Wednesday, July 14, 2010

Kaarte open nuwe wêreld



VAN DIE KAAPKOLONIE NA DIE REPUBLIEK VAN DIE ORANJE-VRYSTAAT

- 'n Nuwe wêreld wag op jou met dié kaarte

Skaf gerus 'n gedetailleerde kaart by die landmeter-generaal aan en verken jou geweste. Selfs al is jy goed met jou omgewing vertroud sal dit nuwe paaie vir jou blootlê. En boonop gaan dit jou bloedweinig uit die sak jaag. Só skryf JENS FRIIS nadat hy die pad gery het wat die Kaapkolonie en die Republiek van die Oranje-Vrystaat eens verbind het.

COLESBERG. Mens is alte geneig om te dink dat jy ver moet reis om iets besonders te beleef.

Maar dit ís 'n reuse denkfout, kan ek bevestig nadat ons 'n afgeleë grondpaadjie onlangs aangepak het.

Die afdraaipad na die Ou Philippolis-pad tussen Colesberg en Philippolis het ek deur die jare al telkens gesien.

En meerdere maal het ek gewonder hoe lyk dié pad waarlangs ossewaens eens gery het van die Kaapkolonie na die Republiek van die Oranje-Vrystaat.

Maar omdat ek nie presies weet waar dié pad loop nie, het ek dit nog nooit gery nie.

Wat egter die deurslag gegee het is toe ek onlangs 'n klompie kaarte aangeskaf het by die landmeter-generaal in Bloemfontein.

Dié gedetailleerde, goedkoop kaarte het 'n ander wêreld binne 'n area wat ek gedog het ek goed ken, laat oopgaan - soos dat ek kon sien die Ou Philippolis-pad loop feitlik parallel met die huidige teerpad en dat dit weinig van 'n draai is.

Só besluit ons toe om een onlangse Saterdagmiddag van Philippolis te ry tot by die Serfontein-brug oor die Oranjerivier.

Sowat 1 km verder draai die Ou Philippolis-pad regs af, maar dis met die afdraai dat ek merk dat die bordjie wat jare daar was sedertdien verdwyn het.

Die enigste bordjie wat deesdae hier staan is "Starston Stud van T. Silcock" (15 km verder langs die pad sou ons leer die "T" staan vir Terry en sy vrou is Barbara).

Die drif waar ossewaens vanaf die Kaapkolonie die Oranjerivier oorgesteek het is stroom-af van die huidige Serfonteinbrug.

Op 'n stadium het my pa grond in daardie omgewing gehuur en die area waar die osse uitgespan is aan die kant van die Republiek van die Oranje-Vrystaat het na al die jare steeds nog nie heeltemal herstel nie nadat dit vreeslik uitgetrap moes gewees het.

Van die R717-teerpad ry jy vir 'n kilometer of drie al langs die suidelike heining van die reusagtige Laohu-wildreservaat voordat die pad suid swenk na Colesberg.

Dis verstommend hoe gedetailleerd die landmeter-generaal se kaarte is. Sommige van die kaarte is al gelerig omdat dit jare gelede gedruk is, maar feitlik elke windpomp, opstal en selfs groot bome word akkuraat hierop aangedui.

Opvallend is hoe die plase ontvolk het sedert die druk van dié kaart. Op die stuk pad van sowat 30 km kan ek net onthou van drie plase wat steeds bewoon word, naamlik Terry en Barbara s'n en dan ook Knoffelfontein Gasteplaas en A.S. Kruger se pragtige Rietfonteinpoort wat reg langs die pad lê.

Laasgenoemde is aan die bo-punt van die gelyknamige poort. Die stroom wat hierdeur vloei voed 'n indrukwekkende populierbos wat jy eerder in die Oos-Vrystaat of Noordoos-Kaap sou verwag.

My neef Jacques Lombard en sy vrou Elsa Lombard se dogter, Elsje-Mari Lombard, ry saam en vir haar is dié uitstappie - wat ontaard in 'n kaartleesles - 'n grootste avontuur. Die kontoere op die kaart, blou strepe vir strome en die hoogtes van koppies fassineer haar.

Nie te ver anderkant Rietfonteinpoort gewaar ons Colesberg se bekende kop wat van alle kante en oor eeue heen reeds as baken dien vir reisigers. Dit moes inderdaad ook die geval gewees het in die dae voordat die "nuwe" pad tussen Colesberg en Philippolis aangelê is.

Dis ook hier waar 'n draadheining uit die jare toet steeds skape binne hou. Só oud is dié deel van die heining dat die pale boomstompe is wat in stukke gesaag is.

Op dié stadium sien jy reeds die "nuwe" pad en dan ook die N1 wat almal na Colesberg inspiraal.

Die verkenningstog van ons het sowat 'n anderhalfuur geduur. Oor die algemeen was dit 'n goeie grondpad wat ons maklik met 'n gewone motor kon ry, behalwe in een driffie waar die sand erg gespoel het en jy vooraf mooi moes besluit in watter spore jy sou ry sodat die kar se maag nie aan die Karoo-sand krap nie.

Skaf gerus 'n kaart by die landmeter-generaal aan van jou omgewing en verken só jou geweste. Selfs al is jy goed daarmee vertroud sal dit nuwe paaie vir jou blootlê. En boonop gaan dit jou bloedweinig uit die sak jaag.

No comments: