Friday, April 8, 2011
Kiekies van dorpe bekoor
- Jens Friis As jy 'n belangstelling het in fotografie én in die landelikheid van plattelandse plekke, sal Roger Ballen se “Dorps – small towns of South Africa” jou bekoor. Met die eerste oogopslag snap jy waarom dié foto's in die Museum of Modern Art in New York tot die Guggenheims pryk. Dis eersteklas foto’s waar die fotograaf se voorliefde vir wat hy afneem opvallend is: “Vir my is ‘n dorp meer as ‘n definisie van plek en mense. Dit is ‘n omgewing, ‘n spesifieke fenomeen. Die woord “dorp” het ‘n unieke konnotasie wat net in Suid-Afrikaanse dorpe te vinde is,” skryf Ballen. In die voorwoord vertel hy breedvoerig hoe hy op 'n wildvreemde dorp sou aanland en dan voel-voel rondgaan op soek na iets anders om af te neem. Dit is nie noodwendig die mooiste of die opvallendste nie, maar iets wat hom bybly. Vir Ballen, ‘n Amerikaner, was die uittog na dié dorpe die mees besonderse ekspedisies van sy loopbaan. Hy gee toe dat 'n Suid-Afrikaanse dorp in die meeste mense se oë nie "eksoties" is nie. Maar tog het dit hom bly lok. En hierin is veel te leer. Telkens het ek al ervaar hoe buitelandse vriende meer uit die tradisionele dorpies van Suid-Afrika kry as die stede - juis omdat dit nie voorgee om iets anders te wees as wat dit is nie. Op 'n persoonlike vlak het dié my boek onmiddellik my aandag getrek, want op die voorblad pryk die hotel in Middelburg (Kaap) waar my pa aangetrek het voordat my ma hom met hul huwelik in die Gereformeerde Kerk tegemoet geloop het. En dan is daar ook ‘n foto van die huis waar wyle tant Frieda en oom John Jacobson in Philippolis eens gewoon het. Hier het ek meerdere maal vir 'n paar uur oorgebly as my ouers, twee onderwyseres, aan die einde van die jaar na die matriekafskeid sou gaan. Die Jacobsons het dan graag na die Friise se kleingoed gekyk. Deesdae woon my oudmusiekonderwyseres Desiré Jansen van Rensburg hier en na sowat drie dekades lyk die huis steeds nes op Ballen se kiekie. UIt Volksblad se lesersgebied is daar ‘n magdom foto's van dorpe soos Hanover, Smithfield, Aliwal-Noord, Frankfort, Bethulie en Paul Roux. Waaroor ek wel gewonder het met die deurblaai is of die boek werklikwaar daarby baat dat slegs swart-en-wit foto's geplaas is. Ook of dit nie sou loon om aan beide kante van die blaaie foto's te plaas nie? Dis wel 'n lekker luukse, maar die boek kon veel meer waarde gebied het deur ook die linkerkantste bladsy te gebruik. En laastens wil die boek tog hier en daar die indruk wek dat die plattelanders agterlik is - byna soos op daai bekende Time-tydskrif van ouds se voorblad. Maar mens moet wel toegee dat die foto's sowat 30 jaar gelede geneem is. Soos die jare aanstap, verander die hede voortdurend die karakter van dié plekke. Soos Ballen opgemerk het: “Ek voel dat ek ‘n blik gee op ‘n uitsterwende kultuur. Ek het hierdie dorpe afgeneem in die hoop om tyd te vries.” Protea moet geloof word vir dié bygewerkte heruitgawe met foto’s wat nog nie vantevore gepubliseer is nie.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment