Wednesday, June 25, 2008

Tagtigste skou hier gevier

PHILIPPOLIS sal vanjaar sy 80ste agtereenvolgende skou aanbied.
"Dis die enigste skou in die Vrystaat wat hierop kan aanspraak maak, en ook een van die oudstes in die land," sê mnr. Johan Lambrechts, 'n skoukomiteelid.
Reëlings is fluks aan die gang vir hierdie groot makietie tussen 6 en 8 November.
Lambrechts merk skertsend op dat "almal jonger as 80 ook baie welkom is."
Behalwe dat die Philippolis-skou 80 word, sal dit ook vir die 28ste agtereenvolgende jaar wees dat 'n saalperdstreekskou hier aangebied word.
"Die belangstelling is groot om deel te wees van hierdie prestige geleentheid."
Jaarliks wil soveel saalpertelers hul perde hier vertoon dat daar nie genoeg stalle is nie. Verlede jaar was hier 302 saalperde uit alle uithoeke van die land.
'n Nuwigheidjie vanjaar is 'n veteraanmotoruitstalling wat gereël word deur mnr. André Kolver.
Belangstellendes word gevra om hom by 051-773-0440 te bel, "want die skou sal nie meer as sowat 100 veteraanmotors kan hanteer nie."
Lambrechts is verheug oor Philippolis se jonger boere wat begeesterd is oor die skou. "Dit kan beteken dat ons skou nog 100 jaar oud kan word."
In hierdie verband noem hy vir mnre. G.B. Pienaar (saalperde), Niel Kruger (dorpers), Willem Lubbe en D.G. Snyman (merino's), L.P.J. Fourie en Johan Strauss (boerbokke).
"Soos in die verlede gaan ons weer al die senior persone wat in die verlede 'n mooi bydrae gelewer het by hul besondere rasse, nooi vir 'n lekker saamkuier. Philippolis se skou het nie dié staatmakers vergeet nie."
Vir meer besonderhede bel Lambrechts by 082-754-0250.

illustrasie: http://www.studbook.co.za/

No comments: