Friday, July 20, 2007

Geduld met opknapping beloon


DIE GROENHUIS GASTEHUIS is 'n sorgsaam gerestoureerde (2003) "B & B" in die Suid-Vrystaatse Karoo. Halfpad tussen Noord en Suid langs 'n stil teerpad wat nader is as die N1. Spierwit linne. Houtvloere. Aandetes by kerslig. Skaduryke tuin. R130 p.p. (Bed & Ontbyt). 'n Ideale halfweghuis op pad vanaf Gauteng na die Kaap aanstaande maand.
Dit is soms 'n seën dat die mens nie weet wat vir hom voorlê nie, maar ander kere sou jy darem báie daarby kon baat vind.
Met die restourasie van Die Groenhuis het oud-skoolhoof, Jens Friis, 'n keer of wat gedink dit sou darem veel makliker gewees het om 'n nuwe plek te bou. 'n Restourasieprojek kos geld, tyd, kundigheid en hope geduld. Des te meer as 'n huis vir bykans 40 jaar as pakkamer gebruik is en daar nie eens lopende water of elektrisiteit was nie. Die eindproduk is egter beloning genoeg vir die swoeg.
Die oorspronklike houtvloere, plafonne en -vensters is sover moontlik behou. "Vanweë al die hout voel die huis verstommend warm," sê Naómi Friis. "Hope meubels is onnodig." Manie Barkhuizen van Jagersfontein, 'n tennisvriend van die Friise, het gehelp met die restourasie van die vensters. Met die opknap van die plafon is afgekom op bladsye uit 'n 1940-Huisgenoot. Dit het gedien as isolasiemateriaal.
Friis sê dat Die Groenhuis nie voorgee om die Amerikaanse Wit huis te wees nie ("hoewel die motors wat gereeld hier intrek tot agt keer meer werd is as die huis self"). Al die noodsaaklikhede is egter hier "waaronder binneveermatrasse, kraakvars linne, ruim badkamers en keurige etes".
Die huis is op die rand van die dorp en herinner aan 'n plaas. Op omringende erwe is springbokke van George de Vos, saalperde van Johan Lambrechts, 'n vetplanttuin van die Funcks en Kafee Khooa wat perdekarritte bied. Dit is nou buiten die beeste van Tiekie Pienaar, die poue van die Friise self en 'n voetpaadjie wat na'n historiese kruithuisie lei.
Om by die gees van die huis te pas is outydse blomme soos rose en riete geplant.
Daartussen staan 'n lekker houtbank van waar jy op die Karoo en klipkoppies kan uitkyk. Laatmiddag kom die Boeiing oor van Kaapstad na Johannesburg.
In die tuin groei die kikoejoe ruig en die bloureën welig. 'n Peer- en suurlemoenboom is dankbaar vir die water wat dit deesdae kry. Die leidam is sy khoi's kwyt nadat hulle reierkos geword het.
Vanjaar moes die groentetuin grootliks oorstaan. Die standhoudende Koksfontein vloei nie. As die reën kom, sal die Vaaljapie uit 1956 volgende jaar weer ploeg. Die moontlikheid word ook oorweeg om sampioene in Die Groenhuis se kelder te plant.
Dit wat Die Groenhuis bied, is oorgenoeg, geoordeel aan die besoekersboek.
Soos 'n Amsterdammer onlangs geskryf het: "Aangenaam verrast! Jij hoort de stilte. Jij siet de schoonheid. En jij voelt de warmte van die mensen. Bedank voor alle goede sorgen. Een aangename pauze tussen de drukte van twee steden. Wat 'n rust!"

No comments: