Thursday, February 19, 2009

Dié oë laat wêreld stééds leef


PHILIPPOLIS. Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. In die afgelope snikhete dae was Philippolis (soos soveel ander dorpe) meer sónder as mét water. Op ’n keer was daar selfs vir 60 uur nie ’n druppel in die krane nie. Dít terwyl Kopanong-munisipaliteit en Bloemwater skaamteloos aanspreeklikheid probeer ontduik deur vingers na mekaar te wys.
Maar nou moet ek bysê: Waternood is niks nuuts in dié geweste nie. Só is dit ’n vergete feit dat Philippolis, die oudste nedersetting in die Vrystaat, 180 jaar gelede verskuif is – juis omdat die dorpsfonteine se oë droog was.
In 1822 is ’n skool vir die Transgariep se Boesmans op Philippolis gestig deur die Londense Sendinggenootskap (LSG) en mettertyd het die een ná die ander Baster ook hier huis gebou. In die vroegste korrespondensie van sendelinge en besoekers word telkens vertel van dié nedersetting se waternood.
Só skryf sendeling John Melvill in 1827 dat Philippolis nie geskik is vir ‘n sendingstasie nie, want die fontein is só swak dat daar nie eens genoeg drinkwater vir die die inwoners se beeste is nie.“Daar mag hoogstens genoeg water wees om sewe of agt klein tuintjies nat te lei.”
In dieselfde jaar op 10 April het die Griekwaraad dit gevolglik oorweeg om die nedersetting te verskuif na Grootfontein, ’n plaas 16 km noordwes van Philippolis, wat deesdae behoort aan John Kolver.Daar het egter niks hiervan gekom nie – dalk omdat daar deurdringende reën geval en die fonteine weer begin vloei het?
Maar 1829 (180 jaar gelede) was dit wéér kurkdroog in die Transgariep. Daarom het die Griekwaraad besluit: Philippolis móét skuif en wel na die standhoudende Boesmansfontein, skryf Karel Schoeman in The Griqua Mission at Philippolis, 1822-1837.Dié plaas het aan die LSG behoort en is gebruik vir sendingwerk onder die Boesmans – soos die naam aandui. Boesmansfontein is nagenoeg 10 km noord van die dorp en die Jacobson-familie boer deesdae hier.Hoewel die Griekwaraad destyds gesê het dat die nedersetting moes skuif, het dié besluit weinig steun onder die inwoners geniet.
Teen Oktober 1829 het slegs Melvill en die familie van Adam Kok II na Boesmansfontein verhuis. Die Basters (ook genoem Ou Inwoners) wou nie hul huise opsê nie. Die moontlikheid is ook daar dat hul teenstand ras-geïnspireerd was, want Boesmansfontein was Boesman-wêreld. Dis welbekend dat die Griekwas en die Boesmans nie om dieselfde vuur gesit het nie om dit sagkens te stel.Philippolis het dus net gebly waar dit was – water of te nie.
Melvill skryf dat hy gereeld na die talle fonteine in die distrik moes reis om sy kuddes daar te bearbei. Melding word onder meer gemaak van Schietfontein (noordwes van Philippolis waar Jannie Kruger deesdae boer), Rondefontein (net noord van die hedendaagse dorp Springfontein), en Toomfontein (tussen Trompsburg en Edenburg).
Omdat die Boesmans nomadies was en die Griekwas ook maar moes trek waar daar weiding en water vir hul diere was, was sendingwerk in droogtetye nóg moeiliker.
In 1830 het daar byvoorbeeld deurdringende reën uitgesak ná ’n uitmergelende droogte.
Die gesinne het toe nader aan die Philippolis-sendingstasie getrek en gevolglik kon meer kinders skool gaan. Daar was dié jaar sommige dae tot 80 kinders in die skool en kerkdienste is deur tot 200 lidmate bygewoon.
Volgens Melvill het die Griekwas tuinmaak bo die plant van mielies verkies. “Buiten groente het hulle ook perskes, vye en druiwe geplant” . . . met die water van “50 fonteine” uit die omgewing.Tog was die water te min om landerye aan te lê en genoeg kos te produseer.
Vandag is dit steeds ’n gebrek aan water wat dié geweste se ontwikkeling kniehalter.
Dit was dus ’n grootse dag toe ’n pypleiding in 1999 van die Oranjerivier (30 km suid) aangelê is.
Maar dié tien jaar oue pypleiding was toe skynbaar nie die oplossing vir Philippolis se eeue oue waternood nie, want oor die feestyd was die pype kurkdroog.Ja, hoe meer dinge verander, hoe meer verander niks.

No comments: