Thursday, February 16, 2012
Skatryk (diamant)geskiedenis van Jagersfontein
SKATRYK (DIAMANT)GESKIEDENIS
Kom snuffel saam tussen Jagersfontein se klippies
In 1914 het Jagersfontein se rugbyspan die onmoontlike reggekry. Tydens ‘n plaaslike wedstryd het hulle die besoekende Transvaalse provinsiale span geklop met 6-4, volgens die South-Western News. Jens Friis het gaan snuffel in dié Suidwes-Vrystaatse dorp se skatryk (diamant)geskiedenis.
"DIS die oudste myn wat ononderbroke in gebruik is - meer as 2 000 jaar," word trots aan my vertel tydens 'n besoek aan 'n marmermyn in noordwes-Italië. Dáár by Carrara is al gedelf met die geboorte van Christus.
Maar min delwerye is só gelukkig. Myne het 'n beperkte lewe. Weinig is lewensvatbaar ná enkele dekades. Dan kwyn die dorpies daarom heen ook. Dis immers wat gebeur het in Koffiefontein, Copperton, Pelgrimsrus en vele ander.
Toeka het almal geweet waar is Jagersfontein. Hier was 34 kroeë, vyf groot hotels, ondernemings van alle soorte, 'n plaaslike koerant, teaterklub en 'n sosiale lewe ongekend aan die Suid-Vrystaatse platteland.
Selfs in die huise was lopende water én elektrisiteit - die eerste in die provinsie.
Van oral oor het hulle gestroom. Jagersfontein het party stief behandel en hulle is koponderstebo vort. Die sterre is mos altoos blinker aan die ander kant.
Maar daar was ook die gelukkiges, want het jy wel 'n klippie uitgegrou, wás dit blinker as elders. Die Jagersdiamante sou bekend word vir hul buitengewone gehalte. Boonop was hulle gróót.
Só was die Excelsior (972 karaat) een van die tien grootste knoetse wat ooit gevind is. Tot die ontdekking van die Cullinan-diamant naby Pretoria 12 jaar later in 1905 was die Excelsior die grootste wit diamant.
Die waarde daarvan word deesdae op sowat R1,2 miljard geraam, aldus Explore, Satoer se amptelike toerismeen reisgids.
In 1895 is nog 'n wit diamant by Jagersfontein gevind. Die Reitz (later herdoop tot Jubilee) was ook 'n nie te versmaaie 640 karaat.
Al dié knewels het gekom uit 'n gat met 'n omtrek van 1,57 km en 'n deursnee van byna 500 m. Diegene met geseënde wiskundige talente sou kon uitwerk dat dié gat nagenoeg 9,65 ha beslaan. Na 32 jaar se oopmynbedrywighede is daar in 1913 'n vertikale skag gesink met horisontale tonnels. 'n Allemintige 9 526 miljoen karaat diamante (meestal van juweelgehalte) is tussen 1871 en 1896 by die Jagersfonteinmyn gevind.
Daar word gereken dat daar nog talle diamante skuil in die brokke rots op die nabygeleë mynhope. Weens ondoeltreffende mynmetodes is 'n groot hoeveelheid van die pyp nooit ontgin nie.
Kyk jy in die gat af, is dit duiselingwekkend diep (165 m). 'n Deel is gevul met grond- en reënwater - Jagersfontein se drinkwater.
In die bykans 100-jarige bestaan van die myn het dit 'n paar keer tot stilstand gekom soos tydens die twee wêreldoorloë en die Groot Depressie, maar dit is eers in 1969 finaal gesluit.
Van sy diamantglorie het Jagersfontein hier en daar iets behou. So is daar die waterpompe langs die straathoeke, drie Herbert Baker-geboue, 'n pragtige Rooms-Katolieke kerk uit 1881 en die Jager's Mining Village.
Maar wat eens aangelê is as myndorp op die plaas van die Griekwa, Jacobus Jagers, is deesdae eerder 'n saamkomplek vir skaapboere van die suidwes-Vrystaat.
SOU JY GAAN* Jagersfontein is 116 km van Bloemfontein. Draai van die N1 by die Windmill Casino en volg die R706.
* Inwoners beweer ‘n deel van die R706 is die langste stuk reguit pad in Suid-Afrika (of minstens in dié geweste). Vat die pad en jy sal sien waarom hulle so meen.
* Onderweg sal jy die Kromellenboog- en Rietrivier oorsteek – twee van die grootste “riviere” in die suidwes-Vrystaat. Beide vloei later in die Kalkfonteindam, ‘n gewilde visvangplek.
* Van Jagersfontein lei die teerpad na Fauresmith. Dit is net ‘n klipgooi weg en beslis die moeite werd om ook te besoek.
* Die R704 van Jagersfontein na Trompsburg is nou ‘n teerpad en só kan jy weer by die N1 aansluit.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment