Wednesday, June 13, 2007

Hardepad

Vir sommige toeriste gee dit groot genot as hulle hier by ’n selfsorgeenheid inteken en dan familie bel met die woorde: “Ek is in die tronk!”
’n Tweede keer gaan jy jou geliefdes nie wéér flous nie, maar as jy ’n bok vir sports is, mag dit loon om ’n keer in die Ou Tronk te oornag.
Dié rare tronkherberg is gerieflik halfpad geleë tussen Gauteng en die Kaap.
Terwyl misdaad elders hoogty vier, het die ou tronk op Philippolis vir jare leeg gestaan.
’n Te koop-advertensie het mnr. Harry en mev. Annatjie During van Johannesburg verlei en deesdae is die ou sandsteentronk ’n oornagplek.
Mnr. Gert van Niekerk, ’n oud-polisiereservis, bestuur die Tronk langs Justisiestraat vir hulle.
During het die advertensie in ’n koerant gesien en die bouval vir ’n appel en ’n ei aangeskaf. Daarna het hy die pad Vrystaat toe aangedurf om te sien wat hy gekoop het.
In die vroeë jare sewentig is die tronk se deure finaal gesluit nadat dit vir ’n paar jaar ’n polisiekantoor was. Daarna is dit gebruik om motoronderdele te berg en ’n matriekafskeid is selfs een keer daarin gehou. Dan en wan het dit as basis gedien vir die plaaslike Voortrekkers, weermag en brandweerbrigade, wat uit weinig meer as ’n waterpomp op ’n bakkie bestaan.
Die enkele oortreders word deesdae na die nabygeleë Colesberg geneem vir hul staatsverblyf.
Met die eerste oogopslag was dit vir During opvallend dat baie werk gewag het, maar tegelykertyd dat die plek potensiaal het.
Met die bou daarvan in 1872 is spesifieke aanduidings gegee hoe die tronk moes lyk. So moes die fondament byvoorbeeld drie voet diep onder die grond wees. Die aannemer moes die werk binne ses maande voltooi en die enigste tender was dié van mnr. William Maddik, ’n plaaslike messelaar, wat vir £225 getender het.
Terwyl die selfsorg-oornaggeriewe ingerig is, het die Durings probeer om die tronk so na as moontlik aan sy oorspronklike vorm te restoureer.
Vandag is dit moontlik om nie in Kamer 4 nie, maar Sel 4 te oornag. Die selle is 'n skrale 2 m x 3 m groot.
Die buitemure is ’n allemingtige 45 cm dik, wat beteken dat dit koel is in die somer. ’n Sel het mos nie juis ’n venster nie en son is die hedendaagse tronkvoëls dus nie beskore nie.
Besoekers praat van ’n ongekende afgeslote en eensame gevoel wanneer die swaar tronkdeur teen slapenstyd gegrendel word.
Die Ou Tronk is een van Philippolis se talle blyplekke wat wissel van Karooplase soos Bokpost (www.bokpost.co.za) tot die Groenhuis Gastehuis (www.philippolis.co.za).

No comments: