Friday, June 27, 2008

Philippolis: Midway between Johannesburg and Cape Town


Philippolis is almost halfway between Johannesburg and Cape Town. The R717 via Philippolis is 7 km shorter than the N1. Map: Rina Coetzee (Philippolis brochure).

Philippolis se middedorp

'n Blik op Philippolis se middedorp vanaf die historiese kruithuis van Adam Kok. Foto: Jens Friis

Thursday, June 26, 2008

Laat foto's hiér neem


Vir die neem van familiefoto's bel Jens Friis by 084-58-101-49. Op die meegaande foto is die Lombard-gesin van Justisiestraat, Philippolis: Jacques, Elsje-Mari, en Elsa Lombard.

"... a simple walk around Philippolis"

"In the evenings, one feels the soul of the Karoo in a simple walk around Philippolis – no rush hour, only silence."
Só word geskryf op die Karoo Space-webblad.
Foto: Jens Friis (Let wel: Op alle foto's en teks op hierdie blog is daar kopiereg).

VVA maak swaarkry hier draagliker

PHILIPPOLIS. Die plaaslike tak van die Vrystaatse Versorgingsaksie (VVA) bedien daagliks sop aan behoeftiges in Philippolis, Poding Tse Rolo en Bergmanshoogte gedurende hierdie winter.
Dié minderbevoorregtes is geïdentifiseer deur onder meer gemeenskapsleiers.
Die VVVA is die nuwe naam van die Oranje-Vrouevereniging (OVV) wat in 1908 gestig is om welsynwerk onder behoeftiges te doen. Dié vereniging was baie jare dormant in Philippolis, maar het herlewe deur die aanmoediging van die N.G. Kerk onder voorsitterskap van me. Linda Lubbe.
Geld is ingesamel deur etes te verskaf aan studente wat deur die Future Nature-organisasie na Philippolis gebring is om welsynwerk te doen. Hierdie studente staan onder beheer van me. Kate Groch.
Maandeliks op pensioendag word 'n straatverkoping gehou om die OVV se geldsak te styf. Vir hierdie doel word skenkings soos linne, breekware, ornamente en eetgerei waardeer. In die dorp sal goedere by skenkers se huise afgehaal word.
Bel mee. Jeanne Kalp by 051-773 0014, Lola Oelofse by 082 375 4399 of Roezan SChoeman by 051 773 0494.

Só lyk 2de grootste dam in SA uit die lug


PHILIPPOLIS se landdrosdistrik is die enigste in die land wat grens aan die twee grootste damme in Suid-Afrika, naamlik die Gariepdam en Vanderkloofdam. Dié foto van die Vanderkloofdam is geneem tydens 'n vlug met SAA Express vanaf Bloemfontein na Kaapstad. Kliek op die foto vir 'n duideliker beeld.

Accommodation in Philippolis: Groenhuis Guesthouse / B & B


Wednesday, June 25, 2008

Tagtigste skou hier gevier

PHILIPPOLIS sal vanjaar sy 80ste agtereenvolgende skou aanbied.
"Dis die enigste skou in die Vrystaat wat hierop kan aanspraak maak, en ook een van die oudstes in die land," sê mnr. Johan Lambrechts, 'n skoukomiteelid.
Reëlings is fluks aan die gang vir hierdie groot makietie tussen 6 en 8 November.
Lambrechts merk skertsend op dat "almal jonger as 80 ook baie welkom is."
Behalwe dat die Philippolis-skou 80 word, sal dit ook vir die 28ste agtereenvolgende jaar wees dat 'n saalperdstreekskou hier aangebied word.
"Die belangstelling is groot om deel te wees van hierdie prestige geleentheid."
Jaarliks wil soveel saalpertelers hul perde hier vertoon dat daar nie genoeg stalle is nie. Verlede jaar was hier 302 saalperde uit alle uithoeke van die land.
'n Nuwigheidjie vanjaar is 'n veteraanmotoruitstalling wat gereël word deur mnr. André Kolver.
Belangstellendes word gevra om hom by 051-773-0440 te bel, "want die skou sal nie meer as sowat 100 veteraanmotors kan hanteer nie."
Lambrechts is verheug oor Philippolis se jonger boere wat begeesterd is oor die skou. "Dit kan beteken dat ons skou nog 100 jaar oud kan word."
In hierdie verband noem hy vir mnre. G.B. Pienaar (saalperde), Niel Kruger (dorpers), Willem Lubbe en D.G. Snyman (merino's), L.P.J. Fourie en Johan Strauss (boerbokke).
"Soos in die verlede gaan ons weer al die senior persone wat in die verlede 'n mooi bydrae gelewer het by hul besondere rasse, nooi vir 'n lekker saamkuier. Philippolis se skou het nie dié staatmakers vergeet nie."
Vir meer besonderhede bel Lambrechts by 082-754-0250.

illustrasie: http://www.studbook.co.za/

Groot aptyt


'n SPRINKAAN het altyd 'n enorme eetlus. Dié een durf sommer 'n paar vlesige vetplantblare aan in Philippolis.

Gestroopte populierbos


Populiere staan soos geraamtes by die driffie langs Reguitstraat, Philippolis - skuins oorkant Jeanne Kalp se huis.

Tuesday, June 24, 2008

Groenhuis Gästehäuser, Philippolis, südlichen Teil der Free State, South Africa

In Philippolis im südlichen Teil der Free State können Sie vollständig abschalten und den Alltagsstress und Termine vergessen. Die mit Bäumen gesäumten Schotterstrassen, einfache Häuser in Karoo-Stil, Granatäpfel- und Quittenbäume voller Früchte führen Sie zurück zu den Freuden der Kindheit – Großmutters Lammbraten und gebundene Suppen in emaillierten Tellern serviert.
Der frühere Schuldirektor Jens Friis und seine Ehefrau Naómi, ein Hauswirtschaftslehrerin, lehrte viele Jahre in der örtlichen Schule. Die Familie besitzen am Rande der Stadt einige kleine Häuser, die über Jahre leer standen. Erst im Rentenalter haben sie mit Hilfe der Söhne Jens und Nico diese Hütten renoviert und als Gästehäuser eingerichtet.
„Wir wollten den ursprünglichen einfachen rustikalen Stil, der die Einfachkeit der Karoo kennzeichnet bewahren und haben sehr darauf geachtet, nicht den viktorianischen Stil einzumischen“ sagt Jens. „Die Kombination von altmodischen und modernen Möbeln gibt ein sehr harmonisches Ambiente“.
Die Holzdecken und –böden verleihen eine gemütliche Wärme und in Ihre Küche bereitet Naómi liebevoll authentische, traditionelle Hausmannskost für Gäste zu.
* Groenhuis Gastehuis / Guesthouse /Accommodation / B & B - +27 (0)51 773 0073, jensfriis@intekom.co.za, http://www.philippolis.co.za/

Kies só kortpad van Noord-Kaap na Suid-Vrystaat

Kaart: www.openafrica.org

Jy kan nou teerpad ry van Kimberley tot in die Suid-Vrystaat – soos die voël vlieg.
Dié roete is 100km korter danksy die teer van die S126-pad tussen Jagersfontein/Charlesville en Trompsburg.
Dit het R15 miljoen gekos.
Danksy dié roete kan ambulanse gouer vanaf Trompsburg en Springfontein by die Jagersfontein-hospitaal kom.
Toeriste sal via die Suid-Vrystaat vanaf die Noord-Kaap na die Oos-Kaap kan ry.
Om dié rede is oorweeg om die pad vanaf Fauresmith via Philippolis na Colesberg te teer, maar dit sou verder en duurder wees.
Die provinsiale regering het geld be­willig sodat die pad tussen Springfontein en Bethulie ook geteer kan word

Plaaspad lei na Rowelsfontein

Neels en Ina de Leeuw van Bloemfontein stap langs 'n plaaspad wat na Philippolis lei. Die De Leeuws het oornag in die Groenhuis Gastehuis langs Koksfonteinstraat, Philippolis. Dié deel van Philippolis het groot leiwater-erwe en staan bekend as Rowelsfontein. Vir meer besonderhede oor die Groenhuis loer by www.philippolis.co.za of bel 051-773-0073.

Skrywerswerksessie gehou

IN die hartjie van die winter gaan ’n skrywerswerksessie by die Laurens van der Post-gedenksentrum op Philippolis gehou word. Dié byeenkoms, die eerste op die dorp, sal tussen 10 en 13 Julie plaasvind. ’n Opvolgwerksessie word tussen 11 en 14 Desember gehou. Die fasiliteerder is Kobus Moolman. Sy digbundel Time Line Stone (2000) het die Ingrid Jonker-prys in 2001 verower. Sy toneelstuk Full Circle het in 2004 met die Pansat-jurieprys weggeloop. Vir meer inligting bel Anita Harmse by 051-773-0014.

Kafee-eienaars lê die tuig neer ná 40 jaar

Om 40 jaar ononderbroke elke dag in ’n kafee te werk sonder enige vakansie sit nie in elkeen se broek nie.
Maar dis presies wat Pat en Sussie Klue gedoen het.
Ná vier dekades het hulle op 1 April nie oudergewoonte die deur van hul Kokkewiet-kafee langs Voortrekkerstraat, Philippolis, oopgesluit nie.
En, nee, dit was nie ’n Aprilgek-grap nie.
Dié egpaar het besluit dit is tyd om die tuig neer te lê.
Die gebou waarin die kafee gehuisves is, sal voortaan verhuur word en die Klues gaan straat-af by hul seun, Pieter, woon.
Pat en Sussie sê hulle vermoed dit sal ’n ruk neem voordat hulle daaraan gewoond sal raak om nie douvoordag op te staan nie.
Hul onderneming was in die 40 jaar slegs ’n enkele dag gesluit, naamlik vir die begrafnis vir ’n familielid.

Biblioteek simbool van samewerking


AS ’n gemeenskap saamwerk, kan baie vermag word.
Hiervan is die nuutgestigte bib­lio­teekkomitee op Philippolis ’n klinkklare bewys.
Die restourasieprojek van die gebou waarin die dorpsbiblioteek gehuisves word, het maande gelede reeds tot stilstand gekom nadat die boukontrakteur werk gestaak het.
Sedertdien is die Jacobson-biblioteekgebou, ’n nasionale gedenkwaardigheid, aan wind en weer oorgelaat, want vensters en deure is verwyder en bouwerk is nie voltooi nie.
’n Inwoner, me. Jane McArthur, het navraag hieroor gedoen en dit het geblyk dat ’n biblioteekkomitee op die been gebring moes word om dié probleem behoorlik op te los.
Dr. Doreen Atkinson is kort hierna as sameroeper van so ’n tussentydse komitee gekies.
Die departement van openbare werke, paaie en vervoer, asook die departement van sport, kuns en kultuur gee nou aandag aan dié saak.
Tenders sal nou weer aangevra word.
Veral plaaslike kontrakteurs wat die restourasieprojek kan voltooi, word aangemoedig om aansoek te doen.
Die gemeenskap was nie betrokke by die vorige tenderkontrak nie, want daar was nie ’n amptelike biblioteekkomitee nie.
Daar is ontsteltenis op Philippolis oor die manier waarop die historiese Jacobson-biblioteekgebou sover herbou is.
’n Kamer uit sierstene is onder meer aangebou by dié Victoriaanse juweel.
Tien jaar gelede was daar ’n erfeniskomitee op Philippolis wat ’n volledige lys van bewarenswaardige geboue opgestel het.
Intussen sal die biblioteekkomitee nou ook dien as ’n erfeniskomitee vir die dorp.
Dr. Atkinson sê dié twee komitees mag mettertyd skei.
Daar was aanvanklik planne om ’n nuwe biblioteek te bou, maar daar is toe besluit om die huidige eerder te restoureer vanweë sy historiese belang.
Die departement van openbare werke het toe die opknappingsspesifikasies ontvang van die departement van sport, kuns en kultuur.
Mnr. Thami Kani van die departement van openbare werke het by ’n biblioteekkomiteevergadering gesê hulle was nie tevrede met die werk wat deur die kontrakteur gedoen is nie.
Daarom is die kontrak op ys geplaas.
Volgens dr. Atkinson is ’n e-pos met foto’s van hoe die biblioteek nou lyk aan me. Jeanne Nel van die departement sport, kuns en kultuur (erfenis) gestuur.
Nel was ontsteld oor die toestand.
Dieselfde e-pos is ook gestuur aan me. Jacomien Schimper van dieselfde departement. Sy het die foto’s aangestuur na mnr. Anton Roodt, die argitek.
Roodt en die komitee sal binnekort in gesprek tree oor die beplanning van die biblioteek, sê Atkinson.
Daar word nou probeer om vergaderings te belê met al die betrokke partye sodat restourasiewerk eersdaags weer kan begin.
Die biblioteek word nou in die Motheo VOO-kollege gehuisves wat vroeër jare die seunskoshuis was.

Opheffing deur sportdeelname faal liederlik, wys studie

APARTHEIDSWETGEWING en projekte wat daarop gemik is om die jeug – veral in arm, landelike gebiede – deur sportdeelname op te hef, faal liederlik.
Só het mnr. Graham Williams, ’n heeltydse sportafrigter en meestersgraadstudent in ontwikkelingstudie aan die Universiteit van die Vrystaat, gesê met die bekendstelling van sy navorsingsbevindinge.
Sportprogramme word toenemend ingesluit in jeugontwikkelingsprojekte, want daar word geglo dit dra waarde by tot maatskaplike ontwikkelingsprojekte.
Maar dié projekte slaag nie, want in landelike gebiede ontbreek sportgeriewe of dit word nie in stand gehou nie.
Op Philippolis, waar Williams sy navorsing oor 13 maande gedoen het, het die rolbalbaan, openbare swembad en gholfbaan in die afgelope dekade vergaan.
Die tennisbane is steeds in ’n redelike toestand, maar hier word bitter selde balle geslaan.Die sokkerstadion is onbruikbaar en die sokkerveld by Bergmanshoogte is op ’n ou vullishoop gebou. Daar is geen gras nie en glasskerwe hou ’n gevaar vir spelers in. Klippe word as doelpale gebruik.
Al die sportgeriewe op die dorp word besit deur óf die Kopanong-munisipaliteit of die drie skole.
In Kopanong se geïntegreerde ontwikkelingsplan is geen geld opsygesit in 2006 en 2007 vir die instandhouding of verbetering van sportgeriewe nie.
Geen van die plaaslike skole kry geld vir die instandhouding of verbetering van sulke geriewe nie.
“Ondanks te min en swak geriewe is die getal leerlinge wat aan sport deelneem, verbasend hoog,” skryf Williams.
Omtrent 1 130 kinders is hier op skool. Sowat 250 Philippolisers speel netbal en 700 sokker by agt klubs.
“Slegs 60 leerlinge neem deel aan ander sportsoorte soos mini-krieket, lyndans en vlugbal.”
Volgens respondente wat aan die studie deelgeneem het, is die grootste maatskaplike probleme onder die Philippolis-jeug alkohol- en dwelmmisbruik, MIV/vigs, kinderprostitusie, kinders wat aan die hoof van huishoudings staan, jong meisies wat swanger word, misdaad en geweld.
’n Meisie het opgemerk: “Tienermeisies gebruik hul lywe om geld te maak. Sodra hulle verwagtend is, doen hulle aansoek om regeringsteun.
“Dit is dikwels die enigste geld waarop ’n gesin oorleef.”
Al die betrokkenes het gemeen sport is ’n koste-doeltreffende manier om hierdie probleme te probeer bekamp, sê dr. Doreen Atkinson, die studieleier.
Behalwe die voor die hand liggende gesondheidsvoordele wat sport bied, het navorsing getoon dat sportdeelname lei tot beter skoolbywoning en help om die verspreiding van vigs te bekamp, skryf Williams in sy verhandeling.
“Sport kan ook ’n doeltreffende middel wees om ’n maatskaplik gefragmenteerde gemeenskap, wat deur misdaad en geweld geteister word, te heel.”

Groenhuis Gastehuis, Philippolis, 051-773-0073 of jensfriis@intekom.co.za


In die dae vóór die N1 ...

’n TOU motors ry buffer aan buffer deur Philippolis.
INWONERS het die afgelope dae met heimwee teruggedink aan die tyd voordat die N1 gebou is, want laas in die vroeë 1970’s was hul hoofstraat, Voortrekkerstraat, só besig.
Die rede?
Padwerke in die omgewing van Springfontein veroorsaak oponthoude van tot twee uur.
Daarom volg bestuurders eerder die alternatiewe roete van Trompsburg via Philippolis na Colesberg.
Voor 1972 was daar ses vulstasies op Philippolis, maar binne enkele jare het dit gekwyn tot net een.
Ook die plaaslike kafees en die destydse losieshuise en hotel is erg geraak.
Ja, die verlegging van die grootpad tussen die eertydse Kaapprovinsie en Transvaal het menige Vrystaatse dorp erg geknou.
Reddersburg, Brandfort, Vredefort en Parys was in dieselfde bootjie as Philippolis. En hoewel die grootpad steeds verby dorpe soos Trompsburg, Edenburg en Winburg gegaan het, het dit skielik nie meer deur hul hoofstrate geloop nie. Waarskynlik die enigste twee Vrystaatse dorpe wat ietwat baat gevind het by die nuwe roete is Gariepdam en Springfontein. Hulle was nie vantevore langs die grootpad nie.
Maar hoewel die verlegging op ekonomiese gebied vir die meeste dorpe nadelig was, was daar wel ander voordele.Só het ernstige misdaad genadiglik grootliks vir Philippolis verbygegaan.
Skelms hou eerder op die breë N1 as op die smalle R717.
Nóg ’n voordeel is dat bewarenswaardige geboue weens die ekonomiese insinking behoue gebly het - tot só ’n mate dat Philippolis nou die meeste nasionale gedenkwaardighede in die provinsie het naas Bloemfontein en Bethlehem.
Belanghebbendes in die gasvryheidsbedryf van Philippolis, die oudste nedersetting in die Vrystaat, wil graag toeriste hierheen lok.
“Veral in vakansietye is die R717 via Philippolis ’n ideale alternatiewe roete,” sê hulle graag.
“’n Ompad is dit nie. Dié teerpad is stil en boonop 7 km korter as die N1. Draai af by Colesberg of Trompsburg en mis só oor sowat 120 km swaar verkeer.”
Daarom is daar ontevredenheid oor die slaggate wat vragmotors die afgelope dae uit die R717 se teer geruk het terwyl daar aan die N1 by Springfontein gewerk is.
Hopelik sal dit spoedig reggemaak word.

Vroue-leraar met hart vir mense

Dr. Carin van Schalkwyk voor die imposante N.G. Kerk in Philippolis.

AS dr. Carin van Schalkwyk op ’n donkermaanaand ’n plaaspad van ’n wyksbyeenkoms af aandurf, kan sy nie anders as om te glimlag nie. Want so kort gelede as 1996 het die Wes-Kaapse Sinode nog gedebatteer of ’n vrou in die bediening op ’n grondpad sal kan ry.
Maar oortuigings verander soms vinniger as wat ’n mens besef – selfs op die platteland.
Só is Van Schalkwyk onlangs bevestig as 18de leraar van die historiese NG Moedergemeente op Philippolis – die oudste nedersetting in die Vrystaat.
Hierdeur het sy die tweede vrouepredikant in die provinsie (en enigste tans) geword wat ’n tradisionele plattelandse gemeente bedien en tweedens is dit boonop by “’n behoudende gemeente”, soos hoofouderling Jens Friis sr. tydens die bevestigingsdiens opgemerk het.
“Die kerkraad het hulle nie daardeur laat beïnvloed dat Van Schalkwyk ’n vrou is nie. Godswil het voorkeur gekry en Carin is eenparig verkies,” het hy opgemerk.
Maar dié pos het nie sommerso in Van Schalkwyk se skoot geval nie.
Sedert 1998 bearbei sy al die groter Philippolis vir die Nederduits Gereformeerde Sendingfonds.
Laasgenoemde is deur Bill en Ansie Schoeman, twee oud-Philippolisers wat in Amerika woon, gestig met die doel om die lidmate van die Verenigende Gereformeerde kerk in Bergmanshoogte, Philippolis, te bedien.
Hoewel dié sendingfonds verseker het dat Van Schalkwyk in Bergmanshoogte kon werk, was haar salaris allermins ruim. Boonop moes sy as wit vrou gelief raak in ’n tradisionele bruin gemeente en is dit ver van haar grootworddorp, die Paarl.
Maar dit het haar nie afgeskrik nie en sy het bly vasklou aan haar twee lewensleuses: “As jy dit kan droom, dan kan jy dit doen,” en “Niks is onmoontlik nie. As die eerste probeerslag nie slaag nie, dink weer oor die saak en pak dit op ’n ander manier aan .”
Domhalsstarrig sal sommige dit beskryf. En ook haar ma, Rina van Schalkwyk, het ernstig oor Carin se roeping gebid. Maar toe ma Rina tydens die bevestiging ’n serp vir haar dogter omhang, was dié moeder met rede trots, want haar dogter is nou een van slegs drie vrouepredikante in die Vrystaat.
In die NG gemeente op Philippolis was Van Schalkwyk ’n paar jaar gelede ook die eerste vroue-ouderling en vroue-predikant wat ’n diens gelei het.
Van Schalkwyk sê: “Die Here gebruik vroue nie net by kinders, die jeug en ouetehuise nie. Moenie toelaat dat ’n vrou in daardie blik gedruk word nie.
“Vroue word oral deur die Here in die kerk gebruik en Hy roep hulle om met hul spesifieke gawes en talente vir hom te gaan werk.
“Jy moet gehoorsaam wees aan jou roeping en nie toelaat dat iemand in jou pad staan nie.
“Dit maak nie saak wat mense sê moontlik is nie, maar wat God gedoen wil hê. Wees gehoorsaam aan God se roepstem en Hy sal die pad oopmaak.”
Sy het besluit om die beroep na die NG Moedergemeente op Philippolis te aanvaar, “omdat ek lief is vir Bergmanshoogte en Philippolis se mense. So kan ek steeds voortgaan met my bediening in Bergmanshoogte.
“Ek kan by die sterfbed van ’n vigslyer sit en hom of haar help om in vrede met sy familie en met God te sterf.
“Hierdie leraarspos gee my ook die geleentheid om uit te reik na diegene wat nog in die heidendom leef. Uiteindelik is dit die kernsaak van die kerk: sorg en sending.
“As ek nie daarmee besig is nie, dan is ek nie getrou aan die Here se opdrag vir my lewe nie.”
Daarom is haar bedieningspassie om op voetsoolvlak “mense in nood te help en maniere te vind om hulle fisieke en geestelike nood te verlig.
“My hart breek in stukkies as ek sien hoe mense swaar- en seerkry in hierdie wêreld.”
In hierdie verband het Ena Murray eens gesê: “Om met die mond te sê, help nie. Dis wanneer die liefde bewys word dat dit sin kry.”
Terwyl vader Frans Claerhout dít só verwoord: “As ’n mens liefhet, het jy groot arms.”
En hierin glo ook dr. Carin van Schalkwyk vas.
Haar bevestiging is bygewoon deur leraars van Jagersfontein, Trompsburg, Springfontein, Bethulie en Bloemfontein.

Meer oor Van Schalkwyk

* Sy het kleintyd saam met haar ouers, wyle mnr. Wynand en mev. Rina van Schalkwyk, op Hoedspruit en Ellisras gewoon.
* Sy het aan die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl gematrikuleer en was in die skool se geskiedenis van 150 jaar die eerste leerling wat teologie gaan studeer het.
* Sy is in 1995 gelegitimeer en het toe vir drie jaar jeugwerk by die NG Toringkerk in die Paarl gedoen.
* Sy dien in verskeie komitees, waaronder die dagbestuur van die Algemene Diens- en Getuieniskommissie van die Algemene Sinode, die Vrystaat se Moderatuur, beheerraad van die Christelike Lektuurfonds (CLF), die taakspan vir die Vroue-lessenaar (Algemene Sinode), en die Sendingkommissie van die Vrystaatse Sinode.
* Die Moedergemeente Philippolis vier oor vyf jaar sy 150ste bestaansjaar. In 1863 was ds. Colin Fraser die eerste predikant van die gemeente. Fraser was 44 jaar die herder op Philippolis voordat hy daar afgetree het. Hy is opgevolg deur dr. Tobie Muller wat die eerste huwelik in Suid-Afrika hier in Afrikaans voltrek het. Net soos dr. Muller het Van Schalkwyk ook haar doktorsgraad verwerf aan die Universiteit van Stellenbosch. Haar tema was Die Logos-leer van Filo van Alexandrië – ’n kultuur-historiese ondersoek .

Monday, June 23, 2008

Foto’s, skilderye van Suid-VS, Karoo uitgestal


ELMERI STEYN by foto’s van Jens Friis.


LANDSKAPTONELE van die Karoo en Suid-Vrystaat artistiek weergegee deur ’n fotograaf en skilderkunstenaar word van vanmiddag tot 12 Junie in Blooms by Design, Reidstraat 28, Westdene, Bloemfontein, uitgestal. Jens Friis, Volksblad-redaksielid, het die foto’s geneem. Sy versameling strek oor jare waarvan sommige al in onder meer Volksblad en die Britse tydskrif Quintessential gepubliseer is. Mense van Philippolis, waar Jens se ouerhuis is, sal baie van die tonele herken. Heelwat foto’s is op die dorp en in die omgewing geneem soos buite Colesberg en Trompsburg.Jens se foto’s kry in die uitstalling ’n nuwe aanskyn. Hy het dit op doek laat druk sodat die werke soos superrealistiese skilderye lyk. Die formaat is groot, baie groter as wat uitstalfoto’s gewoonlik is. Dit is Jens se eerste foto-uitstalling. Die olie- en waterverfskilderye is deur Niel de Leeuw, ’n Bloemfonteiner wat voorheen al uitgestal het – in Bloemfontein en op Rhodes.