Sunday, May 20, 2012

Groenhuis Guesthouse www.philippolis.co.za

Skeepskanonne 150 jaar in Philippolis

- Jens Friis PHILIPPOLIS. Vanjaar is dit mooitjies op die kop 150 jaar wat twee skeepskanonne 'n tuiste gevind het in Philippolis, maar in al dié jare is daar nog bitterselde met hulle gevuur. Die twee ou skeepskanonne, waarskynlik die oudste Westerse artefak in Philippolis, wat nagenoeg 300 jaar gelede deur die Bailey & Pegg-ysterwerke vervaardig is, waak oor die dorp. Hulle is gemonteer op voetstukke en staan bo-op 'n klipkoppie in die hart van die dorp. Elkeen weeg sowat 350 kg en het 'n reikafstand van sowat 500 m. Om dit van nader te beskou moet die klipkoppie van die kant van die P.J. Nienaberplein langs Voortrekkerstraat uitgeklouter word. Prof. A.W.G. Raath wys in sy boek Vesting in die Transgariep dat daar telkens in historiese stukke na die kanonne verwys word. "Hierdie kanonne is waarskynlik twee van die drie kanonne wat deur Adam Kok van Port Elizabeth aangeskaf is, waarop in 1862 (dus 150 jaar gelede) onder die koffie en suiker in die winkel van Pulvermacher beslag gelê is, wat in Oktober in 'n inventaris van die landdros oor die inhoud van die tronk voorkom en wat deur die heer Eagle voorgestel is om gedurende die Basoetoe-oorloë op wa-agterstelle gemonteer moes word." Kok wou vermoedelik die kanonne saamneem op die Griekwas se Groot Trek na Niemandsland (Griekwaland-Oos). Volgens die inventaris van Kok se besittings met sy trek na Kokstad was daar drie kanonne, maar dit is onbekend wat van die derde kanon geword het. Maar nog voordat hy dit kon gebruik, het Philippolis se landdros glo daarop beslag gelê. P.J. Nienaber en C.J.P. le Roux skryf egter in hul boek Bewaring in die Oranje-Vrystaat dat die kanonne deur dr. John Philip, na wie Philippolis genoem is, aan Kok geskenk is. Kok sou dan glo ook hierdie kanonne teen die Boere in die Slag van Swartkoppies (1845) gebruik het. In die eeu en 'n half wat die kanonne in Philippolis is, is dit nog selde afgevuur. Een geval was wel met die herdenking van die Groot Trek in 1938. Mnr. Henning Viljoen, een van die organiseerders van die Ossewatrek op Philippolis, het toe die twee kanonne met 'n skotskar na die Oranjerivier aangery waar die Serfonteinbrug nou is. Hier het die Vrystaters die trekkers van die Kaapkolonie ontmoet. 'n Monument is ook opgerig op 'n nabygeleë koppie om dit te herdenk. In dié jare het die twee kanonne gestaan in die parkie voor die stadsaal en langs die hotel in Voortrekkerstraat. Rondom 1980 is dit straat-op verskuif tot bo-op die koppie waar dit nou nog staan skuins agter die Nienaber-plein. Van hier bo het 'n mens 'n wye blik oor die ganse Philippolis. Met die Witblitsfees in 2000 is daar onder andere weer 'n paar skote met die kanonne geskiet. Feesgangers wat wou, moes op dok vir dié geleentheid en só is 'n paar rand vir die fees geïn.

Friday, May 18, 2012

Vind vrede in galery

- Jens Friis PHILIPPOLIS. Jobhuis, ‘n galery, wat gehuisves word in ‘n pragtig gerestoureerde woning, is die uitstalplek vir ‘n permanente uitstalling van 25 kontemporêre skilderye na aanleiding van die Bybelboeke Job en Klaagliedere. Dié werke kan bloot as kuns in olie op doek beskou word, óf as genesing vir trauma. Maar dis veral laasgenoemde wat vir die kunstenaar, me. Rina Coetzee, bevrediging gee. Die skilderye is ‘n uitbeelding van die kunstenaar se worsteling met depressie. “‘n Besoek aan Jobhuis neem jou op ‘n reis van in kontak kom met jouself, jou emosies en die vind van innerlike vrede. Jy kry geleentheid om in afsondering diep na te dink en uiting aan jou emosies te gee,” sê Coetzee. “Alle mense kan baat vind by ‘n besoek aan Jobhuis. Mense wat lyding of verliese ervaar, getuig veral dat blootstelling aan die skilderye vir hulle van besondere waarde is,” sê dr. Retha du Plessis aan wie die pragtige huis behoort. En as jy deur die besoekersboek blaai blyk dit wel die geval te wees. Só skryf ‘n besoeker uit Welkom: “Hierdie is ‘n oasie vir moeë woestynreisigers. Woord, visie en musiek. ‘n Kragtige salf vir gees.” En iemand uit Hermanus: “God werk met ons op vreemde wyse! Hy kan heelmaak! Ongelooflike skeppingswerk in kleur en klank.” (Om die ervaring te versterk word aangrypende klassieke musiek gespeel in die galery.) Die héélmaakproses word herhaaldelik deur besoekers verwoord: “Dit was ‘n belewenis om hier te wees. Nou kan ek my kind wat kanker het met Job se woorde troos.” En ‘n Pretorianer skryf: “Aangrypend – omdat dit my seun en my eie geestespyn verwoord. Dankie vir inspirasie en ‘n roetekaart uit die pyn”. Maar die besoekers kom ook van oorsee soos uit San Francisco: “I watched my mom struggle with depression throughout my childhood and I remember her personal attachement to Job. It was wonderful to see visually your struggles as I could also relate them to what my mom must also have been experiencing. Thank you!” ’n Tweede vertrek in die galery huisves kommersiële kunswerke, waaronder Coetzee se Bo-Karoo-, Stoelstories- en Kom binne-reeks. Ook werke van kunstenaars uit die omgewing is hier te koop. Coetzee is ’n grafiese kunstenaar, wat talle kinderboeke geïllustreer en kunswerk vir die TV-kinderreekse soos Pumpkin Patch, Mina Moo en Kideo gelewer het. Sy het tot onlangs ook grafiese werk vir die Universiteit van die Vrystaat gedoen. Vir meer besonderhede bel Du Plessis by 083 451 6973 of skryf aan retha@webgrafika.co.za. Die galery is oop van 09:00 tot 17:00. Alternatiewe besoektye kan gereël word deur Coetzee te bel by 051-773-0157.

Friday, May 11, 2012

Lyk toe al die tyd 'n boomstomp?

- Jens Fris

’n BROKKIE inligting wat ’n bejaarde vrou destyds met ’n oud-argeoloog van die Nasionale Museum in Bloemfontein gedeel het oor ’n boomstomp pleks van ’n lyk in ’n kis, spook ná jare steeds by hom.

Was die “lyk” in die kis dalk wel net ’n boomstomp, soos sy vertel het, wonder Cobus Dreyer.

Dreyer het jare lank navorsing gedoen oor die geskiedenis van die inheemse volke van die Vrystaat.

“Dit was baie bevredigend, maar afgesien daarvan ly ek ook aan ‘n ‘outydse siekte’: Enigiets wat oud is, interesseer my,” vertel hy.

“Die ander personeel by die museum het dit geweet. Wanneer daar ’n lid van die publiek met ’n storie, of ’n voorwerp aangekom het en die betrokke departement, soos antropologie of geskiedenis het nie belang gestel nie, het hulle my geroep. Mense kan maklik afgehaal voel as jy nie in hul storie, kiekies of ou Bybel belang stel nie.”

Op dié wyse het hy juwele ontdek.

“So ongeveer 15 jaar gelede, roep die dame by die biblioteek my.

“Kom daar, wag ’n klein, ou vroutjie op my. Jy sou kon sê die tipiese little ol’ lady.

“Kiertsregop, netjies aangetrek, met so ’n krulrand strooihoedjie op die kop.

“Haar naam is Felecite Lowe-Nevett. Sy gee my haar kaartjie. Ek het hom nog. Daar is twee adresse op, een in Umhlanga Rocks en die ander in Stockport in Groot-Brittanje.”

Dié tannie was besig met familie-navorsing en sou enige hulp waardeer. Sy het self van Natal gery en was onderweg na die Kaap.

Haar oupa was die dokter op Philippolis tydens die Anglo-Boereoorlog. Hy dokter Boer en Brit, almal voor die voet. “Oupa het vier dogters gehad, waarvan haar ma een was.”

Een van die susters trou met ’n vent wat daar aankom en kort voor lank is hy 30 000 pond in die skuld. “Seker ’n fortuin vir daardie tyd.”

Die vent bedink toe ’n plan. Hy val van sy perd en “sterf” tragies. Hy word begrawe en die hele hartseerstorie word op sy grafsteen aangebring.

“Sy reken dat daar ’n boomstomp in die kis was, want etlike jare daarna slaan die niksnuts op die diamantvelde uit. Perdfris en gesond.

“Sy het ’n verklaring van ’n private speurder (natuurlik uit daardie tyd) by haar gehad wat dit bevestig het.

“Nou moet ek bieg. Ek het nie die name of vanne van die mense of plaasname of plekke of enige notas neergeskryf nie,” vertel Dreyer.

“ ’n Jaar of wat daarna kry ek ’n brief van haar waarin sy voorstel dat ek haar moet help om die graf te gaan opgrawe om te kyk wat was in die kis.

“Ek het in daardie stadium maar gevoel om nie betrokke te raak nie en skryf toe aan haar: ‘Let sleeping logs lie’. ”

Dit het hom later gepla en hy skryf toe aan haar briewe na albei adresse wat haar egter nie bereik het nie.

“Teen daardie tyd was sy seker al lankal langbome toe.

“Ek het per geleentheid op Philippolis in die ou begraafplaas gaan soek, maar kon nie ’n graf met die hartseerstorie kry nie. Vir al wat ek weet, is hy op ’n plaas begrawe.”

Dreyer sal dit hoog op prys stel as enigiemand iets van dié gebeure weet.

Skryf aan hom by DreyerJ@ Telkomsa.net.

Oom Sterk Gert oorlede

- Jens Friis Figure van legendariese omvang is daar weinig meer, en nou is die platteland nóg een armer. Oom Gert van Biljon (88), oftewel Sterk Gert, van die bejaardetuis op Trompsburg is enkele dae gelede oorlede na 'n lang stryd teen onder meer erge suikersiekte. Dié reus van 'n man het met rede Sterk Gert geheet, want op sy dag kon hy 'n windpompkop sommer so op sy eie teen 'n windpomp uitdra en op sy plek plaas. Maar hy het ook 'n deurgrondige kennis van die Karoo se plante gehad, was 'n kranige versamelaar van oudhede, bouer, boer en geliefde inwoner van Philippolis waar hy die grootste deel van sy lewe gewoon het. Saam met sy oorlede vrou Cielie het hulle geboer suidwes van die dorp wat nou deel vorm van die Laohu-tierreservaat. Maar nadat oom Gert langs Voortrekkerstraat, die hoofstraat van Philippolis, kom woon het, het hy allermins kom stilsit. Met die bou van die Sir Laurens van der Post Skrywershuis en gedenktuin het hy 'n leidende rol gespeel. Hy't as nutsman menige probleem elders in die dorp opgelos en as jou boorgat se pype probleme gee was hy die man om te bel. BOERERATE As die dokter se medisyne nie wou help nie, was oom Gert ook die man om te bel. Van boererate en veldplante het hy baie geweet - en genadiglik het hy dit aangeteken in 'n notaboekie en is feitlik almal ook gepubliseer in die Philippolis Post, die plaaslike gemeenskapskoerant. Was dit nie hiervoor nie, was dit gewis verlore vir die nageslag. “Die Suid-Vrystaat is vol rate wat nie verlore mag gaan nie. Daarom dat ek hul nou aanteken,” het Oom Gert destyds gesê nadat hy meegewerk het met die universiteite van die Vrystaat en Rhodes. Onder die honderde boererate wat neergepen is, tel rate vir bloedvergiftiging en artritis tot snywonde en hoes. As ’n baba tande kry, het die oumense glo weeluise gevang, hul stukkend gedruk en die bloed daarvan aan baba se tandvleise gesmeer. En wat gemaak as iemand flou val van groot hartseer? Dan is een van die gesin se urine blykbaar vir die verdrietige persoon gegee om te drink. Om die smaak te verberg is ’n paar peperment-druppels bygegooi. Hoewel hy nie bereid was om verantwoordelikheid te neem vir die mediese uitwerking van sommige rate nie, het baie egter in ’n stadium vas geglo dié rate werk. “Die oumense het geglo dat jy perskepitte moet fynstamp en snuif as jou neus bloei. Borrie doen ook die ding. Sou nie een van dié twee rate help nie, is dit raadsaam om baie rou of gekookte kool te eet. Sommige glo ook vas daaraan om ’n swart sydoek om die kop te bind en dit agter by die nekwerwel vas te knoop.” CHRYSLER UIT 1934 As daar 'n troue of fees was is oom Gert genader om sy statige 1934-Chrysler uit te trek. Dié motor het die dorp baie plesier verskaf en nadat hy dit opgeknap het, het dit waarlikwaar soos 'n nuwe sikspens gelyk. Des te meer nadat Van Biljon eiehandig die leerafwerking met sorg gerestoureer het. In 2004 toe hy 80 was, het oom Gert gesê dat dit 'n voorreg is om dié swart pragstuk met sy sagte, statige kurwes in te span wanneer daar 'n plaaslike "highday of holiday" is. "Min mense het al in so 'n antieke motor gery en dit gee hulle gewoonlik baie plesier," het hy toe vertel. "Op grondpaaie moet mens maar mooi ry, want 'n skerp klip kan sommer tot 'n pap wiel lei." Die motor se wiele was nie soos vandag s'n plat op die loopvlak nie, maar effens rond - soortgelyk aan 'n fietswiel. Die Chrysler had ook menige interessante ekstras waaroor motors meestal vandag nie meer beskik nie. Dit het ingesluit 'n voorruit wat op bloedige warm somersdae oopgeskuif kon word. Nog 'n lafenis teen die hitte was om die sonvensterklappe te laat sak. Dié het oor die jare al verkleur weens die pyprook van vorige eienaars. Só 'n kosbare motor moet veilig bewaar word. Daarom het Oom Gert dit elke keer toegegooi met 'n reuse, ou kombers voordat hy saans sy waenhuis langs Voortrekkerstraat gesluit het. PLAASWERKTUIE Toe Oom Gert se gesondheid later nie meer na wense was nie, is dié spogmotor verkoop nes 'n uitgebreide aantal antieke plaaswerktuie wat hy versamel het. Hieronder het getel stokoue dorsmasjiene tot grawe, pikke en houtdosies waarin eiers vervoer is. Oom Gert wou graag sien dat dié antieke plaaswerktuie 'n plek vind in 'n eie plaasmuseum, maar helaas het die jare hom ingehaal. Nietemin, laat hy 'n ryke erfenis agter waarvoor baie hom gewis nog lank sal onthou.