Monday, June 22, 2009
Kerk: Herstelfonds
PHILIPPOLIS. 'n Herstelfonds is deur die plaaslike N.G. Kerk gestig vir die instandhouding van dié kerkgebou, 'n nasionale gedenkwaardigheid. Die instandhouding daarvan kos der duisende rande en die kleinerige gemeente móét lank vooruit hiervoor begroot. Belangstellendes wat 'n bydrae wil maak kan mnr. Danie van den Berg by 051-773-0388 bel. Van den Berg tree as koördineerder van die projek op. Foto: Jens Friis
Labarint en doolhof verskil só
PHILIPPOLIS. 'n Besoeker stap die Sir Laurens van der Post Gedenksentrum se waterlabarint. Dié paadjie wat mooitjies ineengerol is soos 'n opgerolde slang is langer as die een sy van 'n rugbyveld. 'n Labarint verskil van 'n doolhof deurdat daar slegs één roete is met 'n begin- en 'n eindpunt. Jy hoef dus nie jou pad te vind soos by 'n doolhof waar daar afdraaipaadjies is nie. Sir Laurens van der Post het geglo dat mens die lewe as 'n reis moet sien - dit gaan nie alleenlik oor die eindpunt oftewel bestemming nie. Foto: Jens Friis
Kapteinsraad verhoog "de straf van dievery" 150 jaar gelede tot 150 houe
- Jens Friis
PHILIPPOLIS. Vanjaar op die kop 150 jaar gelede het die Griekwas se kapteinsraad 'n wetsontwerp deurgevoer waarvolgens "de straf van dievery vergroot worden".
Na dese dag sou niemand waarskynlik in Philippolis, die Griekwa-hoofstad, 'n perd durf waag steel nie, want só sou hy homself 'n sware straf op die hals haal.
Die landdros, kon die dief 'n allemintige drag slae van tot 150 houe oplê. Boonop kon die boef twee jaar tronk toe gestuur word.
Dit sou nie bestaan uit 'n rustige sittery in die tjoekie nie, want die misdadiger sou "harden arbeid" moes verrig in daardie 24 maande.
As iemand met lyfstraf gestraf is, sou hy die een helfte kry op die dag van vonnis en die res op die dag van sy vrylating. 'n Tweede loesing het dus die heeltyd oor sy kop gehang terwyl hy klippe moes kap.
Geen voorsiening is by strafoplegging gemaak vir die betaling van 'n boete nie.
Die straf is só omskryf: "... dat diefstallen van het steelen van een beest, schaap of bok gestraf zal worden van niet minder dan een jaar harden arbeid, en 100 slagen; en wanneer een dief een paard stelen en die verkopen, zal zyn straf vergroot worden tot 2 jaar, na het de regter zal voorkomen, en tot 150 slagen, dog zal het aan die magistraat overlaten worden om de straf te vergrooten of te verligten naar de bescheidenheid van de zaak de rechter zullen voorkomen."
Dié wet is in "het jaar onzes Heeren 1859" deurgevoer onder Adam Eta Kok. Hy het as kaptein waargeneem terwyl Adam Kok III op 'n verkenningstog na Niemandsland was, skryf Karel Schoeman in Griqua Records: The Philippolis Captaincy, 1825-1861.
Buiten Adam Eta Kok, was die ander lede van die kapteinsraad die volgende "Raads Heeren": Lucas van der Westhuis, Hendrick Zwart, en W. Heemro.
In 1862 het die Oranje-Vrystaatse Republiek die ganse gebied suid van die Rietrivier (waaronder die huidige Trompsburg, Edenburg en Philippolis) van die Griekwas gekoop en toe na Niemandsland (Kokstad-omgewing) verhuis.

Subscribe to:
Posts (Atom)