Tuesday, June 24, 2008

In die dae vóór die N1 ...

’n TOU motors ry buffer aan buffer deur Philippolis.
INWONERS het die afgelope dae met heimwee teruggedink aan die tyd voordat die N1 gebou is, want laas in die vroeë 1970’s was hul hoofstraat, Voortrekkerstraat, só besig.
Die rede?
Padwerke in die omgewing van Springfontein veroorsaak oponthoude van tot twee uur.
Daarom volg bestuurders eerder die alternatiewe roete van Trompsburg via Philippolis na Colesberg.
Voor 1972 was daar ses vulstasies op Philippolis, maar binne enkele jare het dit gekwyn tot net een.
Ook die plaaslike kafees en die destydse losieshuise en hotel is erg geraak.
Ja, die verlegging van die grootpad tussen die eertydse Kaapprovinsie en Transvaal het menige Vrystaatse dorp erg geknou.
Reddersburg, Brandfort, Vredefort en Parys was in dieselfde bootjie as Philippolis. En hoewel die grootpad steeds verby dorpe soos Trompsburg, Edenburg en Winburg gegaan het, het dit skielik nie meer deur hul hoofstrate geloop nie. Waarskynlik die enigste twee Vrystaatse dorpe wat ietwat baat gevind het by die nuwe roete is Gariepdam en Springfontein. Hulle was nie vantevore langs die grootpad nie.
Maar hoewel die verlegging op ekonomiese gebied vir die meeste dorpe nadelig was, was daar wel ander voordele.Só het ernstige misdaad genadiglik grootliks vir Philippolis verbygegaan.
Skelms hou eerder op die breë N1 as op die smalle R717.
Nóg ’n voordeel is dat bewarenswaardige geboue weens die ekonomiese insinking behoue gebly het - tot só ’n mate dat Philippolis nou die meeste nasionale gedenkwaardighede in die provinsie het naas Bloemfontein en Bethlehem.
Belanghebbendes in die gasvryheidsbedryf van Philippolis, die oudste nedersetting in die Vrystaat, wil graag toeriste hierheen lok.
“Veral in vakansietye is die R717 via Philippolis ’n ideale alternatiewe roete,” sê hulle graag.
“’n Ompad is dit nie. Dié teerpad is stil en boonop 7 km korter as die N1. Draai af by Colesberg of Trompsburg en mis só oor sowat 120 km swaar verkeer.”
Daarom is daar ontevredenheid oor die slaggate wat vragmotors die afgelope dae uit die R717 se teer geruk het terwyl daar aan die N1 by Springfontein gewerk is.
Hopelik sal dit spoedig reggemaak word.

No comments: