Wednesday, June 13, 2007

Historiese dorpskern gerestoureer

Dié foto van Bo-Voortrekkerstraat is geneem deur glefie van 'n ruit in die N.G. Kerk se toring. Regs is die Jacobson-biblioteek met daarlangs die Nienaberplein.



DIE langverwagte restourasie van ’n historiese kern op dié dorp het uiteindelik begin.
Van dié opknapping van die Jacobson-biblioteek het inwoners al gedink daar gaan niks van kom nie, want sedert 2004 word sulke beloftes al gemaak. Boonop het stories begin loop dat die geld gebruik gaan word om eerder sokkerstadions te help finansier.
Uit die bloute gebeur dit toe: Daar word ’n finale vergadering gehou en die broodnodige kap- en bouwerk het begin.Daarom word die biblioteek nou in die Motheo-FET-kollege gehuisves, terwyl die Transgariep-museum binne enkele dae tydelik gaan sluit.
Na verwagting gaan die restourasiewerk meer as R1,3 miljoen beloop.
“Die Jacobson-biblioteek, ’n Victoriaanse juweel, se noordelike muur is erg aan’t verkrummel. Ook van die fraaie sierhoutwerk op die stoep het deur die jare vergaan,” sê mev. Carien Pottas, die bibliotekaresse.
Dié gebou, dalk die spoggerigste huis in die dorp, is dertig jaar gelede aan die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Administrasie oorgedra. Maar in die afgelope dertig jaar het wind en weer sy letsels gelaat.
Nuwe houtsierwerk en pilare is nou aangebring. Ook die gietysterwerk op die dak, die dak self en die houthortjies voor die vensters is herstel. Die huis is binne nie na die oorspronklike verander nie, maar slegs opgeknap.
Dit kom nadat mev. Sandra Cassel van Vancouver in Brits-Columbië onlangs kom kuier het en geskok was om te sien hoe sleg die biblioteek lyk. Haar oupa, Moritz Jacobson, het die huis destyds geskenk met die doel dat dit in ’n biblioteek omgeskep moes word.
Luidens ’n verslag van die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede is hierdie nasionale gedenkwaardigheid in 1905-’06 deur twee Nederlanders, Van der Kooy en Arrie, gebou vir ’n plaaslike handelaar, Leonardus Bohen.
Van 1915 het J.G. Hartman dit as tuishuis gebruik, maar dit was Moritz Jacobson wat dit die langste sou besit (1921 tot 1977). In hierdie 56 jaar is die plankvloer van die stoep met ’n sementvloer vervang en die houttrapies voor die gebou met sementtrappies. Die buitegeboue op die erf het die eertydse stalle in omstreeks 1924 vervang.
Die Jacobson-biblioteek tesame met ’n buurhuis wat die Transgariep-museum huisves, vorm ’n museumkompleks langs Bo-Voortrekkerstraat. Daarlangs is ook die Nienaberplein en ’n koppie waar Adam Kok se skeepskanonne staan. Straat-af is dié Griekwa-kaptein se eertydse raadsaal.
Dié Transgariep-museum langs die boomomsoomde Voortrekkerstraat is vanjaar ’n kwarteeu oud. Dit is op 2 Maart 1982 deur mnr. Louis Botha, destydse administrateur van die Vrystaat, geopen. In die museum is uitstallings van die Griekwas, Emily Hobhouse se spin-en-weefskool, ’n perdemeul en ’n buitelugoond. In die agterplaas is ook ’n stookketel wat jaarliks met die Witblitsfees ingespan word.
“Alle byskrifte in die museum verskyn in Sotho, Afrikaans en Engels,” sê me. Elize Pienaar, die kurator van die museum.Die museum is weekdae tussen minstens 08:30 en 16:00 oop. Vir verdere besonderhede bel Pienaar by 051-773-0052.
Mnr. Tankiso Zola, woordvoerder van die departement van sport, kuns en kultuur, is telkens genader vir kommentaar oor die opknappingsprojek, maar hy het nie terugvoer gegee nie.

No comments: