Dr. Carin van Schalkwyk voor die imposante N.G. Kerk in Philippolis.
AS dr. Carin van Schalkwyk op ’n donkermaanaand ’n plaaspad van ’n wyksbyeenkoms af aandurf, kan sy nie anders as om te glimlag nie. Want so kort gelede as 1996 het die Wes-Kaapse Sinode nog gedebatteer of ’n vrou in die bediening op ’n grondpad sal kan ry.
Maar oortuigings verander soms vinniger as wat ’n mens besef – selfs op die platteland.
Só is Van Schalkwyk onlangs bevestig as 18de leraar van die historiese NG Moedergemeente op Philippolis – die oudste nedersetting in die Vrystaat.
Hierdeur het sy die tweede vrouepredikant in die provinsie (en enigste tans) geword wat ’n tradisionele plattelandse gemeente bedien en tweedens is dit boonop by “’n behoudende gemeente”, soos hoofouderling Jens Friis sr. tydens die bevestigingsdiens opgemerk het.
“Die kerkraad het hulle nie daardeur laat beïnvloed dat Van Schalkwyk ’n vrou is nie. Godswil het voorkeur gekry en Carin is eenparig verkies,” het hy opgemerk.
Maar dié pos het nie sommerso in Van Schalkwyk se skoot geval nie.
Sedert 1998 bearbei sy al die groter Philippolis vir die Nederduits Gereformeerde Sendingfonds.
Laasgenoemde is deur Bill en Ansie Schoeman, twee oud-Philippolisers wat in Amerika woon, gestig met die doel om die lidmate van die Verenigende Gereformeerde kerk in Bergmanshoogte, Philippolis, te bedien.
Hoewel dié sendingfonds verseker het dat Van Schalkwyk in Bergmanshoogte kon werk, was haar salaris allermins ruim. Boonop moes sy as wit vrou gelief raak in ’n tradisionele bruin gemeente en is dit ver van haar grootworddorp, die Paarl.
Maar dit het haar nie afgeskrik nie en sy het bly vasklou aan haar twee lewensleuses: “As jy dit kan droom, dan kan jy dit doen,” en “Niks is onmoontlik nie. As die eerste probeerslag nie slaag nie, dink weer oor die saak en pak dit op ’n ander manier aan .”
Domhalsstarrig sal sommige dit beskryf. En ook haar ma, Rina van Schalkwyk, het ernstig oor Carin se roeping gebid. Maar toe ma Rina tydens die bevestiging ’n serp vir haar dogter omhang, was dié moeder met rede trots, want haar dogter is nou een van slegs drie vrouepredikante in die Vrystaat.
In die NG gemeente op Philippolis was Van Schalkwyk ’n paar jaar gelede ook die eerste vroue-ouderling en vroue-predikant wat ’n diens gelei het.
Van Schalkwyk sê: “Die Here gebruik vroue nie net by kinders, die jeug en ouetehuise nie. Moenie toelaat dat ’n vrou in daardie blik gedruk word nie.
“Vroue word oral deur die Here in die kerk gebruik en Hy roep hulle om met hul spesifieke gawes en talente vir hom te gaan werk.
“Jy moet gehoorsaam wees aan jou roeping en nie toelaat dat iemand in jou pad staan nie.
“Dit maak nie saak wat mense sê moontlik is nie, maar wat God gedoen wil hê. Wees gehoorsaam aan God se roepstem en Hy sal die pad oopmaak.”
Sy het besluit om die beroep na die NG Moedergemeente op Philippolis te aanvaar, “omdat ek lief is vir Bergmanshoogte en Philippolis se mense. So kan ek steeds voortgaan met my bediening in Bergmanshoogte.
“Ek kan by die sterfbed van ’n vigslyer sit en hom of haar help om in vrede met sy familie en met God te sterf.
“Hierdie leraarspos gee my ook die geleentheid om uit te reik na diegene wat nog in die heidendom leef. Uiteindelik is dit die kernsaak van die kerk: sorg en sending.
“As ek nie daarmee besig is nie, dan is ek nie getrou aan die Here se opdrag vir my lewe nie.”
Daarom is haar bedieningspassie om op voetsoolvlak “mense in nood te help en maniere te vind om hulle fisieke en geestelike nood te verlig.
“My hart breek in stukkies as ek sien hoe mense swaar- en seerkry in hierdie wêreld.”
In hierdie verband het Ena Murray eens gesê: “Om met die mond te sê, help nie. Dis wanneer die liefde bewys word dat dit sin kry.”
Terwyl vader Frans Claerhout dít só verwoord: “As ’n mens liefhet, het jy groot arms.”
En hierin glo ook dr. Carin van Schalkwyk vas.
Haar bevestiging is bygewoon deur leraars van Jagersfontein, Trompsburg, Springfontein, Bethulie en Bloemfontein.
Meer oor Van Schalkwyk
* Sy het kleintyd saam met haar ouers, wyle mnr. Wynand en mev. Rina van Schalkwyk, op Hoedspruit en Ellisras gewoon.
* Sy het aan die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl gematrikuleer en was in die skool se geskiedenis van 150 jaar die eerste leerling wat teologie gaan studeer het.
* Sy is in 1995 gelegitimeer en het toe vir drie jaar jeugwerk by die NG Toringkerk in die Paarl gedoen.
* Sy dien in verskeie komitees, waaronder die dagbestuur van die Algemene Diens- en Getuieniskommissie van die Algemene Sinode, die Vrystaat se Moderatuur, beheerraad van die Christelike Lektuurfonds (CLF), die taakspan vir die Vroue-lessenaar (Algemene Sinode), en die Sendingkommissie van die Vrystaatse Sinode.
* Die Moedergemeente Philippolis vier oor vyf jaar sy 150ste bestaansjaar. In 1863 was ds. Colin Fraser die eerste predikant van die gemeente. Fraser was 44 jaar die herder op Philippolis voordat hy daar afgetree het. Hy is opgevolg deur dr. Tobie Muller wat die eerste huwelik in Suid-Afrika hier in Afrikaans voltrek het. Net soos dr. Muller het Van Schalkwyk ook haar doktorsgraad verwerf aan die Universiteit van Stellenbosch. Haar tema was Die Logos-leer van Filo van Alexandrië – ’n kultuur-historiese ondersoek .
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment