Tuesday, December 27, 2011

Hoofstraat eens verlê

Voordat Voortrekkerstraat die hoofstraat van Philippolis was, was Tobie Mullerstraat die "voorstraat" van dié dorp. Op die foto kan gesien word hoe die R717-teerpad vanaf Trompsburg die dorp inkom en verander in Voortrekkerstraat (destyds Kerkstraat). Maar vroeër het dié teerpad vanaf Trompsburg 'n minder skerp draai gemaak en aangesluit by die volgende straat wat meer regs is op die foto. As jy op die koppie sit waar Philippolis se wateropgaardam is, kan jy mooi sien waar die pad eens geloop het. Ook die plek waar die brug eens was oor die dorpsspruit is steeds sigbaar. Langs Tobie Mullerstraat, wat genoem is na die tweede leraar van die plaaslike NG Kerk, was onder meer die poskantoor, kafees en steeds die landdroskantoor. Dis onbekend in watter jare die pad verlê is. Foto: Jens Friis

Monday, December 12, 2011

Uitkoms nodig

Mag daar vinnig uitkoms kom, want die aarde is kurkdroog. JENS FRIIS het dié foto op Philippolis geneem. Droë toestande het daartoe gelei dat weiveld in die distrik reeds afgebrand het. En in die naburige Colesberg het der duisende hektaar onlangs afgebrand. Boere van Philippolis, Springfontein en Gariepdam het onder andere gaan help om dié verwoestende brand te blus.

Thursday, October 6, 2011

Grafte verval

Van die grafte in Philippolis se ou begraafplaas is in 'n erge toestand van verval. Hier lê Britte, Griekwas, Jode en Afrikaners sy-aan-sy. Die oudste van die meer as 1 000 grafte dateer uit 1829. Volgens ‘n opname van sterfdatums is Philippolisers se kans dubbeld so hoog om in ‘n koue Augustus se sterf as in Februaries. Die einde van die winters is eenvoudig té straf vir ‘n swak gestel. Foto's: Jens Friis

Wednesday, September 21, 2011

Groenhuis Gastehuis, Philippolis: 051-773-0073



Waterslang sy poel kwyt

PHILIPPOLIS. Ten spyte van 'n waternat jaar, is die dorp se mitologiese watermonster soek.


Die rede? Die poel waarin hy (of is dit sy?) gewoonlik hou, het weggespoel tydens 'n vloed vroeër vanjaar.


Dit het gebeur toe 'n dorpsdam stroom-op gebreuk het. Dié berg water het 'n keerwal in die spruit agter C & J Motors weggespoel, die spruit se bedding op plekke met tot 2 m uitgevreet en só het die waterslang se poel ook in die slag gebly.


Vir dekades reeds leer Philippolisertjies van dié ongedierte. In 1969 skryf dr. Petronella van Heerden, die eerste Afrikaanse vrouedokter, só hieroor in haar outobiografie getiteld Kerssnuitsels


"In die fontein het die gevreesde waterslang gewoon. Snags het hy uitgekom, langs die watervoor af tot net voor die kerk waar die groot bome gestaan het. Hy kon jou héél insluk."


Inwoners het vertel dat hierdie watermonster (in die volksmond "injoka") soos 'n bruin pofadder met 'n perdekop lyk en dit het glo twee beeshorings. Ander het dan bygevoeg dat die vabond met bosluise oortrek is. Hy het glo ook maanhare op sy rug soos dié van 'n leeu.


Maar vanjaar swyg die inwoners oor die injoka. Hy is nêrens te sien nie.


Wyle mnr. Willem Adams het dikwels vertel dat hy die injoka self gesien het. Dit was blykbaar die middag voordat die eerste reën geval het ná die droogte van 1933.


"Die waterlikkewane het elke dag die waterslang se seekoeigat beesmis gesmeer, maar dié middag het hy van Boesmansfontein na die 'Gariep' getrek. Die waterslang het eers op 'n wolk geklim en toe sy pikswart stert begin swaai.


"Daardie middag is Boesmansfontein se dak afgewaai. Die klippe het die hoenders op die plaas se oë uitgegooi. Daar lê nou nog van die boomstompe wat omgewaai is.


"Net die tier en die leeu is gevaarliker as die waterslang," sou sy vrou, wyle Griet Adams, dan byvoeg.


"Maar as hy van jou hou, kan hy ook baie goeie goed vir jou doen. Só kan hy siek mense gesond maakdeur met sy raspertong oor hul lywe te lek."

Vloed lê vonds bloot



PHILIPPOLIS. 'n Vloed vroeër vanjaar hier het tot skade gelei, maar ook onverwags 'n ondergrondse vonds blootgelê.


'n Keerwal wat terugdateer uit die begindae van Philippolis, is oopgespoel.


Philippolis, die oudste nedersetting in die Vrystaat, se geskiedenis strek terug na die begin-1820's.


Die keerwal het in 'n baie goeie toestand behoue gebly omdat dit bedek is deur die jare bedek met slik. Dit is 'n uitstekende voorbeeld hoe kosbare bogrond behoue kan bly en gronderosie só verhoed kan word.


Sover bekend was niemand meer bewus van dié keerwal nie. Dit is waarskynlik gebou om water op te dam van waar dit dan gelei is na erwe langs Voortrekker- en Colin Fraserstraat.


Sir Laurens van der Post maak onder meer melding in sy boeke van dié fontein.


Philippolis is hier in die Suid-Vrystaat uitgelê omdat daar twee fonteine is wat water kon verskaf, naamlik dié Philippolisfontein en die Koksfontein.


Die Philippolisfontein is langs C&J Motors feitlik reg onder die brug na die Trompsburg-pad.


Die Koksfontein voorsien Rowelsfontein van water en sy oog is langs die Luckhoff-pad.


Beide is standhoudend en droog slegs op in die ergste droogtes.

Sunday, August 14, 2011

Justisiestraat bied baie











BESOEKERS aan Philippolis ry meestal langs Voortrekkerstraat wat van Trompsburg na Colesberg lei of dalk sal hulle nog ‘n ekstra draaitjie ry deur Tobie Mullerstraat wat in vroeëre jare die dorp se hoofstraat was.


Maar min maak ooit in ‘n draai in Justisiestraat waar menige kosbare en interessante geboue ingeryg staan in die eerste drie blokke aan die noordelike punt.


Kom jy vanaf Skoolstraat oor die bultjie wag ‘n historiese kompleks in die kleine op jou bestaande uit ‘n Karoo-platdakhuisie, die historiese skutkraal (waaroor Kontrei onlangs berig het omdat dit aan’t verval is) en ‘n indrukwekkende sinkveranda-huis.


Beide die Karoo-platdakhuis en die skutkraal is nasionale gedenkwaardighede. Die Karoo-huis langs Justisiestraat 4 dien deesdae as vakansiehuis vir die inwoners wat elders woon, maar het in die 1980’s diens gedoen as Philippolis se inligtingskantoor. Toe het wapperende vlae besoekers voor dié huis ingewag. Binne het mnr. Van der Graaff gereed gestaan met brosjures en inligting oor die streek en jy kon poskaarte, skryfbehoeftes en lekkergoed hier aanskaf. Die kamertjies van die huis is klein en donker, maar heerlik koel in die somer.


Twee huise straat-af staan ‘n sinkverandahuis uit ongeveer 1870 wat pryk op Karel Schoeman se hardeband boek, “Vrystaatse Erfenis – bouwerk en geboue in die 19de eeu”. Nes die Karoo-huisie is dit reg op die straat gebou soos die gewoonte destyds was. Van ‘n voortuin is daar glad nie sprake nie. Schoeman skryf: “Met die toenemende gebruik van sinkplate is die veranda as nuwe versierende element in die dorpsboukuns ingevoer. Deur die gebruik van sink kon die stoepe voor die huis nou oordek word, nie net om ‘n aangename sitruimte te skep nie, maar ook om die son uit die huise uit te hou, want vroeëre generasies was nie besonder gesteld op sonlig nie, en waar ‘n huis wel noord gekyk het, het hulle graag van ‘n veranda gebruikgemaak om dit te weer.”


En voorwaar moes dit ‘n heerlikheid gewees het om vroeër dae op dié beskutte hoë stoep te kon sit en uitkyk hoe die wêreld verbygaan. Helaas het dié huis aansienlik verval sedert die Schoeman-boek deur Human & Rousseau uitgegee is in 1982, maar die fasade is nog net so indrukwekkend as destyds. Sementsierwerk dui aan dat dit op ‘n stadium aan die Cilliers-familie behoort het.


Skuins oorkant staan een van die klaskamers wat in 1872 opgerig is om as skool te dien. Dit dien deesdae as stoor en werkswinkel vir mnr. Johan Louw. David Goldblatt, die vooraanstaande fotograaf, het enkele jaar gelede hier ‘n paar trefferfoto’s geneem van die eertydse klaskamer en Louw se werk- en voertuie.


Op die oorkantste hoek is die Anglikaanse kerk wat nou ‘n woonhuis is vir Brinley en Erina Pritchard. Hul seun, ook Brinley, is ‘n argitek in die Kaap.


En reg langs dié kerk vind jy die rede waarom Justisiestraat sy naam gekry het. “Justisie” in Philippolis was hier gesetel met die landdroskantoor, polisiekantoor en tronk bymekaar. Die landdroskantoor waar adv. Nicho du Toit die magistraat is, is onlangs opgeknap en omhein. Van 1872 tot 1942 is skelms in die tronk toegesluit. Vir die volgende 30 jaar was dit 'n polisiekantoor voordat dit in onbruik verval het. 'n Gautengse sakeman, mnr. Harry During, het die bouval in die 1990's vir 'n appel en 'n ei gekoop en dit in oornagverblyf omgeskep.


Onder die ander interessanthede van Justisiestraat tel die kragsentrale waar elektrisiteit destyds opgewek is en ook die huis waar wyle Anna Neethling-Pohl, die befaamde akteur, gewoon het.


Haar broer, wyle Jan Pohl, onder meer liedjieskrywer, het net ’n straat laer langs Tobie Mullerstraat gewoon.


Ons Dien: Winkel smeltkroes van gebeure in SA




- Jens Friis


DAAR is min geboue op die platteland wat so ‘n klinkklare spieëlbeeld bied van die Suid-Afrikaanse geskiedenis oor die afgelope eeu as die gebou waarin die Foodzone-winkel op Philippolis gehuisves word.


‘n Oorweging waarom dié winkel winkel geword het in die dae toe die Nasionale Party opgang gemaak het, was ‘n groepie Afrikaners wat wou keer dat die Engelse en Joodse handelaars ryk word uit hulle geld. En van daar die naam “Ons Dien”.


Dié was ook die leuse van die Hoërskool M.T. Steyn en kan sekerlik gesien word as ‘n aanduiding wie beheer in die dorp gehad het op dié stadium. Ook hoe die skool, kerk en handel se sfere oorvleuel het.


Maar die gebou waarin Ons Dien gehuisves is, se geskiedenis strek verder terug. As jy in Voortrekkerstraat, die hoofstraat, staan is die regterkantste spitsdak deel die saal waarin Emily Hobhouse haar eerste spin-en-weefskool in Suid-Afrika geopen het. Dit was in 1905 net ná die Anglo-Boereoorlog. Só wou dié Engelse vrou die Boere help ophef.




Daar word vertel die Boere het Hobhouse van merinowol en sybokhaar voorsien. Sy het natuurlike kleurstowwe gebruik soos besembos vir ‘n diep rooskleur en perskeblare vir ‘n liggeel.


Daar het al langs Voortrekkerstraat (toe nog Kerkstraat, want dit was voor die herdenking van die Groot Trek in 1938) ‘n leiwatervoor geloop. Maar dié was kort-kort droog. Water was noodsaaklik en boonop was Philippolis ver van die markte. Só het Hobhouse se opheffing hier ‘n stadige dood gesterf.


In die jare wat kom sou dié spin-en-weef-saal dien as huis en groter vensters is ingesit. Maar die basiese struktuur het dieselfde gebly en die dik plafonbalke (dalk geelhout) getuig van die tyd toe hout nog goedkoop was. Dié kosbare plafonbalke is later met hardbord toegekap - dalk ‘n genade, want só is dit bewaar totdat daar enkele jare gelede weer daarop afgekom is.


Die stigters van Ons Dien het destyds geglimlag, want hul eend het goue eiers gelê. Wolpryse het die hoogte ingeskiet en dit sou die beste in dié geweste nog gaan.


Tant Baby Fourie, ‘n boervrou, het graag vertel jy kon by Ons Dien kies uit ‘n magdom bolpuntpenne tot swart manelpakke. Jy kon selfs kiekies hier laat ontwikkel en ‘n verbleikte Kodak-teken het tot in onlangse jare nog op ‘n venster gepryk.


Maar van die Philippolisers uit daardie jare het niemand oorgebly nie en só het die geskiedenis ook grootliks vergaan.


Ek is in 1973 gebore, ‘n jaar nadat die N1 geopen is. Die hoofroete tussen Kaapland en Transvaal sou voortaan digby die nuwe Gariepdam verbygaan. Die pad van Colesberg oor Philippolis na Trompsburg was skielik doodstil en Ons Dien, nes die res van Philippolis, het getaan.


My herinnerings aan Ons Dien gaan omtrent 30 jaar terug. In 1980 was ek in Sub. A by die einste skool met die leuse “Ek Dien”.


Aan wie Ons Dien toe behoort het, kan ek nie onthou nie, maar ek weet my ma Naómi het nie in daardie jare daar gekoop nie.


Sy het Voorspoed, die enigste ander algemene handelaar, verkies. Voorspoed was oorkant die N.G. kerk en sou in latere jare die Gemeentesentrum word. Dié winkel het behoort aan ‘n mnr. Vermeulen. Sy kleindogter Vanessa Bell was toevallig saam met my in die klas.


Vermeulen het in die vroeë 1980’s Ons Dien gekoop en ek onthou daar was nogal ontsteltenis in die dorp toe hy dit herdoop het na Rudi’s – ‘n verwysing na sy seun.


Soos elders het Rudi’s twee deure gehad. By die nie-blankes se afdeling was die rakke tot teen die dak volgepak en hul sou vir ‘n werker aan die ander kant van die toonbank wys wat hy vir hulle moes afhaal.


Die blankes kon self items van die rakke haal en as jy nie lus was om winkel toe te gaan nie, kon jy bel en jou goed is dan per fiets afgelewer.


Die trein het daagliks nog geloop van Springfontein na Koffiefontein en Ons Dien se ware is by Philippolis Weg afgelewer. Dit was grootliks verbode vir handelaars om goedere aan te ry met vragmotors en dit was dan ook ‘n rede waarom die paaie nie so vol slaggate was nie.


Vir baie jare was tannie Pauline van Ryneveld ‘n voorslag in die winkel. Sy het die “till” (kasregister wou nooit posvat nie) geslaan en het geweet hoe werk ‘n winkel, want die Van Rynevelds het vroeër ‘n soortgelyke algemene handelaar in die dorp gehad.


En later was Annette Loock ewe bekwaam toe tannie Pauline en oom Frikkie gaan aftree het op Hartenbos.


Dit was omtrent in dié tyd toe Chris en Lola Oelofse Rudi’s oorgeneem het en die winkel weer Ons Dien gedoop het – ‘n wyse besluit, want hiervan het die klante gehou.


Vir omtrent ‘n twee dekades sou die Oelofses hier arbei. Ek onthou goed hoe Chris, toe was hy burgemeester van die dorp, opgemerk het hoe erg dit vir hom as winkelier is dat die meelprys voortdurend styg. “Ek weet nie wat eet die mense meer nie. Hulle kom met soveel geld die winkel in as wat ‘n sak meel die vorige keer gekos het, maar dan is dit hopeloos te min.”


Ons was toe al goed die nuwe Suid-Afrika in en die “till”-vrouens het kleurlinge geword.


Rondom 2005 het die Oelofses verkoop en Ewald Fourie en sy vennote het die nuwe eienaars geword.


Fourie het die kruidenierswarerakke verskuif en die uitleg van die winkel verander. Die klere-afdeling is gesluit, ‘n bakkery is begin wat heerlike vetkoeke gemaak het, en in die deel waar Emily Hobhouse haar spin-en-weef-skool begin het, het hy ‘n restaurant Ant Emily’s begin.


Maar ‘n jaar of twee later het die noodlot getref. Fourie se bakkie het gerol en hy kon nie die besigheid verder bestuur nie. Sy vennote het met die winkel voortgegaan en Elsa Lombard en Nauda Cilliers het ‘n koffiewinkel/restaurant in Ant Emily’s bedryf.


‘n Jaar of wat later het Kent en Elbie Foster Ons Dien gekoop en só het dit ‘n Foodzone-tak geword.


Dis ‘n ope vraag hoe veranderinge oor die jare wat kom in Suid-Afrika dié instelling in Philippolis gaan beïnvloed.


Friday, May 13, 2011

ROETE NOU HEELPAD TEERPAD

Met die R704 wat nou geteer is tussen Trompsburg en Jagersfontein is dit moontlik om heelpad teerpad te ry as jy die Horizon-toerismeroete aanpak. JENS FRIIS het dit gaan ry.
“THE province of the Free State has always had a magical effect on me ... With its flat, dusty landscape as far as the eye can see, the great blue ceiling above … the Free State landscape gladdens my heart no matter what my mood. While I am there I feel that nothing can shut me in, that my thoughts can roam as far and wide as the horizons.”
Só het Nelson Mandela in sy outobiografie Long Walk to Freedom geskryf.
En aan ‘n meer gepaste aanhaling om die Horizon-toerismeroete deur die Suidwes-Vrystaat beskryf, kan ek nouliks dink.
Dit is ook Mandela wat ‘n stigterslid was van die nie-winsgewende maatskappy Open Africa. Dié maatskappy probeer om Afrika se toerismepotensiaal te ontsluit deur onder meer die skep van toerismeroetes. Hul meer as 50 roetes strek oor meer as 31 000 km. Dit wissel van die Overbergse fynbosroete, die Amajubaroete, die Swaziland-roete ... en dan ook die Horizon-roete.
Vat jy kortpad van Kimberley na Colesberg, mag jy vooraf wonder of die Horizon-roete werklik iets bied - die Suidwes-Vrystaat is immers nie 'n toerisme-mekka nie.
Tog lê dié geweste se skatte vlak as jy weet waar om te kyk. Hieronder tel Herbert Baker-geboue, rotstekeninge, van die beste perde in die land, wynkelders ... Voorwaar 'n mandjie geskenke wat wag om oopgemaak te word.
Die Horizon-roete strek deur 'n wye, oop wêreld - die hartland van Suid-Afrika. Net hier en daar staan 'n koppie wat sir Laurens van der Post, ‘n boorling van hier, eens beskryf het as " . . . puritanical hills 'guarding' secret water, so that it appears totally unpeopled".
En dis hierdie kombinasie van afgesonderdheid én maklik bereikbaarheid wat dreamcatchers toenemend lok. Dol is hul op die "Open Spaces and Little Places" (die leuse van Horizon).
Dié roete verbind die N12 (net suid van Kimberley) met die N1 (by Colesberg). Amptelik begin Horizon in die noorde by Jacobsdal. Hiervandaan mirage telefoonpale langs die pad oor uitgestrekte gras- en bossieveld na waar die R717 die Oranjerivier suid kruis.
In die noorde is my gunstelingstilhouplek by Jacobsdal se Landzicht-kelder. Dat daar in die Vrystaat sulke eersteklaswyn gemaak word, bly elke keer 'n verrassing. Om 'n paar bottels van hul pinotage aan te skaf is nooit 'n fout nie.
Van hier lei die pad oor Koffiefontein, skrywer Etienne Leroux se blyplek, na Fauresmith, die naasoudste dorp in die Vrystaat. Destyds het Fauresmith so byna-byna vir Bloemfontein uitgestof. Die eerste Volksraad moes tussen dié twee kies as hoofstad van die Oranje-Vrystaat. Met 'n skrale meerderheid van twee stemme het die keuse op Bloemfontein geval.
Deesdae is Fauresmith se claim to fame sy jaarlikse perde-uithourit en ongewone spoorlyn.
Elke bibberende Julie ding ruiters en perde hier mee om 205 km in drie dae af te lê. Ná elke 25 km het die ruiters 20 minute om hul perde koud te lei waarna hulle deur veeartse ondersoek word. Hartklop en spiere word nagegaan. Perde wat ooreis is, word gediskwalifiseer.
Die geskiedenis van die uithourit strek terug na 'n debat in Landbouweekblad oor watter perderas die beste uithouvermoë het. In 1964 is 'n uithourit gereël oor 'n sirkelroete tussen Hanover, De Aar, Richmond en terug na Hanover. Arabierperde het as oorwinnaar uit die stryd getree.
Omdat Fauresmith omring word deur koppies aan drie kante loop die treinspoor hier deur die hoofstraat -anders sou 'n tonnel gebou moes word. Net in twee ander dorpe ter wêreld is die hoofstraat ook treinspoor, naamlik Tula Homa in Tennessee (Amerika) en Wycheproof in Victoria (Australië).
Hoewel die spore steeds ingebed lê in Fauresmith se voorste straat, loop hier g'n trein meer nie. Die afskaling van mynbedrywighede in Koffiefontein en sluiting van die diamantmyn in die nabygeleë Jagersfontein het dié trein onekonomies gemaak.
Tog was Jagersfontein eens op almal se lippe. Die Jagger-diamante sou bekend word vir hul buitengewone gehalte. Boonop was hul gróót. Só was die Excelsior (972 karaat) op sy dag die grootste wit diamant. Die waarde daarvan word deesdae op sowat R1,2 miljard geraam, aldus Explore, Satoer se amptelike toerisme- en reisgids. Hierdie knewels het gekom uit 'n gat met 'n omtrek van 1,57 km en 'n deursnee van byna 500 m. Volgens mev. Gillian Vermaak, uittredende voorsitter van die Horizon-roete, is dié enorme gat 19,65 ha groot teenoor Kimberley se 17 ha.
Die Vermaaks se winkel, Glaasstudio, is 'n klipgooi van dié Groot Gat. Hul werkers maak nie meer draadkarretjies in die Itumelengtownship nie, maar Franse draadwerk. Van olifante tot Harley Davidsons word opgeslurp in van Sandton City tot Australië.
Van Jagersfontein is daar twee moontlikhede hoe jy verder suid kan ry om uit te kom by Philippolis, die oudste nedersetting in die Vrystaat en die suidelikste dorp op die Horizon-roete.
Die grondpad tussen dié twee dorpe strek oor sowat 60 km en is deesdae omtrent beter as die meeste plattelandse teerpaaie. Oorweeg dit dus gerus.
‘n Ander moontlikheid is om via Trompsburg met die nuutgeteerde pad te ry. Dié pad loop feitliks presies waar die grondpad vantevore tussen Jagersfontein en Trompsburg was. Loop dus lig, want hier en daar is die draai skerper as wat jy van ‘n teerpad mag verwag.
Die skape van hierdie gebied se sappige vleis spruit uit diëte van bossies én gras. Van hier die naam Skynkaroo - die plek waar die Karoo se bossies en die noorde se grasvelde ontmoet. Rofweg lê dié gebied wesvan die N1 in die Suid-Vrystaat, met die Riet- en Oranjeriviere as ander grense.
Soms word hierna ook verwys as die Transgariep. Die Voortrekkers moes die Oranjerivier déúr. Daarom "Trans+gariep": letterlik óór die Gariep ( vorige naam vir die Oranje).
Dis sulke interessanthede wat die Horizon-toerismeroete bekend wil stel en weliswaar is daar meer hiervan as wat jy waarskynlik ooit sou droom.
En mnr. Mandela sou saamstem, want “hier kan jy jou gedagtes vrye vrye teuels gee so ver en wyd as die horison”.
SOU JY GAAN
· Kyk by http://www.openafrica.org/route/Horizon-Route-Open-Spaces-and-Little-Places. Hier is al die inligting wat jy gaan nodig hê. Van waar jy moet eet en slaap tot kaarte en foto’s.
· Bel mev. Gillian Vermaak, die voorsitter van die roete, by 082-355-1726.
· Maak ‘n draai by mev. Judy Bester se werkswinkel in Fauresmith waar skaapvelprodukte soos pantoffels met die hand gemaak word. Loer by http://www.cozycraft.co.za/.
· Dié wêreld is yskoud in die winter. Maak dus nou ‘n draai voordat die ergste koue toeslaan.
· En as jy in die somer gaan onthou ‘n pet, sonbril en iets om aan te smeer sodat jy nie te bruin brand in dié semi-woestyn nie.

Tuesday, April 19, 2011

Jy kan baba-tier doop

PHILIPPOLIS. Jy staan die kans om ‘n naam te gee vir ‘n hoogs bedreigde Suid-Chinese tier waarvan daar minder as 80 in die wêreld oor is.

Dié baba-tiertjie is op die Laohu-tierreservaat buite Philippolis gebore op 31 Januarie twee dae voor die einde van die Chinese Jaar van die Tier.

Die nuwe aankomeling van pa 327 en ma Cathay word tydelik “Miss X” genoem.

Die teelprojek by Philippolis is waarskynlik die allerlaaste kans om die Suid-Chinese tier (Panthera tigris amoyensis) van uitwissing te red, want daar is minder as 80 van dié tiere oor waarvan ’n skamele 20 in die natuur voorkom. Die ander 60 is in dieretuine in China.

Omdat hulle nie in klein dieretuinhokke wil voortplant nie, is van die tiere in 2005 na die Laohu-reservaat suidwes van Philippolis gebring.

Baie omgewingsbewustes het dié teelprojek nie ’n kat se kans gegee nie, “maar die projek is beslis suksesvol soos gesien kan word deur die nuwe tiertjies wat gebore word,” sê me. Li Quan, stigterslid van die SCT-organisasie uit Londen.

Aanvanklik het dit gelyk of pa 327 nie kinders sal kan hê nie. Die geboorte van Miss X was dus ‘n verrassing. Sy eerste baba is rondom Kersfees in 2009 gebore, maar enkele dae daarna het ‘n roofvoël daarmee weggevlieg.

Om ‘n soortgelyke tragedie te voorkom word die kosbare klein Miss X met die hand onderdak grootgemaak sedert haar derde dag op aarde, lui ‘n mediaverklaring.

“Miss X is ‘n sterk welpie en kruip oral rond. Dit het daartoe gelei dat sy deur die ogiesdraad van ‘n heining geklouter het en die personeel groot laat skrik het. Aangesien sy met die hand grootgemaak word en mense vertrou sal sy nie alleen in die veld vrygelaat kan word nie (dieselfde geld vir die tier Hulooo) omdat dit gevaarlik vir haar kan wees. Sy sal egter hopelik welpies hê en haar kinders leer om te jag.”

Die kompetisie word aangebied deur die internasionale Red China se Tiere-organisasie (SCT) en die Chinese internet verskaffer Sina.com. Name kan aanlyn ingeskryf word tot 21 April by http://news.sina.com.cn/z/tigername2011/index.shtml of gooi ‘n oog by www.savechinasitgers.org.

Die wenner sal in Mei aangewys word. Daar word onder meer verkies dat herhalende name soos Baba, Lili en BeiBei vermy word en dat die naam nie te lank is nie.

Hierdie is die tweede keer dat die publiek ‘n kans staan om ‘n tiertjie te doop. Die eerste keer was in 2008 toe die eersgebore baba op Laohu die naam Hulooo gekry het. Hulooo is nou drie en ‘n half jaar oud en gereed om te paar.

Wednesday, April 13, 2011

Bruidspaar oplaas (onverwags) geëien

PHILIPPOLIS. 'n Toeris kon skaars haar oë glo toe sy onlangs totaal onverwags afkom op 'n foto van haar grootouers in die Suid-Vrystaat. Mev. Irma Gomes van Muldersdrif het onderweg in Philippolis oorgeslaap tydens 'n vakansie. Haar mond het oopgehang toe sy afkom op 'n handvol swart-en-wit kiekies wat 'n muur versier in Die Stal, 'n anneks tot die Groenhuis Gastehuis. Op een van dié foto's was 'n oupa en ouma, wyle mnr. Piet en Flippie Bekker, op hul troudag. Geen Philippoliser kon sover die mense op die foto eien nie. Die foto is geneem op die oomblik toe die bruidsbaar die N.G. Kerk in Philippolis verlaat het ná hul huweliksbevestiging. Om seker te maak dat niemand vergeet wie dit is nie, het me. Gomes só agterop die foto geskryf: "Piet Bekker en Flippie Bekker se troue. Piet Bekker is ouma Dollie Becker se broer. Dollie is oom John Becker se vrou. Party Bekkers word met 2 k's gespel en die ander met ck." Oom John Becker het voorheen in die huis langs Philipstraat, Rowelsfontein, gewoon waar wyle me. Sussie Simes tot onlangs gewoon het. Irma vertel dat sy baie keer by hulle gekuier het. Sy onthou vir oud-inwoners soos mev. Cielie van Niekerk wat ook in Philipstraat, 'n straat vanaf die Groenhuis, gewoon het. Oom John was baie sterk. Daar word onthou dat hy 'n windpompkop teen 'n windpomptoring kon uitdra en eiehandig werkmaak.

Friday, April 8, 2011

Liedjieskrywer kom musiekvideo maak


- Jens Friis

PHILIPPOLIS. Stef Kruger, skrywer van liedjies soos Tussen jou en my en Grassade in die wind gaan 'n musiekvideo op Philippolis kom maak. Die musiekvideo is vir Kruger, 'n boorling van Philippolis, se liedjie My Wortelwêreld. Hy woon die afgelope vier jaar in Oudtshoorn en het aan 'n 'n eie CD van sy liedjies begin werk. Kruger het enkele jare gelede sy naweekhuis op Philippolis verkoop. Dit het gevolg nadat sy ma, mev. Lettie Kruger, na die tehuis vir bejaardes op Trompsburg getrek het. Tant Lettie, intussen oorlede, het vir byna 'n halfeeu in haar huis langs Tobie Mullerstraat gewoon. "In st. 7 het ek ’n kitaar by ’n winkeltjie gekoop. As ek reg onthou, het dit R5 gekos. Daarop het ek my eerste akkoorde getokkel," het Kruger eens vertel met ’n besoek aan sy geboortedorp. "My studio was ’n geel Zephyr in ’n agtertuin. Dáár kon niemand my hoor nie. Buiten ’n paar rekker- en kleilatgevegte was Philippolis stil. Hierdie Vrystaatse dorpie is net so droog soos ek, maar dit was nietemin ’n wonderlike leerskool. Daar was genoeg tyd om te kon droom en liedjies te skep." En dit was gewis 'n goeie leerskool, want uit hierdie woordman se pen het menige treffers vir onder meer Dozi gevloei.

Kiekies van dorpe bekoor

- Jens Friis As jy 'n belangstelling het in fotografie én in die landelikheid van plattelandse plekke, sal Roger Ballen se “Dorps – small towns of South Africa” jou bekoor. Met die eerste oogopslag snap jy waarom dié foto's in die Museum of Modern Art in New York tot die Guggenheims pryk. Dis eersteklas foto’s waar die fotograaf se voorliefde vir wat hy afneem opvallend is: “Vir my is ‘n dorp meer as ‘n definisie van plek en mense. Dit is ‘n omgewing, ‘n spesifieke fenomeen. Die woord “dorp” het ‘n unieke konnotasie wat net in Suid-Afrikaanse dorpe te vinde is,” skryf Ballen. In die voorwoord vertel hy breedvoerig hoe hy op 'n wildvreemde dorp sou aanland en dan voel-voel rondgaan op soek na iets anders om af te neem. Dit is nie noodwendig die mooiste of die opvallendste nie, maar iets wat hom bybly. Vir Ballen, ‘n Amerikaner, was die uittog na dié dorpe die mees besonderse ekspedisies van sy loopbaan. Hy gee toe dat 'n Suid-Afrikaanse dorp in die meeste mense se oë nie "eksoties" is nie. Maar tog het dit hom bly lok. En hierin is veel te leer. Telkens het ek al ervaar hoe buitelandse vriende meer uit die tradisionele dorpies van Suid-Afrika kry as die stede - juis omdat dit nie voorgee om iets anders te wees as wat dit is nie. Op 'n persoonlike vlak het dié my boek onmiddellik my aandag getrek, want op die voorblad pryk die hotel in Middelburg (Kaap) waar my pa aangetrek het voordat my ma hom met hul huwelik in die Gereformeerde Kerk tegemoet geloop het. En dan is daar ook ‘n foto van die huis waar wyle tant Frieda en oom John Jacobson in Philippolis eens gewoon het. Hier het ek meerdere maal vir 'n paar uur oorgebly as my ouers, twee onderwyseres, aan die einde van die jaar na die matriekafskeid sou gaan. Die Jacobsons het dan graag na die Friise se kleingoed gekyk. Deesdae woon my oudmusiekonderwyseres Desiré Jansen van Rensburg hier en na sowat drie dekades lyk die huis steeds nes op Ballen se kiekie. UIt Volksblad se lesersgebied is daar ‘n magdom foto's van dorpe soos Hanover, Smithfield, Aliwal-Noord, Frankfort, Bethulie en Paul Roux. Waaroor ek wel gewonder het met die deurblaai is of die boek werklikwaar daarby baat dat slegs swart-en-wit foto's geplaas is. Ook of dit nie sou loon om aan beide kante van die blaaie foto's te plaas nie? Dis wel 'n lekker luukse, maar die boek kon veel meer waarde gebied het deur ook die linkerkantste bladsy te gebruik. En laastens wil die boek tog hier en daar die indruk wek dat die plattelanders agterlik is - byna soos op daai bekende Time-tydskrif van ouds se voorblad. Maar mens moet wel toegee dat die foto's sowat 30 jaar gelede geneem is. Soos die jare aanstap, verander die hede voortdurend die karakter van dié plekke. Soos Ballen opgemerk het: “Ek voel dat ek ‘n blik gee op ‘n uitsterwende kultuur. Ek het hierdie dorpe afgeneem in die hoop om tyd te vries.” Protea moet geloof word vir dié bygewerkte heruitgawe met foto’s wat nog nie vantevore gepubliseer is nie.

Tuesday, March 22, 2011

Google "doop" strate


- Jens Friis
PHILIPPOLIS. Selfs deurwinterde Philippolisers sou nooit kon raai nie dat heelparty van die kleiner straatjies in dié dorp wel name het.

Maar as jy 'n internetsoektog doen op Google Maps blyk dit wel die geval te wees.

In die vroeë 1990's is daar oral in die dorp straatname aangebring, maar vandale of die wind en weer het dit sedertdien verwoes. Een van die enigste straatnaamborde wat oorgebly het is een langs Kokstraat.

Dié gebrek aan straatnaamborde veroorsaak uiteraard verwarring wanneer vreemdeling Philippolis besoek en toerisme-aandeelhouers het al meerdere maal by Kopanong Munisipaliteit gepleit om dit her aan te bring. Maar dié versoeke val skynbaar op dowe ore.

Behoorlike staatnaamborde is dan ook een van die kriteria wat in ag geneem word wanneer Kontrei jaarliks sy Toeristedorp van die Jaar aanwys.

Onder die strate in Philippolis wat Google "gedoop" het deur die name uit die argiewe op te grawe tel Vendusiestraat. Dié straat sluit aan by Voortrekkerstraat op die hoek van C & J Motors en lei na die woonbuurt Poding Tse Rolo. Vanmeleë was die dorp se vendusiekrale aan die linkerkant van die pad net voor die ingang na Poding Tse Rolo. In die jare van apartheid het die vendusiekrale as 'n handig geleë buffer gedien tussen die eertydse "lokasie" en die blanke dorp. Dié vendusiekrale is jare reeds in onbruik en daar het niks hiervan oorgebly nie.

Die enigste ander toegangsroete na Poding Tse Rolo heet Hospitaalstraat. Van waar dié naam weet nugter, want sover bekend had Philippolis nooit 'n hospitaal nie. Babas, soos ekself, is in die naburige Colesberg gebore en ma's kom deesdae na Bloemfontein om geboorte te skenk. Op die hoek van Voortrekker- en Hospitaalstraat is wel deesdae die plaaslike kliniek, maar dit het eers in onlangse jare 'n tuiste hier gevind in 'n oud-woonhuis.

Google noem die straatjie wat van die landdroskantoor na Voortrekkerstaat loop Grobbelaarstraat, terwyl die een wat by die oud-kragsentrale eindig Kortstraat heet.

Die straat wat na die kerkhof lei se naam is Dwarsstraat. En as jy verder langs Voortrekkerstraat ry is daar ook 'n onbekende Van Ellinckhuysen-, Buitekant-, en Colesbergstraat.

Buitekantstraat dui uiteraard op tot waar die dorp eens uitgelê was.

Daar is wel foute op die Google-kaart soos dat Kokstraat as Van der Post-straat geïdentifiseer is.

En die die hoofstraat, Voortrekkerstraat, het glad nie 'n naam nie, dit word bloot aangedui as die R717 wat van Trompsburg via Philippolis na Colesberg lei.

Doen dalk 'n soektog op Google Maps vir die dorp waarin jy woon, en jy mag 'n paar interessante dinge te wete kom.

Tuesday, March 1, 2011

Watertenks geskenk

PHILIPPOLIS. Die DA het twee watertenks aan die gemeenskap van Philippolis geskenk.
Dit volg nadat die dorp onlangs sonder water was omdat pype weggespoel het.
"Nadat beide die munisipale bestuurder en tegniese bestuurder nie gekontak kon word nie, het die DA besluit om twee watertenks aan te koop," lees die jongste nuusbrief van die Demokratiese Alliansie in Kopanong.
Me. Lena Hagemann en mnr. Jacques van Rensburg is die DA raadslede hier.
"Die een tenk is langs die skougrond geplaas waar dit water deur die nabygeleë boorgat aan die inwoners van Poding Tse rolo verskaf het."
Mnr. Diesch Andrews het met die ander tenk op sy bakkie deur die dorp gery en water aan inwoners gelewer waar nodig.
Nadat die toevoerpype na die opgaardam herstel is, het die DA die twee tenks aan die Philippolisers geskenk.
"Die een tenk sal permanent opgerig word vir gebruik tydens soortgelyke noodsituasies terwyl die ander een aangepas sal word om gebruik te word tydens brande."
- Jens Friis

Nuwe pypleiding langs pad na Philippolis

NA jare se waterprobleme gaan Colesberg hopelik later vanjaar genoeg water hê. Dié Noord-Kaapse dorp kry reeds vir etlike jare water van die Oranjerivier sowat 30 km noord van Colesberg. Maar die pyp daarheen het deur die jare te klein geword omdat Colesberg onder meer gegroei het en spoeltoilette gekry het. Daarom word 'n nuwe pypleiding nou gelê. Daar is onlangs met die lê van die pype begin en dit moet binne 40 weke voltooi wees - dus voor die einde van die jaar. Dit sal net 'n raps minder as R30 miljoen kos, naamlik R29 969 677. Colesberg val onder die Umsobomvu Munisipaliteit. Die projek word befonds deur 'n Munisipale Infrastruktuur Toekenning (MIG). Dié foto is geneem langs die R717 tussen Colesberg en Philippolis toe talle vragmotors van die pype kom aflaai het. Foto: Jens Friis

Thursday, February 17, 2011

Gras verberg plaasheining

In die Skynkaroo, grootliks bossiewêreld, gebeur dit selde dat die gras só hoog staan dat dit 'n plaasheining verberg. Hier steek die heining van mnr. Niklaas du Plessis se plaas Klein Waaihoek net-net uit. Die foto is geneem tussen Waterkloof en Colesberg in die Suid-Vrystaat. Foto: Jens Friis

Friday, February 11, 2011

Wolkbreuk tref suidwes-Vrystaat

Wolkbreuk tref suidwes-Vrystaat

- Jens Friis

PHILIPPOLIS. ­– ‘n Wolkbreuk het die suidwes-Vrystaat gister in die vroeë oggendure getref toe 55 mm digte, harde reën in die middernagtelike ure tussen 01:00 en 02:00 oor Philippolis uitgegiet is. Die vorige dag het 16 mm geval en met die skryf van dié berig was dit steeds dig bewolk.

Weens dié 70 mm wat oor ‘n reeds sopwaternat Transgariep geval het, het damme op die grens tussen Fauresmith en Philippolis gebreek, die pad na Trompsburg is oorstroom, die Luckhoff-pad is onrybaar, die sloot wat deur Philippolis vloei het vir die derde keer in minder as ses weke in vloed afgekom, en Philippolisers was Vrydag weer sonder drinkwater.

In die ses weke van die nuwe jaar het daar ‘n milde 420 mm oor Philippolis uitgesak – die meeste in menseheugenis. Dit is 60 mm meer as die gemiddelde reënval vir ‘n ganse jaar hier.

‘n Oostenrykse gas wat by die Groenhuis Gastehuis in Philippolis oorgebly het, was teleurgesteld dat dit elke dag reën. “Ek kom hierheen om weg te kom van die grou winterweer in Europa. Maar ek sien nooit die son in die Karoo nie. Dis groener hier as in Switserland!”

Mnr. Willem Strauss sê: “Só nat is dit dat ek met my trekker die veld in moet ry as ek met die skape op Dwarsrivier wil werk.” Hy is die pa van Adriaan Strauss, die Cheetah-rugbyspeler wat onlangs buite Kroonstad getroud is met me. Chantell van Heerden.

Weens die nat toestande kom bloutong reeds onder skape voor. Muskiete en muggies is orals, geelperskes en pruime word suur aan die bome voordat dit ryp is, tuinplante vrek weens ‘n oorvloed water, en die kristal-druiwe wat gewoonlik heuningsoet is, is vanjaar waterig.

Ja, niks is ooit net goed nie. Soos die skrywer Piet van Rooyen eens opgemerk het: “Elke munt het sy kruiskant, na elke oorvreet kom die honger, by elke dikdrink sluimer die dors.”

Mev. Annamarie Vermeulen van die plaas Uitsig het gisteroggend byna ‘n halfuur aan 7 km gery op pad na Bergmanshoogte Intermediêr waar sy ‘n onderwyseres is.

“Ons plaaspad was ‘n rivier water, die groot dam by Grootfontein van die Kolvers is tot oorlopens vol en by die Seebos-uitdraai naby die Kruizingas was die water los oor die Luckhoff-pad.”

Laagliggende dele van die Luckhoff-pad is seepglad, uitgespoel en onbegaanbaar. Só moet Vermeulen elke werksdag oor die klipbedding van die Knapsakrivier ry, want die pad aan weerskante van die brug het ‘n maand gelede weggespoel.

Vrydagoggend het die water steeds oor die twee toegangspaaie tussen Philippolis en die woonbuurt Poding Tse Rolo gestroom. Die enigste manier vir werkers om in Philippolis te kom vanaf Poding Tse Rolo was om versigtig oor ‘n smal hoogwaterbruggie te stap. Maar dit is uiters gevaarlik, want die handreëlings het ‘n maand gelede weggespoel toe damme stroom-op gebreek het.

Geen herstelwerk is sover gedoen nie, en inwoners leef in vrees dat die dam reg langs die middedorp verder gaan breek en die dorp toe onder die water gaan wees soos met die Laingsburg-vloed destyds. Ten spyte van talle versoek het die provinsiale regering nog nie ingegryp om die damwal te versterk nie.

Mnr. Abram Tumo wat sy ma mev. Julia Tumo die naweek ter ruste gelê het in die begraafplaas van Poding Tse Rolo, sê die aarde is deurnat. “Toe ons die graf grawe was die grond moddernat tot meer as 1 m diep.”

Die ondergrondse water is so hoog dat fonteine die sterkste loop in jare, sê mev. Pulani Simes. “Hier is ook baie kos vir die winter.”

En as jy kan na wat die diere in die veld doen, is dit dalk nog einde niet aan die nat toestande. Inwoners vertel dat skilpaaie en slange steeds na hoërliggende dele beweeg. En die goeie reënmaande van Maart en April lê boonop nog voor.

Wednesday, February 9, 2011

Gedenkmuur in gebruik geneem

Mnr. Johan Muller, ouderling, en dr. Carin van Schalkwyk, leraar van die gemeente, hou die hoeksteen van die gedenkmuur vas. Foto: Jacques Lombard
Die as van wyle mnr. Jan Klopper was die eerste om verseël te word in die gedenkmuur. Hy het by sy suster, mev. Lea Theron en haar man Christo, langs Philipstraat, Philippolis, gewoon. Foto: Jacques Lombard
'n Vooraf-foto van die plek waar die gedenkmuur opgerig is - langs die konsistorie. Die nuwe gedenkmuur word deur 'n roostuin omring. Foto: Jens Friis

- Jens Friis
PHILIPPOLIS. Die marmer hoeksteen van 'n gedenkmuur agter die NG Kerk op Philippolis is op Sondag 6 Februarie onthul deur dr. Carin van Schalkwyk, leraar van dié gemeente.
Hierdeur is dié gedenkmuur wat ontwerp is deur mev. Mariaan Weideman, 'n plaaslike argitek, in gebruik geneem.
Die eenvoudige wit gedenkmuur wat aansluit by die kerk, 'n nasionale gedenkwaardigheid, is tussen die konsistorie en die Laurens van der Post-sentrum opgerig. Dit word omring deur 'n roostuin.
Die eerste persoon wat se as hier verseël is, is dié van wyle mnr. Jan Klopper. Hy het by sy suster, mev. Lea Theron en haar man Christo, langs Philipstraat, Philippolis, gewoon. Hulle was ook op dié Sondag teenwoordig tydens die openingseremonie.
Persone wat belangstel om geliefdes se as hier te berg kan mev. Pulani Simes, skriba, soggens by die kerkkantoor bel. Die nommer is 051-773-0014.
Die inligting van die afgestorwene kan deur mnr. Joe Andrews, 'n Philippoliser, aangebring word. Hy gebruik 'n baie goeie soort spuitverf wat glo nie eens sal afkom as dit gewas word nie.
Elke nissie het reeds 'n ongeskrewe plaat. Dié plaat kan bloot verwyder word en inskripsies kan dan daarop aangebring word.

Tuesday, February 8, 2011

Groenhuis Gastehuis, Philippolis, 051-773-0073


Dam leër weens vloed

Dié dorpsdam by die ingang na Philippolis vanaf Trompsburg het onlangs gebreek. 'n Dam wat half leeg is op hierdie stadium is 'n snaaksigheid in mid-Suid-Afrika. Verlede week het daar opnuut 52 mm hier geval en al die damme het weer oorgeloop. Dié dorpsdam het gebreek nadat 'n ander dam stroom-op vroeër ook meegegee het. Philippolisers vrees erge reën, want dit kan groot skade veroorsaak as die dam heeltemal breek. Daarom hoop die inwoners dat die provinsiale regering sal ingryp, want dis alom bekend dat Kopanong Munisipaliteit se geldsake in 'n bedenklike toestand is. Foto: Jens Friis

Herstelwerk vorder pynlik stadig

Herstelwerk na die vloede op Philippolis vorder pynlik stadig. Damme, keerwalle, paaie en brue is onder meer hier weggespoel. Dié foto is geneem by die Hospitaalstraatbrug wat ook deurgeloop het. Dié pad strek van Voortrekkerstraat na die woonbuurt Poding Tse Rolo. Die sloot wat deur Philippolis loop het plek-plek sy loop skoon verander nadat twee damme stroom-op gebreek het. Verlede week het hier weer 52 mm geval en al die damme het opnuut oorgeloop. Foto: Jens Friis

Monday, January 31, 2011

Nuwe winkel

PHILIPPOLIS S'N: In Philippolis is daar nou 'n winkel langs Voortrekkerstraat wat spesialiseer in tuisgemaakte goed uit die omgewing. Hier sit Unity Kok voor die winkel "Philippolis s'n" met van die geborduurde lappe, besems en skilderye wat te koop is. Hier kan ook weggelê word aan tuisgebakte koek. Me. Kim Mann en me. Marietjie Cilliers staan aan die stuur van die winkel. Foto: Jens Friis

Skade groot

VLOEDWATERS het erge skade aangerig aan grondpaaie in die Philippolis-distrik. Hier staan Elsje-Mari Lombard, 'n leerling van die Laerskool Trompsburg, in 'n gat wat so diep is as haar knieë. As 'n kar hierin beland kan dit tot 'n noodlottige ongeluk lei. Die foto is geneem op die Luckhoff-pad naby die Jansfontein-aansluiting. Foto: Elsa Lombard

Tuesday, January 25, 2011

Uitgekalfde dorpsdam laat inwoners asem ophou

- Jens Friis
PHILIPPOLIS. ‘n Dam wat gebreek het in die dorpsmeent langs die Fauresmith-pad was die rede waarom ‘n veel groter dorpsdam stroom-af die naweek gebreek het.
Hoewel laasgenoemde dam se wal op verskeie plekke weggekalwe het en plek-plek meegegee het, is daar steeds baie water in.
Hierom vrees Philippolisers verdere reën, want selfs ‘n ligte bui kan daartoe lei dat die spruit wéér afkom en die damwal finaal meegee. Dit sal katastrofale gevolg inhou, want die midde-dorp sal dan onder water wees.
Hierom het die plaaslike sakekamer as voorsorgmaatreël ‘n noodkamer ingerig by Oom Japie se Huis langs Voortrekkerstraat 27. Iemand is die heeltyd hier aan diens en inwoners kan probleme wat verband hou met die vloed daar aanmeld.
Sedert tot 200 mm in Philippolis se distrik Saterdagoggend geval het was die inwoners sonder water omdat van die toevoerpype weggespoel het.
Sedertdien het Kopanong munisipaliteit en Bloemwater probeer om dié waternood tydens die watersnood reg te stel.
Water is verskaf uit ‘n groot tenk by onder meer die skouterrein waar inwoners in ‘n ellelang rye vir water gewag het.
Teen gistermiddag was daar weer water in al die dorp se krane – ook in die hoogsliggende dele soos langs Koksfonteinstraat.
Die skade aan die dorpsdam beloop honderde duisende rand en dit sal so spoedig moontlik herstel moet word om skade te beperk.
Nadat die dam sy wal die naweek oorstroom het, het die water tussen die wal en die Trompsburgpad afgestroom. Die teerpad is nie beskadig nie weens groot pype onderdeur die pad.
Die kikoejoe op ‘n naasliggende rugbyveld sal na dese beslis goed groei want dié rugbyveld het soos ‘n swembad gelyk.
Die Koksfontein, ‘n fontein wat water verskaf aan die woonbuurt Rowelsfontein, vloei reeds aansienlik sterker as ‘n paar dae gelede.
Paaie in die distrik het erg onder die vloedwaters deurgeloop. Dele van die Luckhoff-pad is erg verspoel en ‘n volwasse man kan knie-diep in van die gate staan.
Die Boesmansfonteinvlei het só afgekom dat die grondpad daar aan beide kante weggespoel het sê mnr. Wilfred Jacobson van die plaas Groenvlei.
Boere het reeds begin om grensdrade wat platgevee of weggespoel is, weer staan te maak, maar dit sal oor weke duur omdat die veld nog gans te nat is om in afgeleë dele te kom.
Talle boere is steeds afgesny van die buitewêreld en sommige het nie elektrisiteit of telefoonontvangs nie.

Sunday, January 23, 2011

Water net waar jy kyk



Mnr. Wilfred Jacobson van die plaas Groenvlei, Philippolis, sê hulle was Sondag reeds 4 dae vasgekeer op hul plaas en ook vir dieselfde tyd sonder elektrisiteit. In die distrik het daar Vrydagnag tot 200 mm geval. “Die Knapsakrivier is in volle vloed, die vlei sopwaternat en dit kan dae duur voordat Eskom die elektrisiteitstoevoer sal kan herstel.” Foto: Wilfred Jacobson

Saturday, January 22, 2011

Dorpsdam aan't breek by Philippolis



Dorpsdam aan’t breek by Philippolis

- Jens Friis

PHILIPPOLIS. ‘n Dorpsdam by Philippolis is aan’t breek en inwoners vrees dat groot dele van die dorp onder water kan wees soos destyds in Laingsburg as dit bly reën. Boonop is die dorp sonder water nadat pype weggespoel het en die sowat 3000 inwoners van die woonbuurt Poding Tse Rolo is van die buitewêreld afgesny. Keerwalle, damme en brue is eenvoudig weg, en inwoners moes hul huise ontruim.

Dit volg nadat tot 200mm tussen Vrydagaand en Saterdagoggend in die distrik uitgesak het. ‘n Verdere 25 mm het daarna geval en sedertdien het ‘n motreëntjie feitlik ononderbroke oor die oudste nedersetting in die Vrystaat geval.

Dié damwal het op 4 plekke gebreek en minstens 40 m is uitgekalwe. Die aarde is reeds deurdrenk. “Sou daar dus nog water afkom kan dit katastrofale gevolge hê”, sê mnr. Jacques Lombard, onderwyser van die Philippolis Hoërskool.

Sou die wal heeltemal meegee is talle nasionale gedenkwaardighede in gevaar, want dié dam is reg langs die middedorp waar Philippolis aanvanklik aangelê is omdat daar ‘n fontein is.

Die pragtige N.G. Kerk, Laurens van der Post Gedenksentrum en huise en besighede langs Voortrekker- en Colin Fraserstraat kan beskadig word.

Die groter Philippolis wat Poding Tse Rolo en Bergmanshoogte insluit, gaan moontlik vir dae nie water hê nie nadat die pype na die opgaardam weggespoel het. Elders kon van dié waterpype ook weggespoel het, want dié pyplyding loop van Philippolis na die Oranjeriver en kruis vele spruite en slote wat in vloed afgekom het. Die presiese skade kon nog nie bepaal het nie omdat die veld te nat is en amptenare nog nie daar kon uitkom nie.

Me. Kimm Mann van Colin Fraserstraat se tuinmeubels het in haar erwe rondgedryf en sy en haar bure moes hul huise ontruim. Inwoners soos dr. Toit Botha en sy gesin het in van die dorp se gastehuise oornag omdat hulle gevrees het dat die spruit wat sy walle oorstroom het nog erger kan afkom.

Inwoners sê die skade is erger as met die vloede van 1976 of 1988. Mnr. Jens Friis sr, oud-skoolhoof wat reeds byna 50 jaar hier woon, sê in 1988 het daar nie in so ‘n kort tydjie naastenby soveel reën hier geval nie.

Dr. Carin van Schalkwyk, leraar van die plaaslike N.G. Kerk, sê: “Dit lyk erg hier. Boere is in dieselfde toestand as 1988. Maar van regeringskant is daar geen hulp om vasgekeerdes te help nie. Plase is totaal afgesny van die buitewêreld.”

Mnr. Wilfred Jacobson van die plaas Groenvlei sê hulle was Sondag reeds 4 dae vasgekeer op hul plaas en ook vir dieselfde tyd al sonder elektrisiteit. “Die Knapsakrivier is in volle vloed, die vlei sopwaternat en dit kan nog dae duur voordat Eskom die elektrisiteitstoevoer sal kan herstel.”

Vrydag was die laaste keer dat inwoners van Poding Tse Rolo in Philippolis kon kom, want die water was te hoog in die driffie agter C & J Motors, die brug by die skougrond is erg beskadig en die voetgangersbrug se reëlings is weggespoel.

‘n Behoorlike hoogwaterbrug sou enkele jare gelede gebou geword het om dié woonbuurt behoorlik met Philippolis te verbind, maar weens ‘n gebrek aan geld het daar destyds toe niks van gekom nie.

Maar eerste op die prioriteitslys nou sal die damwal langs die Trompsburg pad moet wees, want as dit meegee in die komende dae sal die skade miljoene rand beloop.

Fotobyskrifte:

· Dit reën só dat ‘n mistigheid hang oor die dorpsdam buite Philippolis kort voordat dit begin breek het.

· Een van die talle stukkende plekke in die damwal.

Foto’s: Jacques Lombard