Tuesday, June 12, 2007

Naweekwegbreek: 21 te doen dinge


MOENIE die Karoo se dorpies as ’n naweekbestemming onderskat nie. Jou grootste uitgawe is om daar te kom. Verblyf is gewoonlik goedkoop. Boonop is daar heelwat meer te doen op selfs die kleinste dorpies as wat jy ooit sou dink. Hier is ’n twintigtal “te doen”-dinge op plekke soos Philippolis, Prins Albert, Matjiesfontein en Victoria-Wes.
1. BEGRAAFPLASE leer jou baie oor die dorpsgeskiedenis: Brit, Boer, Griekwa en Jood lê sy aan sy in Philippolis s’n. Volg die uitdraaipad hierheen vanaf die hoofstraat, Voortrekkerstraat.
2. Sterre is selde so kristalhelder as in die Karoo. Hier is saans nie baie lig nie en meestal is die hemel ook nie toegetrek nie.
3. Gaan slaap vroeg en staan laat op. Jy is immers met vakansie. Maar om die hitte mis te loop, is dit dalk wys om eerder vroeg op te staan en oor die middaguur ’n siësta te neem.


4. Sonsondergange en -opkomste in die Karoo is fotomateriaal – veral as daar wolke in die lug is. Kombineer dit met ’n piekniek.
5. Dorpsmuseums word min, want die staat bewillig nie meer geredelik geld hiervoor nie. Nietemin is party dorpies nog gelukkig om ’n dorpsmuseum te hê en dit is altyd ’n goudmyn van inligting. Philippolis se Transgariep-museum is een van die min in die land wat alkohol (en wel witblits) mag verkoop. Dit word een keer per jaar hier gestook.
6. Feeste gee woema aan selfs die kleinste nedersetting. Die twee hoogtepunte op Philippolis se sosiale kalender is die Witblitsfees (April) en die Saalperdskou (November). Laasgenoemde is die naasgrootste in Suid-Afrika.

7. Toerismeroetes gedy op die platteland. Die Horisonroete strek oor Philippolis, Jagersfontein, Fauresmith, Koffiefontein en Jacobsdal. Sowat 200 km van die 250 km is geteer. Die landskap hier is oop en die horison lê wyd (vandaar die roetenaam).
8. Donkiekarretjies word ’n seldsame gesig, maar Sondae word dit nog algemeen gesien as plaaswerkers kerk toe kom.
9. Voëlkykers sal in hul noppies wees om te hoor dat swerms bloukraanvoëls volop in die Transgariep is. Daar is onlangs meer as duisend van dié bedreigde voëlsoort net in die Philippolis-distrik getel.
10. Dorpskoerantjies soos die Philippolis Pos(t) gee jou ’n gevoel hoe die gemeenskap inmekaar steek. Dis ook ’n uitstekende bron van ander “te doen”-dinge. Ek (Jens Friis) is die redakteur van die Philippolis Pos(t).
11. Karoo-tjops is alombekend. Die smaak is eersteklas en die pryse gewoonlik billik. Sou jy ’n skaap wil saamneem, skakel vooraf die plaaslike slaghuis sodat die slagter dit vir jou kan opsny en verpak.
12. Water in die dorre Karoo is altyd ’n kleinood. Min kan so verkwikkend wees as ’n stort of bad om die droë aarde se stof af te spoel.


13. Vang ’n vis in ’n spruit of (plaas)dam. Philippolis is die enigste dorp wat grens aan die land se twee grootste damme – die Gariep en Vanderkloof.  Hierdie kontrei is bar, droog en afgeleë. Tog is daar weinig plek waar jy nader aan die niks kan kom – én groter visse kan vang X as juis hiér nie. Gebruik erdwurms of koekmeeldeeg as aas om ’n karp, geelvis of onderbek uit te trek. En saans braai jy dit, terwyl die vlamme in die duister die middelpunt van hemel en aarde word.
14. Skaf eiendom aan. Dalk is jy só beïndruk met die dorp dat jy ’n naweekhuisie wil aanskaf. Maar speel gou, tannie Pam (Golding) maak al haar buiging feitlik oraloor.
15. Stap die dorp uit met ’n stil grondpad. Ruik die bossies, hoor die geblêr van ’n trop skape, voel die son op jou vel . . .
16. Uitkykpunt. Indien moontlik, ry of klouter tot op die hoogste punt op die dorp en oriënteer jou. Op Philippolis is dit ’n koppie waar die dorp se reservoirs staan. Om tot bo-op te ry, is ’n viertrekvoertuig of ’n sterk bakkie nodig. Ry met die Trompsburg-teerpad. Sowat 1 km buite die dorp is ’n hek links. Maak die hek agter jou toe en ry teen die koppie op. Wees op die uitkyk vir pofadders in die somer.
17. Townships. Sien só (dalk die eerste keer) waar jou mede-Suid-Afrikaners woon. Op Philippolis is die inwoners van Bergmanshoogte en Poding Tse Rolo gewoonlik baie vriendelik.
18. Sit net en kyk hoe die wêreld verbygaan – ’n luukse in ’n gejaagde lewe. Wanneer laas het jy dít gedoen? Kyk. Hoor. Luister. Ruik. Voel.
19. Imposante geboue is maar dun gesaai in die Karoo. Meestal is dit die NG kerke waarvan menige ’n historiese gedenkwaardigheid is soos dié op Philippolis. Die toring is in die Anglo-Boereoorlog gebruik as skietplek vir kanonne, die preekstoel is van plaaslike olienhout, en die eerste troue in Afrikaans is hier voltrek.
20. Is die kar vol petrol? Baie dorpies se garages is naweke net sekere ure oop. Maak veiligheidshalwe dus maar Saterdae al vol vir die terugry Sondag. In Philippolis is C & J Motors van die Geels oop na kerk op 'n Sondag (rofweg rondom 10:30 tot 11:00).
21. Internet. En as bogenoemde nog nie genoeg idees is om jou besig te hou nie, doen vooraf ’n soektog op Google. Gooi byvoorbeeld 'n oog by http://www.philippolis.co.za/ of lees verder hier.

No comments: