Tuesday, June 24, 2008

Opheffing deur sportdeelname faal liederlik, wys studie

APARTHEIDSWETGEWING en projekte wat daarop gemik is om die jeug – veral in arm, landelike gebiede – deur sportdeelname op te hef, faal liederlik.
Só het mnr. Graham Williams, ’n heeltydse sportafrigter en meestersgraadstudent in ontwikkelingstudie aan die Universiteit van die Vrystaat, gesê met die bekendstelling van sy navorsingsbevindinge.
Sportprogramme word toenemend ingesluit in jeugontwikkelingsprojekte, want daar word geglo dit dra waarde by tot maatskaplike ontwikkelingsprojekte.
Maar dié projekte slaag nie, want in landelike gebiede ontbreek sportgeriewe of dit word nie in stand gehou nie.
Op Philippolis, waar Williams sy navorsing oor 13 maande gedoen het, het die rolbalbaan, openbare swembad en gholfbaan in die afgelope dekade vergaan.
Die tennisbane is steeds in ’n redelike toestand, maar hier word bitter selde balle geslaan.Die sokkerstadion is onbruikbaar en die sokkerveld by Bergmanshoogte is op ’n ou vullishoop gebou. Daar is geen gras nie en glasskerwe hou ’n gevaar vir spelers in. Klippe word as doelpale gebruik.
Al die sportgeriewe op die dorp word besit deur óf die Kopanong-munisipaliteit of die drie skole.
In Kopanong se geïntegreerde ontwikkelingsplan is geen geld opsygesit in 2006 en 2007 vir die instandhouding of verbetering van sportgeriewe nie.
Geen van die plaaslike skole kry geld vir die instandhouding of verbetering van sulke geriewe nie.
“Ondanks te min en swak geriewe is die getal leerlinge wat aan sport deelneem, verbasend hoog,” skryf Williams.
Omtrent 1 130 kinders is hier op skool. Sowat 250 Philippolisers speel netbal en 700 sokker by agt klubs.
“Slegs 60 leerlinge neem deel aan ander sportsoorte soos mini-krieket, lyndans en vlugbal.”
Volgens respondente wat aan die studie deelgeneem het, is die grootste maatskaplike probleme onder die Philippolis-jeug alkohol- en dwelmmisbruik, MIV/vigs, kinderprostitusie, kinders wat aan die hoof van huishoudings staan, jong meisies wat swanger word, misdaad en geweld.
’n Meisie het opgemerk: “Tienermeisies gebruik hul lywe om geld te maak. Sodra hulle verwagtend is, doen hulle aansoek om regeringsteun.
“Dit is dikwels die enigste geld waarop ’n gesin oorleef.”
Al die betrokkenes het gemeen sport is ’n koste-doeltreffende manier om hierdie probleme te probeer bekamp, sê dr. Doreen Atkinson, die studieleier.
Behalwe die voor die hand liggende gesondheidsvoordele wat sport bied, het navorsing getoon dat sportdeelname lei tot beter skoolbywoning en help om die verspreiding van vigs te bekamp, skryf Williams in sy verhandeling.
“Sport kan ook ’n doeltreffende middel wees om ’n maatskaplik gefragmenteerde gemeenskap, wat deur misdaad en geweld geteister word, te heel.”

No comments: