Tuesday, December 27, 2011

Hoofstraat eens verlê

Voordat Voortrekkerstraat die hoofstraat van Philippolis was, was Tobie Mullerstraat die "voorstraat" van dié dorp. Op die foto kan gesien word hoe die R717-teerpad vanaf Trompsburg die dorp inkom en verander in Voortrekkerstraat (destyds Kerkstraat). Maar vroeër het dié teerpad vanaf Trompsburg 'n minder skerp draai gemaak en aangesluit by die volgende straat wat meer regs is op die foto. As jy op die koppie sit waar Philippolis se wateropgaardam is, kan jy mooi sien waar die pad eens geloop het. Ook die plek waar die brug eens was oor die dorpsspruit is steeds sigbaar. Langs Tobie Mullerstraat, wat genoem is na die tweede leraar van die plaaslike NG Kerk, was onder meer die poskantoor, kafees en steeds die landdroskantoor. Dis onbekend in watter jare die pad verlê is. Foto: Jens Friis

Monday, December 12, 2011

Uitkoms nodig

Mag daar vinnig uitkoms kom, want die aarde is kurkdroog. JENS FRIIS het dié foto op Philippolis geneem. Droë toestande het daartoe gelei dat weiveld in die distrik reeds afgebrand het. En in die naburige Colesberg het der duisende hektaar onlangs afgebrand. Boere van Philippolis, Springfontein en Gariepdam het onder andere gaan help om dié verwoestende brand te blus.

Thursday, October 6, 2011

Grafte verval

Van die grafte in Philippolis se ou begraafplaas is in 'n erge toestand van verval. Hier lê Britte, Griekwas, Jode en Afrikaners sy-aan-sy. Die oudste van die meer as 1 000 grafte dateer uit 1829. Volgens ‘n opname van sterfdatums is Philippolisers se kans dubbeld so hoog om in ‘n koue Augustus se sterf as in Februaries. Die einde van die winters is eenvoudig té straf vir ‘n swak gestel. Foto's: Jens Friis

Wednesday, September 21, 2011

Groenhuis Gastehuis, Philippolis: 051-773-0073



Waterslang sy poel kwyt

PHILIPPOLIS. Ten spyte van 'n waternat jaar, is die dorp se mitologiese watermonster soek.


Die rede? Die poel waarin hy (of is dit sy?) gewoonlik hou, het weggespoel tydens 'n vloed vroeër vanjaar.


Dit het gebeur toe 'n dorpsdam stroom-op gebreuk het. Dié berg water het 'n keerwal in die spruit agter C & J Motors weggespoel, die spruit se bedding op plekke met tot 2 m uitgevreet en só het die waterslang se poel ook in die slag gebly.


Vir dekades reeds leer Philippolisertjies van dié ongedierte. In 1969 skryf dr. Petronella van Heerden, die eerste Afrikaanse vrouedokter, só hieroor in haar outobiografie getiteld Kerssnuitsels


"In die fontein het die gevreesde waterslang gewoon. Snags het hy uitgekom, langs die watervoor af tot net voor die kerk waar die groot bome gestaan het. Hy kon jou héél insluk."


Inwoners het vertel dat hierdie watermonster (in die volksmond "injoka") soos 'n bruin pofadder met 'n perdekop lyk en dit het glo twee beeshorings. Ander het dan bygevoeg dat die vabond met bosluise oortrek is. Hy het glo ook maanhare op sy rug soos dié van 'n leeu.


Maar vanjaar swyg die inwoners oor die injoka. Hy is nêrens te sien nie.


Wyle mnr. Willem Adams het dikwels vertel dat hy die injoka self gesien het. Dit was blykbaar die middag voordat die eerste reën geval het ná die droogte van 1933.


"Die waterlikkewane het elke dag die waterslang se seekoeigat beesmis gesmeer, maar dié middag het hy van Boesmansfontein na die 'Gariep' getrek. Die waterslang het eers op 'n wolk geklim en toe sy pikswart stert begin swaai.


"Daardie middag is Boesmansfontein se dak afgewaai. Die klippe het die hoenders op die plaas se oë uitgegooi. Daar lê nou nog van die boomstompe wat omgewaai is.


"Net die tier en die leeu is gevaarliker as die waterslang," sou sy vrou, wyle Griet Adams, dan byvoeg.


"Maar as hy van jou hou, kan hy ook baie goeie goed vir jou doen. Só kan hy siek mense gesond maakdeur met sy raspertong oor hul lywe te lek."

Vloed lê vonds bloot



PHILIPPOLIS. 'n Vloed vroeër vanjaar hier het tot skade gelei, maar ook onverwags 'n ondergrondse vonds blootgelê.


'n Keerwal wat terugdateer uit die begindae van Philippolis, is oopgespoel.


Philippolis, die oudste nedersetting in die Vrystaat, se geskiedenis strek terug na die begin-1820's.


Die keerwal het in 'n baie goeie toestand behoue gebly omdat dit bedek is deur die jare bedek met slik. Dit is 'n uitstekende voorbeeld hoe kosbare bogrond behoue kan bly en gronderosie só verhoed kan word.


Sover bekend was niemand meer bewus van dié keerwal nie. Dit is waarskynlik gebou om water op te dam van waar dit dan gelei is na erwe langs Voortrekker- en Colin Fraserstraat.


Sir Laurens van der Post maak onder meer melding in sy boeke van dié fontein.


Philippolis is hier in die Suid-Vrystaat uitgelê omdat daar twee fonteine is wat water kon verskaf, naamlik dié Philippolisfontein en die Koksfontein.


Die Philippolisfontein is langs C&J Motors feitlik reg onder die brug na die Trompsburg-pad.


Die Koksfontein voorsien Rowelsfontein van water en sy oog is langs die Luckhoff-pad.


Beide is standhoudend en droog slegs op in die ergste droogtes.

Sunday, August 14, 2011

Justisiestraat bied baie











BESOEKERS aan Philippolis ry meestal langs Voortrekkerstraat wat van Trompsburg na Colesberg lei of dalk sal hulle nog ‘n ekstra draaitjie ry deur Tobie Mullerstraat wat in vroeëre jare die dorp se hoofstraat was.


Maar min maak ooit in ‘n draai in Justisiestraat waar menige kosbare en interessante geboue ingeryg staan in die eerste drie blokke aan die noordelike punt.


Kom jy vanaf Skoolstraat oor die bultjie wag ‘n historiese kompleks in die kleine op jou bestaande uit ‘n Karoo-platdakhuisie, die historiese skutkraal (waaroor Kontrei onlangs berig het omdat dit aan’t verval is) en ‘n indrukwekkende sinkveranda-huis.


Beide die Karoo-platdakhuis en die skutkraal is nasionale gedenkwaardighede. Die Karoo-huis langs Justisiestraat 4 dien deesdae as vakansiehuis vir die inwoners wat elders woon, maar het in die 1980’s diens gedoen as Philippolis se inligtingskantoor. Toe het wapperende vlae besoekers voor dié huis ingewag. Binne het mnr. Van der Graaff gereed gestaan met brosjures en inligting oor die streek en jy kon poskaarte, skryfbehoeftes en lekkergoed hier aanskaf. Die kamertjies van die huis is klein en donker, maar heerlik koel in die somer.


Twee huise straat-af staan ‘n sinkverandahuis uit ongeveer 1870 wat pryk op Karel Schoeman se hardeband boek, “Vrystaatse Erfenis – bouwerk en geboue in die 19de eeu”. Nes die Karoo-huisie is dit reg op die straat gebou soos die gewoonte destyds was. Van ‘n voortuin is daar glad nie sprake nie. Schoeman skryf: “Met die toenemende gebruik van sinkplate is die veranda as nuwe versierende element in die dorpsboukuns ingevoer. Deur die gebruik van sink kon die stoepe voor die huis nou oordek word, nie net om ‘n aangename sitruimte te skep nie, maar ook om die son uit die huise uit te hou, want vroeëre generasies was nie besonder gesteld op sonlig nie, en waar ‘n huis wel noord gekyk het, het hulle graag van ‘n veranda gebruikgemaak om dit te weer.”


En voorwaar moes dit ‘n heerlikheid gewees het om vroeër dae op dié beskutte hoë stoep te kon sit en uitkyk hoe die wêreld verbygaan. Helaas het dié huis aansienlik verval sedert die Schoeman-boek deur Human & Rousseau uitgegee is in 1982, maar die fasade is nog net so indrukwekkend as destyds. Sementsierwerk dui aan dat dit op ‘n stadium aan die Cilliers-familie behoort het.


Skuins oorkant staan een van die klaskamers wat in 1872 opgerig is om as skool te dien. Dit dien deesdae as stoor en werkswinkel vir mnr. Johan Louw. David Goldblatt, die vooraanstaande fotograaf, het enkele jaar gelede hier ‘n paar trefferfoto’s geneem van die eertydse klaskamer en Louw se werk- en voertuie.


Op die oorkantste hoek is die Anglikaanse kerk wat nou ‘n woonhuis is vir Brinley en Erina Pritchard. Hul seun, ook Brinley, is ‘n argitek in die Kaap.


En reg langs dié kerk vind jy die rede waarom Justisiestraat sy naam gekry het. “Justisie” in Philippolis was hier gesetel met die landdroskantoor, polisiekantoor en tronk bymekaar. Die landdroskantoor waar adv. Nicho du Toit die magistraat is, is onlangs opgeknap en omhein. Van 1872 tot 1942 is skelms in die tronk toegesluit. Vir die volgende 30 jaar was dit 'n polisiekantoor voordat dit in onbruik verval het. 'n Gautengse sakeman, mnr. Harry During, het die bouval in die 1990's vir 'n appel en 'n ei gekoop en dit in oornagverblyf omgeskep.


Onder die ander interessanthede van Justisiestraat tel die kragsentrale waar elektrisiteit destyds opgewek is en ook die huis waar wyle Anna Neethling-Pohl, die befaamde akteur, gewoon het.


Haar broer, wyle Jan Pohl, onder meer liedjieskrywer, het net ’n straat laer langs Tobie Mullerstraat gewoon.