Thursday, November 5, 2009

Groenhuis Gastehuis, www.philippolis.co.za


Skou 81ste jaar op dorp gehou

PHILIPPOLIS. – Vanjaar is dit die 81ste agtereenvolgende jaar dat dié dorp ’n skou aanbied, asook die 29ste agtereenvolgende jaar dat hier ’n saalperdstreekskou sal plaasvind. Die skou vind plaas op 5, 6 en 7 November“Dié streekskou word allerweë gesien as die sterkste (en dalk die grootste) streekskou in die land,” sê mnr. Johan Lambrechts, een van die organiseerders van die skou. Vertoners van so ver as Wellington word verwag. Die perdeklasse begin Donderdag en hou aan tot Saterdagaand.Vrydag vind ook ’n boerbokveldskou en ’n skaaphondkompetisie plaas, terwyl die Suid-Vrystaatse veldmerino-kampioenskappe Saterdag aan die beurt kom. Saans is dit kuiertyd en ’n stoepdansparty word gehou. “Soos gewoonlik nooi ons weer senior mense wat aktief was op skoue en hard gewerk het om hul onderskeie rasse te bevorder, vir die Saterdag hierheen.” – Jens Friis

Straatoptog met klank en kleur

- Jens Friis
PHILIPPOLIS. Só iets het die inwoners nog nie vantevore gesien nie.
En met rede, want 'n "murga" is darem ook nou nie iets wat jy agter elke Suid-Vrystaatse bos uitskop nie.
Dis dus g'n wonder oud en jonk kon hul nuuskierigheid nie beteuel toe dié musikale straatoptog se eerste tromslae van ver af nou ander Saterdag gehoor is nie.
Van vroegdag af het die byna 300 kinders gereed gemaak vir dié toetie deur gekleurde T-hemde aan te trek en die laaste verstellings te maak aan hul tuisgemaakte musiekinstrumente soos vuvuzelas, tromme en goete wat jy lekker hard kon skud.
"Maar die voorbereidings het reeds sowat 'n maand gelede begin," vertel me. Anita Muller, koördineerder van die projek. "Elke Vrydag en Saterdag het die kinders gebruik om hul musiekinstrumente te maak en om te oefen vir die murga. 'n Goeie ritmepatroon is veral belangrik, want daar moet orde wees aan só 'n optog."
Vir die oefenry het me. Elene Coetzer, 'n musiekkenner, spesiaal gekom vanaf Bloemfontein.
Ook die Khula Gariep Partnership het meegehelp dat die straatoptog op die ou end letterlik op die planke gebring kon word.
Beide Bergmanshoogte Intermediêr en Poding Tse Rolo se primêre skool het aan die murga deelgeneem wat by Bergmanshoogte begin het en toe deur die hoofstraat van Philippolis gegaan het waarna daar weggeswink is na Poding Tse Rolo.
Aan die voorpunt van die optog was die polisie wat seker gemaak het dat almal veilig by die nuwe gemeenskapsaal in Poding Tse Rolo kom.
Hier is daar toe konsert gehou en 'n hoogtepunt was 'n viooluitvoering - iets wat na alle waarskynlikheid nog nooit in dié gemeenskapsaal gehoor is nie.
En om die feestelikheid af te sluit is 'n heerlike ete bedien om die leë mae te vul, want só 'n optog oor sowat 3 km vat darem aan 'n kind se lyf - self al was dit 'n grote heerlikheid.
In Philippolis is die "murga" die afgelope weke verafrikaans tot 'n "moerga". Soos een van die kinders opgemerk het: "Dis omdat daai man wat voor loop die trom lekker moer".
Maar wikipedia.org leer anders. Hiervolgens is die murga 'n gewilde musikale straatoptog in Suid-Amerikaanse lande soos Argentinië en Uruguay tydens karnavaltyd.
Mans neem meestal daaraan deel - sowat 17. En die kostuums wat die deelnemers aantrek is altyd belangrik, want dit moet kleurvol wees en by die tema van die spesifieke murga pas.
Hoe dit ookal sy, "moerga" of "murga" - só iets het Philippolis nog nie vantevore gesien nie - en hopelik sal dié dorp se strate volgende jaar wéér só opgehelder word.

Monday, August 17, 2009

Ongewone ver zoom's vanaf reservoir-koppie

Bergmanshoogte

Die Stal, 'n anneks tot die Groenhuis Gastehuis

Aids Park, 'n woonbuurt van Poding Tse Rolo

Waterkloof

Friday, July 17, 2009

UV-REKTOR OPEN UITSTALLING:

Prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, open op Sondag 2 Augustus ’n uitstalling op Philippolis, Portret van Philippolis, 1822–2009. Dié uitstalling bied ’n blik op die oudste nedersetting in die Vrystaat met behulp van skilderye, foto’s, boeke en dokumente. Jansen sal ook gesels oor sy nuwe boek, Knowledge in the Blood. Vir meer inligting bel mnr. Richard Proctor-Simms van Oom Japie se Huis by 051-773-0050. Foto: JENS FRIIS

Monday, July 6, 2009

Grondpad verby die Kruithuisie

PHILIPPOLIS. Louis van Wyk (jnr.), 'n leerling van Grey Kollege (Primêr) in Bloemfontein, stap hier met Peter, die wolfhond, langs 'n grondpad buite Philippolis. Hy is die seun van mnr. Louis van Wyk van die plaas Osfontein, Philippolis, en mev. Marnie van Wyk van Bloemfontein. Foto: Jens Friis

Monday, June 22, 2009

Groenhuis Gastehuis, www.philippolis.co.za