Friday, June 29, 2007

Dorp onthou oud-leraar

'n Eeu gelede het ds. Colin Fraser sy afskeidspreek gelewer op 7 Julie 1907 ná 'n dienstyd van 44 jaar in die NG gemeente Philippolis.
Twee dae vantevore is 'n opvolger vir hom beroep onder voorsitterskap van die gemeente se konsulent, ds. C.H. Jooste van Trompsburg. Fraser se opvolger, ds. Stefanus Jacobus Perold van Jacobsdal, sou £525 per jaar ontvang.
Op 8 Julie 1907 het Fraser sy emeritaat ontvang op 'n kerkraadsvergadering.

Colin McKenzie Fraser is op 20 Februarie 1837 gebore. Hy is op 18 April 1863 as eerste predikant van Philippolis bevestig en het as geestelike boumeester baanbrekerswerk verrig, skryf dr. Gerdrie van der Merwe van Bethulie.
Van der Merwe het in 1984 'n M.A.verhandeling oor Fraser aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi.

Fraser was by vyf geleenthede moderator van die Vrystaatse NG Kerk.
Terwyl hy hier predikant was, is die pastorie, asook die kerk met sitplek vir 1 400 mense gebou. Albei is steeds in gebruik.
In die Anglo-Boereoorlog is die kerk in 'n fort omgeskep, skryf J.A. Bosch in die Eeufeesgedenkboek van die NG Gemeente Philippolis (1962).
Nietemin is tussen 1899 en 1902 altesaam 143 kinders in die gemeente gedoop, van wie 90 deur Fraser self.

Die Fraser-gesin is in Augustus 1901 met geweld uit die pastorie verwyder en na die konsentrasiekamp in Springfontein gestuur. Weens swak gesondheid is Fraser na die kamp in Bethulie oorgeplaas.
"Ná die leraarspaar se vertrek uit Philippolis is die groot pastorie met sy kosbare meubelment en boekery aan die brand gesteek. Duisende dokumente en kosbaarhede, waaronder sy versameling preke, is verbrand," skryf Van der Merwe.
In 1911 is Fraser oorlede -- vier jaar nadat hy uit die bediening getree het. In die laaste jare het hy en sy vrou, Isabella, by hul kinders op Onze Rust buite Bloemfontein gewoon.
Hul dogter, Tibbie, was die laaste presidentsvrou van die Vrystaatse Republiek. Sy was getroud met pres. M.T. Steyn.

'n Reusegedenksuil ter ere van die gemeente se ontslape leraar is in 1914 reg voor die kerk onthul.
Ook herinner Colin Fraserstraat nog aan Fraser se bedieningstydperk hier.
Geen leraar van die NG kerk het sedertdien naastenby só lank in Philippolis in die gemeente gestaan nie.

No comments: