Wednesday, June 13, 2007

’n Alfabetiese pleknaamtoer


AL ooit gewonder waar kry daai Vrystaatse plekke hul name vandaan?Kom dan saam op ’n alfabetiese pleknaamtoer deur dié provinsie.

ALLANRIDGE: Hierdie goudmyndorp is in 1950 gestig en genoem na Allan Roberts wat vir goud geprospekteer het in die Vrystaat.

BETHULIE: Min dorpe het al soveel name gehad as Bethulie. Oorspronklik is dit Moordenaarskloof genoem omdat baie San en Griekwas hier doodgemaak is deur die Basotho’s. Jean Pierre Pellissier van die Franse Sendinggenootskap het dit in 1835 tot Verheullpolis herdoop. Maar die grootbase van dié genootskap het ’n Bybelse naam verkies en daarom het dit Bethulia geword wat “deur God gekies” beteken.

CLARENS is in 1912 genoem na die Switserse dorp naby Montreux waar president Paul Kruger gesterf het.

DEALESVILLE is uitgelê op die plaas Klipfontein wat behoort het aan John Henry Deale.

EDENBURG se wortels strek terug na 1862. Dié dorp wat in 1891 op die plaas Rietfontein het ontstaan, het ‘n munisipaliteit geword.Daar is twee moontlikhede vir die naam. Dit kan van Bybelse oorsprong (“die Tuin van Eden”) wees, of ’n omvorming van Edinburgh, die Skotse geboorteplek van ds. Andrew Murray.

FAURESMITH het in 1850 op die plaas Sannah’s Poort ontstaan.Dit is genoem na die moderator van die Nederduits-Gereformeerde Kerk, Philip Eduard Faure, asook Sir Harry Smith, die Kaapse goewerneur.

GOLDEN GATE verwys na twee sandsteenkolosse wat goud kleur teen veral sononder.

HEILBRON beteken letterlik “fontein van heil/vrede”.Dit kan verwys na ’n sterk fontein, of na ’n antieke Duitse stad.

ITUMELENG: Dié woonbuurt van Fauresmith beteken in verskeie van ons landstale “vreugde” (“joy”).

JAGERSFONTEIN: Soos soveel ander Vrystaatse dorpe is Jagersfontein genoem na die eienaars van die oorspronklike plaas waarop die dorp uitgelê is.In hierdie geval was dit Evert Jagers wat die plaas besit het en by die fontein gebly het.

KESTELL is vernoem na ds. John Daniël Kestell, leraar van die Nederduits-Gereformeerde Kerk, skrywer en kulturele leier.

LADYBRAND se naam strek terug na Lady Catharin Frederica Brand, die vrou van Sir Christoffel Brand, die eerste Speaker van die Kaapse Wetgewende Vergadering.

MOORDENAARSPOORT: Sien Bethulie hierbo.

NAVAL HILL in Bloemfontein is vroeër ook Tafelkop en Bloemfontein Mount genoem. Die huidige naam dateer van 1900 toe ’n Britse vlootbrigade hier gestasioneer was om die stad te verdedig.

PHILIPPOLIS heet na dr. John Philip (1775-1851), superintendent van die Londense Sendinggenootskap, wat hier ’n sendingstasie gevestig het. Philip was ’n filantroop en het die regte van die inheemse volkere voorop gestel.QUABA is die Khoikhoi-naam vir die Modderrivier.

REDDERSBURG se naam vereer Jesus Christus, die Redder.

SENEKAL is in 1875 gestig op die plaas De Put. Dit is vernoem na Frederik Petrus Senekal wat kommando’s gelei het in onder meer die Eerste en Tweede Basotho-oorloë van 1858 en 1865-66.

TROMPSBURG is vernoem na die plaas waarop dit staan. Dit het aan Jan en Bastiaan Tromp behoort. Vantevore is dit Jagersfontein Road genoem, en ook Hamilton ter ere van Sir Hamilton John Good-Adams, luitenant-generaal van die Oranjerivierkolonie tussen 1901 en 1910.

VREDE: Daar was ’n groot meningsverskil oor presies waar die dorp uitgelê moes word. Van daar die naam “Vrede”.

WELKOM in Welkom. Die oorspronklike plaas waarop dié stad staan se naam was Welkom.

ZASTRON: Dié dorp aan die voet van die Aasvoëlberg is in 1876 op die plaas Verliesfontein aangelê. Dit is na Johanna Sibella Brand (gebore Zastron) vernoem, vrou van President Brand van die Oranje-Vrystaat. ) 

* Bronne:  Dictionary  of  Southern  African Place Names deur P.E. Raper; Van Lill se Suid-Afrikaanse Trivia deur Dawid van Lill; en The Rough Guide to South Africa.

No comments: