Tuesday, September 16, 2008

'n Eerste vir die Karoo

Die konferensie en handelsfees wil produkte wat eie is aan die Karoo bemark waaronder Philippolis se Witblitsfees (foto) en Colesberg se Skaapfees.

"Open Spaces, Dynamic Places," die eerste Karoo-konferensie op interprovinsiale vlak sal tussen 25 en 27 Maart 2009 in Graaff-Reinet plaasvind.
Dit is die eerste keer dat die ganse Karoo só bemark sal word. Dié uitgebreide streek sluit die Karoo's van die Noord-Kaap, Suid-Vrystaat, Wes-Kaap en Oos-Kaap in. Dit dek dus 'n groot deel van die hartland van Suid-Afrika en strek tot by Namakwaland en die Kalahari.
Volgens prof. Doreen Atkinson, die koördineerder, is die doel daarvan om "nuwe aspekte van ontwikkeling in die Karoo te bespreek. Terselfdertyd sal entrepreneurs en organisasies hul produkte en dienste ten toon kan stel."
Onder die sprekers tel me. Patricia de Lille, leier van die Onafhanklike Demokrate en "dogter van Beaufort-Wes", dr. Danny Titus, uitvoerende direkteur: kultuur van die ATKV, en dr. Sue Milton, 'n kenner van die Karoo se ekologie.
Die Sentrum vir Ontwikkelingsteun aan die Universiteit van die Vrystaat, werk saam met ander rolspelers om die konferensie en handelsfees aan te bied in Graaff-Reinet wat alom bekend staan as die "Juweel van die Karoo".
Sowat 60 uitstallers en 250 konferensiegangers word verwag.
'n Verskeidenheid Karoo-verwante onderwerpe sal bespreek word. Hieronder tel die bewaring van die natuurlike omgewing as 'n hulpbron vir dié streek se besigheidsektor, stedelike en landelike toerisme, en die ontsluiting van ekonomiese hulpbronne waaronder kultuur- en fossiel-erfenisse. Ook sal daar geput word uit navorsing oor die ekonomiese ontwikkeling van droë areas elders ter wêreld.
Daar word gehoop dat die konferensie en handelsfees die belangstelling sal wek van akademici en besigheidslui tot toerisme- en kultuurorganisasies.
Verskeie ontwikkelingsdoelwitte sal nagestreef word waaronder steun vir ontluikende entrepreneurs, die skepping van 'n databasis van Karoo-besighede, en die ontginning van nuwe markte.
"In 'n neutedop is dit 'n gulde geleentheid om die ekonomiese potensiaal van die Karoo bekend te stel," meen Atkinson.
Vir meer besonderhede kan sy gekontak word by 051-773-0324 of epos vir me. Anita Harmse by karooconf@vodamail.co.za.

Friday, September 5, 2008

Dis nag op Donkerpoort

Treine swiep deesdae net verby Donkerpoort. Dié stasie was in die 1970's uiters bedrywig, want hier is die meeste van die boumateriaal vir die Gariepdam (destyds Hendrik Verwoerddam) afgelaai. Gariepdam val onder Philippolis se landdrosdistrik.

Wednesday, September 3, 2008

Positiwiteit onsluit geleenthede

"Wolke het in my lewe ingedryf, maar dit was nie 'n teken van 'n storm nie. Eerder het dit gehelp om ekstra kleur te gee aan die hemel tydens sononder." Só het 'n optimistiese Rabindranath Tagore, die 1913 Nobelpryswenner vir Letterkunde, geskryf. Deur positief te wees, kan jy baie geleenthede vir jouself ontsluit, het hy geglo. Die meegaande foto is duskant Philippolis geneem.

Tuesday, September 2, 2008

Einde van 'n era: Oupa Willem Adams (102) sterf

PHILIPPOLIS. Met die dood van Oupa Willem Adams (102) Donderdag is 'n era in Philippolis, die oud-Griekwa hoofstad, se geskiedenis afgesluit.
Sover bekend was hy die laaste Philippoliser wat nog die Griekwataal kon praat.
Dié dorp was vanmeleë die hoofstad van die Griekwa-nasie. Van hier het Adam Kok, die Griekwa-leier, sy septer geswaai tot noord by die Rietrivier.
En vandag nog woon talle Griekwa-afstammelinge soos die Krotse, Kokke, Van Roois, Visagies, Van Wyks en Wieses steeds hier.
"Maar hoewel ek al honderd is, moet jy onthou Adam Kok was darem voor my tyd," het Oupa Willem met sy 100ste verjaardag opgemerk en lekker vir sy grappie gelag.
En oor 'n vrou wat gedreig het met 'n Griekwa-grondeis in Philippolis het hy gesê: "Dis darem bog! In my jongdae was die grond nie eens meer die Griekwas s’n nie."
Oupa Willem was 'n bobaas storieverteller wie se eiesoortige stories in Griekwa-Afrikaans as teks opgeneem is in die module Taalvariasie vir studente in Afrikaans en Nederlands aan die Vrystaatse Universiteit.
Maar dié geliefde inwoners van Philippolis had nie meer aldag sin daarin om ander te vermaak nie, "want enigiemand wat só oud geword het dra maar swaar aan die jare - selfs al is jy geseënd," het hy nie te lank gelede opgemerk.
Sy ID-boekie staaf dat hy in Oktober vanjaar 103 sou word. Hy is gebore op 8 Oktober 1905 op die plaas Groot Harbeesfontein in die Fauresmith-distrik.
Oupa Willem het sy lang lewe toegeskryf aan "seën van God en dan ook vrede met jouself. ’n Mens moet gelate aanvaar wat met jou gebeur as jy niks aan sekere dinge kan doen nie. Dis eenvoudig die loop van die lewe."
Maar selfs vir die weldeurleefde Willem was dit maar swaar om te leef sonder sy geliefde Griet.
Griet Adams, Oupa Willem se vrou, is in 2002 op 83 dood ná 'n lang siekte. Hulle het toe sewe kinders gehad: Moos, Willem, George, Els, Lena Derison, Liesbeth Visagie en Rabekka Adams. Hierdie egpaar se nageslag het toe 31 kleinkinders, 49 agterkleinkinders en 4 agter-agterkleinkinders getel.
"Ons was gelukkig. Al die kinders het naby ons gewoon. Die verste was op Gariepdam - 50 km van hier," het oupa Willem opgemerk.
Met my laaste besoek aan hom het dié oubaas op ’n wit plastiekstoel teen sy huisie langs Rooibekkiestraat, Bergmanshoogte, gesit en die wintersonnetjie ingedrink. Om hom was verskeie generasies familielede wat liefderyk na hom omgesien het. Oupa Willem was die (voor)vader van hulle almal.
Toe hy onlangs gevra is hoeveel afstammelinge hy het, het die grysaard nie geweet nie. Hulle was te veel. Oupa Willem het ophou tel.
"Daar is soveel kinders tot agter-agterkleinkinders dat een, Leonie Adams, selfs op dieselfde dag as ek - haar oupagrootjie - verjaar," het hy al te trots opgemerk.
* Begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie, maar voorlopig sal Oupa Willem op Saterdag, 13 September, ter ruste gelê word in Philippolis.