Sunday, October 12, 2008

Kerk vanjaar 125 jaar oud

PHILIPPOLIS. Die Gereformeerde Kerk langs Tobie Mullerstraat, Philippolis, is vanjaar op die kop 125 jaar oud.
Dit word trots aangekondig deur die jaartal "1883" wat bokant die hoofingang na dié godswoning pryk.
"Die eerste 20 jaar van die kerk se geskiedenis is in 'n kits uitgewis tydens die Anglo-Boereoorlog," vertel me. Elize Pienaar, 'n gemeentelid en argivaris van die dorpsmuseum.
"Met die oorlog is die konsistoriekas oopgebreek. Al die dokumente daarin, waaronder foto's, asook die trou- en doopregisters, is uitgedra en indie straat gegooi. Ook die HoogHollandse Kerkbybel is aan die brand gesteek. Alles het uitgebrand," vertel Pienaar.
Buiten die elektriese ligte en van die vensters, is die kerk nog grootliks soos destyds.
Die oorspronklike preekstoel, doopvont, banke, nagmaalservies en konsistoriestoele word nog gebruik.
"Daar is wel 'n nuwe orrel, maar die oorspronklike traporreltjie staan steeds in die kerk."

Philippolis deurdrenk met sendinggeskiedenis



- JENS FRIIS en DR. GERDRIE VAN DER MERWE


PHILIPPOLIS. - Min plekke in Suid-Afrika se vroegste geskiedenis is só deurdrenk met sendinggeskiedenis as dié van Philippolis. Hiervan getuig die artikels en boeke wat reeds verskyn het oor Philippolis se sending-historiese verlede.
Ná die vertrek van die Griekwas in 1861 het eerw. W. Torglan Corner, 'n bejaarde 72-jarige Amerikaanse sendeling, die Blye Evangelie aan die oorblywende Griekwas op Philippolis verkondig.
Met die koms van ds. Colin Fraser in 1863 ondersteun hy die sendingtaak met hart en siel .
Omdat die bestaande Griekwakerk deur die NG Kerk aangekoop is as aanbiddingsplek, koop die kerkraad 'n woonhuis teen 75 pond en rig dit in as 'n gebedshuis.
'n Notuleboek in die handskrif van ds. Colin Fraser word aangeskaf en 'n eerste kerkraad gekies.
As ouderlinge dien Karolis Pas, Gert de Boer en April Dereka.
Die diakens was Willem Sloana,George Eland en Hendrik Olifant.
In 1876 sterf die bejaarde eerwaarde Corner.
Tot Fraser se aftrede in 1907 sou hy die sendingkerk bedien .
Fraser is bygestaan deur mnr. J. Bohnen . Dit was 'n groot oomblik toe 'n nuwe kerkgebou in Burgerstraat, Philippolis, op 2 November 1878 ingewy is.
Volgens boeke is die stigtingsdatum van die sendingkerk 1889.
Ná die vertrek van Fraser in 1907 besluit die kerkraad om voortaan 'n volwaardige sendeling in diens te neem.
In 1910 konstitueer die eerste NG Kerk in Afrika in die Oranje-Vrystaat se eerste sinode.
Op 23 Mei 1910 word eerw. W.P.J. Poen van Harrismith as die eerste sendeling op Philippolis bevestig. Hier werk hierdie uitstekende herder en leraar tot 1915.
Volgens ander kerkbronne word die swart gemeente van die NG Kerk in Afrika eers in 1916 gestig.
Eers in 1926 word eerw. Hendrik de Waal Esterhuyzen suksesvol beroep. Hy sterf in 1932 en word opgevolg deur eerw. D.J. Basson. Hy vertrek in 1936, waarna ds. C.J. van Niekerk van die Moederkerk weer instaan .
In 1938 word evangelis S. Khame van Trompsburg beroep. Hy arbei op Philippolis tot 1942.
Ná twee jaar van herderloosheid word eerw. W.M.D. van Zyl van Aberdeen in 1944 die nuwe sendeling. Hy was iemand wat tot in 1952 met oorgawe en toewyding werk.
Op 8 Februarie 1947 word 'n nuwe kerkgebou in Poding Tse Rolo ingewy.
Dit was 'n ruim gebou met 400 sitplekke wat £1 152 gekos het.
Die volgende leraar was ds. W.A. Rossouw wat tot in 1956 onder die mense van Poding Tse Rolo werk.
Ds. W.A. Rossouw word opgevolg deur moruti B.S.T. Likate. Teen 1966 was daar in die gemeente 615 belydende lidmate.
Hy word opgevolg deur moruti A.S. Moeketsi.
In 1971 was daar 404 belydende lidmate, wat in 1973 groei tot 424 lidmate.
Ná 'n lang vakature word moruti S.M. Maleho die leraar. In 1983 was daar 355 belydende lidmate.In 1985 was moruti B.T. Ntisime leraar en in 1988 is moruti M.B. Maile die leraar met 652 belydende lidmate. Ná 'n lang vakature is moruti M.A. Magwira in 1995 die leraar. In dié tyd is daar 592 lidmate en moruti L.J. Phondhi word in 1996 die leraar.
Intussen neem die kerkspanningen -stryd toe tussen die Verenigende Gereformeerde Kerk en die NGKA (Sinode van Phororo).
Dit sou ook die kerk op Poding Tse Rolo skeur. In 1997 word moruti I.S. Ntsabo die leraar. Hy het tot enkele maande gelede die gemeente van die NGKA se 592 belydende lidmate bedien.

Deur die takke

Die maan is sigbaar deur die takke van 'n seringboom langs Philipstraat, Philippolis. Foto: Jens Friis

'n Trop lammerooie

'n Trop ooie en lammers loer na die kamera terwyl mnr. Sybok Mohale hulle met die perd Whisky aanjaag. Die foto is geneem langs die Coetzees se plaas Bloemhof op die stil teerpad tussen Trompsburg en Edenburg. Foto: Jens Friis

Tower (vygie)tapyt

Oktober is voorwaar die mooiste, mooiste maand. Mnr. Niel de Leeuw en me. Marnie van Wyk gesels tussen 'n plaat vygies wat geil groei (én blom) langs Philipstraat in die woonbuurt Rowelsfontein, Philippolis. In die agtergrond is Die Stal, 'n anneks tot die Groenhuis Gastehuis.

700 Philippolisers speel sokker by 8 klubs


Helderkleurige sokkertruie word sondroog gemaak in die woonbuurt Poding Tse Rolo. Sewehonderd Philippolisers speel sokker by agt klubs, luidens navorsing deur mnr. Graham Williams, 'n heeltydse sportafrigter en meestersgraadstudent in ontwikkelingstudie aan die Universiteit van die Vrystaat.