Friday, June 29, 2007

Groenhuis Gastehuis, Philippolis

Dorp onthou oud-leraar

'n Eeu gelede het ds. Colin Fraser sy afskeidspreek gelewer op 7 Julie 1907 ná 'n dienstyd van 44 jaar in die NG gemeente Philippolis.
Twee dae vantevore is 'n opvolger vir hom beroep onder voorsitterskap van die gemeente se konsulent, ds. C.H. Jooste van Trompsburg. Fraser se opvolger, ds. Stefanus Jacobus Perold van Jacobsdal, sou £525 per jaar ontvang.
Op 8 Julie 1907 het Fraser sy emeritaat ontvang op 'n kerkraadsvergadering.

Colin McKenzie Fraser is op 20 Februarie 1837 gebore. Hy is op 18 April 1863 as eerste predikant van Philippolis bevestig en het as geestelike boumeester baanbrekerswerk verrig, skryf dr. Gerdrie van der Merwe van Bethulie.
Van der Merwe het in 1984 'n M.A.verhandeling oor Fraser aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi.

Fraser was by vyf geleenthede moderator van die Vrystaatse NG Kerk.
Terwyl hy hier predikant was, is die pastorie, asook die kerk met sitplek vir 1 400 mense gebou. Albei is steeds in gebruik.
In die Anglo-Boereoorlog is die kerk in 'n fort omgeskep, skryf J.A. Bosch in die Eeufeesgedenkboek van die NG Gemeente Philippolis (1962).
Nietemin is tussen 1899 en 1902 altesaam 143 kinders in die gemeente gedoop, van wie 90 deur Fraser self.

Die Fraser-gesin is in Augustus 1901 met geweld uit die pastorie verwyder en na die konsentrasiekamp in Springfontein gestuur. Weens swak gesondheid is Fraser na die kamp in Bethulie oorgeplaas.
"Ná die leraarspaar se vertrek uit Philippolis is die groot pastorie met sy kosbare meubelment en boekery aan die brand gesteek. Duisende dokumente en kosbaarhede, waaronder sy versameling preke, is verbrand," skryf Van der Merwe.
In 1911 is Fraser oorlede -- vier jaar nadat hy uit die bediening getree het. In die laaste jare het hy en sy vrou, Isabella, by hul kinders op Onze Rust buite Bloemfontein gewoon.
Hul dogter, Tibbie, was die laaste presidentsvrou van die Vrystaatse Republiek. Sy was getroud met pres. M.T. Steyn.

'n Reusegedenksuil ter ere van die gemeente se ontslape leraar is in 1914 reg voor die kerk onthul.
Ook herinner Colin Fraserstraat nog aan Fraser se bedieningstydperk hier.
Geen leraar van die NG kerk het sedertdien naastenby só lank in Philippolis in die gemeente gestaan nie.

Wednesday, June 13, 2007

Boek oor "eie mense"

Die vroeë geskiedenis  van  die  blankes  en Griekwas in die Philippolis-omgewing is goed  gedokumenteer,  maar weinig  is  op  skrif  oor  die geskiedenis van die eerste swart mense hier.
Dit het ’n oudburgemeester genoop om ’n dokument saam te stel waarin hy meer hieroor vertel.
Omdat geskrifte oor dié onderwerpe skraal is, moes mnr. Atkinson Sobantu grootliks op mondelinge vertellings staatmaak. ’n Probleem hiermee is dat vertellings selde ooreenstem en dat dit daarom vir ’n skrywer moeilik is om te bepaal wat fiksie is en wat feite.
In The Black Hidden History of Philippolis noem Sobantu die name van 18 mans en vroue wat reeds in 1848 hier gewoon het. Onder hulle tel Johan Motshabi (Tswana), Januarie Olifant (Sotho), die Thethani-familie (Xhosa) en ene Apdul (’n bruin man van die dorp).
Sover bekend is die oudste swart familie die Ditsebes. Hul voorvader Bertie Ditsebe het reeds in 1848 hier gewoon. Drie van sy afstammelinge woon steeds in Poding Tse Rolo, Philippolis.
In 1909 het families soos die Se­thlolos en Shupings weggebreek van hul families by Kimberley en na Philippolis verhuis. Hulle was sowat 20 mense.
“Hulle kon nie vrylik rondbeweeg nie en moes naby die vendusiekrale bly,” skryf Sobantu.
Van hierdie vendusiekrale is deesdae weinig oor, maar dit was by die ingang van die “Ou Lokasie”, soos dit in die volksmond bekend is. Dit is dan ook die oudste deel van die woonbuurt Poding Tse Rolo.
“In daardie stadium het die ‘lokasie’ as Bechwunaland bekend gestaan. “Dit was omhein en daar was slegs  een  hek.  Enigeen  wat  nie hier  uitgegaan  het  nie,  is vervolg."
In die omgewing waar die swart mense gewoon het, was daar nie water nie. “Daarom moes hulle water by die huis van mnr. P. Siebert, waar C & J-Motors deesdae is, gaan haal.”
Sobantu vertel verder hoe skole, kerke en dies meer ontwikkel het.
Hoewel baie feite en datums ontbreek, is hierdie ’n dokument wat lank reeds geskryf moes gewees het. Dis verblydend om te sien dat een van Poding Tse Rolo se seuns dit op hom geneem het om hierdie taak uit te voer.

Buurdorpe nie na selfde man genoem


DIE twee buurdorpe, Philipstown en Philippolis, se name begin wel dieselfde, maar anders as wat dikwels gemeen word, heet hulle nie na dieselfde man nie.
Volgens P.E. Raper se Dictionary of Southern African Place Names (Lowry Publishers) is Philipstown na sir Philip Edmond Wodehouse (1811-1887), die Kaapse goewerneur tussen 1861 en 1870, genoem. Die dorp is aangelê op die plaas Rietfontein.
Hierteenoor het Philippolis sy naam te danke aan dr. John Philip (1775-1851), super­intendent van die Londense Sendinggenootskap (LSG). Die LSG het in 1823 hier ’n sendingstasie gestig. Philippolis het in 1862 dorpstatus gekry en Philips­town in 1876.

"Op hierdie pad ken ek elke hobbel en knik"



DAAR'S geen pad wat ek al meer gery het as dié ­tussen Trompsburg en Philippolis nie.
Op skool sou ons hierheen ry vir swemgalas, tennis- en rugbywedstryde. Maar dit is veral omdat dit ook die pad na Bloemfontein is waar wat ek elke hobbel en knik ken.
Bloemfontein is waar ons inkopies doen, ek ses jaar geswot het, Junies verby sou ry na die Krugerwildtuin, en ek deesdae werk.
Tog is hierdie streep teer, genaamd die R717, nie ’n besige pad nie. As jy drie karre kry op die ganse stuk kry, sê jy aan jou mede-passasiers: “Wat gaan aan? Dis vandag so bésig.”
Die eerste baken as jy Trompsburg uitry, is die stasie waar ons vanmeleë vir tant Anna (my ma se oudste suster) gaan oplaai het, sou sy vakansies kom kuier het. Dis ook hier waar kinders afgeklim het wat op Philippolis kom skool gaan het vanweë goeie beurse. Soms het hulle met net ’n tandeborsel van die trein geklim. Deesdae klim niemand meer hier af nie. Die trein hou verby.
Volgende is die afdraaipad na Jagersfontein, en dan die bome waar my ouma en oupa van Vaalbank-Zuid, Bloemfontein, graag koffie gedrink het. Dis ook hier waar my selfoon een aand gelui het en my pa gesê het: “Ons het teëspoed. Ouma is dood.”
Teen die volgende afdraand is ’n bruggie wat jou laat hik as jy te vinnig ry – selfs nadat die pad al herteer is. En by Kromellenboog, ’n spruit, kon ons groepie skoolatlete in 1988 nie deur nie. Die spruit was in vloed. Al die oefenry vir die interlaer- en interhoërswem daardie jaar was verniet.
Naby die 40 km-omdraaiplek vir fietse by Philippolis se jaarlikse Witblitsfees lê ’n ongewone koppie. Dit herinner aan ’n vulkaan of dalk ’n piramide. Volgens legende is daar bo-op glo ’n boer begrawe sodat hy ’n wye blik oor sy plaas kon hê.
In dié omgewing wissel die selfoonseine mekaar flink af: Trompsburg, Springfontein, Jagersfontein, Philippolis . . .
Daar’s die leegte met die baie miershope, die afdraaipad na Springfontein, en die eertydse plaasskooltjie wat onbenut staan. In droogtetye moet jy saans hier op jou hoede wees. Duikertjies, ystervarke en springbokke kom wei dan graag in die groenerige grassies langs die teerpad.
Gaste van die Groenhuis op Philippolis merk wel op dat jy hier soms meer diere sien as in dele van die wildtuin. ’n Belgiese gas het al opgewonde vertel van die “kangaroos” – waarskynlik springhase – wat hy gesien het.
En dan was daar die ­Philippoliser wat eens so byna in die sop was, want daar was bewerings dat hy hier ’n bok vir biltong geskiet het.
Tussen ’n handvol windpompe staan ’n pompkamertjie wat herinner het aan die huisie van Adoons (die strokiesprentkarakter jare gelede in Landbouweekblad).
Byna halfpad (30 km nog) het ons wit Mazdabakkie gaan staan op ’n snikhete Sondagmiddag. In my kinderoë was die wêreld wyd en ek hoogs bekommerd toe my pa die pad moes aandurf na die naaste plaas vir brandstof. Gelukkig was ’n Huisgenoot byderhand en my ma het vir my en broer Nico vermaak met Bollie.
Dit is by Pypersfontein van Niël Lubbe wat jy die Philippolis-distrik inry.
Dan nie ver nie of jy sien saans die spooktrein van Slangfontein. Dit is die ligte van die opstal en plaaswerkers se huise.
Kleintyd het my ma altyd padkos saamgery, maar duskant die spoorlyn was dit verbode om koeldrank te drink. Die pad skud te veel en die koeldrank sou uit die plastiekglasies mors.
Dis hier waar ek douvoordag op pad universiteit toe erg remme moes aanslaan. Dit was donkermaan en mistig. ’n Trop swart beeste het in die pad geslaap. Ek het byna teen een se blad tot stilstand gekom.
Ook in my universiteitsdae het skoolkinders vanaf Bloemfontein soms saamgery onder wie D.G. Snyman. Hy het destyds die Hoërskool Sentraal bygewoon. By die uitdraaipad na Druiwefontein het ons hom meerderemaal opgelaai.
By die spoorlyn wat Fauresmith en Philippolisweg verbind, het Jannie Els, die Vrystaatse losvoorspeler, destyds teen ’n lokomotief gebots.
Hierdie trein was die eerste waarop ek gery het. Dit was in my kindertuinjare aan die Laerskool M.T. Steyn. Wat my bybly, is dat die trein een keer só vinnig gestop het om melkkanne op te laai dat ons ­almal neergeslaan het in die gang (ook wyle juffrou Therina Marais).
In die dae voordat die N1 gebou is, was hierdie die hoofpad tussen Johannesburg en Kaapstad, en by die spooroorgang was selfs ’n kafee.
Soms gebeur dit dat die N1 vir ’n uur of wat sluit weens ’n erge ongeluk en dan word die verkeer hierheen herlei. Maar die R717’tjie is glad nie gebou vir die hedendaagse verkeer nie. Die groot lorries ruk gate uit die teer en Philippolisers verpes dit, want hulle sit ná die tyd met die gebakte pere.
Dwarsrivier van Willem en Franette Strauss is dalk die mooiste plaas. Hul seun, Adriaan, speel vir die Cheetahs haker. Dit was altoos ’n spogplaas. Vroeër jare het Minister Serfontein oftewel oom Serfie hier geboer. Hierdie grond is vrugbaar en “ná die reëns gee die veld haar oor soos ’n slet aan die groen” (om by Antjie Krog te leen).
Dan is daar die lang draai waar die bankbestuurder se vrou haar motor gerol het, ’n taxi gestop het, en haar selfoon gesteel is.
De Rust se vorige inwoners is nie meer van hierdie aarde nie. Bessie Nel, ’n boesemvriendin van my ma, en haar man, Izak, was een aand op pad vanaf ’n casino toe ’n lorrie teen hulle vasgery het. Albei is op slag dood.
’n Ent verder is die reguit stuk pad waar ek byna van die pad gery het kort nadat ek leer bestuur het. Dit was laat en die vaak het my byna oorval op pad van Bloemfontein.
Gelukkig is Philippolis naby. Jy sien al die selfoontoring op die kop. En voordat jy jou kan kry, is jy by die uitdraai na Fauresmith. Hiernatoe moes ons altyd hardloop om fiks te word vir landloop.
Daar’s die draai waar ’n onderwyseres eens haar BMW gerol het, en agter die padkamp is die dorpsdamme. Hierheen ry algar as dit reën, want as dié damme water kry gaan die dorpsfontein weer loop.
Die laaste baken langs die pad is die Chinese draai skuins langs die dorpstennisbane. In die 1950’s het ’n motor Chinese hier die pad byster geraak onderweg na die Kolonie. Hul toegelate tydperk in die Vrystaat was verby en inderhaas het hulle nie hul draai kon kry nie.
En dan is jy op Philippolis, my geboortedorp. Kyk jy terug is daar ’n bordjie wat sê Trompsburg is 56 km, maar by Trompsburg staan Philippolis is 64 km ver. Oor hoe dit kan wees, hang ná al die jare steeds ’n vraagteken.

Hardepad

Vir sommige toeriste gee dit groot genot as hulle hier by ’n selfsorgeenheid inteken en dan familie bel met die woorde: “Ek is in die tronk!”
’n Tweede keer gaan jy jou geliefdes nie wéér flous nie, maar as jy ’n bok vir sports is, mag dit loon om ’n keer in die Ou Tronk te oornag.
Dié rare tronkherberg is gerieflik halfpad geleë tussen Gauteng en die Kaap.
Terwyl misdaad elders hoogty vier, het die ou tronk op Philippolis vir jare leeg gestaan.
’n Te koop-advertensie het mnr. Harry en mev. Annatjie During van Johannesburg verlei en deesdae is die ou sandsteentronk ’n oornagplek.
Mnr. Gert van Niekerk, ’n oud-polisiereservis, bestuur die Tronk langs Justisiestraat vir hulle.
During het die advertensie in ’n koerant gesien en die bouval vir ’n appel en ’n ei aangeskaf. Daarna het hy die pad Vrystaat toe aangedurf om te sien wat hy gekoop het.
In die vroeë jare sewentig is die tronk se deure finaal gesluit nadat dit vir ’n paar jaar ’n polisiekantoor was. Daarna is dit gebruik om motoronderdele te berg en ’n matriekafskeid is selfs een keer daarin gehou. Dan en wan het dit as basis gedien vir die plaaslike Voortrekkers, weermag en brandweerbrigade, wat uit weinig meer as ’n waterpomp op ’n bakkie bestaan.
Die enkele oortreders word deesdae na die nabygeleë Colesberg geneem vir hul staatsverblyf.
Met die eerste oogopslag was dit vir During opvallend dat baie werk gewag het, maar tegelykertyd dat die plek potensiaal het.
Met die bou daarvan in 1872 is spesifieke aanduidings gegee hoe die tronk moes lyk. So moes die fondament byvoorbeeld drie voet diep onder die grond wees. Die aannemer moes die werk binne ses maande voltooi en die enigste tender was dié van mnr. William Maddik, ’n plaaslike messelaar, wat vir £225 getender het.
Terwyl die selfsorg-oornaggeriewe ingerig is, het die Durings probeer om die tronk so na as moontlik aan sy oorspronklike vorm te restoureer.
Vandag is dit moontlik om nie in Kamer 4 nie, maar Sel 4 te oornag. Die selle is 'n skrale 2 m x 3 m groot.
Die buitemure is ’n allemingtige 45 cm dik, wat beteken dat dit koel is in die somer. ’n Sel het mos nie juis ’n venster nie en son is die hedendaagse tronkvoëls dus nie beskore nie.
Besoekers praat van ’n ongekende afgeslote en eensame gevoel wanneer die swaar tronkdeur teen slapenstyd gegrendel word.
Die Ou Tronk is een van Philippolis se talle blyplekke wat wissel van Karooplase soos Bokpost (www.bokpost.co.za) tot die Groenhuis Gastehuis (www.philippolis.co.za).

’n Alfabetiese pleknaamtoer


AL ooit gewonder waar kry daai Vrystaatse plekke hul name vandaan?Kom dan saam op ’n alfabetiese pleknaamtoer deur dié provinsie.

ALLANRIDGE: Hierdie goudmyndorp is in 1950 gestig en genoem na Allan Roberts wat vir goud geprospekteer het in die Vrystaat.

BETHULIE: Min dorpe het al soveel name gehad as Bethulie. Oorspronklik is dit Moordenaarskloof genoem omdat baie San en Griekwas hier doodgemaak is deur die Basotho’s. Jean Pierre Pellissier van die Franse Sendinggenootskap het dit in 1835 tot Verheullpolis herdoop. Maar die grootbase van dié genootskap het ’n Bybelse naam verkies en daarom het dit Bethulia geword wat “deur God gekies” beteken.

CLARENS is in 1912 genoem na die Switserse dorp naby Montreux waar president Paul Kruger gesterf het.

DEALESVILLE is uitgelê op die plaas Klipfontein wat behoort het aan John Henry Deale.

EDENBURG se wortels strek terug na 1862. Dié dorp wat in 1891 op die plaas Rietfontein het ontstaan, het ‘n munisipaliteit geword.Daar is twee moontlikhede vir die naam. Dit kan van Bybelse oorsprong (“die Tuin van Eden”) wees, of ’n omvorming van Edinburgh, die Skotse geboorteplek van ds. Andrew Murray.

FAURESMITH het in 1850 op die plaas Sannah’s Poort ontstaan.Dit is genoem na die moderator van die Nederduits-Gereformeerde Kerk, Philip Eduard Faure, asook Sir Harry Smith, die Kaapse goewerneur.

GOLDEN GATE verwys na twee sandsteenkolosse wat goud kleur teen veral sononder.

HEILBRON beteken letterlik “fontein van heil/vrede”.Dit kan verwys na ’n sterk fontein, of na ’n antieke Duitse stad.

ITUMELENG: Dié woonbuurt van Fauresmith beteken in verskeie van ons landstale “vreugde” (“joy”).

JAGERSFONTEIN: Soos soveel ander Vrystaatse dorpe is Jagersfontein genoem na die eienaars van die oorspronklike plaas waarop die dorp uitgelê is.In hierdie geval was dit Evert Jagers wat die plaas besit het en by die fontein gebly het.

KESTELL is vernoem na ds. John Daniël Kestell, leraar van die Nederduits-Gereformeerde Kerk, skrywer en kulturele leier.

LADYBRAND se naam strek terug na Lady Catharin Frederica Brand, die vrou van Sir Christoffel Brand, die eerste Speaker van die Kaapse Wetgewende Vergadering.

MOORDENAARSPOORT: Sien Bethulie hierbo.

NAVAL HILL in Bloemfontein is vroeër ook Tafelkop en Bloemfontein Mount genoem. Die huidige naam dateer van 1900 toe ’n Britse vlootbrigade hier gestasioneer was om die stad te verdedig.

PHILIPPOLIS heet na dr. John Philip (1775-1851), superintendent van die Londense Sendinggenootskap, wat hier ’n sendingstasie gevestig het. Philip was ’n filantroop en het die regte van die inheemse volkere voorop gestel.QUABA is die Khoikhoi-naam vir die Modderrivier.

REDDERSBURG se naam vereer Jesus Christus, die Redder.

SENEKAL is in 1875 gestig op die plaas De Put. Dit is vernoem na Frederik Petrus Senekal wat kommando’s gelei het in onder meer die Eerste en Tweede Basotho-oorloë van 1858 en 1865-66.

TROMPSBURG is vernoem na die plaas waarop dit staan. Dit het aan Jan en Bastiaan Tromp behoort. Vantevore is dit Jagersfontein Road genoem, en ook Hamilton ter ere van Sir Hamilton John Good-Adams, luitenant-generaal van die Oranjerivierkolonie tussen 1901 en 1910.

VREDE: Daar was ’n groot meningsverskil oor presies waar die dorp uitgelê moes word. Van daar die naam “Vrede”.

WELKOM in Welkom. Die oorspronklike plaas waarop dié stad staan se naam was Welkom.

ZASTRON: Dié dorp aan die voet van die Aasvoëlberg is in 1876 op die plaas Verliesfontein aangelê. Dit is na Johanna Sibella Brand (gebore Zastron) vernoem, vrou van President Brand van die Oranje-Vrystaat. ) 

* Bronne:  Dictionary  of  Southern  African Place Names deur P.E. Raper; Van Lill se Suid-Afrikaanse Trivia deur Dawid van Lill; en The Rough Guide to South Africa.

"Pasella" verfilm in Philippolis



PASELLA, SABC2 se leefstylprogram, het ’n draai op Philippolis kom maak. Hierdie insetsel sal te sien wees op Woensdag, 4 Julie.
Dit was ’n viertal van Pasella wat nogal uitgeput was toe hulle een Sondagaand in hul viertrekvoertuig by die Groenhuis-gastehuis aanland. Hulle het toe reeds insetsels van Clarens asook Rhodes agter die blad gehad.
Vir me. Bokkie Potgieter, samesteller van die insetsel, was dit die laaste dorp saam met die Pasella-span. Ná drie en ’n half jaar by dié TV-program voel sy dis tyd om iets nuuts te beproef. Daarom gaan sy binnekort na die Verre Ooste verkas vir ’n onbepaalde tyd.
Die bekende gesig onder die vier was die aanbieder Paul Rothman. En ja, in die werklike lewe is sy bekende tandepaste-glimlag net so breed en skitterwit as op die kassie.Dikwels laat die televisie dwergies reusagtig lyk, maar Paul is werklikwaar gróót. Hy moet minstens hier by die 2 m draai. ’n  Mnr. Suid-Afrika sou hy gewis kon word.
Verfilming het op ’n bewolkte Maandagoggend begin voor die historiese NG kerk, die mees imposante gebou op die dorp. Van hier stap hulle dan na die Transgariep-museum om te loer na ’n uitstalling van twee bekende oud-Philippolisers – Adam Kok en Emily Hobhouse.
Die tonele word herhaaldelik afgeneem. Met klank, sonder klank, panoramas, ander kere word daar ingezoem . . .
Nuuskierige Philippolisers het dié petalje geïnteresseerd dopgehou vanaf die stoep van Indraf, ’n algemene handelaar.
Paul groet vriendelik toe hy sien iemand herken hom, maar is skamerig om ’n geselsie aan te knoop. Dié aanbieder het regte geswot en werk deesdae deeltyds by ’n arbeidsregfirma. Hulle spesialiseer in werkgewersregte.
“Ek geniet dit, want anders as kontraktereg het ek baie kontak met mense. Dis nie net admin nie.”
Hy neem elke maand so een week af vir Pasella-werk. “Dit neem dus nie te veel tyd in beslag nie – net genoeg om interessant te bly.”
Die Pasella-span het by talle plekke ook nog in die komende dae geskiet waaronder die plaaslike slaghuis, mnr. John Varty se tierreservaat, die Laurens van der Post-gedenktuin, Oom Japie se Huis en die historiese huisies langs Tobie Mullerstraat.
Ook te sien sal wees mnr. Jannie Cilliers wat musiek maak op ’n saag, terwyl hy deur mev. Marnie van Wyk begelei word.
Me. Sunette Fourie van Philippolis Info het die wiele aan die rol gesoek vir die besoek van Pasella.

Historiese dorpskern gerestoureer

Dié foto van Bo-Voortrekkerstraat is geneem deur glefie van 'n ruit in die N.G. Kerk se toring. Regs is die Jacobson-biblioteek met daarlangs die Nienaberplein.



DIE langverwagte restourasie van ’n historiese kern op dié dorp het uiteindelik begin.
Van dié opknapping van die Jacobson-biblioteek het inwoners al gedink daar gaan niks van kom nie, want sedert 2004 word sulke beloftes al gemaak. Boonop het stories begin loop dat die geld gebruik gaan word om eerder sokkerstadions te help finansier.
Uit die bloute gebeur dit toe: Daar word ’n finale vergadering gehou en die broodnodige kap- en bouwerk het begin.Daarom word die biblioteek nou in die Motheo-FET-kollege gehuisves, terwyl die Transgariep-museum binne enkele dae tydelik gaan sluit.
Na verwagting gaan die restourasiewerk meer as R1,3 miljoen beloop.
“Die Jacobson-biblioteek, ’n Victoriaanse juweel, se noordelike muur is erg aan’t verkrummel. Ook van die fraaie sierhoutwerk op die stoep het deur die jare vergaan,” sê mev. Carien Pottas, die bibliotekaresse.
Dié gebou, dalk die spoggerigste huis in die dorp, is dertig jaar gelede aan die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Administrasie oorgedra. Maar in die afgelope dertig jaar het wind en weer sy letsels gelaat.
Nuwe houtsierwerk en pilare is nou aangebring. Ook die gietysterwerk op die dak, die dak self en die houthortjies voor die vensters is herstel. Die huis is binne nie na die oorspronklike verander nie, maar slegs opgeknap.
Dit kom nadat mev. Sandra Cassel van Vancouver in Brits-Columbië onlangs kom kuier het en geskok was om te sien hoe sleg die biblioteek lyk. Haar oupa, Moritz Jacobson, het die huis destyds geskenk met die doel dat dit in ’n biblioteek omgeskep moes word.
Luidens ’n verslag van die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede is hierdie nasionale gedenkwaardigheid in 1905-’06 deur twee Nederlanders, Van der Kooy en Arrie, gebou vir ’n plaaslike handelaar, Leonardus Bohen.
Van 1915 het J.G. Hartman dit as tuishuis gebruik, maar dit was Moritz Jacobson wat dit die langste sou besit (1921 tot 1977). In hierdie 56 jaar is die plankvloer van die stoep met ’n sementvloer vervang en die houttrapies voor die gebou met sementtrappies. Die buitegeboue op die erf het die eertydse stalle in omstreeks 1924 vervang.
Die Jacobson-biblioteek tesame met ’n buurhuis wat die Transgariep-museum huisves, vorm ’n museumkompleks langs Bo-Voortrekkerstraat. Daarlangs is ook die Nienaberplein en ’n koppie waar Adam Kok se skeepskanonne staan. Straat-af is dié Griekwa-kaptein se eertydse raadsaal.
Dié Transgariep-museum langs die boomomsoomde Voortrekkerstraat is vanjaar ’n kwarteeu oud. Dit is op 2 Maart 1982 deur mnr. Louis Botha, destydse administrateur van die Vrystaat, geopen. In die museum is uitstallings van die Griekwas, Emily Hobhouse se spin-en-weefskool, ’n perdemeul en ’n buitelugoond. In die agterplaas is ook ’n stookketel wat jaarliks met die Witblitsfees ingespan word.
“Alle byskrifte in die museum verskyn in Sotho, Afrikaans en Engels,” sê me. Elize Pienaar, die kurator van die museum.Die museum is weekdae tussen minstens 08:30 en 16:00 oop. Vir verdere besonderhede bel Pienaar by 051-773-0052.
Mnr. Tankiso Zola, woordvoerder van die departement van sport, kuns en kultuur, is telkens genader vir kommentaar oor die opknappingsprojek, maar hy het nie terugvoer gegee nie.

Waterkloof: 'n Spokerige buurdorpie




Die nedersetting Waterkloof bied 'n ideale middaguitstappie. Dis 5 km vanaf Philippolis op die R717-teerpad na Colesberg.


"Tyd is die natuur se manier om toe te sien dat alles nie tegelyk gebeur nie,'' onthou ek die graffiti-wysheid in 'n besige New Yorkse moltreinstasie met die staan voor Waterkloof se N.G. kerkgebou in die Suid-Vrystaat.
Wie het nou kan dink dat dié spogwoonbuurt in Pretoria so 'n nederige en vervalle naamgenoot in die Suid-Vrystaat het.
Daar groei reeds 'n bos in 'n kraak tussen die trappe wat na hierdie Godswoning gelei het. Water borrel uit die los geut. Die wit mure is plek-plek verbleik of geelbruin gevlek deur dié klimaat van uiterstes.
Tyd skiet te kort. Dit raak op. Selfs die kerkgebou is hier ``deurweek met sterflikheid'', sou Van Wyk Louw kon sê.
Die reënbui het opgehou. 'n Motor ry deur 'n plas water op die stil, blougrys teerpad tussen Philippolis en Colesberg.
Daar word vertel dat die pad met 'n draai deur die klein nedersetting aangelê is nadat die inwoners gedreig het om nie vir 'n kandidaat in 'n plaaslike verkiesing te stem as hy nie onderneem om die teerpad hierheen te herlei nie.
Die geboorte van Waterkloof was moeilik en 'n mens wonder of dit nie reeds 'n teken was dat dit nooit moes wees nie.
Die inwoners van Philippolis, 'n paar kilometer verder, was nie ten gunste van die stigting van 'n nuwe dorp nie. Twee vermoënde broers Grobbelaar wou egter hê dat 'n kerk en 'n pastorie daar gebou word.
Ná die nodige oorreding dat die plaas as kerkeiendom 'n groot bate sou wees, sluit die N.G. kerk Philippolis 'n koopkontrak, wat vandag in die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) in Bloemfontein bewaar word, sê mev. Elize Pienaar van die Transgariep-museum in Philippolis.
Die behoeftiges van die gemeente is daarna deur die kerkraad gehelp deurdat erwe in Waterkloof aan hulle toegeken is. Waterkloof sou as 'n soort kibboets dien met omskrewe regte aan die grondgebruikers.
Een van die voorwaardes waaraan alle kopers van waterlei-erwe moes voldoen, was dat die water vir hul erwe oor die bakkieswiel van die watermeul moes loop. Deur hierdie bepaling kon die meul elke dag maal. Maar dit was nie lonend vir die kerkraad nie nadat nog 'n meul in die omgewing oopgemaak het. Daar is ook klagtes ontvang dat die bakkieswiel snags baie raas.
In die Anglo-Boereoorlog is die meulgebou só deur brand beskadig dat dit later afgebreek moes word, en dit is nie herbou nie. Die kerkraad het die perseel van die hand gesit en sodoende ontslae geraak van die onderneming wat dikwels 'n las was.
'n Groter probleem wat die kerkraad egter ondervind het, was die verspreiding van die boetebossie, wat deur die Volksraad tot indringerplant verklaar is. Dit het sulke probleme veroorsaak dat die kerk self geprobeer het om die koop van Waterkloof tot niet te verklaar, skryf J.A. Bosch in die Eeufeesgedenkboek van die N.G. gemeente Philippolis 1862-1962.
Die broers Grobbelaar het die probleme van die kerkraad ingesien, maar het ook hul eie moeilikhede genoem indien hulle Waterkloof sou terugneem. Gevolglik is die plaas aan die kerk geskenk op die voorwaarde dat indien die boetebossie uitgeroei en die plaas weer winsgewend is, ``de opbrengs der plaats door de Kerkeraad alsdan zal worden aangewend ter bevordering van de belangen van het rijk van Christus te Philippolis'', lui die kerkraadnotule. Hierna het die kerkraad besondere aandag daaraan gegee om die boetebossie uit te roei.
Daar was talle probleme in verband met die watervoor en leibeurte, twiste oor vee wat op ander se grond wei en moeilikhede in verband met mense wat te veel vee aangehou het. Dinge het vir die kerkraad só erg geword dat die leraar en kerkraad 'n vergadering op Waterkloof gaan hou en die diepste leedwese van die kerkraad uitgespreek het oor die voortdurende twis en tweedrag.
In 1904 is aan die inwoners van Waterkloof groter magte gegee deurdat stemgeregtigdes toegelaat is om 'n bestuur, Board of Management, uit hul geledere te kies wat deur die Britse regering erken is. Die kerkraad het Waterkloof aan die regering probeer verkoop, maar sonder sukses.
In 1920 is Waterkloof aan die dorpsbestuur oorhandig omdat dit 'n finansiële las geword het en voortdurend tot wrywing tussen die kerkraad en 'n deel van die gemeente gelei het.
Nadat die skool in Waterkloof in 1936 gesluit is, is die 50 of meer kinders elke dag in 'n bus na Philippolis vervoer. Die bruin en swart kinders wat vandag in Waterkloof woon, draf soggens en smiddae gedurende die skooljaar die 12 km heen en weer.
In 1962 het die gemeenskap van Waterkloof 35 blankes en 80 nie-blankes getel. Vandag woon daar geen blankes meer nie. Die handvol bruin en swart mense vorm deel van Philippolis op maatskaplike, godsdienstige en opvoedkundige terrein.
Van die oorspronklike doelstellings van die broers Grobbelaar het niks gekom nie. Waterkloof, wat deur hulle as toekomstige dorp in die vooruitsig gestel is, is deesdae een van die plaaswyke van die N.G. gemeente in Philippolis.
Deur die dekades is pragtige groente- en vrugtetuine aangelê wat natgelei kon word vanweë 'n besonder sterk fontein wat tussen naburige rantjies ontspring. Kloofdam, soos ek Waterkloof verkeerdelik as kleuter genoem het, was sinoniem met reuse-geelperskes, pere, lusernlande vol in blou blom.
Menige middag sou my onderwyserpa hierheen uitry om te kyk na sy 200 skaap op die meent wat hy gehuur het. Dan sou die Boeing op pad van die Kaap na Transvaal oor Waterkloof verbykom en 'n wit streep agterlaat.
Die fontein verskaf steeds voldoende water vir landerye, maar almal wat hier afgetree het, is nie meer van hierdie aarde nie en hul spruite het elders groener weivelde gaan soek. Hulle kon nie hier bestaan nie werkgeleenthede was hier nie.

Akkommodasie: Oase in die krakende Karoo


DIE Groenhuis Gastehuis (tel. 051-7730073) in Philippolis het selfs Dene en Hollanders aan't swymel van lekkerte.
Kliek op die foto om die berig hieroor te lees in 'n vorige De Kat, of gooi 'n oog by http://www.philippolis.co.za/

Tuesday, June 12, 2007

Was jy deel van Hoërskool M.T. Steyn?


Was jy eens deel van Hoërskool M.T. Steyn in Philippolis - hetsy as leerling, onderwyser, ouer of hoe ookal? Laat kry my dan jou naam, e-posadres en in watter jare jy verbonde was aan dié skool. So kan jy in kontak gebring word met byvoorbeeld klasmaats waarmee jy al kontak verloor het donkiejare gelede.

Plek van sterre, stilte en witblits


NÊRENS is jy meer bewus van Philippolis se ryk geskiedenis as in Bo-Voortrekkerstraat nie. Langs dié denneboom- omsoomde straat staan hulle ingeryg: die Victoriaanse Jacobson-biblioteekgebou, die Transgariep-museum, Adam Kok se raadsaal en kanonne.
En om die prentjie af te rond, kom oom Sterk Gert van Biljon, ’n natuurkenner, dalk net toevallig daar verby met sy gitswart 1934-Chrysler.
Hier is ook menige wit ou gebou met ’n donkergroen dak, bome en rantjies wat die nedersetting skans teen die ergste westewinde van die Suid-Vrystaat.
Dit is in hierdie kom dat dr. John Philip van die Londense Sendinggenootskap moes meehelp om onder die San en Khoi ’n sendingstasie tot stand te bring.
’n Bykomende voordeel van so ’n sendingstasie sou wees dat dit as pos kon dien om boere dop te hou wat onwettig oor die Oranjerivier trek.
Van albei dié funksies het egter weinig gekom. Die San, die Khoi en mettertyd die Griekwas was nomadiese volke wat nie op een plek kon of wou woon nie. Hulle moes jag en daarom rondtrek. Die trekboere het só oor die Oranjerivier gestroom dat die gebied rondom Philippolis mettertyd deur die republiek Oranje-Vrystaat van die Griekwas gekoop is. Van die Engelse se planne om die Boere te stuit, het niks gekom nie.
In die omgewing is heelwat te doen. ’n Hanetree ver is die Gariep- en die Vanderkloofdam, die twee grootste damme in Suid-Afrika. Die Oranjerivier, wat deur dié twee vloei, bied uitstekende visvang-geleenthede.
Op pad na die viswaters is dit goed om jou oë oop te hou, want in dié distrik is meer as 200 voëlspesies, waaronder honderde skaars bloukraanvoëls.
Van Philippolis lei ’n Horisonroete na Jagersfontein, Fauresmith, Koffiefontein en Jacobsdal. Die enorme diamantgat by Jagersfontein is groter as dié by Kimberley.
En op die naburige Trompsburg is die rolprent Promised Land ’n jaar of wat gelede verfilm. Dit is reeds telkemaal op M-Net vertoon en is is gegrond op Karel Schoeman se bekroonde roman Na die Geliefde Land. Schoeman, wat op Trompsburg gebore is, het enkele jare gelede daar afgetree.
Die tydskrif Getaway het Philippolis al aangewys as een van sy gunsteling-dorpe in Suid-Afrika. Philippolis was tweede op ’n uitgelese lys van 15 dorpe, waaronder Clarens, Prins Albert, Darling en Dullstroom. En met rede. Hier is stilte en skoon lug in oorvloed, fonteinleiwater, genoeg parkeerplek op straat, groot erwe en sonsondergange soos net die Karoo kan bied.
Inwoners meen hulle het die beste van albei wêrelde. Vanweë die internet, outomatiese telefone en satelliet-TV hoef jy nie op die platteland in ’n “klein wêreld” te leef nie – selfs op Philippolis met sy 4 000 inwoners. Misdaad word beperk deurdat almal mekaar ken.
Nes Getaway is ander besoekers beïndruk. Só skryf ’n paar uit New York in die Groenhuis Gastehuis se besoekersboek: “Philippolis seems an oasis after driving through the Karoo.”
Vir ’n Johannesburger was dit “like visiting friends on their farm – wonderful”, terwyl ’n Kapenaar meen: “Ek het amper vergeet daar is plekke waar so met die donker, die stilte en die sterre gemors word  . . .  en waar die gasvryheid so ruim is.”
Dit is dalk tyd om op Philippolis te kom oorslaap as jy weer die lang pad van noord na suid aandurf. En voordat jy wegry, moet jy plaaslik verboude olywe aanskaf by Indraf of FoodZone, die algemene handelaars.
Ook hier te kry is die kontreikoerant Philippolis Pos(t). Dié is propvol streeknuus en ’n móét om te weet waaroor die dorp gons.
In die plaaslike slaghuis is eersteklas-Karoolam te kry wat op bestelling vooraf verpak en gevries word.
En laastens moet jy onthou om ’n botteltjie witblits om die Transgariep-museum aan te skaf.

Naweekwegbreek: 21 te doen dinge


MOENIE die Karoo se dorpies as ’n naweekbestemming onderskat nie. Jou grootste uitgawe is om daar te kom. Verblyf is gewoonlik goedkoop. Boonop is daar heelwat meer te doen op selfs die kleinste dorpies as wat jy ooit sou dink. Hier is ’n twintigtal “te doen”-dinge op plekke soos Philippolis, Prins Albert, Matjiesfontein en Victoria-Wes.
1. BEGRAAFPLASE leer jou baie oor die dorpsgeskiedenis: Brit, Boer, Griekwa en Jood lê sy aan sy in Philippolis s’n. Volg die uitdraaipad hierheen vanaf die hoofstraat, Voortrekkerstraat.
2. Sterre is selde so kristalhelder as in die Karoo. Hier is saans nie baie lig nie en meestal is die hemel ook nie toegetrek nie.
3. Gaan slaap vroeg en staan laat op. Jy is immers met vakansie. Maar om die hitte mis te loop, is dit dalk wys om eerder vroeg op te staan en oor die middaguur ’n siësta te neem.


4. Sonsondergange en -opkomste in die Karoo is fotomateriaal – veral as daar wolke in die lug is. Kombineer dit met ’n piekniek.
5. Dorpsmuseums word min, want die staat bewillig nie meer geredelik geld hiervoor nie. Nietemin is party dorpies nog gelukkig om ’n dorpsmuseum te hê en dit is altyd ’n goudmyn van inligting. Philippolis se Transgariep-museum is een van die min in die land wat alkohol (en wel witblits) mag verkoop. Dit word een keer per jaar hier gestook.
6. Feeste gee woema aan selfs die kleinste nedersetting. Die twee hoogtepunte op Philippolis se sosiale kalender is die Witblitsfees (April) en die Saalperdskou (November). Laasgenoemde is die naasgrootste in Suid-Afrika.

7. Toerismeroetes gedy op die platteland. Die Horisonroete strek oor Philippolis, Jagersfontein, Fauresmith, Koffiefontein en Jacobsdal. Sowat 200 km van die 250 km is geteer. Die landskap hier is oop en die horison lê wyd (vandaar die roetenaam).
8. Donkiekarretjies word ’n seldsame gesig, maar Sondae word dit nog algemeen gesien as plaaswerkers kerk toe kom.
9. Voëlkykers sal in hul noppies wees om te hoor dat swerms bloukraanvoëls volop in die Transgariep is. Daar is onlangs meer as duisend van dié bedreigde voëlsoort net in die Philippolis-distrik getel.
10. Dorpskoerantjies soos die Philippolis Pos(t) gee jou ’n gevoel hoe die gemeenskap inmekaar steek. Dis ook ’n uitstekende bron van ander “te doen”-dinge. Ek (Jens Friis) is die redakteur van die Philippolis Pos(t).
11. Karoo-tjops is alombekend. Die smaak is eersteklas en die pryse gewoonlik billik. Sou jy ’n skaap wil saamneem, skakel vooraf die plaaslike slaghuis sodat die slagter dit vir jou kan opsny en verpak.
12. Water in die dorre Karoo is altyd ’n kleinood. Min kan so verkwikkend wees as ’n stort of bad om die droë aarde se stof af te spoel.


13. Vang ’n vis in ’n spruit of (plaas)dam. Philippolis is die enigste dorp wat grens aan die land se twee grootste damme – die Gariep en Vanderkloof.  Hierdie kontrei is bar, droog en afgeleë. Tog is daar weinig plek waar jy nader aan die niks kan kom – én groter visse kan vang X as juis hiér nie. Gebruik erdwurms of koekmeeldeeg as aas om ’n karp, geelvis of onderbek uit te trek. En saans braai jy dit, terwyl die vlamme in die duister die middelpunt van hemel en aarde word.
14. Skaf eiendom aan. Dalk is jy só beïndruk met die dorp dat jy ’n naweekhuisie wil aanskaf. Maar speel gou, tannie Pam (Golding) maak al haar buiging feitlik oraloor.
15. Stap die dorp uit met ’n stil grondpad. Ruik die bossies, hoor die geblêr van ’n trop skape, voel die son op jou vel . . .
16. Uitkykpunt. Indien moontlik, ry of klouter tot op die hoogste punt op die dorp en oriënteer jou. Op Philippolis is dit ’n koppie waar die dorp se reservoirs staan. Om tot bo-op te ry, is ’n viertrekvoertuig of ’n sterk bakkie nodig. Ry met die Trompsburg-teerpad. Sowat 1 km buite die dorp is ’n hek links. Maak die hek agter jou toe en ry teen die koppie op. Wees op die uitkyk vir pofadders in die somer.
17. Townships. Sien só (dalk die eerste keer) waar jou mede-Suid-Afrikaners woon. Op Philippolis is die inwoners van Bergmanshoogte en Poding Tse Rolo gewoonlik baie vriendelik.
18. Sit net en kyk hoe die wêreld verbygaan – ’n luukse in ’n gejaagde lewe. Wanneer laas het jy dít gedoen? Kyk. Hoor. Luister. Ruik. Voel.
19. Imposante geboue is maar dun gesaai in die Karoo. Meestal is dit die NG kerke waarvan menige ’n historiese gedenkwaardigheid is soos dié op Philippolis. Die toring is in die Anglo-Boereoorlog gebruik as skietplek vir kanonne, die preekstoel is van plaaslike olienhout, en die eerste troue in Afrikaans is hier voltrek.
20. Is die kar vol petrol? Baie dorpies se garages is naweke net sekere ure oop. Maak veiligheidshalwe dus maar Saterdae al vol vir die terugry Sondag. In Philippolis is C & J Motors van die Geels oop na kerk op 'n Sondag (rofweg rondom 10:30 tot 11:00).
21. Internet. En as bogenoemde nog nie genoeg idees is om jou besig te hou nie, doen vooraf ’n soektog op Google. Gooi byvoorbeeld 'n oog by http://www.philippolis.co.za/ of lees verder hier.

Welkom in ons kontrei

Mag jy tonne inligting vind op hierdie blog oor Philippolis, die Suid-Vrystaatse pragdorpie. Voor die bou van die N1 in 1972 het die hoofpad tussen die Kaap en Transvaal hierdeur geloop. Vandag nog is die R717 korter as die N1. Dit sal dus loon om bietjie 'n ander pad te ry tussen die kus en Gauteng. Draai bloot af by Colesberg of Trompsburg.
As jy 'n draai kom maak is die Groenhuis Gastehuis, 'n ideale halfweghuis om by af te saal. Loer by www.philippolis.co.za
Ek sal hierdie blog graag gereeld wil opdateer. Kom wys dus weer oë om te sien wat is nuut.

Jens

Kopiereg / Copyright: Jens Friis. Geen foto's of teks mag hergebruik word sonder die nodige toestemming nie.