Friday, May 13, 2011

ROETE NOU HEELPAD TEERPAD

Met die R704 wat nou geteer is tussen Trompsburg en Jagersfontein is dit moontlik om heelpad teerpad te ry as jy die Horizon-toerismeroete aanpak. JENS FRIIS het dit gaan ry.
“THE province of the Free State has always had a magical effect on me ... With its flat, dusty landscape as far as the eye can see, the great blue ceiling above … the Free State landscape gladdens my heart no matter what my mood. While I am there I feel that nothing can shut me in, that my thoughts can roam as far and wide as the horizons.”
Só het Nelson Mandela in sy outobiografie Long Walk to Freedom geskryf.
En aan ‘n meer gepaste aanhaling om die Horizon-toerismeroete deur die Suidwes-Vrystaat beskryf, kan ek nouliks dink.
Dit is ook Mandela wat ‘n stigterslid was van die nie-winsgewende maatskappy Open Africa. Dié maatskappy probeer om Afrika se toerismepotensiaal te ontsluit deur onder meer die skep van toerismeroetes. Hul meer as 50 roetes strek oor meer as 31 000 km. Dit wissel van die Overbergse fynbosroete, die Amajubaroete, die Swaziland-roete ... en dan ook die Horizon-roete.
Vat jy kortpad van Kimberley na Colesberg, mag jy vooraf wonder of die Horizon-roete werklik iets bied - die Suidwes-Vrystaat is immers nie 'n toerisme-mekka nie.
Tog lê dié geweste se skatte vlak as jy weet waar om te kyk. Hieronder tel Herbert Baker-geboue, rotstekeninge, van die beste perde in die land, wynkelders ... Voorwaar 'n mandjie geskenke wat wag om oopgemaak te word.
Die Horizon-roete strek deur 'n wye, oop wêreld - die hartland van Suid-Afrika. Net hier en daar staan 'n koppie wat sir Laurens van der Post, ‘n boorling van hier, eens beskryf het as " . . . puritanical hills 'guarding' secret water, so that it appears totally unpeopled".
En dis hierdie kombinasie van afgesonderdheid én maklik bereikbaarheid wat dreamcatchers toenemend lok. Dol is hul op die "Open Spaces and Little Places" (die leuse van Horizon).
Dié roete verbind die N12 (net suid van Kimberley) met die N1 (by Colesberg). Amptelik begin Horizon in die noorde by Jacobsdal. Hiervandaan mirage telefoonpale langs die pad oor uitgestrekte gras- en bossieveld na waar die R717 die Oranjerivier suid kruis.
In die noorde is my gunstelingstilhouplek by Jacobsdal se Landzicht-kelder. Dat daar in die Vrystaat sulke eersteklaswyn gemaak word, bly elke keer 'n verrassing. Om 'n paar bottels van hul pinotage aan te skaf is nooit 'n fout nie.
Van hier lei die pad oor Koffiefontein, skrywer Etienne Leroux se blyplek, na Fauresmith, die naasoudste dorp in die Vrystaat. Destyds het Fauresmith so byna-byna vir Bloemfontein uitgestof. Die eerste Volksraad moes tussen dié twee kies as hoofstad van die Oranje-Vrystaat. Met 'n skrale meerderheid van twee stemme het die keuse op Bloemfontein geval.
Deesdae is Fauresmith se claim to fame sy jaarlikse perde-uithourit en ongewone spoorlyn.
Elke bibberende Julie ding ruiters en perde hier mee om 205 km in drie dae af te lê. Ná elke 25 km het die ruiters 20 minute om hul perde koud te lei waarna hulle deur veeartse ondersoek word. Hartklop en spiere word nagegaan. Perde wat ooreis is, word gediskwalifiseer.
Die geskiedenis van die uithourit strek terug na 'n debat in Landbouweekblad oor watter perderas die beste uithouvermoë het. In 1964 is 'n uithourit gereël oor 'n sirkelroete tussen Hanover, De Aar, Richmond en terug na Hanover. Arabierperde het as oorwinnaar uit die stryd getree.
Omdat Fauresmith omring word deur koppies aan drie kante loop die treinspoor hier deur die hoofstraat -anders sou 'n tonnel gebou moes word. Net in twee ander dorpe ter wêreld is die hoofstraat ook treinspoor, naamlik Tula Homa in Tennessee (Amerika) en Wycheproof in Victoria (Australië).
Hoewel die spore steeds ingebed lê in Fauresmith se voorste straat, loop hier g'n trein meer nie. Die afskaling van mynbedrywighede in Koffiefontein en sluiting van die diamantmyn in die nabygeleë Jagersfontein het dié trein onekonomies gemaak.
Tog was Jagersfontein eens op almal se lippe. Die Jagger-diamante sou bekend word vir hul buitengewone gehalte. Boonop was hul gróót. Só was die Excelsior (972 karaat) op sy dag die grootste wit diamant. Die waarde daarvan word deesdae op sowat R1,2 miljard geraam, aldus Explore, Satoer se amptelike toerisme- en reisgids. Hierdie knewels het gekom uit 'n gat met 'n omtrek van 1,57 km en 'n deursnee van byna 500 m. Volgens mev. Gillian Vermaak, uittredende voorsitter van die Horizon-roete, is dié enorme gat 19,65 ha groot teenoor Kimberley se 17 ha.
Die Vermaaks se winkel, Glaasstudio, is 'n klipgooi van dié Groot Gat. Hul werkers maak nie meer draadkarretjies in die Itumelengtownship nie, maar Franse draadwerk. Van olifante tot Harley Davidsons word opgeslurp in van Sandton City tot Australië.
Van Jagersfontein is daar twee moontlikhede hoe jy verder suid kan ry om uit te kom by Philippolis, die oudste nedersetting in die Vrystaat en die suidelikste dorp op die Horizon-roete.
Die grondpad tussen dié twee dorpe strek oor sowat 60 km en is deesdae omtrent beter as die meeste plattelandse teerpaaie. Oorweeg dit dus gerus.
‘n Ander moontlikheid is om via Trompsburg met die nuutgeteerde pad te ry. Dié pad loop feitliks presies waar die grondpad vantevore tussen Jagersfontein en Trompsburg was. Loop dus lig, want hier en daar is die draai skerper as wat jy van ‘n teerpad mag verwag.
Die skape van hierdie gebied se sappige vleis spruit uit diëte van bossies én gras. Van hier die naam Skynkaroo - die plek waar die Karoo se bossies en die noorde se grasvelde ontmoet. Rofweg lê dié gebied wesvan die N1 in die Suid-Vrystaat, met die Riet- en Oranjeriviere as ander grense.
Soms word hierna ook verwys as die Transgariep. Die Voortrekkers moes die Oranjerivier déúr. Daarom "Trans+gariep": letterlik óór die Gariep ( vorige naam vir die Oranje).
Dis sulke interessanthede wat die Horizon-toerismeroete bekend wil stel en weliswaar is daar meer hiervan as wat jy waarskynlik ooit sou droom.
En mnr. Mandela sou saamstem, want “hier kan jy jou gedagtes vrye vrye teuels gee so ver en wyd as die horison”.
SOU JY GAAN
· Kyk by http://www.openafrica.org/route/Horizon-Route-Open-Spaces-and-Little-Places. Hier is al die inligting wat jy gaan nodig hê. Van waar jy moet eet en slaap tot kaarte en foto’s.
· Bel mev. Gillian Vermaak, die voorsitter van die roete, by 082-355-1726.
· Maak ‘n draai by mev. Judy Bester se werkswinkel in Fauresmith waar skaapvelprodukte soos pantoffels met die hand gemaak word. Loer by http://www.cozycraft.co.za/.
· Dié wêreld is yskoud in die winter. Maak dus nou ‘n draai voordat die ergste koue toeslaan.
· En as jy in die somer gaan onthou ‘n pet, sonbril en iets om aan te smeer sodat jy nie te bruin brand in dié semi-woestyn nie.

Tuesday, April 19, 2011

Jy kan baba-tier doop

PHILIPPOLIS. Jy staan die kans om ‘n naam te gee vir ‘n hoogs bedreigde Suid-Chinese tier waarvan daar minder as 80 in die wêreld oor is.

Dié baba-tiertjie is op die Laohu-tierreservaat buite Philippolis gebore op 31 Januarie twee dae voor die einde van die Chinese Jaar van die Tier.

Die nuwe aankomeling van pa 327 en ma Cathay word tydelik “Miss X” genoem.

Die teelprojek by Philippolis is waarskynlik die allerlaaste kans om die Suid-Chinese tier (Panthera tigris amoyensis) van uitwissing te red, want daar is minder as 80 van dié tiere oor waarvan ’n skamele 20 in die natuur voorkom. Die ander 60 is in dieretuine in China.

Omdat hulle nie in klein dieretuinhokke wil voortplant nie, is van die tiere in 2005 na die Laohu-reservaat suidwes van Philippolis gebring.

Baie omgewingsbewustes het dié teelprojek nie ’n kat se kans gegee nie, “maar die projek is beslis suksesvol soos gesien kan word deur die nuwe tiertjies wat gebore word,” sê me. Li Quan, stigterslid van die SCT-organisasie uit Londen.

Aanvanklik het dit gelyk of pa 327 nie kinders sal kan hê nie. Die geboorte van Miss X was dus ‘n verrassing. Sy eerste baba is rondom Kersfees in 2009 gebore, maar enkele dae daarna het ‘n roofvoël daarmee weggevlieg.

Om ‘n soortgelyke tragedie te voorkom word die kosbare klein Miss X met die hand onderdak grootgemaak sedert haar derde dag op aarde, lui ‘n mediaverklaring.

“Miss X is ‘n sterk welpie en kruip oral rond. Dit het daartoe gelei dat sy deur die ogiesdraad van ‘n heining geklouter het en die personeel groot laat skrik het. Aangesien sy met die hand grootgemaak word en mense vertrou sal sy nie alleen in die veld vrygelaat kan word nie (dieselfde geld vir die tier Hulooo) omdat dit gevaarlik vir haar kan wees. Sy sal egter hopelik welpies hê en haar kinders leer om te jag.”

Die kompetisie word aangebied deur die internasionale Red China se Tiere-organisasie (SCT) en die Chinese internet verskaffer Sina.com. Name kan aanlyn ingeskryf word tot 21 April by http://news.sina.com.cn/z/tigername2011/index.shtml of gooi ‘n oog by www.savechinasitgers.org.

Die wenner sal in Mei aangewys word. Daar word onder meer verkies dat herhalende name soos Baba, Lili en BeiBei vermy word en dat die naam nie te lank is nie.

Hierdie is die tweede keer dat die publiek ‘n kans staan om ‘n tiertjie te doop. Die eerste keer was in 2008 toe die eersgebore baba op Laohu die naam Hulooo gekry het. Hulooo is nou drie en ‘n half jaar oud en gereed om te paar.

Wednesday, April 13, 2011

Bruidspaar oplaas (onverwags) geëien

PHILIPPOLIS. 'n Toeris kon skaars haar oë glo toe sy onlangs totaal onverwags afkom op 'n foto van haar grootouers in die Suid-Vrystaat. Mev. Irma Gomes van Muldersdrif het onderweg in Philippolis oorgeslaap tydens 'n vakansie. Haar mond het oopgehang toe sy afkom op 'n handvol swart-en-wit kiekies wat 'n muur versier in Die Stal, 'n anneks tot die Groenhuis Gastehuis. Op een van dié foto's was 'n oupa en ouma, wyle mnr. Piet en Flippie Bekker, op hul troudag. Geen Philippoliser kon sover die mense op die foto eien nie. Die foto is geneem op die oomblik toe die bruidsbaar die N.G. Kerk in Philippolis verlaat het ná hul huweliksbevestiging. Om seker te maak dat niemand vergeet wie dit is nie, het me. Gomes só agterop die foto geskryf: "Piet Bekker en Flippie Bekker se troue. Piet Bekker is ouma Dollie Becker se broer. Dollie is oom John Becker se vrou. Party Bekkers word met 2 k's gespel en die ander met ck." Oom John Becker het voorheen in die huis langs Philipstraat, Rowelsfontein, gewoon waar wyle me. Sussie Simes tot onlangs gewoon het. Irma vertel dat sy baie keer by hulle gekuier het. Sy onthou vir oud-inwoners soos mev. Cielie van Niekerk wat ook in Philipstraat, 'n straat vanaf die Groenhuis, gewoon het. Oom John was baie sterk. Daar word onthou dat hy 'n windpompkop teen 'n windpomptoring kon uitdra en eiehandig werkmaak.

Friday, April 8, 2011

Liedjieskrywer kom musiekvideo maak


- Jens Friis

PHILIPPOLIS. Stef Kruger, skrywer van liedjies soos Tussen jou en my en Grassade in die wind gaan 'n musiekvideo op Philippolis kom maak. Die musiekvideo is vir Kruger, 'n boorling van Philippolis, se liedjie My Wortelwêreld. Hy woon die afgelope vier jaar in Oudtshoorn en het aan 'n 'n eie CD van sy liedjies begin werk. Kruger het enkele jare gelede sy naweekhuis op Philippolis verkoop. Dit het gevolg nadat sy ma, mev. Lettie Kruger, na die tehuis vir bejaardes op Trompsburg getrek het. Tant Lettie, intussen oorlede, het vir byna 'n halfeeu in haar huis langs Tobie Mullerstraat gewoon. "In st. 7 het ek ’n kitaar by ’n winkeltjie gekoop. As ek reg onthou, het dit R5 gekos. Daarop het ek my eerste akkoorde getokkel," het Kruger eens vertel met ’n besoek aan sy geboortedorp. "My studio was ’n geel Zephyr in ’n agtertuin. Dáár kon niemand my hoor nie. Buiten ’n paar rekker- en kleilatgevegte was Philippolis stil. Hierdie Vrystaatse dorpie is net so droog soos ek, maar dit was nietemin ’n wonderlike leerskool. Daar was genoeg tyd om te kon droom en liedjies te skep." En dit was gewis 'n goeie leerskool, want uit hierdie woordman se pen het menige treffers vir onder meer Dozi gevloei.

Kiekies van dorpe bekoor

- Jens Friis As jy 'n belangstelling het in fotografie én in die landelikheid van plattelandse plekke, sal Roger Ballen se “Dorps – small towns of South Africa” jou bekoor. Met die eerste oogopslag snap jy waarom dié foto's in die Museum of Modern Art in New York tot die Guggenheims pryk. Dis eersteklas foto’s waar die fotograaf se voorliefde vir wat hy afneem opvallend is: “Vir my is ‘n dorp meer as ‘n definisie van plek en mense. Dit is ‘n omgewing, ‘n spesifieke fenomeen. Die woord “dorp” het ‘n unieke konnotasie wat net in Suid-Afrikaanse dorpe te vinde is,” skryf Ballen. In die voorwoord vertel hy breedvoerig hoe hy op 'n wildvreemde dorp sou aanland en dan voel-voel rondgaan op soek na iets anders om af te neem. Dit is nie noodwendig die mooiste of die opvallendste nie, maar iets wat hom bybly. Vir Ballen, ‘n Amerikaner, was die uittog na dié dorpe die mees besonderse ekspedisies van sy loopbaan. Hy gee toe dat 'n Suid-Afrikaanse dorp in die meeste mense se oë nie "eksoties" is nie. Maar tog het dit hom bly lok. En hierin is veel te leer. Telkens het ek al ervaar hoe buitelandse vriende meer uit die tradisionele dorpies van Suid-Afrika kry as die stede - juis omdat dit nie voorgee om iets anders te wees as wat dit is nie. Op 'n persoonlike vlak het dié my boek onmiddellik my aandag getrek, want op die voorblad pryk die hotel in Middelburg (Kaap) waar my pa aangetrek het voordat my ma hom met hul huwelik in die Gereformeerde Kerk tegemoet geloop het. En dan is daar ook ‘n foto van die huis waar wyle tant Frieda en oom John Jacobson in Philippolis eens gewoon het. Hier het ek meerdere maal vir 'n paar uur oorgebly as my ouers, twee onderwyseres, aan die einde van die jaar na die matriekafskeid sou gaan. Die Jacobsons het dan graag na die Friise se kleingoed gekyk. Deesdae woon my oudmusiekonderwyseres Desiré Jansen van Rensburg hier en na sowat drie dekades lyk die huis steeds nes op Ballen se kiekie. UIt Volksblad se lesersgebied is daar ‘n magdom foto's van dorpe soos Hanover, Smithfield, Aliwal-Noord, Frankfort, Bethulie en Paul Roux. Waaroor ek wel gewonder het met die deurblaai is of die boek werklikwaar daarby baat dat slegs swart-en-wit foto's geplaas is. Ook of dit nie sou loon om aan beide kante van die blaaie foto's te plaas nie? Dis wel 'n lekker luukse, maar die boek kon veel meer waarde gebied het deur ook die linkerkantste bladsy te gebruik. En laastens wil die boek tog hier en daar die indruk wek dat die plattelanders agterlik is - byna soos op daai bekende Time-tydskrif van ouds se voorblad. Maar mens moet wel toegee dat die foto's sowat 30 jaar gelede geneem is. Soos die jare aanstap, verander die hede voortdurend die karakter van dié plekke. Soos Ballen opgemerk het: “Ek voel dat ek ‘n blik gee op ‘n uitsterwende kultuur. Ek het hierdie dorpe afgeneem in die hoop om tyd te vries.” Protea moet geloof word vir dié bygewerkte heruitgawe met foto’s wat nog nie vantevore gepubliseer is nie.

Tuesday, March 22, 2011

Google "doop" strate


- Jens Friis
PHILIPPOLIS. Selfs deurwinterde Philippolisers sou nooit kon raai nie dat heelparty van die kleiner straatjies in dié dorp wel name het.

Maar as jy 'n internetsoektog doen op Google Maps blyk dit wel die geval te wees.

In die vroeë 1990's is daar oral in die dorp straatname aangebring, maar vandale of die wind en weer het dit sedertdien verwoes. Een van die enigste straatnaamborde wat oorgebly het is een langs Kokstraat.

Dié gebrek aan straatnaamborde veroorsaak uiteraard verwarring wanneer vreemdeling Philippolis besoek en toerisme-aandeelhouers het al meerdere maal by Kopanong Munisipaliteit gepleit om dit her aan te bring. Maar dié versoeke val skynbaar op dowe ore.

Behoorlike staatnaamborde is dan ook een van die kriteria wat in ag geneem word wanneer Kontrei jaarliks sy Toeristedorp van die Jaar aanwys.

Onder die strate in Philippolis wat Google "gedoop" het deur die name uit die argiewe op te grawe tel Vendusiestraat. Dié straat sluit aan by Voortrekkerstraat op die hoek van C & J Motors en lei na die woonbuurt Poding Tse Rolo. Vanmeleë was die dorp se vendusiekrale aan die linkerkant van die pad net voor die ingang na Poding Tse Rolo. In die jare van apartheid het die vendusiekrale as 'n handig geleë buffer gedien tussen die eertydse "lokasie" en die blanke dorp. Dié vendusiekrale is jare reeds in onbruik en daar het niks hiervan oorgebly nie.

Die enigste ander toegangsroete na Poding Tse Rolo heet Hospitaalstraat. Van waar dié naam weet nugter, want sover bekend had Philippolis nooit 'n hospitaal nie. Babas, soos ekself, is in die naburige Colesberg gebore en ma's kom deesdae na Bloemfontein om geboorte te skenk. Op die hoek van Voortrekker- en Hospitaalstraat is wel deesdae die plaaslike kliniek, maar dit het eers in onlangse jare 'n tuiste hier gevind in 'n oud-woonhuis.

Google noem die straatjie wat van die landdroskantoor na Voortrekkerstaat loop Grobbelaarstraat, terwyl die een wat by die oud-kragsentrale eindig Kortstraat heet.

Die straat wat na die kerkhof lei se naam is Dwarsstraat. En as jy verder langs Voortrekkerstraat ry is daar ook 'n onbekende Van Ellinckhuysen-, Buitekant-, en Colesbergstraat.

Buitekantstraat dui uiteraard op tot waar die dorp eens uitgelê was.

Daar is wel foute op die Google-kaart soos dat Kokstraat as Van der Post-straat geïdentifiseer is.

En die die hoofstraat, Voortrekkerstraat, het glad nie 'n naam nie, dit word bloot aangedui as die R717 wat van Trompsburg via Philippolis na Colesberg lei.

Doen dalk 'n soektog op Google Maps vir die dorp waarin jy woon, en jy mag 'n paar interessante dinge te wete kom.

Tuesday, March 1, 2011

Watertenks geskenk

PHILIPPOLIS. Die DA het twee watertenks aan die gemeenskap van Philippolis geskenk.
Dit volg nadat die dorp onlangs sonder water was omdat pype weggespoel het.
"Nadat beide die munisipale bestuurder en tegniese bestuurder nie gekontak kon word nie, het die DA besluit om twee watertenks aan te koop," lees die jongste nuusbrief van die Demokratiese Alliansie in Kopanong.
Me. Lena Hagemann en mnr. Jacques van Rensburg is die DA raadslede hier.
"Die een tenk is langs die skougrond geplaas waar dit water deur die nabygeleë boorgat aan die inwoners van Poding Tse rolo verskaf het."
Mnr. Diesch Andrews het met die ander tenk op sy bakkie deur die dorp gery en water aan inwoners gelewer waar nodig.
Nadat die toevoerpype na die opgaardam herstel is, het die DA die twee tenks aan die Philippolisers geskenk.
"Die een tenk sal permanent opgerig word vir gebruik tydens soortgelyke noodsituasies terwyl die ander een aangepas sal word om gebruik te word tydens brande."
- Jens Friis