Friday, September 14, 2012

Kerksentrum kwarteeu oud

Sentrum kwarteeu oud

- Jens Friis

PHILIPPOLIS. - Die NG Gemeentesentrum (oftewel die Sentrum) langs Voortrekkerstraat is vanjaar ‘n kwarteeu gelede geopen.

Die inskrywing op die hoeksteen lees só: “Ingewy ter eer van God as Gemeentesentrum tydens die 125 jarige bestaan van die Ned Geref Gemeente Philippolis. Onthul deur ds. en mev. PR Botha. Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis. 1 Petrus 2:5.”

Toe dié winkel oorkant die pad van die kerk af leeggestaan het in die mid-1980’s, het die kerkraad die potensiaal daarvan raakgesien om omskep te word tot Gemeentesentrum.

Die kerkkantoor word nou hier gehuisves en dié “kerksaal” is toegerus met ‘n kombuis. Die eertydse winkel se store is omskep tot Sondagskoolklasse. Dít sou later gebruik word as klaskamers vir ‘n privaatskool en dit doen deesdae diens as blyplek vir “backpackers”.

Baie funksies wat vroeër plaasgevind het by die stadsaal is hierheen verskuif. Só was daar deur die jare onder meer hier bloedskenkings, byeenkomste ná begrafnisse, vergaderings van die VVLU, kunsuitstallings en basaars.

Soos genoem, was die winkel aanvanklik ‘n algemene handelaar en in sy laaste jare het dit bekend gestaan as Voorspoed. Vroeër jare het dit behoort aan die Van Rynevelds.

Die pragtige swart-en-wit teels op ‘n deel van die voorstoep dateer uit die gebou se vorige bestaan toe handelsware nog hier van hand verwissel is.

Dis deesdae moeilik om ‘n vooraansigfoto van die Sentrum te neem, want ‘n laning bome wat deur ds. Bertie Haasbroek hier aangeplant is bied beskutting teen wind en weer, en parkering vir gemeentelede se motors.

As foto’s vergelyk word van dié gebou uit die 1980’s is dit opvallend dat dit nou veel beter daar uitsien as destyds.

FOTOBYSKRIF: ‘n Foto van Voorspoed Algemene Handelaar wat rondom 1980 geneem is.

WIE SIT WAAR MET NAGMAAL: 'n Halfeeu gelede het die gebruik van die beker teenoor kelkies groot debatsvoering veroorsaak in die NG kerk op Philippolis. Só besluit die kerkraad toe in 1962 as volg oor die sitplekindeling van nagmaalgangers: "Die lidmate wat die beker gebruik sit in die middelblok reg voor die preekstoel. Met 'n denkbeeldige middellyn sit die dameslidmate in die linkerhelfte van die blok en die manslidmate in die regterhelfte. Die res van die sitplekke is tot die beskikking van lidmate wat die kelkie gebruik." Foto: Jens Friis

Tuesday, August 14, 2012

Monday, July 30, 2012

Karoo nie goed vir behoud van hout

- Jens Friis PHILIPPOLIS. ¬– Met besoek aan Philippolis was Jan de Jongh van Nederland beïndruk met die hoeveelheid houtsierwerk aan historiese woonhuise langs veral Voortrekkerstraat, die hoofstraat. De Jongh, ‘n kenner op dié gebied, is veral geïnteresseerd in tot watter mate houtsierwerkstyle vanuit Nederland destyds na Suid-Afrika oorgespoel het. Soos Karel Schoeman in sy boek “Vrystaatse Erfenis – bouwerk en geboue in die 19de eeu” verduidelik: “Houtwerk is soms ter plaatse vervaardig, veral op die platteland, maar gedurende die negentigerjare is die meeste onderdele van geboue van oorsee bestel, gewoonlik pasklaar uit katalogusse.” Die Engelse argitekte het hul boumateriaal grotendeels uit Brittanje laat kom, terwyl die Nederlandse argitekte na die Vasteland gekyk het. Uiteraard was daar dan ook klagtes hieroor dat diegene hul bestellings oorsee geplaas het eerder as in byvoorbeeld Bloemfontein, waarop hul beweer het dat dit goedkoper was. Mettertyd het groter winkels soos G.A. Fichardts in Bloemfontein ook ‘n veel groter voorraad boumateriaal aangehou. Van dié houtwerk in Philippolis is dus meer as ‘n eeu oud en De Jongh het gewaarsku dat dit gerestoureer moet word, want anders gaan dit beslis nie behoue bly nie vir die nageslag. “Die droë, winderige toestande van die Karoo waar die son fel kan brand, is alles behalwe bevorderend vir die behoud van hout. Afskuur, olie en verf kan reeds wondere verrig,” het hy gesê. “Daar is hordes geboue in Nederland wat meer as ‘n eeu oud is, maar in Suid-Afrika is dit ‘n lang tyd en daar is min voorbeelde oor van die boukuns uit daardie tyd. Mens moet onthou dat die vakmanne van destyds in ‘n afgeleë mid-Suid-Afrika bittermin gereedskap gehad het. Boonop was geld min. Dus is dit besonders dat hul soveel aandag gegee het aan houtsierwerk – des te meer ‘n rede om na hierdie besonderse nalatenskap om te sien. Dis gewis iets uit ‘n vergange era.” Volgens Schoeman was die boumeesters destyds tradisioneel plaaslike mense, “dikwels met min of geen formele opleiding; die boumateriaal was dié wat plaaslik beskikbaar was; en die doel van die bouwerk was in eerste instansie funksioneel, met versierings wat slegs vir die bevrediging van die bouer of eienaar aangebring is.” Deur variasies in die sierhoutwerk is ‘n treffende dekoratiewe effek dikwels bewerkstellig. De Jongh wat talle foto’s geneem het van sierhoutwerk aan woonhuise in Philippolis, hoop om terug te keer na die oudste nedersetting in die Vrystaat en dan verdere navorsing hier te kom doen.

Wednesday, July 25, 2012

Groenhuis Gastehuis. Koksfonteinstraat, Philippolis.

Groenhuis Guesthouse Philippolis

Groenhuis Gastehuis, Philippolis, www.philippolis.co.za, tel. 051-773-0073.

Tuesday, July 10, 2012

Philippolis se "celebrities"

Maak ‘n lys van bekendes wie se spore in jou tuisdorp lê en jy mag verstom wees hoeveel daar wel is, skryf Jens Friis. Hieronder is van die “celebrities” uit sy grootworddorp Philippolis. ADRIAAN STRAUSS, die Cheetah-haker en Springbok, se wortels lê op die plaas Dwarsrivier tussen Philippolis en Trompsburg. Sy pa Willem Strauss boer steeds hier. Vroeër jare het dié spogplaas behoort aan minister Serfontein oftewel oom Serfie soos hy hier bekend was. BRUMILDA VAN RENSBURG, die immergroen aktrise, stam van hier. In artikels het sy dan ook al telkemaal vertel van kindertydse herinnerings op hul familieplaas in dié omgewing. TOBIE MULLER, dié tweede leraar van die plaaslike NG gemeente, het in die Groot Griep van 1918 omgekom, maar word onder meer onthou daarvoor dat hy die eerste huwelik in Afrikaans in Suid-Afrika op Philippolis voltrek het. Hy was een van die vertalers van die Bybel na Afrikaans toe hy dood is. ANNA NEETHLING-POHL EN JAN POHL: Dié broer en suster wat diep spore getrap het in die Suid-Afrikaanse kunswêreld het beide op Philippolis kom aftree. Die liedjieskrywer Jan is hier oorlede en sy suster Anna, ‘n bekende aktrise, het hier gewoon totdat sy kort voor haar dood na Graaff-Reinet verhuis het. Anna was dol oor die Karoo se kristalhelder sterre en sy het dan ook kort na haar intrek gesê sy het hierheen gekom “om die sterre te pluk”. Maar van die Augustus-winde wat woes uit die weste kan waai het sy minder gehou! ELSA KOLVER, dogter van eerste minister John Vorster, het ‘n Philippoliser geword toe sy met André Kolver getroud is en boervrou geword het langs die pad na Gariepdam. Sy is deur Volksblad aangewys as een van 100 Vrystaters van die eeu (1900 tot 2000). Kolver het ‘n leidende rol gespeel in die Vrystaatse Vroue Landbounie en ook in internasionale blomrangskikkings-kringe. Haar dogter Martelize is ‘n aktrise en is onder meer gereeld te sien op kykNet. EMILY HOBHOUSE: Dié Britse filantroop het ná die Anglo-Boereoorlog haar beywer om die lot van Boer-gesinne te verlig. Met dié doel het sy spin-en-weefskole op verskeie plekke in die land op die been gebring waarvan die eerste in Philippolis was. Emily het vir ‘n wyle hier gewoon en ‘n monument langs Voortrekkerstraat gedenk haar opheffingswerk. RACHEL ISABELLA (TIBBIE) STEYN, Suid-Afrikaanse vroueleier en vrou van die laaste president van die Oranje-Vrystaat, M.T. Steyn, het in die NG pastorie op Philippolis grootgeword. Sy was die dogter van ds. Colin Fraser, leraar van die gemeente van 1863 tot 1907. Hoewel sy van Skotse herkoms was aan beide moeders- en vaderskant, het sy haar veral vanaf die Anglo-Boereoorlog ten volle vereenselwig met wat sy self as die "Boerevolk" beskryf het. ADAM KOK, die leier van die Griekwas, se kanonne waak nog op ‘n koppie in die middel van die dorp. Philippolis was eens die hoofstad van dié Griekwa-stam voordat hulle verhuis het na Kokstad in Kwazulu-Natal. JOHN VARTY, die bekende rolprentmaker en omgewingsbewaarder, se tierplaas Tiger Canyons is 25 km buite Philippolis. Nader aan kat se kind kan jy skaars kom as op hul begeleide toere. Vroeër het Gillian van Houten, sy gewese vrou en TV-persoonlikheid, saam met hom in die distrik gewoon. LI QUAN, ‘n voormalige internasionale model en stigerslid van Save China Tigers, doen baanbrekerswerk op die Laohu-natuurreservaat tussen Philippolis en Colesberg. Uit dié tierteelprojek is reeds 14 tierwelpies gebore waarvan 11 oorleef het. Een van die drie welpies wat dood is, is deur ‘n roofvoël gevang. Die Suid-Chinese tier is meer bedreig as selfs die panda. Weens die sensitiewe aard van die teelprojek is Laohu nie oop vir toeriste nie. SIR LAURENS VAN DER POST, skrywer, filantroop, vriend van prins Charles en peetpa van prins William, word in Philippolis gedenk met ‘n skrywershuis, labirint en gedenktuin. STEF KRUGER, liedjieskrywer en sanger, is die skrywer van menige bekende liedjie soos Grassade in die wind en Tussen jou en my. PIETER FOURIE, die bekroonde dramaturg, het op 21-jarige ouderdom gematrikuleer aan die Hoërskool M.T. Steyn nadat hy vroeër om finansiële redes uit die skool is. Hy is onder meer ‘n oud-feesidrekteur van die KKNK en ontvanger van die Hertzogprys.