Tuesday, March 27, 2012

Gaan kuier by wilde tiere


Foto: Sunette Fourie

Die tierprojek wat die omgewingsbewaarder en rolprentmaker John Varty in die Suid-Vrystaat begin het, bied ‘n uitsonderlike geleentheid om feitlik teenaan regte-egte wilde tiere te kom vanuit ‘n spesiaal ontwerpte voertuig.
Daar is deesdae sowat 45 000 tiere wêreldwyd in aanhouding, maar slegs sowat 1 000 wilde tiere.
Varty het ‘n leeftyd se ondervinding met die rehabilitering van cheetahs, luiperds en leeus. Hy het die afgelope sowat tien jaar tiere op die Tiger Canyons-reservaat in die Philippolis-distrik.
Die omgewing wat wissel van diep canyons tot oop veld en rotsagtige landskappe bied ‘n ideale habitat vir ‘n verskeidenheid wild. Onder die prooi tel blesbokke, springbokke, rooihartebeeste, blouwildebeeste en steenbokke.
Besprekings is noodsaaklik. Loer by www.jvbigcats.co.za vir meer inligting.
Die Tiger Canyons-reservaat is sowat 200 km suidwes van Bloemfontein en die laaste stukkie is ‘n grondpad.

Historiese huisie sorgsaam gerestoureer

- Jens Friis
PHILIPPOLIS. - 'n Witgekalkte huis langs Tobie Mullerstraat is so tipies van die Karoo-platdakstyl as kan kom. In die string argitektoniese juwele in Philippolis is dié huisie geensins die imposantste nie, maar miskyk kan jy dit nie.
Sit toeriste saans op die stoep van die Nagmaalshuisie hang die melkweg in al sy glorie bo-oor hulle. Dit is dus ‘n gepaste naam dat dié sorgsaam gerestoureerde gastehuisie deesdae deel vorm van Starry Nights Karoo Cottages (www.starrynights.co.za) van me. Sunette Fourie.
In 1984 het verskeie eienskappe van hierdie huis die aandag van die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede getrek.
Die mure aan die voor- en sykante is effens verhoog om 'n lae borsweringsmuur met geprofileerde lyswerk te vorm. Die voordeur is simmetries in die fasade geplaas met die twee vensters aan weerskante. Die gebou het houtskuifraamvensters, wat van groengeverfde hortjieluike voorsien is.
"Die groengeverfde houtdeur met sy matglasruite en koperdeurplaat en -deurknop is waarskynlik 'n latere toevoeging tot die gebou," skryf prof. A.W.G. Raath in sy boek Vestiging in die Transgariep - die Vroeë Geskiedenis en Historiese Geboue van Philippolis .
Pleisterwerk om die vensters en deur en op die hoeke van die fasade dien as versiering.
"Oor die hele oppervlak van die mure is horisontale lyne in die pleister gekerf - waarskynlik ook 'n latere poging soos in die geval van die deur om aan die huis 'n meer deftige voorkoms te verleen."
Hierdie huisie het 'n platsinkdak, wat met 'n effense helling na agter afloop. Voor die gebou is 'n oop, smal stoep met leiklipplaveisel en steentrappies. Soos vele huise in oud-Philippolis lê dit vlak teen die straat. Van 'n tussenruimte soos 'n tuin is daar weinig sprake. Die private huisdomein skakel feitlik direk met die publieke domein. "Die straat kan 'n verlenging van die private binneruimte word," aldus argitek Jan Daniël Smit.
Die geskiedenis van hierdie tipiese Karoostyl-platdakhuisie is terug te spoor tot 1860. Op 17 Julie van daardie jaar is die grondbrief vir erf 97 uitgereik aan J. Jager deur Adam Kok III, die Griekwakaptein.
Dit het later in die hande van 'n Sarel J. Pretorius beland.
In 1978 is die erf geregistreer in die naam van mev. Blanca Mal herbe, vrou van oudburgemeester Izak Malherbe. Sy het dit gemeubileer met menige antieke stuk. Haar seun, mnr. Sakkie Malherbe, het in die huis gewoon toe dit in 1984 as nasionale gedenkwaardigheid verklaar is.

Een vir elke bestaansjaar


Mev. Elaine Andrews van Colin Fraserstraat, Philippolis, organiseer die stalletjies vir die feesnaweek ter viering van die 150-jarige bestaan van die plaaslike NG kerk. Dit vind die eerste naweek van Oktober plaas. Sy hoop op 150 stalletjies – een vir elk van die bestaansjare van dié gemeente. Bel haar by 082-5074-155. Die meegaande foto is uit die NG kerktoring geneem enkele jaar gelede met 'n Witblitsfees. Dié fees is vir dekades in Philippolis aangebied, maar het in die afgelope jare gesneuwel. Foto: Jens Friis

Houtsneeuwerk sorgsaam gerestoureer


BIBLIOTEEK WEER OOP: Die Jacobson-biblioteek in Philippolis is weer oop nadat dit vir etlike jare gesluit was weens opknappings- en restourasiewerk. Die fyn houtsneewerk op die stoep van die museum is pragtig gerestoureer soos hier gesien word. Aan die anderkant van Voortrekkerstraat is die NG pastorie sigbaar. Foto: Jens Friis

Kwakkers by Groenhuis Gastehuis


Kwakkers by Groenhuis Gastehuis. Foto: Laurika van Straaten

Tourism: Accommodation in Philippolis

Jens Friis snr. met pappegaai


Jens Friis snr., eienaar van die Groenhuis Gastehuis, met een van sy prag-pappegaaie. Foto: Laurika van Straaten

Monday, March 26, 2012

Die Stal, 'n anneks tot die Groenhuis Gastehuis, Philippolis


Die Stal, 'n anneks tot die Groenhuis Gastehuis, Philippolis. Nader aan 'n plaas-atmosfeer in 'n dorp kan jy skaars kry. Loer by www.philippolis.co.za vir meer inligting. Foto: Jens Friis

Monday, March 12, 2012

Onderwyseres van Philippolis Hoerskool blink uit

Twee onderwysers van die Hoërskool Philippolis het op nasionale vlak uitgeblink. Mnr. Velaphi Simon (Pat) Magwa, skoolhoof, het met die oorhandiging van die nasionale onderwyseerbewyse in Johannesburg die prys ontvang vir uitnemendheid in hoërskoolleierskap, en mnr. Jacques Lombard is aangewys as die provinsiale wenner in die kategorie vir onderwysers wat deur mense benoem is. Die room van die land se onderwysers het vir die toekennings byeengekom in die Sandtonse Konvensie-sentrum. Hiermee word erkenning gegee aan onderwysers van al die provinsies wat bereid is om ekstra hard te werk om te verseker dat gehalte-onderwys verskaf word. Adj. pres. Kgalema Motlanthe en die minister vir basiese onderwys, me. Angie Motshekga, was onder die hoogwaardigheids­bekleërs.

Landdroskantoor opgeknap


Die landdroskantoor langs Tobie Mullerstraat, Philippolis, is onlangs opgeknap. Dié pragtige gebou met sy koel stoep en twee gewels spog nou met onder meer nuwe verf, ’n sterk staalheining en ligte wat dit saans helder verlig. Adv. Nicho du Toit is die landdros hier. Foto: JENS FRIIS

Volksboukundige skat verval


- Jens Friis
PHILIPPOLIS. – ’n Muur van die dorp se historiese skutkraal, ’n nasionale gedenkwaardigheid, het ineengestort.
Enkele maande gelede is in Volksblad gewaarsku dat dringende aandag nodig is om dié volksboukundige skat van verval te red.
Naas die skutkraal by die ou polisiekantoor op Ventersburg, is die een op Philippolis die enigste voorbeeld van dié spesifieke soort bouwerk wat in die ganse Vrystaat behoue gebly het.
Die skutkraal is in 1990 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.
Geen eenstemmigheid bestaan oor die oorsprong van die skutkraal nie. Dit bestaan uit twee krale wat gevorm word deur mure van sowat 2,5 m hoog en ’n halwe meter breed. Die klippe is aan mekaar gemessel.
In die grootste kraal is ’n skutmeesterskuiling met ’n plat sinkdak en klipvloer.
Tydens die reisiger James Backhouse se besoek aan Philippolis in 1839 was daar ’n paar veekrale van klip aan die kant van die dorp.
Op sy skets van Philippolis verskyn daar ’n groot reghoekige struktuur aan die voet van ’n koppie wat moontlik die bestaande skutkraal kan wees.
Dat daar ’n skut in 1862 was, is seker, want die plaaslike vrederegter, F.K. Höhne, maak melding daarvan. Dit is waarskynlik dieselfde erf wat in 1895 aan die munisipaliteit van Philippolis oorgedra is.
Die skutkraal, aan die voet van ’n koppie langs Justiestraat, vorm saam met ’n aangrensende Karoo-huisie ook ’n nasionale gedenkwaardigheid, ’n historiese kompleks in die kleine.

Bly oor by die Groenhuis Gastehuis in Philippolis


Akkommodasie / Accommodation: Philippolis
Groenhuis Gastehuis / Guesthouse
jensfriis@intekom.co.za
Tel. 051-773-0073
www.philippolis.co.za

Biblioteek uiteindelik weer oop


- Jens Friis
PHILIPPOLIS. – Ywerige lesers het al moed opgegee, maar die haas onmoontlike het toe wel gebeur: Ná byna agt jaar se restourasiewerk is die dorp se Jacobson-biblioteek uiteindelik weer oop.
Daar het groot ontevredenheid hier geheers omdat die opknappingswerk net nie wou klaar nie.
Ook die Transgariep-museum langs die Jacobson-biblioteek word gerestoureer.
Die twee projekte sal na verwagting sowat R4,75 miljoen beloop.
In die afgelope jare is die bi-blioteek gehuisves in die ou skoolkoshuis van die eertydse Hoërskool M.T. Steyn by die uitgang van die dorp na Trompsburg. Vir biblioteek-gebruikers was dit ’n groot ontwrigting, want dit is uit die dorp en ver van veral die woonbuurt Bergmanshoogte.
Daar was aanvanklik planne om ’n nuwe biblioteek te bou, maar daar is toe besluit om die huidige een eerder te restoureer vanweë sy historiese belang.
Dié Victoriaanse juweel, dalk die spoggerigste huis op die dorp, is luidens ’n verslag van die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede in 1905-’06 deur twee Nederlanders, Van der Kooy en Arrie, vir ’n plaaslike handelaar, Leonardus Bohen, gebou.
Van 1915 het J.G. Hartman dit as tuishuis gebruik, maar dit was mnr. Moritz Jacobson wat dit die langste sou besit (1921 tot 1977).
In hierdie 56 jaar is die plankvloer van die stoep met ’n sementvloer vervang en die houttrappies voor die gebou met sementtrappies. Die buitegeboue op die erf het die eertydse stalle in omstreeks 1924 vervang.
Die huis is aan die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Administrasie oorgedra nadat Jacobson die huis geskenk het met die doel dat dit in ’n biblioteek omgeskep moes word.
Toe restourasiewerk agt jaar gelede begin is, was die noordelike muur erg aan ’t verkrummel. Ook van die fraaie sierhoutwerk op die stoep het deur die jare vergaan.
Prof. Doreen Atkinson, sameroeper van die eertydse tussentydse biblioteekkomitee, het destyds aan Volksblad gesê kontrakteurs is aangestel wat nie die geld of kundigheid gehad het om  die  projek klaar te maak nie.
“Dis jammer dat swart ekonomiese bemagtiging belangriker geag is as plaaslike ekonomiese ontwikkeling.”
Die biblioteekkomitee het toe vuur gemaak oor dié aangeleentheid en die departement van openbare werke, paaie en vervoer, asook die departement van sport, kuns en kultuur, het daarna aandag aan die saak gegee.
Mnr. Thami Kani van die departement van openbare werke het toe op ’n biblioteekkomiteevergadering gesê hulle was nie tevrede met die werk wat deur die kontrakteur gedoen is nie. Daarom is die kontrak tydelik gestaak en meerdere male het die herstelproses weer tot ’n halt gekom.
Maar ná ’n rekordtyd van agt jaar kan Philippolissers uiteindelik nou weer hier boeke uitneem.

NG kerk vier 150 jaar


Die NG kerk op Philippolis se 150ste bestaansjaar word die naweek van 7 Oktober gevier. Belangstellendes wat dit wil bywoon, kan meer inligting kry by me. Pulani Simes by die kerkkantoor deur 051-773-0014 te bel. Foto: jens friis

Nuwe Kunsgalery in Philippolis


Me. Rina Coetzee bedryf deesdae haar eie kunsgalery in Philippolis op die hoek van Kort- en Tobie Mullerstraat. Dié oud-Johannesburger wat reeds 20 jaar in Philippolis woon verkoop ook hier tuisgemaakte geskenke. Haar geskenkwinkel-galery word bedryf uit 'n sorgsaam gerestoureerde Karoo-dorpshuis. Foto: Jens Friis