Wednesday, September 3, 2008
Positiwiteit onsluit geleenthede
Tuesday, September 2, 2008
Einde van 'n era: Oupa Willem Adams (102) sterf
Sover bekend was hy die laaste Philippoliser wat nog die Griekwataal kon praat.
Dié dorp was vanmeleë die hoofstad van die Griekwa-nasie. Van hier het Adam Kok, die Griekwa-leier, sy septer geswaai tot noord by die Rietrivier.
En vandag nog woon talle Griekwa-afstammelinge soos die Krotse, Kokke, Van Roois, Visagies, Van Wyks en Wieses steeds hier.
"Maar hoewel ek al honderd is, moet jy onthou Adam Kok was darem voor my tyd," het Oupa Willem met sy 100ste verjaardag opgemerk en lekker vir sy grappie gelag.
En oor 'n vrou wat gedreig het met 'n Griekwa-grondeis in Philippolis het hy gesê: "Dis darem bog! In my jongdae was die grond nie eens meer die Griekwas s’n nie."
Oupa Willem was 'n bobaas storieverteller wie se eiesoortige stories in Griekwa-Afrikaans as teks opgeneem is in die module Taalvariasie vir studente in Afrikaans en Nederlands aan die Vrystaatse Universiteit.
Maar dié geliefde inwoners van Philippolis had nie meer aldag sin daarin om ander te vermaak nie, "want enigiemand wat só oud geword het dra maar swaar aan die jare - selfs al is jy geseënd," het hy nie te lank gelede opgemerk.
Sy ID-boekie staaf dat hy in Oktober vanjaar 103 sou word. Hy is gebore op 8 Oktober 1905 op die plaas Groot Harbeesfontein in die Fauresmith-distrik.
Oupa Willem het sy lang lewe toegeskryf aan "seën van God en dan ook vrede met jouself. ’n Mens moet gelate aanvaar wat met jou gebeur as jy niks aan sekere dinge kan doen nie. Dis eenvoudig die loop van die lewe."
Maar selfs vir die weldeurleefde Willem was dit maar swaar om te leef sonder sy geliefde Griet.
Griet Adams, Oupa Willem se vrou, is in 2002 op 83 dood ná 'n lang siekte. Hulle het toe sewe kinders gehad: Moos, Willem, George, Els, Lena Derison, Liesbeth Visagie en Rabekka Adams. Hierdie egpaar se nageslag het toe 31 kleinkinders, 49 agterkleinkinders en 4 agter-agterkleinkinders getel.
"Ons was gelukkig. Al die kinders het naby ons gewoon. Die verste was op Gariepdam - 50 km van hier," het oupa Willem opgemerk.
Met my laaste besoek aan hom het dié oubaas op ’n wit plastiekstoel teen sy huisie langs Rooibekkiestraat, Bergmanshoogte, gesit en die wintersonnetjie ingedrink. Om hom was verskeie generasies familielede wat liefderyk na hom omgesien het. Oupa Willem was die (voor)vader van hulle almal.
Toe hy onlangs gevra is hoeveel afstammelinge hy het, het die grysaard nie geweet nie. Hulle was te veel. Oupa Willem het ophou tel.
"Daar is soveel kinders tot agter-agterkleinkinders dat een, Leonie Adams, selfs op dieselfde dag as ek - haar oupagrootjie - verjaar," het hy al te trots opgemerk.
* Begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie, maar voorlopig sal Oupa Willem op Saterdag, 13 September, ter ruste gelê word in Philippolis.
Thursday, August 28, 2008
Tobie Mullerstraat se ongekunstelde skoonheid bekoor
PHILIPPOLIS. Meerdere keer wil besoekers weet of die oudste deel van Tobie Mullerstraat in Philippolis onlangs gerestoureer is, want al die huise is dan eenders geverf: wit mure en erfenisgroen dakke - nes dit vanmelewe daar uitgesien het.Maar nee, hier was g'n sprake van 'n gesamentlike opknappingsprojek nie. Die inwoners het bloot besluit dat dit 'n gawe plan is om hul historiese huise so eenders te verf.
Toe Pasella onlangs besoek afgelê het in Philippolis, het die TV-aanbieder Paul Rothman daarop aangedring dat 'n paar skote langs dié straatjie geskiet word.
Tobie Mullerstraat, wat genoem is na die gewilde tweede leraar van die plaaslike N.G. Kerk, herinner aan 'n Middeleeuse straatjie, want die huisies staan ingeryg en hul stoepe grens direk aan die straat.
Voor talle huisies is 'n oop, smal stoep met leiklipplaveisel en steentrappies. Dié trappies loop gewoonlik direk op die straat uit. Van 'n tussenruimte soos 'n tuin is daar weinig sprake. Die private huisdomein skakel feitlik direk met die publieke domein en die straat word 'n verlening van die private binneruimte, aldus argitek Jan Daniël Smit.
Talle van die huisies is tot nasionale gedenkwaardighede verklaar. Hieronder tel die Nagmaalshuisie en die Hartjiehortjiehuisie wat beide gebou is in die Karoo-platdakstyl.
In die string argitektoniese juwele in Philippolis is dié huisies geensins die imposantste nie, maar met hul groengeverfde hortjieluike en besonderse pleisterwerk om die mure en deure, kan jy dit nie miskyk nie.
Hierdie straat se huise is van die oudste in die Vrystaat. Só is die geskiedenis van die Nagmaalshuisie terug te spoor tot 1860. Op 17 Julie van daardie jaar is die grondbrief vir erf 97 uitgereik aan J. Jager deur Adam Kok III, die Griekwakaptein.
'n Onbekende feit is dat Tobie Mullerstraat eers Philippolis se hoofstraat was. Vanaf die reservoir-koppie is die oorspronklike toegangsroete wat Tobie Mullerstraat word, steeds duidelik sigbaar tussen die Karoo-bossies. Eers in latere jare sou Kerkstraat (deesdae Voortrekkerstraat) die dorp se hoofstraat word.
Omdat Tobie Mullerstraat eers die hoofstraat was word dit omsoom met onder meer die imposante landdroskantoor-gebou met sy Kaaps-Hollandse gewels, die eertydse poskantoor wat tot onlangs 'n vakansiehuis van die liedjieskrywer Stef Kruger was, en die Anglikaanse kerk wat nou 'n woonhuis is.
So Afrikaans soos die dorp deesdae is, is dit moeilik om te glo dat hier op sy dag soveel Engelse was dat dit 'n Anglikaanse kerk regverdig het.
In werklikheid was daar glo ten tyde van Philippolis se ontstaansjare heelwat meer Engelse as Afrikaners. Die Afrikaners was boere en het met hul waens oor die Oranjerivier getrek op soek na groener weivelde. Hierteenoor was dit die Engelse wat hulle op die sendingdorpie, Philippolis, gevestig het. Hulle was hoofsaaklik handelaars of verantwoordelik vir die administratiewe aangeleenthede van die nedersetting.
Selfs The Illustrated London News het berig oor die hoeksteenlegging van dié Anglikaanse kerk op 4 Junie 1864.
In die jare wat kom, sou hierdie kerk 'n opdraande stryd voer. 'n Sondagdiens het gemiddeld slegs 60 mense gelok in 1870. Dit was 'n groot probleem om die 300 pondbouskuld te delg. Soos die Engelse bevolking in Philippolis verminder het deur die jare, het die kerk 'n stadige dood gesterf.
Wanneer die laaste diens hier plaasgevind het, is onseker. Wat wel bekend is dat die VVLU-tak dit in die 1950's-1960's gebruik het en dat mnr. Dawie Marais dit gekoop het.
Nadat dit dekades leeg gestaan het en onder meer as kolestoor gebruik is, het die Pritchards dit in die vroeë 1990's van verwaarlosing gered. Nou is dit 'n dubbelverdieping-woonhuis vir mnr. Brinley en mev. Erina Pritchard.
Wat eens die konsistorie was, is nou 'n kombuis. 'n Stukkie van die oorspronklike geelhoutvloer het behoue gebly en dit dien nou as 'n spogdeur in dié kerkhuis.
Die kerk se sinkplate en plafon is ook behou. "Die behoud van die plafon deur die jare was dalk dat dit so hoog is. Vir diegene wat die kerk stuk-stuk gesloop het, was dit net te veel moeite om by die plafon uit te kom," meen mev. Pritchard.
Wat van die oorspronklike hoeksteen geword het, is onseker. Met die opknapping van die kerk tot huis is die ganse gebou se pleister afgekap, maar 'n hoeksteen is nêrens gevind nie.
Vanaf 'n klein balkonnetjie op die eerste vloer van hul kerkhuis het die Pritchards waarskynlik die beste blik van almal op Tobie Mullerstraat - sekerlik een van die mooiste straatjies in mid-Suid-Afrika.
Friday, August 15, 2008
Monday, August 11, 2008
'n Kultuurerfenis met skop
Tuesday, August 5, 2008
Subscribe to:
Posts (Atom)



