Friday, September 14, 2012

Toe hier nog tennis gespeel is

Op Philippolis, soos baie ander plattelandse dorpe, se tennisbane word nie meer balle geslaan nie. JENS FRIIS kyk terug.

PHILIPPOLIS. - Ná die Franse Ope en veral die onlangse Wimbledon het diegene wat jy net dan en wan op die tennisbane sou sien, weer 'n paar houe kom slaan. Maar dit was destyds. Nóú spoor selfs dié toernooie nie meer inwoners aan om te kom speel nie.
Op Philippolis, soos baie ander plattelandse dorpe, het tennis iets geword wat tot ‘n vergange era tuishoort.
Dié plaaslike tennisklub wat die laaste was om te oorleef - lank nadat daar nie meer 'n rugbyspan, rolbalbaan of gholfspelers hier was nie – is ook daarmee heen.
Nou word daar nog net sokker in die township gespeel en sport by die drie skole beoefen - op 'n veel beperkter mate as vanmeleë.
Tennis se geskiedenis op Philippolis strek terug na tot voor die Anglo-Boereoorlog. Sover bekend was die eerste dorpstennisbaan op die Van der Post-erf langs Colin Fraserstraat, waar sir Laurens se geboortehuis nog staan. Van der Post se pa was die plaaslike prokureur. Saans is dikwels 'n bal of debatsaand gehou, biljart gespeel en klein Laurens se moeder het West End-toneelstukke afgerig wat selfs in buurdorpe opgevoer is. Saterdae is op die baan in die agterplaas tennis gespeel met houtrakette en kraakwit klere.
Sover bekend was die enigste ander huis wat deur die jare sy eie baan gehad het, dié van Johnny Steytler langs Kerkstraat (oftewel Voortrekkerstraat). Dié huis word nou bewoon deur Beckey en Jannie Cilliers, wat jare vir die dorpsmanspan gespeel het.
Jens Friis snr., vroeër die nommer 1-speler van die Suid-Vrystaat , sê hy het in die 1960’s begin speel toe die Philippolis-tennisklub was waar die polisiekantoor nou staan langs Tobie Mullerstraat.
Daar is rondom 14:00 begin speel totdat die son sak. Gewilde rondomtalie-toernooie is gehou en aan die einde van die jaar was daar 'n reuse braai ná die dag se tennis.
Van hier is die tennisbane verskuif na tot langs die skouterrein. Dit was egter nie 'n goeie plek om te bou nie, want die potkleigrond het die bane laat bars. Die finale spyker in dié doodskis was toe vroue nie alleen hier wou kom speel nie, want die afgeleë bane was naby die township en dit was die dae van die noodtoestand in die 1980's.
Gevolglik het die klub 'n nuwe tuiste gekry langs die seunskoshuis. Hier by die ingang van die dorp vanaf Trompsburg is vier bane en 'n klubhuis gebou. Friis, toe voorsitter van die klub, vertel dat baie van die ou tennisbane se draad en pale nog in 'n goeie toestand was en hierheen verskuif kon word.
En dis dan hier waar die klub gehuisves is totdat dit 'n stille dood gesterf het enkele jare gelede.
Die belangrikste redes hiervoor is waarskynlik die ontvolking van die platteland, kinders wat elders op skool is en ouers wat nie kans sien om Saterdae weer te ry nie, en televisie wat rugbywedstryde op Saterdagmiddae uitsaai.
Dat inwoners deesdae beter voertuie het en daar wêreldwyd meer klem is op sport se bydrae tot goeie gesondheid, het nie gehelp dat die tennisklub kon oorleef nie.
Deur die jare het die tennisspelery op Philippolis nie sonder voorval verloop nie. Só het 'n moeë Manie Bester een middag 'n vlieg ingesluk terwyl hy gehyg het ná 'n uitputtende potjie, Naómi Friis moes 'n noodoperasie ondergaan nadat 'n bal haar reg op die oog getref het en Jacques Lombard het 'n spier geskeer.
Boere soos Dirk Louw en Gert Zwiegers het nie omgegee om Saterdag tennis toe te ry en Sondae kerk toe nie.
Ook op omliggende dorpe is kragte gemeet. Die Suid-Vrystaat se tennisunie het bestaan uit 'n reuse area: Koffiefontein, Luckhoff, Jagersfontein, Fauresmith, Philippolis, Trompsburg, Edenburg, Springfontein, Bethulie tot by Smithfield.
Onder die dorp se beste tennisspelers was Drienie Swanepoel, Careen Cilliers, Charl Weideman, Jens Friis snr. en Sophia Willemse. Van hulle is al oorlede, maar as bejaardes het die rolbalgogga vele oud-tennisspelers gebyt en Saterdae het hulle dan gaan albasters rol.
Buiten die dorpsklub was daar ook tennisbane op die plase Dwarsrivier van Willem en Franette Strauss, De Rust van Izak en Bessie Nel, en Klein Kalliesfontein van Jack en Roezan Schoeman.
Die Hoërskool M.T. Steyn se tennisbane was aanvanklik langs Skoolstraat en langs Louise Jansen se huis is die muur steeds te sien waarteen jy jou houe kon oefen.
Later is dié bane verskuif na die skoolterrein - twéé tennisbane en twéé vir tenniset. Laasgenoemde is verkleinde bane waar die kleingoed met plankraketjies kon leer speel. Die tennisbane was so geverf dat dit ook as netbalbane kon dien.
In Poding Tse Rolo is ook twee bane gebou, maar dis nie onderhou nie, die drade is gesteel en hier kon kort voor lank nie tennis gespeel word nie.
Dat daar só ‘n magdom tennisbane (en spelers) was oor sowat ‘n eeu heen is moeilik om te glo as jy deesdae op ‘n Saterdagmiddag verby die dorpsklub ry waar geen siel meer te siene is nie.
Dié foto van die Hoërskool M.T. Steyn se tennisspan is in die 1960’s geneem. Agter staan Stella Louw, Jan Venter en Dalina Kruger. In die middel sit Louise Fourie, Flip Roets, onderwyser Jens Friis, Theodosia Vorster, en Hensie du Plessis. Voor met die twee tennisrakette is Brits Venter. Foto: Jens Friis snr.

Groenhuis Gastehuis, Philippolis, 051-773-0073


Kerksentrum kwarteeu oud

Sentrum kwarteeu oud

- Jens Friis

PHILIPPOLIS. - Die NG Gemeentesentrum (oftewel die Sentrum) langs Voortrekkerstraat is vanjaar ‘n kwarteeu gelede geopen.

Die inskrywing op die hoeksteen lees só: “Ingewy ter eer van God as Gemeentesentrum tydens die 125 jarige bestaan van die Ned Geref Gemeente Philippolis. Onthul deur ds. en mev. PR Botha. Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis. 1 Petrus 2:5.”

Toe dié winkel oorkant die pad van die kerk af leeggestaan het in die mid-1980’s, het die kerkraad die potensiaal daarvan raakgesien om omskep te word tot Gemeentesentrum.

Die kerkkantoor word nou hier gehuisves en dié “kerksaal” is toegerus met ‘n kombuis. Die eertydse winkel se store is omskep tot Sondagskoolklasse. Dít sou later gebruik word as klaskamers vir ‘n privaatskool en dit doen deesdae diens as blyplek vir “backpackers”.

Baie funksies wat vroeër plaasgevind het by die stadsaal is hierheen verskuif. Só was daar deur die jare onder meer hier bloedskenkings, byeenkomste ná begrafnisse, vergaderings van die VVLU, kunsuitstallings en basaars.

Soos genoem, was die winkel aanvanklik ‘n algemene handelaar en in sy laaste jare het dit bekend gestaan as Voorspoed. Vroeër jare het dit behoort aan die Van Rynevelds.

Die pragtige swart-en-wit teels op ‘n deel van die voorstoep dateer uit die gebou se vorige bestaan toe handelsware nog hier van hand verwissel is.

Dis deesdae moeilik om ‘n vooraansigfoto van die Sentrum te neem, want ‘n laning bome wat deur ds. Bertie Haasbroek hier aangeplant is bied beskutting teen wind en weer, en parkering vir gemeentelede se motors.

As foto’s vergelyk word van dié gebou uit die 1980’s is dit opvallend dat dit nou veel beter daar uitsien as destyds.

FOTOBYSKRIF: ‘n Foto van Voorspoed Algemene Handelaar wat rondom 1980 geneem is.

WIE SIT WAAR MET NAGMAAL: 'n Halfeeu gelede het die gebruik van die beker teenoor kelkies groot debatsvoering veroorsaak in die NG kerk op Philippolis. Só besluit die kerkraad toe in 1962 as volg oor die sitplekindeling van nagmaalgangers: "Die lidmate wat die beker gebruik sit in die middelblok reg voor die preekstoel. Met 'n denkbeeldige middellyn sit die dameslidmate in die linkerhelfte van die blok en die manslidmate in die regterhelfte. Die res van die sitplekke is tot die beskikking van lidmate wat die kelkie gebruik." Foto: Jens Friis

Tuesday, August 14, 2012

Monday, July 30, 2012

Karoo nie goed vir behoud van hout

- Jens Friis PHILIPPOLIS. ¬– Met besoek aan Philippolis was Jan de Jongh van Nederland beïndruk met die hoeveelheid houtsierwerk aan historiese woonhuise langs veral Voortrekkerstraat, die hoofstraat. De Jongh, ‘n kenner op dié gebied, is veral geïnteresseerd in tot watter mate houtsierwerkstyle vanuit Nederland destyds na Suid-Afrika oorgespoel het. Soos Karel Schoeman in sy boek “Vrystaatse Erfenis – bouwerk en geboue in die 19de eeu” verduidelik: “Houtwerk is soms ter plaatse vervaardig, veral op die platteland, maar gedurende die negentigerjare is die meeste onderdele van geboue van oorsee bestel, gewoonlik pasklaar uit katalogusse.” Die Engelse argitekte het hul boumateriaal grotendeels uit Brittanje laat kom, terwyl die Nederlandse argitekte na die Vasteland gekyk het. Uiteraard was daar dan ook klagtes hieroor dat diegene hul bestellings oorsee geplaas het eerder as in byvoorbeeld Bloemfontein, waarop hul beweer het dat dit goedkoper was. Mettertyd het groter winkels soos G.A. Fichardts in Bloemfontein ook ‘n veel groter voorraad boumateriaal aangehou. Van dié houtwerk in Philippolis is dus meer as ‘n eeu oud en De Jongh het gewaarsku dat dit gerestoureer moet word, want anders gaan dit beslis nie behoue bly nie vir die nageslag. “Die droë, winderige toestande van die Karoo waar die son fel kan brand, is alles behalwe bevorderend vir die behoud van hout. Afskuur, olie en verf kan reeds wondere verrig,” het hy gesê. “Daar is hordes geboue in Nederland wat meer as ‘n eeu oud is, maar in Suid-Afrika is dit ‘n lang tyd en daar is min voorbeelde oor van die boukuns uit daardie tyd. Mens moet onthou dat die vakmanne van destyds in ‘n afgeleë mid-Suid-Afrika bittermin gereedskap gehad het. Boonop was geld min. Dus is dit besonders dat hul soveel aandag gegee het aan houtsierwerk – des te meer ‘n rede om na hierdie besonderse nalatenskap om te sien. Dis gewis iets uit ‘n vergange era.” Volgens Schoeman was die boumeesters destyds tradisioneel plaaslike mense, “dikwels met min of geen formele opleiding; die boumateriaal was dié wat plaaslik beskikbaar was; en die doel van die bouwerk was in eerste instansie funksioneel, met versierings wat slegs vir die bevrediging van die bouer of eienaar aangebring is.” Deur variasies in die sierhoutwerk is ‘n treffende dekoratiewe effek dikwels bewerkstellig. De Jongh wat talle foto’s geneem het van sierhoutwerk aan woonhuise in Philippolis, hoop om terug te keer na die oudste nedersetting in die Vrystaat en dan verdere navorsing hier te kom doen.