Salmon-se-dam, een van Philippolis se dorpsdamme, het enkele dae gelede vir die eerste keer in etlike jare uitgeloop nadat goeie reën hier uitgesak het.
Monday, December 7, 2009
Skotland?
Uit sy stamland
UIT SY STAMLAND: 'n Amsterdammer, mnr. Niels Burgers, kyk saam met dr. Carin van Schalkwyk, leraar van die N.G. Kerk op Philippolis, na dié kerk se besondere Nederlandse Kanselbybel wat in Arnhem, Nederland, gedruk is. Dié Kanselbybel is tydens die Anglo-Boereoorlog, wat vanjaar 110 jaar gelede uitgebreek het, uit die kerkgebou in Philippolis verwyder. Dit is na Londen gestuur. Die kerkgebou is as 'n Engelse fort gebruik, want die kerktoring was 'n ideale uitkykpunt. Vensters in die toring het as skietgate gedien. Tydens die oorlog is die kerkorrel onherstelbaar beskadig. Die Kanselbybel is destyds deur ene mev. Grobbelaar aan die N.G.-gemeente geskenk. Na etlike dekades in Engeland is die Kanselbybel in die 1990's aan die gemeente terugbesorg. Foto: Jens Friis
N.G. Kersuitvoering 2009
'n Elektrisiteitsonderbreking het die organiseerders van die NG Kerk Philippolis se kerssangdiens, laat naels kou. Só moes mev. Annamarie Vermeulen en haar kosspan 'n maaltyd vir ná die diens voorberei sonder krag. Intussen het mnr. Gerald van der Westhuizen, elektrisiën, 'n kragopwekker van mnr. Danie Cilliers, langs die kerk staan gemaak. Maar rondom 18:00 het die krag wel aangekom. 'n Keer of wat het die elektrisiteit wel weer afgegaan en moes die orrelis vinnig na die klavier oorskuif terwyl die gemeente bly sing het! Agter staan mnr. Nicholaas Jansen van Rensburg, (boorling van Philippolis en deesdae verbonde aan Hoërskool Sentraal in Bloemfontein) en Jo-Retha Smit (solis). Voor is me. Elsa Kolver (blomrangskikkings), me. Martelize Kolver (voorlesings) en dr. Carin van Schalkwyk, leraar van dié gemeente.
Die Sentraal Musiek Akademie Orkes onder leiding van mnr. Stephan Bezuidenhout het opgetree tydens die kerssangdiens. Agter staan Bezuidenhout, Sebastian Wessels en JP Smith. Middel: Ronella Jansen van Rensburg (hoof van die musiekafdeling van Hoërskool Sentraal), Helenna Kleyn en Martin Rossouw. Voor: Elrie van Rensburg en Suzanne Strauss. Elrie is die kleindogter van mev. Desireé Jansen van Rensburg, afrigter van die plaaslike kerkkoor. Suzanne is die dogter van mnr. Willem en mev. Franette Strauss van Philippolis. Foto's: Jens Friis
Thursday, November 5, 2009
Skou 81ste jaar op dorp gehou
PHILIPPOLIS. – Vanjaar is dit die 81ste agtereenvolgende jaar dat dié dorp ’n skou aanbied, asook die 29ste agtereenvolgende jaar dat hier ’n saalperdstreekskou sal plaasvind. Die skou vind plaas op 5, 6 en 7 November“Dié streekskou word allerweë gesien as die sterkste (en dalk die grootste) streekskou in die land,” sê mnr. Johan Lambrechts, een van die organiseerders van die skou. Vertoners van so ver as Wellington word verwag. Die perdeklasse begin Donderdag en hou aan tot Saterdagaand.Vrydag vind ook ’n boerbokveldskou en ’n skaaphondkompetisie plaas, terwyl die Suid-Vrystaatse veldmerino-kampioenskappe Saterdag aan die beurt kom. Saans is dit kuiertyd en ’n stoepdansparty word gehou. “Soos gewoonlik nooi ons weer senior mense wat aktief was op skoue en hard gewerk het om hul onderskeie rasse te bevorder, vir die Saterdag hierheen.” – Jens Friis
Straatoptog met klank en kleur
- Jens Friis
PHILIPPOLIS. Só iets het die inwoners nog nie vantevore gesien nie.
En met rede, want 'n "murga" is darem ook nou nie iets wat jy agter elke Suid-Vrystaatse bos uitskop nie.
Dis dus g'n wonder oud en jonk kon hul nuuskierigheid nie beteuel toe dié musikale straatoptog se eerste tromslae van ver af nou ander Saterdag gehoor is nie.
Van vroegdag af het die byna 300 kinders gereed gemaak vir dié toetie deur gekleurde T-hemde aan te trek en die laaste verstellings te maak aan hul tuisgemaakte musiekinstrumente soos vuvuzelas, tromme en goete wat jy lekker hard kon skud.
"Maar die voorbereidings het reeds sowat 'n maand gelede begin," vertel me. Anita Muller, koördineerder van die projek. "Elke Vrydag en Saterdag het die kinders gebruik om hul musiekinstrumente te maak en om te oefen vir die murga. 'n Goeie ritmepatroon is veral belangrik, want daar moet orde wees aan só 'n optog."
Vir die oefenry het me. Elene Coetzer, 'n musiekkenner, spesiaal gekom vanaf Bloemfontein.
Ook die Khula Gariep Partnership het meegehelp dat die straatoptog op die ou end letterlik op die planke gebring kon word.
Beide Bergmanshoogte Intermediêr en Poding Tse Rolo se primêre skool het aan die murga deelgeneem wat by Bergmanshoogte begin het en toe deur die hoofstraat van Philippolis gegaan het waarna daar weggeswink is na Poding Tse Rolo.
Aan die voorpunt van die optog was die polisie wat seker gemaak het dat almal veilig by die nuwe gemeenskapsaal in Poding Tse Rolo kom.
Hier is daar toe konsert gehou en 'n hoogtepunt was 'n viooluitvoering - iets wat na alle waarskynlikheid nog nooit in dié gemeenskapsaal gehoor is nie.
En om die feestelikheid af te sluit is 'n heerlike ete bedien om die leë mae te vul, want só 'n optog oor sowat 3 km vat darem aan 'n kind se lyf - self al was dit 'n grote heerlikheid.
In Philippolis is die "murga" die afgelope weke verafrikaans tot 'n "moerga". Soos een van die kinders opgemerk het: "Dis omdat daai man wat voor loop die trom lekker moer".
Maar wikipedia.org leer anders. Hiervolgens is die murga 'n gewilde musikale straatoptog in Suid-Amerikaanse lande soos Argentinië en Uruguay tydens karnavaltyd.
Mans neem meestal daaraan deel - sowat 17. En die kostuums wat die deelnemers aantrek is altyd belangrik, want dit moet kleurvol wees en by die tema van die spesifieke murga pas.
Hoe dit ookal sy, "moerga" of "murga" - só iets het Philippolis nog nie vantevore gesien nie - en hopelik sal dié dorp se strate volgende jaar wéér só opgehelder word.

Monday, August 17, 2009
Friday, July 17, 2009
UV-REKTOR OPEN UITSTALLING:
Prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, open op Sondag 2 Augustus ’n uitstalling op Philippolis, Portret van Philippolis, 1822–2009. Dié uitstalling bied ’n blik op die oudste nedersetting in die Vrystaat met behulp van skilderye, foto’s, boeke en dokumente. Jansen sal ook gesels oor sy nuwe boek, Knowledge in the Blood. Vir meer inligting bel mnr. Richard Proctor-Simms van Oom Japie se Huis by 051-773-0050. Foto: JENS FRIIS
Monday, July 6, 2009
Grondpad verby die Kruithuisie
Monday, June 22, 2009
Kerk: Herstelfonds
PHILIPPOLIS. 'n Herstelfonds is deur die plaaslike N.G. Kerk gestig vir die instandhouding van dié kerkgebou, 'n nasionale gedenkwaardigheid. Die instandhouding daarvan kos der duisende rande en die kleinerige gemeente móét lank vooruit hiervoor begroot. Belangstellendes wat 'n bydrae wil maak kan mnr. Danie van den Berg by 051-773-0388 bel. Van den Berg tree as koördineerder van die projek op. Foto: Jens Friis
Labarint en doolhof verskil só
PHILIPPOLIS. 'n Besoeker stap die Sir Laurens van der Post Gedenksentrum se waterlabarint. Dié paadjie wat mooitjies ineengerol is soos 'n opgerolde slang is langer as die een sy van 'n rugbyveld. 'n Labarint verskil van 'n doolhof deurdat daar slegs één roete is met 'n begin- en 'n eindpunt. Jy hoef dus nie jou pad te vind soos by 'n doolhof waar daar afdraaipaadjies is nie. Sir Laurens van der Post het geglo dat mens die lewe as 'n reis moet sien - dit gaan nie alleenlik oor die eindpunt oftewel bestemming nie. Foto: Jens Friis
Kapteinsraad verhoog "de straf van dievery" 150 jaar gelede tot 150 houe
- Jens Friis
PHILIPPOLIS. Vanjaar op die kop 150 jaar gelede het die Griekwas se kapteinsraad 'n wetsontwerp deurgevoer waarvolgens "de straf van dievery vergroot worden".
Na dese dag sou niemand waarskynlik in Philippolis, die Griekwa-hoofstad, 'n perd durf waag steel nie, want só sou hy homself 'n sware straf op die hals haal.
Die landdros, kon die dief 'n allemintige drag slae van tot 150 houe oplê. Boonop kon die boef twee jaar tronk toe gestuur word.
Dit sou nie bestaan uit 'n rustige sittery in die tjoekie nie, want die misdadiger sou "harden arbeid" moes verrig in daardie 24 maande.
As iemand met lyfstraf gestraf is, sou hy die een helfte kry op die dag van vonnis en die res op die dag van sy vrylating. 'n Tweede loesing het dus die heeltyd oor sy kop gehang terwyl hy klippe moes kap.
Geen voorsiening is by strafoplegging gemaak vir die betaling van 'n boete nie.
Die straf is só omskryf: "... dat diefstallen van het steelen van een beest, schaap of bok gestraf zal worden van niet minder dan een jaar harden arbeid, en 100 slagen; en wanneer een dief een paard stelen en die verkopen, zal zyn straf vergroot worden tot 2 jaar, na het de regter zal voorkomen, en tot 150 slagen, dog zal het aan die magistraat overlaten worden om de straf te vergrooten of te verligten naar de bescheidenheid van de zaak de rechter zullen voorkomen."
Dié wet is in "het jaar onzes Heeren 1859" deurgevoer onder Adam Eta Kok. Hy het as kaptein waargeneem terwyl Adam Kok III op 'n verkenningstog na Niemandsland was, skryf Karel Schoeman in Griqua Records: The Philippolis Captaincy, 1825-1861.
Buiten Adam Eta Kok, was die ander lede van die kapteinsraad die volgende "Raads Heeren": Lucas van der Westhuis, Hendrick Zwart, en W. Heemro.
In 1862 het die Oranje-Vrystaatse Republiek die ganse gebied suid van die Rietrivier (waaronder die huidige Trompsburg, Edenburg en Philippolis) van die Griekwas gekoop en toe na Niemandsland (Kokstad-omgewing) verhuis.

Thursday, February 19, 2009
Aan die einde van die reënboog ...
PHILIPPOLIS. Moenie aan die einde van dié pad ’n reënboog óf ’n pot vol goud verwag nie. Langs die R717 tussen Colesberg en die Oranjerivier wag daar eerder ’n magdom slaggate op reisigers. Sowat 10 km buite Colesberg is die pad só sleg dat dit onmoontlik is om vinniger as 20 km/h te ry. Die Philippolis-sakekamer het versoekskrifte aan verskeie belanghebbendes gestuur. “Ons hoop dat die pad vinnig herstel sal word, want andersins kan die slaggate maklik tot ernstige ongelukke lei,” sê dr. Doreen Atkinson, ’n lid van dié sakekamer. Foto: Jens Friis
Dié oë laat wêreld stééds leef
PHILIPPOLIS. Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. In die afgelope snikhete dae was Philippolis (soos soveel ander dorpe) meer sónder as mét water. Op ’n keer was daar selfs vir 60 uur nie ’n druppel in die krane nie. Dít terwyl Kopanong-munisipaliteit en Bloemwater skaamteloos aanspreeklikheid probeer ontduik deur vingers na mekaar te wys.
Maar nou moet ek bysê: Waternood is niks nuuts in dié geweste nie. Só is dit ’n vergete feit dat Philippolis, die oudste nedersetting in die Vrystaat, 180 jaar gelede verskuif is – juis omdat die dorpsfonteine se oë droog was.
In 1822 is ’n skool vir die Transgariep se Boesmans op Philippolis gestig deur die Londense Sendinggenootskap (LSG) en mettertyd het die een ná die ander Baster ook hier huis gebou. In die vroegste korrespondensie van sendelinge en besoekers word telkens vertel van dié nedersetting se waternood.
Só skryf sendeling John Melvill in 1827 dat Philippolis nie geskik is vir ‘n sendingstasie nie, want die fontein is só swak dat daar nie eens genoeg drinkwater vir die die inwoners se beeste is nie.“Daar mag hoogstens genoeg water wees om sewe of agt klein tuintjies nat te lei.”
In dieselfde jaar op 10 April het die Griekwaraad dit gevolglik oorweeg om die nedersetting te verskuif na Grootfontein, ’n plaas 16 km noordwes van Philippolis, wat deesdae behoort aan John Kolver.Daar het egter niks hiervan gekom nie – dalk omdat daar deurdringende reën geval en die fonteine weer begin vloei het?
Maar 1829 (180 jaar gelede) was dit wéér kurkdroog in die Transgariep. Daarom het die Griekwaraad besluit: Philippolis móét skuif en wel na die standhoudende Boesmansfontein, skryf Karel Schoeman in The Griqua Mission at Philippolis, 1822-1837.Dié plaas het aan die LSG behoort en is gebruik vir sendingwerk onder die Boesmans – soos die naam aandui. Boesmansfontein is nagenoeg 10 km noord van die dorp en die Jacobson-familie boer deesdae hier.Hoewel die Griekwaraad destyds gesê het dat die nedersetting moes skuif, het dié besluit weinig steun onder die inwoners geniet.
Teen Oktober 1829 het slegs Melvill en die familie van Adam Kok II na Boesmansfontein verhuis. Die Basters (ook genoem Ou Inwoners) wou nie hul huise opsê nie. Die moontlikheid is ook daar dat hul teenstand ras-geïnspireerd was, want Boesmansfontein was Boesman-wêreld. Dis welbekend dat die Griekwas en die Boesmans nie om dieselfde vuur gesit het nie om dit sagkens te stel.Philippolis het dus net gebly waar dit was – water of te nie.
Melvill skryf dat hy gereeld na die talle fonteine in die distrik moes reis om sy kuddes daar te bearbei. Melding word onder meer gemaak van Schietfontein (noordwes van Philippolis waar Jannie Kruger deesdae boer), Rondefontein (net noord van die hedendaagse dorp Springfontein), en Toomfontein (tussen Trompsburg en Edenburg).
Omdat die Boesmans nomadies was en die Griekwas ook maar moes trek waar daar weiding en water vir hul diere was, was sendingwerk in droogtetye nóg moeiliker.
In 1830 het daar byvoorbeeld deurdringende reën uitgesak ná ’n uitmergelende droogte.
Die gesinne het toe nader aan die Philippolis-sendingstasie getrek en gevolglik kon meer kinders skool gaan. Daar was dié jaar sommige dae tot 80 kinders in die skool en kerkdienste is deur tot 200 lidmate bygewoon.
Volgens Melvill het die Griekwas tuinmaak bo die plant van mielies verkies. “Buiten groente het hulle ook perskes, vye en druiwe geplant” . . . met die water van “50 fonteine” uit die omgewing.Tog was die water te min om landerye aan te lê en genoeg kos te produseer.
Vandag is dit steeds ’n gebrek aan water wat dié geweste se ontwikkeling kniehalter.
Dit was dus ’n grootse dag toe ’n pypleiding in 1999 van die Oranjerivier (30 km suid) aangelê is.
Maar dié tien jaar oue pypleiding was toe skynbaar nie die oplossing vir Philippolis se eeue oue waternood nie, want oor die feestyd was die pype kurkdroog.Ja, hoe meer dinge verander, hoe meer verander niks.
'n Wêreld in een land
- Jens Friis
"Ek dink ons almal in Suid-Afrika is nou daar waar ons wil uitpraat. Jy praat uit die familie uit, soort van. Selfs die ANC is op 'n plek waar hy gesplit het weens selfondersoek." – Etienne van Heerden in 'n By-onderhoud oor sy jongste roman, 30 Nagte in Amsterdam

"WANNEER is daai troue in die Glaspaleis?," vra ek Seun, ons tuinwerker, toe hy in die kar klim. "Hóé sê maneer?", vra hy met 'n frons op sy voorkop.
Seun se Afrikaans is so-so. Daarom kos dit stadig praat, ryklik van Engelse woord gebruik maak, én herhaal.
"Oh, die troue, maneer," sê hy met blink oë oor die vooruitsig van dié doe. "Dis die twenty-sixth. Die day after Christmas."
"Waarom trou mens dán," wonder ek, maar ook Seun trek net sy skouers op oor dié datum.
"Het jy al die wit pak gekoop wat jy wil dra?"
"Oh, die pak – ja, ek gaan die wit pak dra."
Ek het al meerdere keer gemaan (met baie Engelse woorde om die boodskap klinkklaar oor te dra): "Wit suits is unpractial in Afrika."
Maar Seun hou voet by stuk. 'n Wit pak gáán hy dra.
Hy sit langs my in die kar. Dis 15:30 en ek is op pad werk toe, Volksblad toe.
Seun werk net 'n uur per week by ons. Daar kom tuindienste en die meenthuis waar ons bly (terwyl ons bou) het in elk geval net 'n grasperk die grootte van 'n posseël.
Dikwels weet ek nie wat om hom te laat doen nie. 'n Buurvrou se mond het oopgehang toe ek hom nou die dag die wasgoed laat ophang.
Soms poets Seun ons skoene (maar hier is nie rerig stof in Woodlands waar ons bly nie), maak die gras nat (maar deesdae reën dit genoeg dat dit nie rerig nodig is nie), of skrop die gasbraaier (as ons eenmaal op 'n reëndag gebraai het).
Maar ek het al gemerk hy hou nie van laasgenoemde nie, want sy klere kan vuil word. Soos 'n vriendin graag oor haarself sê: "'n Vrou van pêrels doen darem nie sulke takies nie!"
Wat Seun wel elke Dinsdag getrou doen is om ons vullissakke op straat uit te sit.
O-ja, en dis ook goed dat hy hier is, want dit sus die gewete dat oorskietkos dan nie in die asblik beland nie.
Seun time sy werk fyn dat hy by die ander meenthuise klaar is as ek smiddag werk toe ry. Dan spaar hy die taxi se R7 tot in die middestad voordat hy na Fase 4 ry.
Die robot by Tempe se ingang word groen. Ek en Seun ry in Jan van Riebeeck op in die rigting van Volksblad.
Hy het sy "designer" sonbril op. Dié dra hy buig of bars - selfs op bewolkte dae. Nes die wit pak.
Verlede week het hy dié sonbril so byna van sy kop geskrik. Dít het gebeur terwyl hy gras aan't sny was by Nommer 14 en 'n slang tussen die plante verdwyn het.
Seun hou ook nie van muise nie (nes ek).
Dié knaagdiere het hulself tuis gemaak in ons garage. Hulle het die water in die wasmasjien se pyp geruik en dit aan flarde geknaag. Wasdag was die garagevloer die ene bolle skuim. Om die pyp reg te maak het R562 gekos!
Toe Seun dié week opdaag moes hy vir 'n verandering moue oprol. Die gif het gewerk en die garage het gestink na dooie muis.
Maar Seun was gou om te vra waar is die besem. Hy wou die muise hiermee uitvee - hy gril om die meisie aan hul sterte rond te dra.
Toe die kleurling-bediende van Nommer 11 dit sien, het sy sy been getrek: "Vandag se swartmense is ook nie meer wat hulle was nie!"
In 2de Laan swiep 'n vrou in 'n gietswart BMW verby my 1998-Volkswagen Chico . Vir Seun is dié swart kar byna net so mooi soos die wit pak wat hy begeer.
Wat dink sy generasie is nóg grand?, pols ek.
"'n Vibe … like in parties," verduidelik hy.
Maar hy stem gou saam dat dit nie nét fashionable is onder swartes nie. Almal hou van partytjie hou.
"Ok," sê hy. "Maar iets anders: swartmense, hulle hou van knives en guns. Hulle moet dit dra vir self protection."
"Goodness, Seun! In wat se land leef ons?", sê ek kopskuddend terwyl ek dink aan die kontroversiële Wapenwet en die inhandiging van gewere.
"Oh, ja. En dan sokker. Sokker … Ons hou van sokker. Altyd."
Maar Seun reken dis nie goed dat ek oor 'n naweek na Vodacompark gaan om na Free State Celtics te kyk nie. "Daar is tsotsi's. As maneer gaan, dan moet hy liewers by die VIP's sit."
"Dis nie reg nie, Seun. Jy kan dan na die Cheetahs kom kyk en jy sal niks oorkom nie …?"
Seun bly stil. Hy weet tog ook nie.
"Ja, die world, hy is nie right nie …," sê Seun. "Dis net soos hierdie mannetjies. By 'n vibe tel hulle elke aand 'n ander meisietjie op. In die ou tyd was dit anders. Toe, die kinders het geluister na hul parents," sê Seun (21), self maar nog 'n seun, maar hy het wel al 'n dogtertjie van 3.
"Ja," sug ek. "Kyk net vir daai Julius Malema van die Youth League. Vir hom is Zuma Jesus. Hy sê mos as Zuma nie president word nie sal hy vir hom kill."
"Wat!?" sê Seun geskok. Hiervan het hy nog nie gehoor nie.
"Die Youth League gaan die ANC nog seermaak," sê ek vol bravade om te toets wat is sy reaksie. Maar daar is nie tyd vir verder praat nie. Ons is in Nelson Mandela-straat. Seun moet uitspring om 'n taxi te haal vóórdat ek verby die sekuriteitswagte ry by Volksblad se parkering.
Volgende week sal ons wéér praat: voel-voel om mekaar se wêrelde beter te verken.

Alternatiewe N1 gaan herbou word
- Jens Friis
BOUWERK aan die vervalle R717 tussen Colesberg en die Oranjerivier gaan na verwagting in April afskop, het die Noord-Kaapse departement van vervoer bekend gemaak. Die aanstel van padwerkkonsultante is reeds in 'n gevorderde stadium.
Weens reusagtige slaggate het minstens een motoris al die pad hier byster geraak en duisende rand se skade aan sy motor opgedoen. Ook 'n Gautenger se sleepwaentjie het in die Desember-vakansie afgeruk. Talle motoriste moes bande omruil omdat hulle nie betyds die enorme slaggate gesien het nie.
Dié pad was voor die bou van die N1 die hoofpad tussen Kaapstad en Johannesburg. Dit dien sedert die 1970's as 'n alternatiewe roete as die N1 gesluit word weens 'n ongeluk in die omgewing van Gariepdam en Springfontein.
In die afgelope maande was daar gereeld sulke ongelukke en dit was die finale doodslag vir hierdie pad wat nie gebou is om hedendaagse swaarvoertuie te dra nie. Hierom is dele van die 30 km lange pad feitlik onrybaar.
Die Philippolis Sakekamer het hom beywer vir die herstel van die pad, want dié dorp se ekonomie ly daaronder.
"Verder vrees ons dat 'n inwoner of besoeker met sy lewe kan boet, want die pad is werklik in 'n patetiese toestand. Daar sal in die toekoms aandag gegee moet word aan die vraag waarom swaar voertuie op hierdie pad toegelaat word as dit nie daarvoor gebou is nie. Andersins sal die herboude pad spoedig wéér verval," sê dr. Doreen Atkinson, 'n sakekamerlid.
Die toestande van die pad is aan die begin van 2008 ondersoek, lui 'n mediaverklaring van die Noord-Kaapse departement van vervoer. "Op 25 Junie verlede jaar is goedkeuring gegee vir die rehabilitasie van die hele stuk pad.
"Om die pad in stand te probeer hou die laaste tyd was feitlik 'n onbegonne taak, want dis tussen 1965 en 1970 gebou. Die pad is dus tussen 38 en 43 jaar oud. Dis veronderstel om 20 jaar te hou en het dus meer as dubbeld so lank diens gedoen.
"Op 26 Januarie is 'n vergadering gehou om die proses vir die aanstel van (padwerk)konsultante te finaliseer. Daar word beplan dat die rehabilitasie van die pad in April sal begin."
Die slegste deel van die roete is sowat 10 km uit Colesberg waar dit skaars moontlik is om vinniger as 20 km per uur te ry.
Hier het die slaggate in die noordelike en suidelike baan van die pad al so aangegroei dit dit bymekaar aansluit en een groot stuk gruispad vorm.
Vir maande was hier geen waarskuwingsborde wat motoriste op die slaggate gewys het nie óf dié borde is staangemaak langs goeie dele van die pad.
Hoeveel die bouwerk gaan kos is nog onbekend.

Deurdringende reën bly Suidwes-Vrystaat ontwyk
- Jens Friis
PHILIPPOLIS. ’n Dag of wat nadat Moses, 'n weerprofeet, sy ellelang baard vir die eerste keer in 23 jaar afgeknip het, het goeie reën oor die Vrystaat uitgesak, het Volksblad onlangs berig.
Mnr. Danie (Moses) Cilliers van Philippolis het toe voorspel “abnormale groot reën” gaan van 9 Februarie met volmaan uitsak, "want die slange en skilpaaie loop, die springbokke lam goed, en die sprinkane is ook hier."
Maar 9 Februarie het gekom en gegaan en hoewel goeie reën elders uitgesak het, is die Suidwes-Vrystaat steeds in die greep van 'n rampspoedige droogte.
Philippolis se watertafel is van die laagste in menseheugenis. Mnr. Jens Friis het in 1979 'n boorgat op sy erf langs Koksfonteinstraat, Philippolis, laat sink. Deur die ergste droogtes die afgelope drie dekades het hierdie boorgat getrou water bly lewer. "Maar dié konstante boorgat van 100 m het al met meer as die helfte verswak. Dis die swakste in 30 jaar."
Talle boere moes reeds maande gelede vir hul windpompe langer pype insit, want anders sal daar nie water in hul skape se krippe wees nie.
Verder het beide Philippolis se fonteine, waaruit sommige erwe leiwater kry, opgedroog. Die dorpsdamme is maande lank reeds kurkdroog. Was dit nie vir 'n pypleiding na die Oranjerivier nie, sou dié dorp nie drinkwater gehad het nie.
Hoewel verspreide buie val, kry ook die diere swaar. Só word wild deesdae op plekke gesien word waar hulle andersins nooit sou gewei het nie.
Groot was die verbasing van die Lombards van Justisiestraat, Philippolis, een vroegoggend toe 'n uitgegroeide koedoe aan hul vyeboom knibbel. Dié bul het waarskynlik na groenigheid kom soek in hul tuin aan die rand van die dorp, sê mev. Elsa Lombard, 'n onderwyseres aan Bergmanshoogte Intermediêr.
Afloopwatertjies van die R717 tussen Trompsburg en Philippolis sorg vir groen grassies langs dié pad. Meer diere as gewoonlik word hierdeur nader gelok, waaronder duikertjies, springhase, ribboke en ystervarke. 'n Toeris, mnr. Gert Jacobs van Kemptonpark, het verlede week opgemerk "dat jy hier meer diere sien as in die Krugerwildtuin!"
Genadiglik lê Philippolis se beste reënmaand voor. Die gemiddelde reënval vir Maart hier is 70 mm. In Februarie val gemiddeld 66,8 mm en in die derde plek is Januarie met 49,5 mm.
Sover bekend het dit in Maart 1976 die meeste nog in Philippolis gereën toe 244 mm uitgesak het. Volgens statistieke van die Instituut vir Grond, Klimaat en Water (ISCW) van die Landbounavorsingsraad het in twee ander jare ook meer as 200 mm op Philippolis in hierdie maand geval. Dit is 216 mm in onderskeidelik 1920 en 1924.
'n Verdere vyf keer het dit gebeur dat meer as 150 mm in Maart gemeet is. Die eerste maal was in 1881 (157 mm) en daarna in 1892 (153 mm), 1926 (164 mm) en 1927 (153 mm). Die laaste keer was in 1997 toe daar 187 mm in Philippolis geval het.
Die gemiddelde reënval vir Philippolis is 387 mm per jaar.
Philippolisers kan skaars onthou wanneer laas hul dorpsdamme só mooi vol was. Dié dorp se watertafel is die laagste in minstens 30 jaar. Foto: Jens Friis

Boer tronk toe oor nagemaakte tier-foto
'n Suid-Chinese tier lê in die Laohu-wildreservaat buite Philippolis waar daar met dié hoogs bedreigde diere geteel word. 'n Chinese boer, Zhou Zhenglong (54) is tronk toe gestuur nadat hy 'n foto van 'n Suid-Chinese tier gemanipuleer het en voorgegee het dat hy dié tier onlangs afgeneem het. Dit het 'n opskudding in China veroorsaak omdat dié tiere feitlik nooit meer gesien word. Die departement van bosbou het selfs vir hom 'n beloning van 20 000 yuan gegee. Maar ondersoek is ingestel oor die egtheid van die foto's toe daar op ou plakkate afgekom is met 'n tier daarop wat sterk herinner aan Zhenglong se foto. Daar is toe gevind dat hy dié plakkaat kort vantevore by 'n ander boere geleen het. Zhenglong is aan bedrog skludig bevind en vir 30 maande tronk toe gestuur, berig AFP. Foto: Jens Friis
As dit sneeu in Philippolis
PHILIPPOLIS. Suid-Afrika word dikwels bemark as "'n wêreld in een land" - en wat weerstoestande betref is dit beslis óók waar. As jy die sweet afvee tydens die snikhete warm dae wat ons die afgelope tyd beleef het, kan jy jou skaars indink dat dit soms só koud kan word dat daar sneeu in die Vrystaat val. In Philippolis is daar op meerdere dae onlangs temperature van in die 40 C aangeteken. MEV. ALIDA DE BEER van die plaas Cadeau, Philippolis, het die meegaande foto van Voortrekkerstraat, Philippolis, enkele jaar gelede geneem toe die Koningin van die Koue hier aangedoen het.
Herstelfonds gestig
PHILIPPOLIS. 'n Herstelfonds is deur die plaaslike N.G. Kerk gestig vir die instandhouding van dié kerkgebou, 'n nasionale gedenkwaardigheid. Die instandhouding daarvan kos der duisende rande en die kleinerige gemeente móét lank vooruit hiervoor begroot. Belangstellendes wat 'n bydrae wil maak kan mnr. Danie van den Berg by 051-773-0388 bel. Van den Berg tree as koördineerder van die projek op. Foto: Jens Friis
Thursday, January 8, 2009
Subscribe to:
Posts (Atom)