Saturday, July 28, 2007

Historiese juweel in mark vir rekordbedrag

Die Van der Post-gebouekompleks langs Colin Fraserstraat, Philippolis, is in die mark vir R2,4 miljoen. Dis by verre ‘n rekord, want geen huis was al vantevore in Philippolis só geprys nie.
Die skrywer, sir Laurens van der Post, het sy kinderjare hier deurgebring terwyl bekende staatsmanne van weleer by sy ouers aangedoen het.
Die Victoriaanse Van der Post-huis langs Colin Fraserstraat 7, is in 1872 gebou. In 1906 is sir Laurens daar gebore. Sy pa was C.W.H. van der Post, ‘n prokureur en volksraadslid. Sy ma, Lammie, was ‘n formidabele vrou wat veertig jaar na haar man eers tot sterwe gekom het en wat op ‘n gevorderde leeftyd begin boer het.
Die Van der Post-huis, ‘n nasionale gedenkwaardigheid, word omring deur twee ander historiese huise, naamlik Colin Fraserstraat 9 (gebou in 1874), en die Emily Eagle Cottage langs Colin Fraserserstraat 5
In sir Laurens se kinderjare het beide Nr. 7 en Nr. 9 aan sy familie behoort. Sy pa het Nr. 9 gebruik as kantoor en as 'n biljard-kamer.
Die Emily Eagle Cottage is genoem na die vrou van John Nunn Eagle, die eerste dokter in Philippolis tussen 1861 en 1900. Dr. Eagle se sewende kind, Millie, is getroud met John Ingle, ‘n voorsaat van Mark Ingle wat deesdae in Nr. 5 woon.
Die 46 olyfbome wat enkele jaar gelede in die agterplaas geplant is, is besig om te begin dra. Die tuine is propvol granate, vye, moerbeie en druiwe.
Daar is dokumentêre bewyse dat ‘n Britse soldaat iewers in die agterplaas begrawe is. Van sir Laurens se as het ook hul laaste rusplek hier gekry onder een van die ou bome. In sy geskrifte verwys dié skrywer gereeld na hierdie tuin.
‘n Historiese koetshuis tussen Nrs. 5 en 7 dateer waarskynlik uit die Griekwa-era (voor-1860).
Die Van der Post-familie het hier bly woon na die dood van C.W.H. van der Post in 1914 tot 1922. Hierna is dit deur ‘n mev. Wentworth bedryf as losieshuis namens mev. Van der Post wat gaan boer het op die familieplaas, Wolwekop.
In die vroeë-1920’s is Nr. 7 verkoop aan Mev. Rothbart. Sy het dele van die koetshuis omskep in ‘n sinagoge en ‘n schul. Die boonste verdieping is as koshuis gebruik vir die Joodse seuns.
‘n Vyftien jaar later het dit die eiendom geword van Mnr. Schoeman. Ironies genoeg was hy ‘n lid van die neo-Nazi Ossewabrandwag. Die boonste verdieping van die koetshuis is toe gebruik as ‘n geheime vergaderplek van hierdie organisasie.
Die huidige eienaars, mnr. Mark Ingle en dr. Doreen Atkinson, besit Nr. 7 vanaf 1994. Twee jaar later het hulle Nr. 9 gekoop en só het die huise vir die eerste keer in sewentig jaar weer ‘n eenheid gevorm – nes in die Van der Post-dae.
Sedertdien het die huise gedien as ‘n familiewoning, gastehuis en kantoor vir die Karoo Navorsingsinstituut.
* Vir meer inligting bel Rhys Mowat by 051 753 1416.

No comments: