Wednesday, June 13, 2007

"Op hierdie pad ken ek elke hobbel en knik"



DAAR'S geen pad wat ek al meer gery het as dié ­tussen Trompsburg en Philippolis nie.
Op skool sou ons hierheen ry vir swemgalas, tennis- en rugbywedstryde. Maar dit is veral omdat dit ook die pad na Bloemfontein is waar wat ek elke hobbel en knik ken.
Bloemfontein is waar ons inkopies doen, ek ses jaar geswot het, Junies verby sou ry na die Krugerwildtuin, en ek deesdae werk.
Tog is hierdie streep teer, genaamd die R717, nie ’n besige pad nie. As jy drie karre kry op die ganse stuk kry, sê jy aan jou mede-passasiers: “Wat gaan aan? Dis vandag so bésig.”
Die eerste baken as jy Trompsburg uitry, is die stasie waar ons vanmeleë vir tant Anna (my ma se oudste suster) gaan oplaai het, sou sy vakansies kom kuier het. Dis ook hier waar kinders afgeklim het wat op Philippolis kom skool gaan het vanweë goeie beurse. Soms het hulle met net ’n tandeborsel van die trein geklim. Deesdae klim niemand meer hier af nie. Die trein hou verby.
Volgende is die afdraaipad na Jagersfontein, en dan die bome waar my ouma en oupa van Vaalbank-Zuid, Bloemfontein, graag koffie gedrink het. Dis ook hier waar my selfoon een aand gelui het en my pa gesê het: “Ons het teëspoed. Ouma is dood.”
Teen die volgende afdraand is ’n bruggie wat jou laat hik as jy te vinnig ry – selfs nadat die pad al herteer is. En by Kromellenboog, ’n spruit, kon ons groepie skoolatlete in 1988 nie deur nie. Die spruit was in vloed. Al die oefenry vir die interlaer- en interhoërswem daardie jaar was verniet.
Naby die 40 km-omdraaiplek vir fietse by Philippolis se jaarlikse Witblitsfees lê ’n ongewone koppie. Dit herinner aan ’n vulkaan of dalk ’n piramide. Volgens legende is daar bo-op glo ’n boer begrawe sodat hy ’n wye blik oor sy plaas kon hê.
In dié omgewing wissel die selfoonseine mekaar flink af: Trompsburg, Springfontein, Jagersfontein, Philippolis . . .
Daar’s die leegte met die baie miershope, die afdraaipad na Springfontein, en die eertydse plaasskooltjie wat onbenut staan. In droogtetye moet jy saans hier op jou hoede wees. Duikertjies, ystervarke en springbokke kom wei dan graag in die groenerige grassies langs die teerpad.
Gaste van die Groenhuis op Philippolis merk wel op dat jy hier soms meer diere sien as in dele van die wildtuin. ’n Belgiese gas het al opgewonde vertel van die “kangaroos” – waarskynlik springhase – wat hy gesien het.
En dan was daar die ­Philippoliser wat eens so byna in die sop was, want daar was bewerings dat hy hier ’n bok vir biltong geskiet het.
Tussen ’n handvol windpompe staan ’n pompkamertjie wat herinner het aan die huisie van Adoons (die strokiesprentkarakter jare gelede in Landbouweekblad).
Byna halfpad (30 km nog) het ons wit Mazdabakkie gaan staan op ’n snikhete Sondagmiddag. In my kinderoë was die wêreld wyd en ek hoogs bekommerd toe my pa die pad moes aandurf na die naaste plaas vir brandstof. Gelukkig was ’n Huisgenoot byderhand en my ma het vir my en broer Nico vermaak met Bollie.
Dit is by Pypersfontein van Niël Lubbe wat jy die Philippolis-distrik inry.
Dan nie ver nie of jy sien saans die spooktrein van Slangfontein. Dit is die ligte van die opstal en plaaswerkers se huise.
Kleintyd het my ma altyd padkos saamgery, maar duskant die spoorlyn was dit verbode om koeldrank te drink. Die pad skud te veel en die koeldrank sou uit die plastiekglasies mors.
Dis hier waar ek douvoordag op pad universiteit toe erg remme moes aanslaan. Dit was donkermaan en mistig. ’n Trop swart beeste het in die pad geslaap. Ek het byna teen een se blad tot stilstand gekom.
Ook in my universiteitsdae het skoolkinders vanaf Bloemfontein soms saamgery onder wie D.G. Snyman. Hy het destyds die Hoërskool Sentraal bygewoon. By die uitdraaipad na Druiwefontein het ons hom meerderemaal opgelaai.
By die spoorlyn wat Fauresmith en Philippolisweg verbind, het Jannie Els, die Vrystaatse losvoorspeler, destyds teen ’n lokomotief gebots.
Hierdie trein was die eerste waarop ek gery het. Dit was in my kindertuinjare aan die Laerskool M.T. Steyn. Wat my bybly, is dat die trein een keer só vinnig gestop het om melkkanne op te laai dat ons ­almal neergeslaan het in die gang (ook wyle juffrou Therina Marais).
In die dae voordat die N1 gebou is, was hierdie die hoofpad tussen Johannesburg en Kaapstad, en by die spooroorgang was selfs ’n kafee.
Soms gebeur dit dat die N1 vir ’n uur of wat sluit weens ’n erge ongeluk en dan word die verkeer hierheen herlei. Maar die R717’tjie is glad nie gebou vir die hedendaagse verkeer nie. Die groot lorries ruk gate uit die teer en Philippolisers verpes dit, want hulle sit ná die tyd met die gebakte pere.
Dwarsrivier van Willem en Franette Strauss is dalk die mooiste plaas. Hul seun, Adriaan, speel vir die Cheetahs haker. Dit was altoos ’n spogplaas. Vroeër jare het Minister Serfontein oftewel oom Serfie hier geboer. Hierdie grond is vrugbaar en “ná die reëns gee die veld haar oor soos ’n slet aan die groen” (om by Antjie Krog te leen).
Dan is daar die lang draai waar die bankbestuurder se vrou haar motor gerol het, ’n taxi gestop het, en haar selfoon gesteel is.
De Rust se vorige inwoners is nie meer van hierdie aarde nie. Bessie Nel, ’n boesemvriendin van my ma, en haar man, Izak, was een aand op pad vanaf ’n casino toe ’n lorrie teen hulle vasgery het. Albei is op slag dood.
’n Ent verder is die reguit stuk pad waar ek byna van die pad gery het kort nadat ek leer bestuur het. Dit was laat en die vaak het my byna oorval op pad van Bloemfontein.
Gelukkig is Philippolis naby. Jy sien al die selfoontoring op die kop. En voordat jy jou kan kry, is jy by die uitdraai na Fauresmith. Hiernatoe moes ons altyd hardloop om fiks te word vir landloop.
Daar’s die draai waar ’n onderwyseres eens haar BMW gerol het, en agter die padkamp is die dorpsdamme. Hierheen ry algar as dit reën, want as dié damme water kry gaan die dorpsfontein weer loop.
Die laaste baken langs die pad is die Chinese draai skuins langs die dorpstennisbane. In die 1950’s het ’n motor Chinese hier die pad byster geraak onderweg na die Kolonie. Hul toegelate tydperk in die Vrystaat was verby en inderhaas het hulle nie hul draai kon kry nie.
En dan is jy op Philippolis, my geboortedorp. Kyk jy terug is daar ’n bordjie wat sê Trompsburg is 56 km, maar by Trompsburg staan Philippolis is 64 km ver. Oor hoe dit kan wees, hang ná al die jare steeds ’n vraagteken.

1 comment:

Unknown said...

Die beskrywing was so presies dat ek die pad kon volg soos jy vertel het, dit laat my verlang na daardie dorpie!!!