Wednesday, July 14, 2010
Kaarte open nuwe wêreld
VAN DIE KAAPKOLONIE NA DIE REPUBLIEK VAN DIE ORANJE-VRYSTAAT
- 'n Nuwe wêreld wag op jou met dié kaarte
Skaf gerus 'n gedetailleerde kaart by die landmeter-generaal aan en verken jou geweste. Selfs al is jy goed met jou omgewing vertroud sal dit nuwe paaie vir jou blootlê. En boonop gaan dit jou bloedweinig uit die sak jaag. Só skryf JENS FRIIS nadat hy die pad gery het wat die Kaapkolonie en die Republiek van die Oranje-Vrystaat eens verbind het.
COLESBERG. Mens is alte geneig om te dink dat jy ver moet reis om iets besonders te beleef.
Maar dit ís 'n reuse denkfout, kan ek bevestig nadat ons 'n afgeleë grondpaadjie onlangs aangepak het.
Die afdraaipad na die Ou Philippolis-pad tussen Colesberg en Philippolis het ek deur die jare al telkens gesien.
En meerdere maal het ek gewonder hoe lyk dié pad waarlangs ossewaens eens gery het van die Kaapkolonie na die Republiek van die Oranje-Vrystaat.
Maar omdat ek nie presies weet waar dié pad loop nie, het ek dit nog nooit gery nie.
Wat egter die deurslag gegee het is toe ek onlangs 'n klompie kaarte aangeskaf het by die landmeter-generaal in Bloemfontein.
Dié gedetailleerde, goedkoop kaarte het 'n ander wêreld binne 'n area wat ek gedog het ek goed ken, laat oopgaan - soos dat ek kon sien die Ou Philippolis-pad loop feitlik parallel met die huidige teerpad en dat dit weinig van 'n draai is.
Só besluit ons toe om een onlangse Saterdagmiddag van Philippolis te ry tot by die Serfontein-brug oor die Oranjerivier.
Sowat 1 km verder draai die Ou Philippolis-pad regs af, maar dis met die afdraai dat ek merk dat die bordjie wat jare daar was sedertdien verdwyn het.
Die enigste bordjie wat deesdae hier staan is "Starston Stud van T. Silcock" (15 km verder langs die pad sou ons leer die "T" staan vir Terry en sy vrou is Barbara).
Die drif waar ossewaens vanaf die Kaapkolonie die Oranjerivier oorgesteek het is stroom-af van die huidige Serfonteinbrug.
Op 'n stadium het my pa grond in daardie omgewing gehuur en die area waar die osse uitgespan is aan die kant van die Republiek van die Oranje-Vrystaat het na al die jare steeds nog nie heeltemal herstel nie nadat dit vreeslik uitgetrap moes gewees het.
Van die R717-teerpad ry jy vir 'n kilometer of drie al langs die suidelike heining van die reusagtige Laohu-wildreservaat voordat die pad suid swenk na Colesberg.
Dis verstommend hoe gedetailleerd die landmeter-generaal se kaarte is. Sommige van die kaarte is al gelerig omdat dit jare gelede gedruk is, maar feitlik elke windpomp, opstal en selfs groot bome word akkuraat hierop aangedui.
Opvallend is hoe die plase ontvolk het sedert die druk van dié kaart. Op die stuk pad van sowat 30 km kan ek net onthou van drie plase wat steeds bewoon word, naamlik Terry en Barbara s'n en dan ook Knoffelfontein Gasteplaas en A.S. Kruger se pragtige Rietfonteinpoort wat reg langs die pad lê.
Laasgenoemde is aan die bo-punt van die gelyknamige poort. Die stroom wat hierdeur vloei voed 'n indrukwekkende populierbos wat jy eerder in die Oos-Vrystaat of Noordoos-Kaap sou verwag.
My neef Jacques Lombard en sy vrou Elsa Lombard se dogter, Elsje-Mari Lombard, ry saam en vir haar is dié uitstappie - wat ontaard in 'n kaartleesles - 'n grootste avontuur. Die kontoere op die kaart, blou strepe vir strome en die hoogtes van koppies fassineer haar.
Nie te ver anderkant Rietfonteinpoort gewaar ons Colesberg se bekende kop wat van alle kante en oor eeue heen reeds as baken dien vir reisigers. Dit moes inderdaad ook die geval gewees het in die dae voordat die "nuwe" pad tussen Colesberg en Philippolis aangelê is.
Dis ook hier waar 'n draadheining uit die jare toet steeds skape binne hou. Só oud is dié deel van die heining dat die pale boomstompe is wat in stukke gesaag is.
Op dié stadium sien jy reeds die "nuwe" pad en dan ook die N1 wat almal na Colesberg inspiraal.
Die verkenningstog van ons het sowat 'n anderhalfuur geduur. Oor die algemeen was dit 'n goeie grondpad wat ons maklik met 'n gewone motor kon ry, behalwe in een driffie waar die sand erg gespoel het en jy vooraf mooi moes besluit in watter spore jy sou ry sodat die kar se maag nie aan die Karoo-sand krap nie.
Skaf gerus 'n kaart by die landmeter-generaal aan van jou omgewing en verken só jou geweste. Selfs al is jy goed daarmee vertroud sal dit nuwe paaie vir jou blootlê. En boonop gaan dit jou bloedweinig uit die sak jaag.
Philippolis bied baie
HISTORIESE GEBOUE: Karel Schoeman het Philippolis al beskryf as die "Stellenbosch van die Vrystaat". Met sy witgekalkte mure en erfenisgroen dakke, talle bome en leiwater erwe is dit nie moeilik om te verstaan waarom nie. Die kleine Philippolis het boonop die meeste nasionale gedenkwaardighede in die Vrystaat naas Bloemfontein en Bethlehem. Om langs die stil strate verby hierdie geboue te gaan stap is 'n heerlikheid.
KERKE: Die N.G. kerk is soos in menige ander dorpies by verre die imposantste gebou. Dit staan aan die bo-punt van die boomomsoomde Voortrekkerstraat, het tydens die Anglo-Boereoorlog as fort gedien, sy orrel is een van die beste noord van die Oranjerivier, die preekstoel is uit Suid-Vrystaatse olienhout gemaak sonder dat 'n skroef of spyker gebruik is, en ds. Tobie Muller het die heel eerste troue in Afrikaans in Suid-Afrika hier voltrek. Woon gerus op 'n Sondagoggend om 09:30 hier 'n kerkdiens by. Die oud-Anglikaanse kerk, wat ouer is as die N.G. kerk, is as woonhuis omskep.
BEGRAAFPLAAS: Hier lê Boer, Brit en Griekwa langs mekaar.
LAURENS VAN DER POST: Die woonhuis met sy Kaaps-Hollandse gewels waar sir Laurens van der Post sy jongdae deurgebring het staan langs Colin Fraserstraat. By die ingang na Trompsburg is 'n gedenktuin opgerig ter ere van dié skrywer, filantroop en filosoof. Sy lessenaar en boekery is ook hier te sien.
BOEKE: Min plattelandse dorpies is bevoorreg om 'n eie boekwinkel te hê, maar by Oom Japie se Huis (tel. 082-600-0020) is daar rakke vol boeke te kus en te keur. Dié winkel word gehuisves in 'n Victoriaanse huise wat in die 1990's aangewys is as die bes gerestoureerde woonhuis in die Vrystaat daardie jaar.
MUSEUMKOMPLEKS: Die Transgariep Museum, Jacobson-biblioteek, Nienaberplein en Kanonkoppie is 'n móét. Duisende rande word tans uitgegee om die museum op te knap en die biblioteek is byna klaar gerestoureer. Die Transgariep Museum is een van die enigste in die land wat gemagtig is om alkohol - en wel witblits - te verkoop. Kom skaf vir jou 'n flessie van dié vuurwater aan en neem dit saam as jy laatmiddag die Kanonkoppie uitklouter en kyk hoe die son sak oor die dorp. Dié koppie staan só bekend omdat die kanonne wat Adam Kok, die Griekwaleier, gebruik het hier staangemaak is.
SKILDERYE: By De Oude Wagenhuijs (051-773-0050) is kamers vol skildery, maar wat dit veral spesiaal maak is dat dit hoofsaaklik van Philippolis en omgewing is.
EETPLEK: By Ant Emily's (tel. 083-66-22-646) kan jy aansit vir 'n heerlike bord bekostigbare kos. Dié restaurantjie word bedryf uit wat eens Emily Hobhouse se spin-en-weefskool was. Die Engelse Hobhouse het na die Anglo-Boereoorlog gehelp om die Boere weer op die been te kry en sy het die eerste van talle spin-en-weefskole in Suid-Afrika hier op Philippolis geopen.
BLYPLEK: As daar nie genoeg slaapplek in my huis is nie, verwys ek vriende na die Groenhuis Gastehuis (tel. 051-773-0073). Dié sorgsaam gerestoureerde dorpshuis dateer uit 1890 en is op 'n groot leiwater-erf wat jou byna laat voel dat jy op 'n Karoo-plaas is. In Philippolis is ook ander akkommodasie.
SKOU: Tensy jy lank vooraf bespreek, gaan jy nie 'n bed kry om te slaap tydens die jaarlikse skou (tel. 051-773-0144) nie. Dit vind gewoonlik begin-November plaas en is al vir jare die tweede of derde grootste saalperdskou in die land.
TWEE GROOT DAMME: Philippolis se distrik grens aan die Gariepdam (50 km) en Vanderkloofdam (90 km) - die twee grootste damme in Suid-Afrika. Dit bied talle hengel- en watersportmoontlikhede.
TIERE: John Varty, die bekende filmmaker en omgewingsbewaarder, se tierplaas Tiger Canyons (051-773-0063) is 25 km buite Philippolis op die oewer van die Vanderkloofdam. Nader aan kat se kind kan jy skaars as op hul begeleide toere deur die veld.
VOëLS: Hier is al meer as 200 verskillende soorte voëls getel - van geelbekkies en gompoue tot korhane en kwikstertjies. Langs die Oranjerivier hoor jy ook dikwels die onmiskenbare roep van visarende. Wees op die uitkyk vir swerms bloukraanvoëls. Daar is al 'n 1 000 plus van dié bedreigde voëlsoort in die Philippolis-distrik getel.
SPOOKDORPIE: Gaan stap deur die strate van Waterkloof. Dié nedersetting 5 km uit Philippolis op die R717-teerpad na Colesberg, bied uitstekende foto-geleenthede. Gooi 'n piekniekkombers oop op 'n sypaadjie en kyk hoe die Boeing van die Kaap na Gauteng 'n wit streep agterlaat.
SKAAPVLEIS: Die plaaslike slaghuis (051-773-015) verkoop heerlike Karoo-vleis teen billike pryse. As jy 'n skaap wil saamneem, moet jy vooraf bel sodat hulle dit vir jou kan opsny en vooraf verpak.
SKAF 'N HUIS AAN: Maar jy kan ook met meer as skaapvleis en witblits weggaan. Waarom nie 'n naweekhuis aanskaf nie? Dit kan jou minder kos as die motor waarmee jy hierheen gery het. Hier is plek en die geraas min. En almal ken almal. As jy, sê maar, 'n huis langs Tobie Mullerstraat koop, sal jy naby Ria du Plessis bly, wat al sowat 45 jaar in dieselfde huis woon. Langs Bo-Voortrekkerstraat woon Jannie Cilliers, 'n oud-boer wat met 'n fietspomp en saag klanke optower wat David Kramer se tone sal laat omkrul. En so is daar vele ander interessante inwoners.
MEER INLIGTING: Loer by http://www.philippolis.co.za/ of http://www.philippolis.org.za/. Jy kan ook aan die skrywer skryf by jens.friis@volksblad.com.
Biodiversiteit vorder fluks op Laohu
Nie net die Suid-Chinese tiere het goed aangeteel op Laohu nie, maar ook die ander diere. Die eienaars is ook in hul skik hoe die veld in die afgelope dekade verbeter het. Foto: Jens Friis
Biodiversiteitsbewaring vorder fluks op Laohu
- Jens Friis
PHILIPPOLIS. - Tien jaar gelede het die Laohu Vallei-natuurreservaat, een van die grootste private natuurbewaringsareas in Sentraal-Suid-Afrika, tot stand gekom toe hoofsaaklik skaapplase uitgekoop is. 'n Suksesvolle teelprojekte van Suid-Chinese tiere (Panthera tigris amoyensis) het egter die ander doelstelling van dié natuurreservaat deur die jare grootliks oorskadu. Dít is dat Laohu ook moes dien vir biodiversiteitsbewaring.
Me. Li Quan, stigterslid van die Suid-Chinese Tiertrust, sê dis opvallend hoe die veld verbeter het en die diere aangeteel het in die afgelope dekade.
'n Onlangse opname het dit beaam, sê mnr. Petri Viljoen, omgewingskenner. "Die vorige omvattende wildsensus is ses jaar gelede gedoen. Sedertdien het al die groot herkouer-spesies aansienlik toegeneem. Veral blesbokke, springbokke, blou wildebeeste, swartwildebeeste, elande en volstruise se getalle het opmerklik vermeerder."
Hy sê daar is besluit om alle blou- en swartwildebeeste te verwyder aangesien daar altyd 'n moontlikheid bestaan dat die twee spesies kan kruis met 'n vrugbare nageslag. Die plan is om dan eerder later 'n suiwer kudde swartwildebeeste te vestig.
"Vlakvarke kom, soos op verskeie ander eiendomme in die suid-Vrystaat, ook op Laohu voor. Hierdie spesie het natuurlik nooit histories in hierdie streek voorgekom nie en is ongelukkig deur 'n paar mense ingevoer. Vlakvarke is in staat om baie vinnig aan te teel en kan ook verbasend vinnig versprei omdat hulle so maklik gate onderdeur kampdrade kan grawe. Boonop het hulle 'n ongewenste nadelige impak op die veld. Om hierdie rede probeer Laohu aktief om vlakvarke te verwyder, veral omdat hulle ook nooit 'n natuurlike wildspesie in die streek was nie.
Die Vrystaat-gedeelte van Laohu behels sowat 23,000 ha - ongeveer 65% van die 35,000 ha reservaat wat aan beide kante van die Oranjerivier geleë is. Dié reservaat van 350 km2 strek oor die Oranjerivier - rofweg tussen Colesberg, Philippolis en Vanderkloof.
Viljoen sê hulle het ongelukkig nie 'n volledige lys van wild wat vroeër jare daar voorgekom het nie. Maar daar was wel rooiribbokke, springbokke, 'n klompie rooihartebeeste, blouwildebeeste en blesbokke toe die reservaat in tot stand gekom het. Afgesien van wild wat ingebring is, het gemsbokke en elande onder andere later vanaf naburige eiendom na Laohu beweeg.
Op die Vrystaatse deel van Laohu is daar nou 15 groot herkouer-spesies. "'n Helikopter is gebruik om 'n deeglike totale telling van die hele Vrystaatse gedeelte van Laohu Valley te doen. Dit het twee dae se vliegwerk geneem om die sensus te voltooi."
Groot dele van Laohu is vroeër jare oorbewye weens te veel skape. "Na die onttrekking van skape was daar voldoende geleentheid om 'n herstel van die veld toe te laat voordat wildgetalle begin toeneem het. Vandag is daar steeds enkele dele wat nog nie ten volle van die vroeë oorbeweiding herstel het nie, maar die veldtoestand van hierdie dele verbeter steeds. Dit is ook om hierdie rede waarom Laohu se wildgetalle goed en oordeelkundig beheer sal word om oorbeweiding of veld-uittrapping te verhoed."