Wednesday, June 13, 2007

"Pasella" verfilm in Philippolis



PASELLA, SABC2 se leefstylprogram, het ’n draai op Philippolis kom maak. Hierdie insetsel sal te sien wees op Woensdag, 4 Julie.
Dit was ’n viertal van Pasella wat nogal uitgeput was toe hulle een Sondagaand in hul viertrekvoertuig by die Groenhuis-gastehuis aanland. Hulle het toe reeds insetsels van Clarens asook Rhodes agter die blad gehad.
Vir me. Bokkie Potgieter, samesteller van die insetsel, was dit die laaste dorp saam met die Pasella-span. Ná drie en ’n half jaar by dié TV-program voel sy dis tyd om iets nuuts te beproef. Daarom gaan sy binnekort na die Verre Ooste verkas vir ’n onbepaalde tyd.
Die bekende gesig onder die vier was die aanbieder Paul Rothman. En ja, in die werklike lewe is sy bekende tandepaste-glimlag net so breed en skitterwit as op die kassie.Dikwels laat die televisie dwergies reusagtig lyk, maar Paul is werklikwaar gróót. Hy moet minstens hier by die 2 m draai. ’n  Mnr. Suid-Afrika sou hy gewis kon word.
Verfilming het op ’n bewolkte Maandagoggend begin voor die historiese NG kerk, die mees imposante gebou op die dorp. Van hier stap hulle dan na die Transgariep-museum om te loer na ’n uitstalling van twee bekende oud-Philippolisers – Adam Kok en Emily Hobhouse.
Die tonele word herhaaldelik afgeneem. Met klank, sonder klank, panoramas, ander kere word daar ingezoem . . .
Nuuskierige Philippolisers het dié petalje geïnteresseerd dopgehou vanaf die stoep van Indraf, ’n algemene handelaar.
Paul groet vriendelik toe hy sien iemand herken hom, maar is skamerig om ’n geselsie aan te knoop. Dié aanbieder het regte geswot en werk deesdae deeltyds by ’n arbeidsregfirma. Hulle spesialiseer in werkgewersregte.
“Ek geniet dit, want anders as kontraktereg het ek baie kontak met mense. Dis nie net admin nie.”
Hy neem elke maand so een week af vir Pasella-werk. “Dit neem dus nie te veel tyd in beslag nie – net genoeg om interessant te bly.”
Die Pasella-span het by talle plekke ook nog in die komende dae geskiet waaronder die plaaslike slaghuis, mnr. John Varty se tierreservaat, die Laurens van der Post-gedenktuin, Oom Japie se Huis en die historiese huisies langs Tobie Mullerstraat.
Ook te sien sal wees mnr. Jannie Cilliers wat musiek maak op ’n saag, terwyl hy deur mev. Marnie van Wyk begelei word.
Me. Sunette Fourie van Philippolis Info het die wiele aan die rol gesoek vir die besoek van Pasella.

No comments: