Tuesday, June 12, 2007

Plek van sterre, stilte en witblits


NÊRENS is jy meer bewus van Philippolis se ryk geskiedenis as in Bo-Voortrekkerstraat nie. Langs dié denneboom- omsoomde straat staan hulle ingeryg: die Victoriaanse Jacobson-biblioteekgebou, die Transgariep-museum, Adam Kok se raadsaal en kanonne.
En om die prentjie af te rond, kom oom Sterk Gert van Biljon, ’n natuurkenner, dalk net toevallig daar verby met sy gitswart 1934-Chrysler.
Hier is ook menige wit ou gebou met ’n donkergroen dak, bome en rantjies wat die nedersetting skans teen die ergste westewinde van die Suid-Vrystaat.
Dit is in hierdie kom dat dr. John Philip van die Londense Sendinggenootskap moes meehelp om onder die San en Khoi ’n sendingstasie tot stand te bring.
’n Bykomende voordeel van so ’n sendingstasie sou wees dat dit as pos kon dien om boere dop te hou wat onwettig oor die Oranjerivier trek.
Van albei dié funksies het egter weinig gekom. Die San, die Khoi en mettertyd die Griekwas was nomadiese volke wat nie op een plek kon of wou woon nie. Hulle moes jag en daarom rondtrek. Die trekboere het só oor die Oranjerivier gestroom dat die gebied rondom Philippolis mettertyd deur die republiek Oranje-Vrystaat van die Griekwas gekoop is. Van die Engelse se planne om die Boere te stuit, het niks gekom nie.
In die omgewing is heelwat te doen. ’n Hanetree ver is die Gariep- en die Vanderkloofdam, die twee grootste damme in Suid-Afrika. Die Oranjerivier, wat deur dié twee vloei, bied uitstekende visvang-geleenthede.
Op pad na die viswaters is dit goed om jou oë oop te hou, want in dié distrik is meer as 200 voëlspesies, waaronder honderde skaars bloukraanvoëls.
Van Philippolis lei ’n Horisonroete na Jagersfontein, Fauresmith, Koffiefontein en Jacobsdal. Die enorme diamantgat by Jagersfontein is groter as dié by Kimberley.
En op die naburige Trompsburg is die rolprent Promised Land ’n jaar of wat gelede verfilm. Dit is reeds telkemaal op M-Net vertoon en is is gegrond op Karel Schoeman se bekroonde roman Na die Geliefde Land. Schoeman, wat op Trompsburg gebore is, het enkele jare gelede daar afgetree.
Die tydskrif Getaway het Philippolis al aangewys as een van sy gunsteling-dorpe in Suid-Afrika. Philippolis was tweede op ’n uitgelese lys van 15 dorpe, waaronder Clarens, Prins Albert, Darling en Dullstroom. En met rede. Hier is stilte en skoon lug in oorvloed, fonteinleiwater, genoeg parkeerplek op straat, groot erwe en sonsondergange soos net die Karoo kan bied.
Inwoners meen hulle het die beste van albei wêrelde. Vanweë die internet, outomatiese telefone en satelliet-TV hoef jy nie op die platteland in ’n “klein wêreld” te leef nie – selfs op Philippolis met sy 4 000 inwoners. Misdaad word beperk deurdat almal mekaar ken.
Nes Getaway is ander besoekers beïndruk. Só skryf ’n paar uit New York in die Groenhuis Gastehuis se besoekersboek: “Philippolis seems an oasis after driving through the Karoo.”
Vir ’n Johannesburger was dit “like visiting friends on their farm – wonderful”, terwyl ’n Kapenaar meen: “Ek het amper vergeet daar is plekke waar so met die donker, die stilte en die sterre gemors word  . . .  en waar die gasvryheid so ruim is.”
Dit is dalk tyd om op Philippolis te kom oorslaap as jy weer die lang pad van noord na suid aandurf. En voordat jy wegry, moet jy plaaslik verboude olywe aanskaf by Indraf of FoodZone, die algemene handelaars.
Ook hier te kry is die kontreikoerant Philippolis Pos(t). Dié is propvol streeknuus en ’n móét om te weet waaroor die dorp gons.
In die plaaslike slaghuis is eersteklas-Karoolam te kry wat op bestelling vooraf verpak en gevries word.
En laastens moet jy onthou om ’n botteltjie witblits om die Transgariep-museum aan te skaf.

No comments: