Friday, July 20, 2007

Horizon Toerismeroete

“I took the road less travelled by, and that has made all the difference.”
- Robert Frost, The Road Not Taken

Vat jy kortpad van Kimberley na Colesberg mag jy vooraf wonder of die Horizon-roete werklik iets bied - die Suidwes-Vrystaat is immers nie ‘n toerisme-mekka nie.
Tog lê dié geweste se skatte vlak as jy weet waar om te kyk. Daarom dat die regering onlangs R200 000 bewillig het vir die oprigting van padtekens na besienswaardighede soos Herbert Bakers, Boesmantekeninge en Jazz-klubs in die townships … Voorwaar ‘n mandjie geskenke wat wag om oopgemaak te word.
Die Horizon-roete strek deur ‘n wye, oop wêreld – die hartland van Suid-Afrika. Net hier en daar staan ‘n koppie wat skrywer Laurens van der Post eens beskryf het as “… puritanical hills “guarding” secret water, so that it appears totally unpeopled.”
En dis hierdie kombinasie van afgesonderdheid èn maklik bereikbaarheid wat dreamcatchers toenemend lok. Dol is hul oor die “Open Spaces and Little Places” (die leuse van Horizon).
Dié roete verbind die N12 (net suid van Kimberley) met die N1 (by Colesberg). Amptelik begin Horizon in die noorde by Jacobsdal. Hiervandaan mirage telefoonpale langs die pad oor uitgestrekte gras-en-bossieveld na waar die R717 die Oranjerivier suid kruis.
In die noorde is my gunsteling stopplek by Jacobsdal se Landzicht-kelder (053-591 0164). Dat daar in die Vrystaat sulke eersteklas wyn gemaak word bly elke keer ‘n verrassing. Om ‘n paar bottels van hul pinotage aan te skaf is nooit ‘n fout. Van hier lei die pad via Koffiefontein, skrywer Etienne le Roux se blyplek, na Fauresmith, die tweede oudste dorp in die Vrystaat. Destyds het Fauresmith so byna-byna vir Bloemfontein uitgestof. Die Eerste Volksraad moes tussen dié twee kies as hoofstad van die Oranje-Vrystaat. Met ‘n skrale meerderheid van twee stemme het die keuse op Bloemfontein geval.
Deesdae is Fauresmith se claim to fame sy jaarlikse perde-uithourit en ongewone spoorlyn.
Elke bibberende Julie ding ruiters en perde hier mee om 205 km in drie dae af te lê. Na elke 25km het die ruiters 20 minute om hul perde koud te lei waarna hulle deur veeartse ondersoek word. Hartklop en spiere word nagegaan. Perde wat ooreis is word gediskwalifiseer. Vanjaar het 288 ruiters deelgeneem.
Die geskiedenis van die uithourit strek t’rug na 'n debat in LandbouWeekblad oor watter perderas die beste uithouvermoë het. In 1964 is ‘n uithourit gereël oor ‘n sirkelroete tussen Hanover, De Aar, Richmond en terug na Hanover. Arabierperde het as oorwinnaar uit die stryd getree. Omdat Fauresmith omring word deur koppies aan drie kante loop die treinspoor hier deur die hoofstraat – anders sou ‘n tonnel gebou moes word. Net in twee ander dorpe ter wêreld is die hoofstraat meteen ook treinspoor, naamlik Tula Homa in Tenessee (VSA) en Wycheproof in Victoria (Australië).
Alhoewel die spore steeds ingebed lê in Fauresmith se voorstraat, loop hier g’n trein meer. Die afskaling van mynbedrywighede in Koffiefontein en sluiting van die diamantmyn in die nabygeleê Jagersfontein het dié trein onekonomies gemaak. Tog was Jagersfontein eens op almal se lippe. Die Jagger-diamante sou bekend word vir hul buitengewone kwaliteit. Boonop was hul gróót. Só was die Excelsior (972 karaat) op sy dag die grootste wit diamant. Die waarde daarvan word deesdae op sowat R1,2 biljoen geraam, aldus Explore, Satoer se amptelike Toerisme- en Reisgids.
Hierdie knewels het gekom uit ‘n gat met ‘n omtrek van 1,57 km en ‘n deursnee van byna 500 m. Volgens Gillian Vermaak, voorsitter van die Horizon-roete, is dié enorme gat 19,65 ha groot teenoor Kimberley se 17 ha. Die Vermaaks se winkel Glaasstudio (051-724 0259) is ‘n klipgooi van die Groot Gat. Hul werkers maak nie meer draadkarretjies in die Itumeleng Township nie, maar Franse draadwerk. Dié olifante tot Harley Davidsons word opgeslurp in Sandton City tot Australië.
Die suidelikste dorp op die Horizon-roete is Philippolis, die oudste nedersetting in die Vrystaat. Onder dié dorp se geboue-erfenis tel die Jacobson-biblioteekgebou, ‘n imposante Victoriaanse huis. “Smiddae verander die biblioteek in ‘n skool as skoliere navorsing kom doen oor waar die Skeurvallei is tot wat demokrasie beteken,” vertel Karien Pottas, bibliotekaresse. Kom jy smiddae hier sit die biblioteek vól. Veral grootdruk- en Afrikaanse boeke is al voos gelees.
In Philippolis se historiese begraafplaas lê Britte, Griekwas, Jode en Afrikaners sy-aan-sy. Die oudste van die meer as 1 000 grafte dateer uit 1829. Interessant is dat nog net ‘n enkele persoon ooit hier 100 geword het. Volgens ‘n opname van sterfdatums is Philippolisers se kans dubbeld so hoog om in ‘n koue Augustus se sterf as in Februaries. Die einde van die winters is eenvoudig té straf vir ‘n swak gestel.
Die skaapboere in die streek vertel dat dié bibberende mid-wintersmaande ook ‘n voordeel het: geen virus oorleef as die kwik gereeld tot –6°C daal. Daarom dat die vee uit dié geweste so gesond is.
Die skape se sappige vleis is die resultaat van diëte van bossies én gras. Van hier die naam “Skynkaroo”: die plek waar die Karoo se bossies en die noorde se grasvelde ontmoet. Rofweg lê dié area wes van die N1 in die Suid-Vrystaat, met die Riet- en Oranjeriviere as ander grense.
Soms word hierna ook verwys as die Transgariep. Die Voortrekkers moes die Oranjerivier déúr. Daarom “Trans+gariep”: letterlik óór die Gariep (oud-naam vir die Oranje).
Dié rivier, Suid-Afrika se langste, het sy naam te danke aan kol. R.J. Gorden, ‘n nederlandse offisier van Skotse afkoms. Gorden was die bevelvoerder in die Kaap van die Nederlands Oos-Indiese Kompanjie se garnisoen. In 1777 het hy die rivier sy naam gegee ter ere van die Prins van Oranje.
Maar voordat jy hier aan die eindpunt van die Horizon-roete staan is daar nog één laaste stop.
Nagenoeg 20 km ten noorde van die Oranjeiriver lê die nedersetting Waterkloof wat ekself kleintyd verkeerdelik Kloofdam genoem het. Nie dat dit ‘n onvanpaste naam was nie, want deur die taaiste droogtes het die fontein bly vloei wat dié nedersetting se leidam voed. Dis dan ook dié fontein wat die rede was vir die plekkie se ontstaan.
Tog is diegene wat hul eens hier gevestig het nie meer van hierdie aarde nie, en hul spruite het elders groener weiveld gaan soek. Werksgeleenthede was hier nie. Van Kloofdam wat sinoniem was met geelperskes en pere is weinig oor. Waterkloof taan.
Gooi nietemin ‘n piekniekkombers oop op ‘n leiwatervoor se lower, en kyk hoe die Boeiing van die Kaap na Transvaal ‘n wit streep agterlaat. Stap dan langs die tweespoorpaadjies. Die vervalle geboue is ‘n fotograaf se droom en by die leidam is al rondom 200 voëlspesies opgemerk.
Dis sulke onbekende interessanthede wat die Horizon-toerismeroete bekend wil stel … en weliswaar is daar meer hiervan as wat jy waarskynlik ooit sou droom.
Gaan verbreed gerus jou horisonne.

SOU JY GAAN…

Akkommodasie
Die Horizon-roete bied slaapplek vir 220 mense. Probeer die volgende:
* Die Stal, Philippolis - ‘n keurig gerestoureerde huisie wat sedert Desember 2004 as herberg dien, tel. 084 58 101 49.
* Die Groenhuis Gastehuis, Philippolis, tel. 051-7730073.

Ook te sien en doen
- Etienne le Roux se graf buite Koffiefontein- Skaf die kontreikoerant, Philippolis Pos(t) aan- Glaasstudio in Jagersfontein maak eersteklas Franse draadwerk- Landzicht Wynkelder in Jacobsdal se pinotage- Koop Karoo-lamsvleis by 'n slaghuis - goedkoop en geurig
Wenk
Onthou die sonbrandmiddel, maar ook ‘n warmding. Dis byna woestynwêreld dié waar selfs somersnagte koel kan wees.
Nagenoeg 200 km van Horizon se 250 km is geteer. Die grondpad van bykans 50 km tussen Fauresmith en Philippolis is gewoonlik goed. Dis wys om egter nie vinniger as 100 km/h daarop te ry nie. Los sand bly ‘n duiwel as jy nie daaraan gewoond is nie.
Hoe verder noord, hoe oper raak die landskap: die rûe en rantjies minder, die horisonne nóg breër.

Spys en Drank
Koop Karoo-lamsvleis by 'n slaghuis - goedkoop en geurig
By die Groenhuis Restaurant in Philippolis is die borde groot en vól. Die inheemse disse is uit die boonste rakke. Hier eet jy Karoo-skaaptjops, roosterkoek, gestoofe perskes en kwepers. Jou smaakkliere wil nog, maar jou maag kan nie meer nie. Besprekings noodsaaklik (051-7730073).
Plaaslike verboude olywe. Wees op die uitkyk vir die boorde noord van die Oranjerivier langs die R717.
Philippolis se Witblitsfees vind jaarliks begin-April plaas. Die Transgariep Museum langs Voortrekkerstraat is een van die enigste in die land wat alkohol – en wel witblits - mag verkoop.
Verdere besonderhede
- Skaf die kontreikoerant, Philippolis Pos(t) aan by Indraf of die algemene handelaar, Ons Dien.

Vir meer inligting: http://www.openafrica.org/

No comments: