Monday, July 23, 2007

Restourasiewerk vorder


DIE werkers “rus” vir geruime tye luilekker in die wintersonnetjie, maar minstens het die langverwagte restourasie van die Jacobson-biblioteek in Philippolis darem begin.
En hieroor gee inwoners ‘n sug van verligting, want hulle het al gedog van dié belofte gaan niks kom nie. Volgens gerugte sou hierdie geld gaan vir die sokkerwêreldbeker.
Dié biblioteek en die aaneenliggende Transgariep Museum moet binne twaalf maande opgeknap word.
Hoofsaaklik plaaslike arbeid word ingespan om die opknappingswerk van R1,3 miljoen te doen.
Elize Pienaar, kuratrise van die Transgariep Museum, sê: “Restourasiewerk aan die museum sal begin as hulle klaar is met die biblioteek.”
Tot tyd en wyl is die museum oop. Die biblioteek word tydelik gehuisves by die Mothoe-FET-kollege.
Carien Pottas, bibliotekaresse, sê: “Die Jacobson-biblioteek, ’n Victoriaanse juweel, se noordelike muur is erg aan’t verkrummel. Ook van die fraaie sierhoutwerk op die stoep het deur die jare vergaan.”
Dié gebou, dalk die spoggerigste huis in die dorp, is dertig jaar gelede aan die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Administrasie oorgedra.Nuwe houtsierwerk en pilare sal aangebring word. Ook die gietysterwerk op die dak, die dak self en die houthortjies voor die vensters sal herstel word.
Voorheen is die mure in die huis grootliks behou, maar hiervan word nou uitgebreek om die biblioteek ‘n oper gevoel te gee.
Tankiso Zola, woordvoerder van die departement van sport, kuns en kultuur, is telkens genader vir kommentaar oor die opknappingsprojek, maar hy het nie terugvoer gegee nie.

No comments: