Tuesday, June 24, 2008

Biblioteek simbool van samewerking


AS ’n gemeenskap saamwerk, kan baie vermag word.
Hiervan is die nuutgestigte bib­lio­teekkomitee op Philippolis ’n klinkklare bewys.
Die restourasieprojek van die gebou waarin die dorpsbiblioteek gehuisves word, het maande gelede reeds tot stilstand gekom nadat die boukontrakteur werk gestaak het.
Sedertdien is die Jacobson-biblioteekgebou, ’n nasionale gedenkwaardigheid, aan wind en weer oorgelaat, want vensters en deure is verwyder en bouwerk is nie voltooi nie.
’n Inwoner, me. Jane McArthur, het navraag hieroor gedoen en dit het geblyk dat ’n biblioteekkomitee op die been gebring moes word om dié probleem behoorlik op te los.
Dr. Doreen Atkinson is kort hierna as sameroeper van so ’n tussentydse komitee gekies.
Die departement van openbare werke, paaie en vervoer, asook die departement van sport, kuns en kultuur gee nou aandag aan dié saak.
Tenders sal nou weer aangevra word.
Veral plaaslike kontrakteurs wat die restourasieprojek kan voltooi, word aangemoedig om aansoek te doen.
Die gemeenskap was nie betrokke by die vorige tenderkontrak nie, want daar was nie ’n amptelike biblioteekkomitee nie.
Daar is ontsteltenis op Philippolis oor die manier waarop die historiese Jacobson-biblioteekgebou sover herbou is.
’n Kamer uit sierstene is onder meer aangebou by dié Victoriaanse juweel.
Tien jaar gelede was daar ’n erfeniskomitee op Philippolis wat ’n volledige lys van bewarenswaardige geboue opgestel het.
Intussen sal die biblioteekkomitee nou ook dien as ’n erfeniskomitee vir die dorp.
Dr. Atkinson sê dié twee komitees mag mettertyd skei.
Daar was aanvanklik planne om ’n nuwe biblioteek te bou, maar daar is toe besluit om die huidige eerder te restoureer vanweë sy historiese belang.
Die departement van openbare werke het toe die opknappingsspesifikasies ontvang van die departement van sport, kuns en kultuur.
Mnr. Thami Kani van die departement van openbare werke het by ’n biblioteekkomiteevergadering gesê hulle was nie tevrede met die werk wat deur die kontrakteur gedoen is nie.
Daarom is die kontrak op ys geplaas.
Volgens dr. Atkinson is ’n e-pos met foto’s van hoe die biblioteek nou lyk aan me. Jeanne Nel van die departement sport, kuns en kultuur (erfenis) gestuur.
Nel was ontsteld oor die toestand.
Dieselfde e-pos is ook gestuur aan me. Jacomien Schimper van dieselfde departement. Sy het die foto’s aangestuur na mnr. Anton Roodt, die argitek.
Roodt en die komitee sal binnekort in gesprek tree oor die beplanning van die biblioteek, sê Atkinson.
Daar word nou probeer om vergaderings te belê met al die betrokke partye sodat restourasiewerk eersdaags weer kan begin.
Die biblioteek word nou in die Motheo VOO-kollege gehuisves wat vroeër jare die seunskoshuis was.

No comments: