Thursday, February 19, 2009

Deurdringende reën bly Suidwes-Vrystaat ontwyk

- Jens Friis
PHILIPPOLIS. ’n Dag of wat nadat Moses, 'n weerprofeet, sy ellelang baard vir die eerste keer in 23 jaar afgeknip het, het goeie reën oor die Vrystaat uitgesak, het Volksblad onlangs berig.
Mnr. Danie (Moses) Cilliers van Philippolis het toe voorspel “abnormale groot reën” gaan van 9 Februarie met volmaan uitsak, "want die slange en skilpaaie loop, die springbokke lam goed, en die sprinkane is ook hier."
Maar 9 Februarie het gekom en gegaan en hoewel goeie reën elders uitgesak het, is die Suidwes-Vrystaat steeds in die greep van 'n rampspoedige droogte.
Philippolis se watertafel is van die laagste in menseheugenis. Mnr. Jens Friis het in 1979 'n boorgat op sy erf langs Koksfonteinstraat, Philippolis, laat sink. Deur die ergste droogtes die afgelope drie dekades het hierdie boorgat getrou water bly lewer. "Maar dié konstante boorgat van 100 m het al met meer as die helfte verswak. Dis die swakste in 30 jaar."
Talle boere moes reeds maande gelede vir hul windpompe langer pype insit, want anders sal daar nie water in hul skape se krippe wees nie.
Verder het beide Philippolis se fonteine, waaruit sommige erwe leiwater kry, opgedroog. Die dorpsdamme is maande lank reeds kurkdroog. Was dit nie vir 'n pypleiding na die Oranjerivier nie, sou dié dorp nie drinkwater gehad het nie.
Hoewel verspreide buie val, kry ook die diere swaar. Só word wild deesdae op plekke gesien word waar hulle andersins nooit sou gewei het nie.
Groot was die verbasing van die Lombards van Justisiestraat, Philippolis, een vroegoggend toe 'n uitgegroeide koedoe aan hul vyeboom knibbel. Dié bul het waarskynlik na groenigheid kom soek in hul tuin aan die rand van die dorp, sê mev. Elsa Lombard, 'n onderwyseres aan Bergmanshoogte Intermediêr.
Afloopwatertjies van die R717 tussen Trompsburg en Philippolis sorg vir groen grassies langs dié pad. Meer diere as gewoonlik word hierdeur nader gelok, waaronder duikertjies, springhase, ribboke en ystervarke. 'n Toeris, mnr. Gert Jacobs van Kemptonpark, het verlede week opgemerk "dat jy hier meer diere sien as in die Krugerwildtuin!"
Genadiglik lê Philippolis se beste reënmaand voor. Die gemiddelde reënval vir Maart hier is 70 mm. In Februarie val gemiddeld 66,8 mm en in die derde plek is Januarie met 49,5 mm.
Sover bekend het dit in Maart 1976 die meeste nog in Philippolis gereën toe 244 mm uitgesak het. Volgens statistieke van die Instituut vir Grond, Klimaat en Water (ISCW) van die Landbounavorsingsraad het in twee ander jare ook meer as 200 mm op Philippolis in hierdie maand geval. Dit is 216 mm in onderskeidelik 1920 en 1924.
'n Verdere vyf keer het dit gebeur dat meer as 150 mm in Maart gemeet is. Die eerste maal was in 1881 (157 mm) en daarna in 1892 (153 mm), 1926 (164 mm) en 1927 (153 mm). Die laaste keer was in 1997 toe daar 187 mm in Philippolis geval het.
Die gemiddelde reënval vir Philippolis is 387 mm per jaar.

Philippolisers kan skaars onthou wanneer laas hul dorpsdamme só mooi vol was. Dié dorp se watertafel is die laagste in minstens 30 jaar. Foto: Jens Friis

No comments: