Thursday, February 19, 2009

Alternatiewe N1 gaan herbou word

- Jens Friis
BOUWERK aan die vervalle R717 tussen Colesberg en die Oranjerivier gaan na verwagting in April afskop, het die Noord-Kaapse departement van vervoer bekend gemaak. Die aanstel van padwerkkonsultante is reeds in 'n gevorderde stadium.
Weens reusagtige slaggate het minstens een motoris al die pad hier byster geraak en duisende rand se skade aan sy motor opgedoen. Ook 'n Gautenger se sleepwaentjie het in die Desember-vakansie afgeruk. Talle motoriste moes bande omruil omdat hulle nie betyds die enorme slaggate gesien het nie.
Dié pad was voor die bou van die N1 die hoofpad tussen Kaapstad en Johannesburg. Dit dien sedert die 1970's as 'n alternatiewe roete as die N1 gesluit word weens 'n ongeluk in die omgewing van Gariepdam en Springfontein.
In die afgelope maande was daar gereeld sulke ongelukke en dit was die finale doodslag vir hierdie pad wat nie gebou is om hedendaagse swaarvoertuie te dra nie. Hierom is dele van die 30 km lange pad feitlik onrybaar.
Die Philippolis Sakekamer het hom beywer vir die herstel van die pad, want dié dorp se ekonomie ly daaronder.
"Verder vrees ons dat 'n inwoner of besoeker met sy lewe kan boet, want die pad is werklik in 'n patetiese toestand. Daar sal in die toekoms aandag gegee moet word aan die vraag waarom swaar voertuie op hierdie pad toegelaat word as dit nie daarvoor gebou is nie. Andersins sal die herboude pad spoedig wéér verval," sê dr. Doreen Atkinson, 'n sakekamerlid.
Die toestande van die pad is aan die begin van 2008 ondersoek, lui 'n mediaverklaring van die Noord-Kaapse departement van vervoer. "Op 25 Junie verlede jaar is goedkeuring gegee vir die rehabilitasie van die hele stuk pad.
"Om die pad in stand te probeer hou die laaste tyd was feitlik 'n onbegonne taak, want dis tussen 1965 en 1970 gebou. Die pad is dus tussen 38 en 43 jaar oud. Dis veronderstel om 20 jaar te hou en het dus meer as dubbeld so lank diens gedoen.
"Op 26 Januarie is 'n vergadering gehou om die proses vir die aanstel van (padwerk)konsultante te finaliseer. Daar word beplan dat die rehabilitasie van die pad in April sal begin."
Die slegste deel van die roete is sowat 10 km uit Colesberg waar dit skaars moontlik is om vinniger as 20 km per uur te ry.
Hier het die slaggate in die noordelike en suidelike baan van die pad al so aangegroei dit dit bymekaar aansluit en een groot stuk gruispad vorm.
Vir maande was hier geen waarskuwingsborde wat motoriste op die slaggate gewys het nie óf dié borde is staangemaak langs goeie dele van die pad.
Hoeveel die bouwerk gaan kos is nog onbekend.

Groenhuis Gastehuis, Philippolis, 051-773-0073


Deurdringende reën bly Suidwes-Vrystaat ontwyk

- Jens Friis
PHILIPPOLIS. ’n Dag of wat nadat Moses, 'n weerprofeet, sy ellelang baard vir die eerste keer in 23 jaar afgeknip het, het goeie reën oor die Vrystaat uitgesak, het Volksblad onlangs berig.
Mnr. Danie (Moses) Cilliers van Philippolis het toe voorspel “abnormale groot reën” gaan van 9 Februarie met volmaan uitsak, "want die slange en skilpaaie loop, die springbokke lam goed, en die sprinkane is ook hier."
Maar 9 Februarie het gekom en gegaan en hoewel goeie reën elders uitgesak het, is die Suidwes-Vrystaat steeds in die greep van 'n rampspoedige droogte.
Philippolis se watertafel is van die laagste in menseheugenis. Mnr. Jens Friis het in 1979 'n boorgat op sy erf langs Koksfonteinstraat, Philippolis, laat sink. Deur die ergste droogtes die afgelope drie dekades het hierdie boorgat getrou water bly lewer. "Maar dié konstante boorgat van 100 m het al met meer as die helfte verswak. Dis die swakste in 30 jaar."
Talle boere moes reeds maande gelede vir hul windpompe langer pype insit, want anders sal daar nie water in hul skape se krippe wees nie.
Verder het beide Philippolis se fonteine, waaruit sommige erwe leiwater kry, opgedroog. Die dorpsdamme is maande lank reeds kurkdroog. Was dit nie vir 'n pypleiding na die Oranjerivier nie, sou dié dorp nie drinkwater gehad het nie.
Hoewel verspreide buie val, kry ook die diere swaar. Só word wild deesdae op plekke gesien word waar hulle andersins nooit sou gewei het nie.
Groot was die verbasing van die Lombards van Justisiestraat, Philippolis, een vroegoggend toe 'n uitgegroeide koedoe aan hul vyeboom knibbel. Dié bul het waarskynlik na groenigheid kom soek in hul tuin aan die rand van die dorp, sê mev. Elsa Lombard, 'n onderwyseres aan Bergmanshoogte Intermediêr.
Afloopwatertjies van die R717 tussen Trompsburg en Philippolis sorg vir groen grassies langs dié pad. Meer diere as gewoonlik word hierdeur nader gelok, waaronder duikertjies, springhase, ribboke en ystervarke. 'n Toeris, mnr. Gert Jacobs van Kemptonpark, het verlede week opgemerk "dat jy hier meer diere sien as in die Krugerwildtuin!"
Genadiglik lê Philippolis se beste reënmaand voor. Die gemiddelde reënval vir Maart hier is 70 mm. In Februarie val gemiddeld 66,8 mm en in die derde plek is Januarie met 49,5 mm.
Sover bekend het dit in Maart 1976 die meeste nog in Philippolis gereën toe 244 mm uitgesak het. Volgens statistieke van die Instituut vir Grond, Klimaat en Water (ISCW) van die Landbounavorsingsraad het in twee ander jare ook meer as 200 mm op Philippolis in hierdie maand geval. Dit is 216 mm in onderskeidelik 1920 en 1924.
'n Verdere vyf keer het dit gebeur dat meer as 150 mm in Maart gemeet is. Die eerste maal was in 1881 (157 mm) en daarna in 1892 (153 mm), 1926 (164 mm) en 1927 (153 mm). Die laaste keer was in 1997 toe daar 187 mm in Philippolis geval het.
Die gemiddelde reënval vir Philippolis is 387 mm per jaar.

Philippolisers kan skaars onthou wanneer laas hul dorpsdamme só mooi vol was. Dié dorp se watertafel is die laagste in minstens 30 jaar. Foto: Jens Friis

Boer tronk toe oor nagemaakte tier-foto


'n Suid-Chinese tier lê in die Laohu-wildreservaat buite Philippolis waar daar met dié hoogs bedreigde diere geteel word. 'n Chinese boer, Zhou Zhenglong (54) is tronk toe gestuur nadat hy 'n foto van 'n Suid-Chinese tier gemanipuleer het en voorgegee het dat hy dié tier onlangs afgeneem het. Dit het 'n opskudding in China veroorsaak omdat dié tiere feitlik nooit meer gesien word. Die departement van bosbou het selfs vir hom 'n beloning van 20 000 yuan gegee. Maar ondersoek is ingestel oor die egtheid van die foto's toe daar op ou plakkate afgekom is met 'n tier daarop wat sterk herinner aan Zhenglong se foto. Daar is toe gevind dat hy dié plakkaat kort vantevore by 'n ander boere geleen het. Zhenglong is aan bedrog skludig bevind en vir 30 maande tronk toe gestuur, berig AFP. Foto: Jens Friis

As dit sneeu in Philippolis

PHILIPPOLIS. Suid-Afrika word dikwels bemark as "'n wêreld in een land" - en wat weerstoestande betref is dit beslis óók waar. As jy die sweet afvee tydens die snikhete warm dae wat ons die afgelope tyd beleef het, kan jy jou skaars indink dat dit soms só koud kan word dat daar sneeu in die Vrystaat val. In Philippolis is daar op meerdere dae onlangs temperature van in die 40 C aangeteken. MEV. ALIDA DE BEER van die plaas Cadeau, Philippolis, het die meegaande foto van Voortrekkerstraat, Philippolis, enkele jaar gelede geneem toe die Koningin van die Koue hier aangedoen het.

Herstelfonds gestig

PHILIPPOLIS. 'n Herstelfonds is deur die plaaslike N.G. Kerk gestig vir die instandhouding van dié kerkgebou, 'n nasionale gedenkwaardigheid. Die instandhouding daarvan kos der duisende rande en die kleinerige gemeente móét lank vooruit hiervoor begroot. Belangstellendes wat 'n bydrae wil maak kan mnr. Danie van den Berg by 051-773-0388 bel. Van den Berg tree as koördineerder van die projek op. Foto: Jens Friis