Tuesday, June 24, 2008

Kafee-eienaars lê die tuig neer ná 40 jaar

Om 40 jaar ononderbroke elke dag in ’n kafee te werk sonder enige vakansie sit nie in elkeen se broek nie.
Maar dis presies wat Pat en Sussie Klue gedoen het.
Ná vier dekades het hulle op 1 April nie oudergewoonte die deur van hul Kokkewiet-kafee langs Voortrekkerstraat, Philippolis, oopgesluit nie.
En, nee, dit was nie ’n Aprilgek-grap nie.
Dié egpaar het besluit dit is tyd om die tuig neer te lê.
Die gebou waarin die kafee gehuisves is, sal voortaan verhuur word en die Klues gaan straat-af by hul seun, Pieter, woon.
Pat en Sussie sê hulle vermoed dit sal ’n ruk neem voordat hulle daaraan gewoond sal raak om nie douvoordag op te staan nie.
Hul onderneming was in die 40 jaar slegs ’n enkele dag gesluit, naamlik vir die begrafnis vir ’n familielid.

No comments: