde by Jacobsdal. Hiervandaan mirage telefoonpale langs die pad oor uitgestrekte gras-en-bossieveld na waar die R717 die Oranjerivier suid kruis.
In die noorde is my gunsteling stopplek by Jacobsdal se Landzicht-kelder (053-591 0164). Dat daar in die Vrystaat sulke eersteklas wyn gemaak word bly elke keer ‘n verrassing. Om ‘n paar bottels van hul pinotage aan te skaf is nooit ‘n fout. Van hier lei die pad via Koffiefontein, skrywer Etienne le Roux se blyplek, na Fauresmith, die tweede oudste dorp in die Vrystaat. Destyds het Fauresmith so byna-byna vir Bloemfontein uitgestof. Die Eerste Volksraad moes tussen dié twee kies as hoofstad van die Oranje-Vrystaat. Met ‘n skrale meerderheid van twee stemme het die keuse op Bloemfontein geval.
Deesdae is Fauresmith se claim to fame sy jaarlikse perde-uithourit en ongewone spoorlyn.
Elke bibberende Julie ding ruiters en perde hier mee om 205 km in drie dae af te lê. Na elke 25km het die ruiters 20 minute om hul perde koud te lei waarna hulle deur veeartse ondersoek word. Hartklop en spiere word nagegaan. Perde wat ooreis is word gediskwalifiseer. Vanjaar het 288 ruiters deelgeneem.
Die geskiedenis van die uithourit strek t’rug na 'n debat in LandbouWeekblad oor watter perderas die beste uithouvermoë het. In 1964 is ‘n uithourit gereël oor ‘n sirkelroete tussen Hanover, De Aar, Richmond en terug na Hanover. Arabierperde het as oorwinnaar uit die stryd getree. Omdat Fauresmith omring word deur koppies aan drie kante loop die treinspoor hier deur die hoofstraat – anders sou ‘n tonnel gebou moes word. Net in twee ander dorpe ter wêreld is die hoofstraat meteen ook treinspoor, naamlik Tula Homa in Tenessee (VSA) en Wycheproof in Victoria (Australië).
Alhoewel die spore steeds ingebed lê in Fauresmith se voorstraat, loop hier g’n trein meer. Die afskaling van mynbedrywighede in Koffiefontein en sluiting van die diamantmyn in die nabygeleê Jagersfontein het dié trein onekonomies gemaak. Tog was Jagersfontein eens op almal se lippe. Die Jagger-diamante sou bekend word vir hul buitengewone kwaliteit. Boonop was hul gróót. Só was die Excelsior (972 karaat) op sy dag die grootste wit diamant. Die waarde daarvan word deesdae op sowat R1,2 biljoen geraam, aldus Explore, Satoer se amptelike Toerisme- en Reisgids.
Hierdie knewels het gekom uit ‘n gat met ‘n omtrek van 1,57 km en ‘n deursnee van byna 500 m. Volgens Gillian Vermaak, voorsitter van die Horizon-roete, is dié enorme gat 19,65 ha groot teenoor Kimberley se 17 ha. Die Vermaaks se winkel Glaasstudio (051-724 0259) is ‘n klipgooi van die Groot Gat. Hul werkers maak nie meer draadkarretjies in die Itumeleng Township nie, maar Franse draadwerk. Dié olifante tot Harley Davidsons word opgeslurp in Sandton City tot Australië.
Die suidelikste dorp op die Horizon-roete is Philippolis, die oudste nedersetting in die Vrystaat. Onder dié dorp se geboue-erfenis tel die Jacobson-biblioteekgebou, ‘n imposante Victoriaanse huis. “Smiddae verander die biblioteek in ‘n skool as skoliere navorsing kom doen oor waar die Skeurvallei is tot wat demokrasie beteken,” vertel Karien Pottas, bibliotekaresse. Kom jy smiddae hier sit die biblioteek vól. Veral grootdruk- en Afrikaanse boeke is al voos gelees.
In Philippolis se historiese begraafplaas lê Britte, Griekwas, Jode en Afrikaners sy-aan-sy. Die oudste van die meer as 1 000 grafte dateer uit 1829. Interessant is dat nog net ‘n enkele persoon ooit hier 100 geword het. Volgens ‘n opname van sterfdatums is Philippolisers se kans dubbeld so hoog om in ‘n koue Augustus se sterf as in Februaries. Die einde van die winters is eenvoudig té straf vir ‘n swak gestel.
Die skaapboere in die streek vertel dat dié bibberende mid-wintersmaande ook ‘n voordeel het: geen virus oorleef as die kwik gereeld tot –6°C daal. Daarom dat die vee uit dié geweste so gesond is.
Die skape se sappige vleis is die resultaat van diëte van bossies én gras. Van hier die naam “Skynkaroo”: die plek waar die Karoo se bossies en die noorde se grasvelde ontmoet. Rofweg lê dié area wes van die N1 in die Suid-Vrystaat, met die Riet- en Oranjeriviere as ander grense.
Soms word hierna ook verwys as die Transgariep. Die Voortrekkers moes die Oranjerivier déúr. Daarom “Trans+gariep”: letterlik óór die Gariep (oud-naam vir die Oranje).
Dié rivier, Suid-Afrika se langste, het sy naam te danke aan kol. R.J. Gorden, ‘n nederlandse offisier van Skotse afkoms. Gorden was die bevelvoerder in die Kaap van die Nederlands Oos-Indiese Kompanjie se garnisoen. In 1777 het hy die rivier sy naam gegee ter ere van die Prins van Oranje.
Maar voordat jy hier aan die eindpunt van die Horizon-roete staan is daar nog één laaste stop.
Nagenoeg 20 km ten noorde van die Oranjeiriver lê die nedersetting Waterkloof wat ekself kleintyd verkeerdelik Kloofdam genoem het. Nie dat dit ‘n onvanpaste naam was nie, want deur die taaiste droogtes het die fontein bly vloei wat dié nedersetting se leidam voed. Dis dan ook dié fontein wat die rede was vir die plekkie se ontstaan.
Tog is diegene wat hul eens hier gevestig het nie meer van hierdie aarde nie, en hul spruite het elders groener weiveld gaan soek. Werksgeleenthede was hier nie. Van Kloofdam wat sinoniem was met geelperskes en pere is weinig oor. Waterkloof taan.
Gooi nietemin ‘n piekniekkombers oop op ‘n leiwatervoor se lower, en kyk hoe die Boeiing van die Kaap na Transvaal ‘n wit streep agterlaat. Stap dan langs die tweespoorpaadjies. Die vervalle geboue is ‘n fotograaf se droom en by die leidam is al rondom 200 voëlspesies opgemerk.
Dis sulke onbekende interessanthede wat die Horizon-toerismeroete bekend wil stel … en weliswaar is daar meer hiervan as wat jy waarskynlik ooit sou droom.
Gaan verbreed gerus jou horisonne.

SOU JY GAAN…

Akkommodasie
Die Horizon-roete bied slaapplek vir 220 mense. Probeer die volgende:
* Die Stal, Philippolis - ‘n keurig gerestoureerde huisie wat sedert Desember 2004 as herberg dien, tel. 084 58 101 49.
* Die Groenhuis Gastehuis, Philippolis, tel. 051-7730073.

Ook te sien en doen
- Etienne le Roux se graf buite Koffiefontein- Skaf die kontreikoerant, Philippolis Pos(t) aan- Glaasstudio in Jagersfontein maak eersteklas Franse draadwerk- Landzicht Wynkelder in Jacobsdal se pinotage- Koop Karoo-lamsvleis by 'n slaghuis - goedkoop en geurig
Wenk
Onthou die sonbrandmiddel, maar ook ‘n warmding. Dis byna woestynwêreld dié waar selfs somersnagte koel kan wees.
Nagenoeg 200 km van Horizon se 250 km is geteer. Die grondpad van bykans 50 km tussen Fauresmith en Philippolis is gewoonlik goed. Dis wys om egter nie vinniger as 100 km/h daarop te ry nie. Los sand bly ‘n duiwel as jy nie daaraan gewoond is nie.
Hoe verder noord, hoe oper raak die landskap: die rûe en rantjies minder, die horisonne nóg breër.

Spys en Drank
Koop Karoo-lamsvleis by 'n slaghuis - goedkoop en geurig
By die Groenhuis Restaurant in Philippolis is die borde groot en vól. Die inheemse disse is uit die boonste rakke. Hier eet jy Karoo-skaaptjops, roosterkoek, gestoofe perskes en kwepers. Jou smaakkliere wil nog, maar jou maag kan nie meer nie. Besprekings noodsaaklik (051-7730073).
Plaaslike verboude olywe. Wees op die uitkyk vir die boorde noord van die Oranjerivier langs die R717.
Philippolis se Witblitsfees vind jaarliks begin-April plaas. Die Transgariep Museum langs Voortrekkerstraat is een van die enigste in die land wat alkohol – en wel witblits - mag verkoop.
Verdere besonderhede
- Skaf die kontreikoerant, Philippolis Pos(t) aan by Indraf of die algemene handelaar, Ons Dien.

Vir meer inligting: http://www.openafrica.org/

A Culinary Karoo Fest

It has often been remarked that people of South Africa do not show their own culture enough, and opt for serving more “western” food such as pizza or fish-and-chips. The Groenhuis Restaurant in Philippolis aims to offer the best of Karoo food – proudly.
A farm breakfast can consist of Kudu sausage, liver, fig jam on homemade bread, and slices of springbok biltong. Summer is the time of figs, prickly pears and pomegranates. Steaming coffee is served with fresh milk and rusks. A friend, well satisfied, once stood up and proclaimed: “Here, one does not eat only to quell the hunger!” In the evenings, the stomach is also treated to a feast of food. First is vegetable soup (made with vegetables from the garden). Main course is a choice of Karoo lamb chops, tripe, lamb pasta or sosaties (kebabs)… This is meat world (click here for a recipe to try at home)! But there are also quinces, olives, roosterkoek, stewed pears, pumpkin or marogo. But this is not the end – pancakes, milk tart or koeksisters are the delicious dessert items. And to round off, a taste of honey Witblitz.

Note:
* Booking is essential as each meal is uniquely prepared for guests. Remember to mention if meals should be local cuisine.
* Two course menu: R70+.
* Die Groenhuis Restaurant is licensed to sell alcohol.

Glossary of terms:
BILTONG: Spicy air-dried meat (beef, game or ostrich), preserved with salt and seasoned with pepper, coriander and other spices. Braai - The South African barbecue. An abbreviation of the Afrikaans word braaivleis (meaning ‘grilled meat’). Meat products and other accompaniments such as vegetables and garlic bread are cooked over an open fire in a relaxed, sociable environment. Koeksisters - (also spelt koeksusters or koesisters) Twisted plaits of dough, deep-fried in hot oil and soaked in thick syrup until translucent. Koeksisters are originally from the Orient. Lapa - An outdoor braai or meeting area, often with a thatched roof, often alongside a swimming pool.
PAP: Corn-meal porridge, usually thick enough to eat with your fingers.
ROOSTERKOEK: Bread kneeded and then cooked over open coals
VETKOEK: Deep-fried dough that can have a savoury or sweet filling.
WITBLITZ: A potent alcoholic beverage distilled from grapes.

Sooner or later you have to go home ...

It’s sometimes a blessing not to know what the future has in store for you, and other times you can surely benefit from knowing. The restored Groenhuis (which means ‘green house’) Guesthouse has one downfall – sooner or later you have to go home!
During the restoration (2003) of Die Groenhuis, the owners must surely have thought that building anew might have been much easier. Restoration takes money, time, art and tons of patience! Having been used more for storage than accommodation for 40 years, there was not even running water or electricity in the building. The end product justifies the effort however.
The original wooden floors, ceilings and windows have been preserved as far as possible, lending an incredible sense of warmth. According to Jens Friis, “A large amount of furniture is unnecessary”. A family friend from Jagersfontein, Mr. Manie Barkhuizen assisted with the restoration of the windows. The refurbished ceiling is backed by pages out of 1940s Huisgenoot magazines, which act as insulation.
Friis insists the guesthouse was never intended to be the American White House, and explains that there are sometimes visitor’s cars pulling into the driveway that are “up to 8 times the value of the house itself”! All the amenities and necessities are provided, including innerspring mattresses, crispy-fresh linen, large bathrooms and delicious meals. (Rates: R130 – Full English Breakfast included).
Olden-day flowers like roses add to the atmosphere and spirit of the place, and a wooden bench is nestled here, from where a view of the Karoo with its “koppies” can be savoured. The only occasional disturbance is the distant sound when a Cape Town to Johannesburg Boeing flies overhead!
The grass grows lusciously in the garden. The pear and lemon tree are grateful for the rainfall the area receives sporadically. The irrigation reservoir has been stripped of its koi by overzealous feeding by the local stalks. When the rains come in the new year, the lands will be ploughed by the Vaaljapie (tractor) from 1956, and there is a possibility of growing mushrooms in the cellar.
As far as testimonials go, the following is a snippet out of the guest book from a visitor from Holland: "Aangenaam verrast! Jij hoort de stilte. Jij siet de schoonheid. En jij voelt de warmte van die mensen. Bedank voor alle goede sorgen. Een aangename pauze tussen de drukte van twee steden. Wat 'n rust!"
Loosely translated: “Pleasantly surprised! You hear the silence, see the beauty and feel the warmth of the people. Thank you for all your good care. One pleasant pause between the pressures of two cities. What a rest!”

Weerkaatsing

'n Skuur van Lola Oelofse weerkaats in 'n fonteinwaterleidam langs Koksfonteinstraat, Philippolis.

Geduld met opknapping beloon


DIE GROENHUIS GASTEHUIS is 'n sorgsaam gerestoureerde (2003) "B & B" in die Suid-Vrystaatse Karoo. Halfpad tussen Noord en Suid langs 'n stil teerpad wat nader is as die N1. Spierwit linne. Houtvloere. Aandetes by kerslig. Skaduryke tuin. R130 p.p. (Bed & Ontbyt). 'n Ideale halfweghuis op pad vanaf Gauteng na die Kaap aanstaande maand.
Dit is soms 'n seën dat die mens nie weet wat vir hom voorlê nie, maar ander kere sou jy darem báie daarby kon baat vind.
Met die restourasie van Die Groenhuis het oud-skoolhoof, Jens Friis, 'n keer of wat gedink dit sou darem veel makliker gewees het om 'n nuwe plek te bou. 'n Restourasieprojek kos geld, tyd, kundigheid en hope geduld. Des te meer as 'n huis vir bykans 40 jaar as pakkamer gebruik is en daar nie eens lopende water of elektrisiteit was nie. Die eindproduk is egter beloning genoeg vir die swoeg.
Die oorspronklike houtvloere, plafonne en -vensters is sover moontlik behou. "Vanweë al die hout voel die huis verstommend warm," sê Naómi Friis. "Hope meubels is onnodig." Manie Barkhuizen van Jagersfontein, 'n tennisvriend van die Friise, het gehelp met die restourasie van die vensters. Met die opknap van die plafon is afgekom op bladsye uit 'n 1940-Huisgenoot. Dit het gedien as isolasiemateriaal.
Friis sê dat Die Groenhuis nie voorgee om die Amerikaanse Wit huis te wees nie ("hoewel die motors wat gereeld hier intrek tot agt keer meer werd is as die huis self"). Al die noodsaaklikhede is egter hier "waaronder binneveermatrasse, kraakvars linne, ruim badkamers en keurige etes".
Die huis is op die rand van die dorp en herinner aan 'n plaas. Op omringende erwe is springbokke van George de Vos, saalperde van Johan Lambrechts, 'n vetplanttuin van die Funcks en Kafee Khooa wat perdekarritte bied. Dit is nou buiten die beeste van Tiekie Pienaar, die poue van die Friise self en 'n voetpaadjie wat na'n historiese kruithuisie lei.
Om by die gees van die huis te pas is outydse blomme soos rose en riete geplant.
Daartussen staan 'n lekker houtbank van waar jy op die Karoo en klipkoppies kan uitkyk. Laatmiddag kom die Boeiing oor van Kaapstad na Johannesburg.
In die tuin groei die kikoejoe ruig en die bloureën welig. 'n Peer- en suurlemoenboom is dankbaar vir die water wat dit deesdae kry. Die leidam is sy khoi's kwyt nadat hulle reierkos geword het.
Vanjaar moes die groentetuin grootliks oorstaan. Die standhoudende Koksfontein vloei nie. As die reën kom, sal die Vaaljapie uit 1956 volgende jaar weer ploeg. Die moontlikheid word ook oorweeg om sampioene in Die Groenhuis se kelder te plant.
Dit wat Die Groenhuis bied, is oorgenoeg, geoordeel aan die besoekersboek.
Soos 'n Amsterdammer onlangs geskryf het: "Aangenaam verrast! Jij hoort de stilte. Jij siet de schoonheid. En jij voelt de warmte van die mensen. Bedank voor alle goede sorgen. Een aangename pauze tussen de drukte van twee steden. Wat 'n rust!"

Saturday, July 7, 2007

Boek: Vesting in die Transgariep


“Vesting in die Transgariep: Die vroeë geskiedenis en historiese geboue van Philippolis” deur prof. A.W.G. Raath is teen R75 te koop by die huisrestaurant van die Groenhuis Gastehuis (www.philippolis.co.za).

Sunday, July 1, 2007

Boek: Vrystaatse Erfenis

Die Cilliers-huis langs Justisiestraat, Philippolis, pronk op die voorblad van Karel Schoeman se "Vrystaatse Erfenis: Bouwerk en geboue in die 19de eeu". Hierdie hardebankdboek is te koop teen R80 by die huisrestaurant van die Groenhuis Gastehuis (www.philippolis.co.za).