Monday, December 29, 2008

Groenhuis Gastehuis, Philippolis, 051-773-0073

Spookdorpie: Die towerhen van Waterkloof

Die Suid-Vrystaatse nedersetting Waterkloof het deur die jare gekwyn tot ‘n spookdorpie. Daarom is hier al telkens ‘n Amptelike Spookjagtog gehou tydens die jaarlikse Witblitsfees op die buurdorp Philippolis. Maar volgens oorlewering het bo-natuurlike dinge hier gebeur selfs in die dae toe Waterkloof gefloreer het, het ‘n inwoner, wyle tant Hester van Kopenhagen, graag vertel. JENS FRIIS onthou.

LANGS die tweespoorstraatjie, naaste aan die spruit waarna Waterkloof vernoem is, staan ‘n ry kerkhofsipresse.
Dis op dié erf waar oom Herklaas en tant Hannie Boshof eens ‘n huis gehuur het.
Dié egpaar was bywoners en moes destyds dorp toe trek toe oom Herklaas te oud geword het om te boer en die baas van die plaas gesê het hy moet sy ry kry.
Die bejaarde Boshofs het soos die meeste Waterklofers dit nie breed gehad nie en het ‘n bestaansboerderytjie bedryf. Soms het die koue nie gewyk nie en die bloeisels aan hul vrugtebome het een jaar selfs begin-November doodgeryp. Sulke somers was daar nie albertas of granate op hul tafels nie en was die kos maar effentjies.
Ook tant Hannie se sywurms het in sulke maerjare gevrek - weens die onverwagse ryp was daar nie moerbeiblare wat sy die wurms kon voer nie. Haar suster in Port Elizabeth sou dan vir haar per pos eiertjies aanstuur vir ‘n volgende seisoen se weer-probeer. Maar al het die sywurms gevrek en die vrugtebloeisels doodgeryp, kon die Boshofs altyd staat maak op hul hoenders. Hul dosyn voorslag henne het vanaf die plaas saamgekom toe hulle ingetrek het.
Die egpaar het goed aangepas in die dorp, maar op een windstil somersnag het dinge vir altyd verander.
Kort na middernag het ‘n vreeslike gekraai in die hoenderhok losgebreek.
Oom Herklaas het ‘n sug gegee, want die rumatiek het hom opgekeil en vir opstaan was hy min lus.
Maar tant Hannie het haar japon aangepluk en hy moes geweer en al agterna. Haar henne was haar trots en ‘n ondier mog hulle nie afmaai nie.
Tant Hannie is met ‘n parafienlamp al óm die draadhoenderhok wat met riete bedek was, maar alles het pluis gelyk en die twee grysaards het gaan lê.
Maar van slaap was daar nie sprake nie. Die henne het tot hanekraai bly kekkel.
Teen dagbreek het ‘n poegaai oom Herklaas die Statebybel oopgevou en hulle het boeke gevat.
Kort hierna sou die hoenders bedaar en jy sou sweer niks het hulle ooit gehinder nie, want bedags en in die vooraand was alles dooddollies op die Boshofs se werf.
Maar rondom middernag het die gekekkel klokslag wéér uitgebreek.
Van die min slaap was die egpaar later moerig met mekaar.
Boonop het die hoenders skaars gelê.
Uit radeloosheid het oom Herklaas vir sy kleinkind een ganse nag by die hoenderhok laat waak, maar ook dié kindskind kon nie agter die val van die byl kom nie. Enkele weke later het die rietdak van die hoenderhok op onverklaarbare wyse aan die brand geslaan.
Binne sekondes het die vlamme alles verteer en die henne verkool.
Nugter weet hoe, maar ‘n donskleine kuiken het op wonderbaarlike wyse uit die hok ontsnap en buite bedremeld rondgedwaal.
Die brand was ‘n groot finansiële terugslag vir die Boshofs, maar minstens kon hulle nou weer slaap. Boonop het die kuikentjie mettertyd ‘n hen geword en sy het omtrent nét dubbel-door eiers gelê. Só ‘n enkele eier was groot genoeg dat tant Hannie soggens vir hulle twee roereier hiervan kon maak.
Dag en datum ‘n jaar vóór tant Hannie se sterwensdag het die towerhen haar laaste asem uitgeblaas – ‘n geelslang het die hennetjie in die groentetuin gepik.
Die dominee se teksvers op tant Hannie se begrafnis was uit Openbaring 16:15-16: “Julle is natuurlik onseker wanneer die dag presies is. Luister wat sê God: “Wees wakker. My koms sal wees soos ‘n dief s’n – as mense dit nie verwag nie. Die mense wat wakker en gereed is, sal gelukkig wees. Hulle sal te bly wees dat hulle vir My gewag het. Hulle sal nie rooi in die gesig en skaam uit die bed hoef op te spring omdat hulle nie reg was nie.”
Die herder het getroos dat tant Hannie vanaf Waterkloof, ‘n oase in die Karoo, verhuis het na nóg ‘n beter plek – die hemel.
Maar oor die rede vir die gekekkel en die brand het die herder geswyg. Ook vir hom, was dit soos om met ‘n spieël in ‘n raaisel te kyk.
Vir aardse siele is die antwoord op dinge soos dié selde beskore.

MEER OOR WATERKLOOF
* Hoe kom ek daar? Waterkloof was op die hoofpad tussen Johannesburg en Kaapstad voordat die N1 gebou is. Draai by Trompsburg van die N1 en volg die stil R717-teerpad via Philippolis na Colesberg. Waterkloof is sowat 20 km noord van die Oranjerivier.
* Waar kan ek oornag? In dié spookdorpie is daar (on)gelukkig geen slaapplek nie, maar wel in die buurdorp, Philippolis. Gooi ‘n oog by http://www.philippolis.co.za/
* Hoewel baie van die erwe op Waterkloof nie omhein is nie, is dit in privaat besit. Nie al die eienaars hou daarvan dat jy in hul (spook)huisies ronddrentel nie.
* Die Jacobs-broers, boere in die omgewing, oorweeg dit om van die erwe te herontwikkel.
* Waterkloof is in die Karoo. Wees dus voorbereid op snikhete somers en bibberende winters.

Sunday, December 7, 2008

Witblitsfees 2009

Witblitsfeesdatum bekend
PHILIPPOLIS se alom bekende Witblitsfees sal volgende jaar op Vrydag en Saterdag, 13 en 14 Maart, gevier word.
Dié makietie is een van die oudste plattelandse feeste in die Vrystaat en word al vir meer as 'n kwarteeu gevier.
Die Transgariep Museum langs Voortrekkerstraat is gelisensieerd om een maal per jaar witblits te stook en tel onder slegs 'n handjievol museums in die land wat alkohol - en wel witblits - mag verkoop.
Vir meer inligting oor 2009 se Witblitsfees, bel Philippolis Publisiteit by 084 58 101 49 of mev. Sarie Louw by 051-773-0091.

Tuesday, October 28, 2008

Stedelinge lief vir platteland

AS EK MOEG WORD VIR DIE LEWE IN DIE STAD ... Mnr. Neels en mev. Ina de Leeuw van Bloemfontein het vir 'n naweek uitgespan in Philippolis, 170 km suid van die Vrystaatse hoofstad. Dit word al hoe gewilder onder stedelinge om vir 'n dag of twee uit te span in Vrystaatse dorpies soos Rosendal, Ladybrand, Smithfield, Parys en Philippolis. Foto: Jens Friis

Monday, October 27, 2008

Kerkgebou kan ineen stort

- Jens Friis

PHILIPPOLIS. Die gevaar bestaan dat 'n deel van die N.G. Kerk in die woonbuurt Poding Tse Rolo inmekaar kan stort omdat bouwerk enkele jare gelede glo nie na behore gedoen is nie.
Ds. Carin van Schalkwyk, leraar van die N.G. Moedergemeente, sê aandag moet dringend aan die kerkgebou gegee word.
"Die gevaar bestaan werklik dat die dak asook 'n deel wat enkele jare gelede aangebou is, inmekaar kan stort. In die termyn van die vorige leraar is daar aangebou by die kerk. Die werk is nie ordentlik gedoen nie met die gevolg dat daar nou groot strukturele probleme is."
Die huidige leraar is ds. April Moema.
Ds. van Schalkwyk sê: "Die N.G. Kerk is bereid om 'n fonds te administreer vir die herstel van dié historiese gebou. As daar iemand is wat 'n geldjie het om te skenk sal dit waardeer word."
Mevv. Jeanne Kalp of Pulani Simes kan hieroor by die kerkkantoor gebel word. Die nommer is 051-773-0014.
Veral Karel Schoeman het deur die jare die sendinggeskiedenis van Philippolis goed gedokumenteer.
Ná die vertrek van die Griekwas in 1861 het eerw. W. Torglan Corner, 'n bejaarde 72-jarige Amerikaanse sendeling, die Blye Evangelie aan die oorblywende Griekwas op Philippolis verkondig.
Met die koms van ds. Colin Fraser in 1863 het hy die sendingtaak met hart en siel ondersteun.
Omdat die bestaande Griekwa-kerk deur die N.G. Kerk aangekoop is as aanbiddingsplek, het die kerkraad 'n woonhuis teen 75 pond aangekoop en dit in as 'n gebedshuis ingerig.
Dit was 'n groot oomblik toe 'n nuwe kerkgebou in Burgerstraat, Philippolis, op 2 November 1878 ingewy is.
Ná die vertrek van Fraser in 1907 het die kerkraad besluit om voortaan 'n volwaardige sendeling in diens te neem.
Op 23 Mei 1910 is eerw. W.P.J. Poen van Harrismith as die eerste sendeling op Philippolis bevestig.
Dié kerk wat nou dreig om ineen te stort is op 8 Februarie 1947 ingewy, het sitplek vir 400 gebied, en het destyds £1 152 gekos.
In 1971 was daar 404 belydende lidmate wat teen 2001 by die 700 sou draai.
Dit was weens dié groei dat die kerk vergroot moes word.
Tydens die herstelwerk in die vroeë 2000's was daar menige probleme.
Só was ds. Ntsabo Stuurman, die vorige leraar, op 'n stadium baie bly dat die kerk uiteindelik 'n sementvloer gekry het ná 'n skenking. Die vorige houtvloer is uitgehaal omdat dit in 'n baie gehawende toestand was. Die kontrakteur wat dit moes vervang het is egter met die hout fort sonder om die sementvloer te lê.
Stuurman het toe gesê: "As die kerkklok nou lui, weet die gemeente hulle gaan nie meer tydens dienste nies van die stof nie."
Maar nou blyk dit nie die einde van dié gemeente se probleme te wees nie, want die aanbouings was blykbaar só krom en skeef dat die dak nou gevaar loop om ineen te stort.
Die gemeente het in die afgelope paar jaar aansienlik gekwyn weens "interne probleme" en daar is tans sowat 300 lidmate.

Thursday, October 23, 2008

Dis taai om te reën

PHILIPPOLIS. Die wolke lyk belowend, maar die reën is taai om te kom. Dié foto is geneem aan die bo-punt van Voortrekkerstraat (voorheen Kerkstraat). Foto: Jens Friis

Groenhuis Gastehuis, Philippolis, 051-773-0073 of jensfriis@intekom.co.za


Lenteprag

PHILIPPOLIS. 'n Roos blom agter die historiese N.G. Kerk, 'n nasionale gedenkwaardigheid. Foto: Jens Friis

Hoogs bedreigd

PHILIPPOLIS. Een van die Suid-Chinese tiere waarmee suksesvol geteel word op die Laohu-natuurreservaat buite Philippolis. Dié tiere is selfs meer bedreigd as die panda. Foto: Jens Friis

Goue sonsondergang

PHILIPPOLIS. 'n Goue sonsondergang. Foto: Jens Friis

Restourasieprojek staan steeds stil

PHILIPPOLIS. Die restourasieprojek van die gebou waarin die dorpsbiblioteek gehuisves word, het maande gelede reeds tot stilstand gekom nadat die boukontrakteur werk gestaak het. Sedertdien is die Jacobson-biblioteekgebou, ’n nasionale gedenkwaardigheid, aan wind en weer oorgelaat, want vensters en deure is verwyder en bouwerk is nie voltooi nie. Regs van die Jacobson-biblioteek is die Transgariep Museum (met die groen dak). Foto: Jens Friis

Thursday, October 16, 2008

Transgariep-museum: Toe en nou

Rondom 1830/40 het die gebou wat deesdae die Transgariep Museum huisves só gelyk.
En só lyk die Transgariep Museum deesdae - sowat 170 jaar later. Voor staan kuratrise Elize Pienaar.


Groenhuis B&B, Philippolis, Free State, South Africa, www.philippolis.co.za


Só het nedersetting naam gekry

Min fonteine kan daarop aanspraak maak, maar die fontein by Waterkloof in die Suid-Vrystaat het nog nooit in menseheugenis gaan staan nie. Selfs deur die knellendste droogtes het dit steeds bly vloei. Dis dan ook die rede waarom dié nedersetting tussen Colesberg en Philippolis tot stand gekom het. Oos van die dorpie ontspring die fontein in 'n kloof (van daar die dorpie se naam). Die water wat nie deur leivore afgekeer word nie, vloei weg langs die Dwarsrivier. FOTO: JENS FRIIS

Skoonlief en die ondier

PHILIPPOLIS. Elsje-Mari Lombard het op 'n korinkriek afgekom en besluit dis 'n ideale troeteldier vir 'n dag of wat. Hier hou sy vir Skoonlief (of is dit Ondier?) vas in 'n plastieksakkie. Sy is 'n leerling aan Trompsburg Primêr. Haar ouers is mnr. Jacques en mev. Elsa Lombard van Justisiestraat, Philippolis. FOTO: JENS FRIIS

Die reën bly weg

PHILIPPOLIS. Wolkies hang bokant 'n laning bome op die plaas Dwarsrivier van mnr. Willem en mev. Franette Strauss. FOTO: JENS FRIIS

Personeelfoto uit die jare toet

'n Personeelfoto wat geneem moes wees in die mid-1950's. Die skoolhoof was toe mnr. J.F. Malan. Drie van die personeellede woon na al die jare steeds op Philippolis. Hulle is mevv. Beckey Cilliers (heel links voor), Naómi Friis (heel regs voor), en Roezan Schoeman (tweede van links agter).

Philippolis: Toe en nou

PHILIPPOLIS. Mev. Naómi Friis stap langs Voortrekkerstraat (vroeër Kerkstraat). Dis onbekend wanneer die ou foto geneem is.

'n Fees met witblits

PHILIPPOLIS. Die dorp se jaarlikse Witblitsfees is een van die oudste dorpsfeeste in die Vrystaat. Witblits is te koop by die Transgariep Museum. Dié museum is een van slegs 'n handjievol in die land wat gemagtig is om alkohol te verkoop. FOTO: JENS FRIIS

Groenhuis Gastehuis, Philippolis, 051-773-0073


Pronk perde

PHILIPPOLIS se saalperdskou vind die naweek van 7 November plaas. Hier vertoon mnr. Jaco Louw van Philippolis een van sy perde tydens die 2006-skou. FOTO: JENS FRIIS

Op noot

PHILIPPOLIS. Bergmanshoogte Intermediër se skoolkoor is gereeld een van die beste in die Suid-Vrystaat. FOTO: JENS FRIIS

Kon hul oë nie glo nie

Ry Philippolisers na Trompsburg kyk hul nie eers meer of daar 'n trein aankom nie, want die treinspoor wat die R717 kruis is jare reeds in onbruik. Of so het hulle gedog, want so kort terug as Mei 2006 het daar uit die niet 'n trein verskyn met bykans 150 waens. Die trein het teen 'n slakkepas beweeg (waarskynlik omdat die spoor nie meer algemeen gebruik word nie) en het verkeer op die stil R717 vir 'n hele paar minute laat opdam. FOTO: JENS FRIIS

Prentjiemooie Waterkloof

'n Murasie van wat eens 'n woonhuis was in Waterkloof, 'n nedersetting 5 km uit Philippolis op pad na Colesberg. FOTO: JENS FRIIS

Voor die storm

PHILIPPOLIS. 'n Windpomp sonder kop staan afgeëets teen dreigende donderwolke. Die foto is geneem by die Groenhuis Gastehuis langs Philipstraat. FOTO: JENS FRIIS

Skilderye te sien

PHILIPPOLIS. Skilderye van kunstenaar Adolfo McCue is op uitstalling by De Oude Wagenhuys langs Voortrekkerstraat. Dié kunsgalery van Richard Proctor-Sims word gehuisves in die eertydse N.G. Kerkkantoor langs die pastorie. Hier is Lucia Klaas van die galery by een van McCue se werke. FOTO: JENS FRIIS

Groenhuis Gästehäuser, Philippolis, südlichen Teil der Free State, South Africa


Herstelwerk vorder nie

PHILIPPOLIS. Die Jacobson-biblioteek, 'n Victoriaanse juweel, is 'n nasionale gedenkwaardigheid. Opknappingswerk aan dié gebou het tot 'n stiland gekners toe die kontrakteur skoonveld is en daar ontevredenheid was oor die restourasieproses. Vir etlike maande staan die herstelwerk nou reeds doodstil. Foto: Jens Friis

'n Ongewone blik

PHILIPPOLIS. 'n Ongewone blik oor Philippolis vanuit die N.G. Kerktoring. In die middel van die foto is die Nienaberplein met daarlangs die Jacobson-biblioteek langs die boomomsoomde Voortrekkerstraat. FOTO: JENS FRIIS

Suksesvolle HOP-projek gestaak

PHILIPPOLIS. Hier is een van die spannetjies kinders wat rekenaargeletterdheidsklasse gekry het by die Hillside View-kollege in Philippolis. Hulle is op skool by Bergmanshoogte Intermediêr. Ook leerlinge van die Philippolis Primary Public School het opleiding gekry. Hierdie klasse was 'n uitreikaksie van Motheo FET in Bloemfontein, maar is aan die einde van 2006 gestaak. Dis 'n grootste jammerte, want dit was een van die enigste suksesvolle HOP-projekte in Philippolis. FOTO: JENS FRIIS

Uit 'n skoolalbum

PHILIPPOLIS. 'n Jong mnr. Jens Friis, latere skoolhoof, by die Hoërskool M.T. Steyn se eertydse tennisspan.

Hemelhoë kosmosse

PHILIPPOLIS. Petro Khooa sit bo-op op haar oupa, Kafee Khooa se skouers, maar die kosmosse is steeds so hoog soos sy. Voor haar staan ouma Letta Khooa. Die Khooas woon langs Koksfonteinstraat, Philippolis. Foto: Jens Friis

Snoesig geabba

PHILIPPOLIS. Charlotte Plaatjies van Bergmanshoogte in Philippolis, abba haar kleinboet, Marciano. In dié veelkleurige kombers is hulle albei heerlik snoesig toegedraai. FOTO: JENS FRIIS

Groenhuis Gastehuis, Philippolis, 051-773-0073 of jensfriis@intekom.co.za


Saalperdskou 2008

PHILIPPOLIS se jaarlikse skou vind die naweek van 7 November plaas. Vir jare reeds is dié mense op die foto steunpilare van dié skou. Van links is agter George de Vos, Annette Loock en voor is mnr Johan Lambrechts wat die skou organiseer. FOTO: JENSFRIIS

Wednesday, October 15, 2008

Warmer weather

PHILIPPOLIS. Elvino Padda and Lawas Wiesie from Bergmanshoogte, Philippolis, are warming to the warmer weather, as well as the Namaqualand daisies that are now flowering in their front gardens. Photo: Jens Friis

Kranige entrepreneurs

PHILIPPOLIS. Sondagmiddag terwyl mev. Elsa Lombard 'n bietjie wil skuinslê, neul haar dogtertjie, Elsje-Mari, oor lemoene in hul tuin. Klein Elsje en die bure se maatjie, Justine Rouls, wil van die lemoene pluk en verkoop. "Ja-ja," gee 'n slaperige mev. Lombard in. "Ek het nie eers gedog daar is eers juis lemoene aan die bome nie." Ek daai middag toe sy opstaan toe staan Elsje-Mari en Justine met 'n banksakkie wat se magie sommer so boep staan. "Kyk!," sê Elsje. "Ons het al hierdie geld gemaak." Dis toe 'n volle R40. Die lemoene het hul in sakkies teen R2 en R7 verkoop. En dit was nie hoe lank nie toe vaar die twee weer die bome in. Só 'n geldmakery kan jy mos darem nie deur jou vingers laat glip nie! Foto: Jens Friis

Oud-inwoner oorlede

Mnr. Hendrik van Niekerk van Bethlehem, 'n oud-Philippoliser, is onlangs oorlede. Die meegaande foto's is in 1996 geneem toe die Van Niekerks Philippolis na 'n leeftyd verlaat het. Foto's: Jens FriisHier is mev. Marietjie Funck, mnr. Hendrik van Niekerk, mev. Leah Vilonil, mev. Baby van Niekerk, en mev. Leah Theron.
Mev. Petro du Plessis, mev. Naómi en mnr. Jens Friis, mev. Poppie Engelbrecht, mev. Louise Jansen, en mev. Magteld Jansen van Rensburg.

Dis heerlike lente, die winter's verby ...

"Dis heerlike lente, die winter's verby ..." Elvino Padda en Lawas Wiesie van Bergmanshoogte is verheug oor die warmer weer, asook die Namakwalandse madeliefies wat nou in hul voortuine blom. Foto: Jens Friis

Eersteklas blik op dorp

Vanaf 'n koppie in Philippolis se middedorp het jy 'n wonderlike uitsig oor die omgewing. Hierdie spannetjie kinders het laat-middag dié wêreld vanuit die hoogte kom bespied. Hulle is almal leerlinge van Bergmanshoogte Intermediêr op Philippolis. Van links is Andrew Padda, Divante Maketerie, Frank Nockanda, Johndré Derison, Charl Saulo en Cheslin Pietersen. Foto: Jens Friis

Sunday, October 12, 2008

Kerk vanjaar 125 jaar oud

PHILIPPOLIS. Die Gereformeerde Kerk langs Tobie Mullerstraat, Philippolis, is vanjaar op die kop 125 jaar oud.
Dit word trots aangekondig deur die jaartal "1883" wat bokant die hoofingang na dié godswoning pryk.
"Die eerste 20 jaar van die kerk se geskiedenis is in 'n kits uitgewis tydens die Anglo-Boereoorlog," vertel me. Elize Pienaar, 'n gemeentelid en argivaris van die dorpsmuseum.
"Met die oorlog is die konsistoriekas oopgebreek. Al die dokumente daarin, waaronder foto's, asook die trou- en doopregisters, is uitgedra en indie straat gegooi. Ook die HoogHollandse Kerkbybel is aan die brand gesteek. Alles het uitgebrand," vertel Pienaar.
Buiten die elektriese ligte en van die vensters, is die kerk nog grootliks soos destyds.
Die oorspronklike preekstoel, doopvont, banke, nagmaalservies en konsistoriestoele word nog gebruik.
"Daar is wel 'n nuwe orrel, maar die oorspronklike traporreltjie staan steeds in die kerk."

Philippolis deurdrenk met sendinggeskiedenis



- JENS FRIIS en DR. GERDRIE VAN DER MERWE


PHILIPPOLIS. - Min plekke in Suid-Afrika se vroegste geskiedenis is só deurdrenk met sendinggeskiedenis as dié van Philippolis. Hiervan getuig die artikels en boeke wat reeds verskyn het oor Philippolis se sending-historiese verlede.
Ná die vertrek van die Griekwas in 1861 het eerw. W. Torglan Corner, 'n bejaarde 72-jarige Amerikaanse sendeling, die Blye Evangelie aan die oorblywende Griekwas op Philippolis verkondig.
Met die koms van ds. Colin Fraser in 1863 ondersteun hy die sendingtaak met hart en siel .
Omdat die bestaande Griekwakerk deur die NG Kerk aangekoop is as aanbiddingsplek, koop die kerkraad 'n woonhuis teen 75 pond en rig dit in as 'n gebedshuis.
'n Notuleboek in die handskrif van ds. Colin Fraser word aangeskaf en 'n eerste kerkraad gekies.
As ouderlinge dien Karolis Pas, Gert de Boer en April Dereka.
Die diakens was Willem Sloana,George Eland en Hendrik Olifant.
In 1876 sterf die bejaarde eerwaarde Corner.
Tot Fraser se aftrede in 1907 sou hy die sendingkerk bedien .
Fraser is bygestaan deur mnr. J. Bohnen . Dit was 'n groot oomblik toe 'n nuwe kerkgebou in Burgerstraat, Philippolis, op 2 November 1878 ingewy is.
Volgens boeke is die stigtingsdatum van die sendingkerk 1889.
Ná die vertrek van Fraser in 1907 besluit die kerkraad om voortaan 'n volwaardige sendeling in diens te neem.
In 1910 konstitueer die eerste NG Kerk in Afrika in die Oranje-Vrystaat se eerste sinode.
Op 23 Mei 1910 word eerw. W.P.J. Poen van Harrismith as die eerste sendeling op Philippolis bevestig. Hier werk hierdie uitstekende herder en leraar tot 1915.
Volgens ander kerkbronne word die swart gemeente van die NG Kerk in Afrika eers in 1916 gestig.
Eers in 1926 word eerw. Hendrik de Waal Esterhuyzen suksesvol beroep. Hy sterf in 1932 en word opgevolg deur eerw. D.J. Basson. Hy vertrek in 1936, waarna ds. C.J. van Niekerk van die Moederkerk weer instaan .
In 1938 word evangelis S. Khame van Trompsburg beroep. Hy arbei op Philippolis tot 1942.
Ná twee jaar van herderloosheid word eerw. W.M.D. van Zyl van Aberdeen in 1944 die nuwe sendeling. Hy was iemand wat tot in 1952 met oorgawe en toewyding werk.
Op 8 Februarie 1947 word 'n nuwe kerkgebou in Poding Tse Rolo ingewy.
Dit was 'n ruim gebou met 400 sitplekke wat £1 152 gekos het.
Die volgende leraar was ds. W.A. Rossouw wat tot in 1956 onder die mense van Poding Tse Rolo werk.
Ds. W.A. Rossouw word opgevolg deur moruti B.S.T. Likate. Teen 1966 was daar in die gemeente 615 belydende lidmate.
Hy word opgevolg deur moruti A.S. Moeketsi.
In 1971 was daar 404 belydende lidmate, wat in 1973 groei tot 424 lidmate.
Ná 'n lang vakature word moruti S.M. Maleho die leraar. In 1983 was daar 355 belydende lidmate.In 1985 was moruti B.T. Ntisime leraar en in 1988 is moruti M.B. Maile die leraar met 652 belydende lidmate. Ná 'n lang vakature is moruti M.A. Magwira in 1995 die leraar. In dié tyd is daar 592 lidmate en moruti L.J. Phondhi word in 1996 die leraar.
Intussen neem die kerkspanningen -stryd toe tussen die Verenigende Gereformeerde Kerk en die NGKA (Sinode van Phororo).
Dit sou ook die kerk op Poding Tse Rolo skeur. In 1997 word moruti I.S. Ntsabo die leraar. Hy het tot enkele maande gelede die gemeente van die NGKA se 592 belydende lidmate bedien.

Deur die takke

Die maan is sigbaar deur die takke van 'n seringboom langs Philipstraat, Philippolis. Foto: Jens Friis

'n Trop lammerooie

'n Trop ooie en lammers loer na die kamera terwyl mnr. Sybok Mohale hulle met die perd Whisky aanjaag. Die foto is geneem langs die Coetzees se plaas Bloemhof op die stil teerpad tussen Trompsburg en Edenburg. Foto: Jens Friis