Thursday, February 19, 2009

Alternatiewe N1 gaan herbou word

- Jens Friis
BOUWERK aan die vervalle R717 tussen Colesberg en die Oranjerivier gaan na verwagting in April afskop, het die Noord-Kaapse departement van vervoer bekend gemaak. Die aanstel van padwerkkonsultante is reeds in 'n gevorderde stadium.
Weens reusagtige slaggate het minstens een motoris al die pad hier byster geraak en duisende rand se skade aan sy motor opgedoen. Ook 'n Gautenger se sleepwaentjie het in die Desember-vakansie afgeruk. Talle motoriste moes bande omruil omdat hulle nie betyds die enorme slaggate gesien het nie.
Dié pad was voor die bou van die N1 die hoofpad tussen Kaapstad en Johannesburg. Dit dien sedert die 1970's as 'n alternatiewe roete as die N1 gesluit word weens 'n ongeluk in die omgewing van Gariepdam en Springfontein.
In die afgelope maande was daar gereeld sulke ongelukke en dit was die finale doodslag vir hierdie pad wat nie gebou is om hedendaagse swaarvoertuie te dra nie. Hierom is dele van die 30 km lange pad feitlik onrybaar.
Die Philippolis Sakekamer het hom beywer vir die herstel van die pad, want dié dorp se ekonomie ly daaronder.
"Verder vrees ons dat 'n inwoner of besoeker met sy lewe kan boet, want die pad is werklik in 'n patetiese toestand. Daar sal in die toekoms aandag gegee moet word aan die vraag waarom swaar voertuie op hierdie pad toegelaat word as dit nie daarvoor gebou is nie. Andersins sal die herboude pad spoedig wéér verval," sê dr. Doreen Atkinson, 'n sakekamerlid.
Die toestande van die pad is aan die begin van 2008 ondersoek, lui 'n mediaverklaring van die Noord-Kaapse departement van vervoer. "Op 25 Junie verlede jaar is goedkeuring gegee vir die rehabilitasie van die hele stuk pad.
"Om die pad in stand te probeer hou die laaste tyd was feitlik 'n onbegonne taak, want dis tussen 1965 en 1970 gebou. Die pad is dus tussen 38 en 43 jaar oud. Dis veronderstel om 20 jaar te hou en het dus meer as dubbeld so lank diens gedoen.
"Op 26 Januarie is 'n vergadering gehou om die proses vir die aanstel van (padwerk)konsultante te finaliseer. Daar word beplan dat die rehabilitasie van die pad in April sal begin."
Die slegste deel van die roete is sowat 10 km uit Colesberg waar dit skaars moontlik is om vinniger as 20 km per uur te ry.
Hier het die slaggate in die noordelike en suidelike baan van die pad al so aangegroei dit dit bymekaar aansluit en een groot stuk gruispad vorm.
Vir maande was hier geen waarskuwingsborde wat motoriste op die slaggate gewys het nie óf dié borde is staangemaak langs goeie dele van die pad.
Hoeveel die bouwerk gaan kos is nog onbekend.

No comments: